2006-05

jongklomp
haasbekkies


Die avonture van Magrietjie Swaaiboude
Marianna Brandt
Hoofstuk 1: Cheers, Magrietjie!

Dit is Maandagoggend. Magrietjie lig haar kop en kyk na Phillip se bed. Hy beweeg nie onder die duvet nie. Sy kan ook nog 'n bietjie lê, dink Magrietjie en sit haar kop op haar pote. Sy wens dit was vandag gister, toe hulle by die Tuiniqua Ouetehuis gaan eet en daarna die hele middag kom lê en slaap het. Dit was so lekker.
'n Rukkie later lig Magrietjie weer haar kop op en kyk oor haar rug in die kombuis in. In sy hok, bo-op die yskas, sit Samuel kop onderstebo met sy oë bottoe.
"Samuel, is jy wakker?" roep Magrietjie en gaap.
Samuel se oë vlieg oop. Hy rek sy vlerke en bene. "Ja, natuurlik! Ek's altyd vroeg uit die vere. Ek's mos 'n vroeg-uit-die-vere-voël."
"Grrrmf," sê Magrietjie. "Jy kan nie 'n 'uit-die-vere-voël' wees nie, Samuel. Dan is jy sonder vere. Dit sal nie so goed lyk nie."
"Ja, oukei, Magrietjie. Ek wil nie sonder my vere wees nie," raas Samuel en tjorts.
Wanneer Magrietjie haar oë toemaak, sien sy die lekker pasteitjies van King Pie en dan kwyl haar bek sommer van voor af. Sy wens Phillip wil ophou om vir die vriendelike vrou van King Pie te sê sy is te vet. Netnou besluit die vrou om nie meer vir haar vleispasteitjies te gee nie. Magrietjie sug. Daaraan wil sy nie eers dink nie.
Dan beweeg die duvet op die bed. Phillip is wakker.
"Môre, Magrietjie. Lekker geslaap, ou meisie?" vra Phillip toe hy 'n rukkie later opstaan en hom uitrek.
"Grrrmf. Wie slaap nou lekker as jy weet 'n werksdag lê voor," mompel Magrietjie. Sy sien hoe Phillip sy bed vinnig regtrek, dan aantrek en kombuis toe loop. Sy hoor die radio aangaan.
"Môre, Samuel," hoor Magrietjie vir Phillip sê toe hy die melk uit die yskas haal vir koffie. Sy loer weer in die kombuis in en sien hoe Samuel op sy stokkie rondtrippel.
"Toe, toe, Phillip, maak vol my saadbak," sê hy en pik-pik aan die rand van sy saadbakkie. "Ek gaan nie vandag met 'n leë maag werk nie."
"Maar jy is vol lewe vanoggend, Samuel. Gaan jy vir ons vandag baie geld insamel?"
"Ek sê niks," sê Samuel.
Magrietjie sien hoe Samuel na sy saadbak staar.
"Toe, maak vol my bak," hoor sy hom sê. "Toe, toe, toe nou."
"Ons sal vir jou moet gaan saad koop, Samuel," sê Phillip toe hy die saadbakkie met leë doppies uit die hok haal. Hy maak die bakkie vol en sit dit weer terug.
Dan kom Phillip na haar kant toe. Magrietjie trek haar ore plat toe sy hoor: "Opstaan, Magrietjie."
"Ja, ja." Sy staan lui op.

Aan Phillip se fiets is 'n sykar met 'n hok en 'n hamsterbal waarin sy en Samuel ry. Daarin sit Phillip haar kosbak, Samuel se tietiebottel met saad en die mandjie met die blomme wat sy altyd in haar bek moet hou wanneer mense foto's van haar en Samuel voor Game wil neem.
Nadat Phillip alles in die sykar gelaai het, is dit hulle beurt om in te klim. Toe Phillip die deurtjie van die hok agter haar toemaak, sê hy iets wat Magrietjie nie wil hoor nie: "Magrietjie, jy is te vet. Een van die dae sal jy glad nie meer in die hok kan pas nie. Jy moet minder eet."
"Hy's ongeskik," skel Samuel uit die hamsterbal bo in die sykar. "Jy's nie te vet nie, Magrietjie. Phillip praat nonsens!"

Phillip stoot die fiets by die kleinhekkie uit. Shaka en Shiva, die twee swart honde van die buurvrou, begin te knor en blaf toe hulle die musiek uit Phillip se CD-speler hoor toe Phillip verbyry.
"Ek kan nie in die hamsterbal dans nie," kla Samuel. "Hier's nie 'n stokkie nie! Ek sal maar saamsing." Hy stoot sy bors uit en fluit dat almal kan hoor.
'n Rukkie later kom hulle by Dulcé aan. Phillip help vir Magrietjie uit en haal vir Samuel uit die hamsterbal en sit hom op Magrietjie se kop. Toe stap hulle na die restaurant waar hulle elke oggend ontbyt eet.
Ria, die eienaar, is bly om hulle te sien. "Môre, Magrietjie," sê sy.
Samuel trippel opgewek op Magrietjie se kop. "Fwieet, fwieet! Ek is ook hier. Sê môre, Samuel," sê Samuel.
Die kelnerin bring vir Magrietjie 'n bak met beskuitjies en melk en sit dit voor haar neer.
"Cheers, Magrietjie," sê Phillip.
Magrietjie staar na die bak voor haar op die vloer. Toe sy nie gou genoeg na Samuel se sin begin eet nie, sê hy: "Cheers, Magrietjie, cheers! Het jy nie gehoor Phillip het vir jou gecheers nie."
"Ja, ja," sê Magrietjie en ruik aan die melk wat die kelnerin altyd met water verdun. "Hm, net reg. Nie te flou nie," sê sy.
Toe Magrietjie en Phillip klaar geëet het, groet hulle en span die sykar weer in en ry Game toe waar hulle vir die dag gaan uitspan.
Elke oggend voor Samuel met sy werk kan begin, slaan Phillip die staander op waaraan die mandjie, wat versier is met kunsblomme, hang. Daarin gooi Samuel die geld wat die mense vir hulle gee wanneer hulle saam met hom en Magrietjie afgeneem word.
Ná die staander opgeslaan is, sit Phillip Samuel en Magrietjie se foto's teen die muur vas vir al die mense wat verbykom om te sien. Dan sit hy vir Samuel op die staander.
Vir Magrietjie gooi Phillip 'n kombers op die stoep oop. Van daar af kan sy die mense wat op die parkeerarea voor Game stilhou, sien.
Toe Magrietjie ná 'n rukkie om haar kyk en nie vir Phillip gewaar nie, staan sy op, skud haar lyf en stap die paar hondetreë na King Pie toe, die plek met die kwylbeklekker vleispasteitjies.
"Kom terug, Magrietjie!" roep Samuel.
Magrietjie gaan staan en kyk vies om na Samuel. "Ek's nou terug," sê sy en en stap dan weer aan na die oop deur van King Pie.
In die deur gaan sy met 'n kwylende bek staan. Daar is nie baie mense nie. Haar oë soek die vriendelike vrou agter die toonbank wat altyd vir haar 'n pasteitjie gee. Sy sien haar nie, net die vrou met die kwaai stem wat nie van honde in die winkel hou nie.
"Nee, Magrietjie!" hoor sy dan skielik agter haar. "Kom uit daar." Dis Phillip.
Magrietjie se ore hang en haar bek hou op met kwyl toe Phillip haar terugjaag stoep toe.
"Waar is jou vleispasteitjie?" vra Samuel.
"Moenie nog vra nie," sê Magrietjie vies en gaan lê op die kombers.
Motors kom stadig aangery en parkeer voor die groot winkelsentrum. Vrouens en kinders kom aangestap. Wanneer hulle vir Magrietjie sien, kom staan en kyk hulle altyd na haar asof hulle nog nooit 'n hond in hul lewe gesien het nie.
"Dis Magrietjie Swaaiboude!" roep 'n meisietjie uit.
"Ja, dis sy!" hoor Magrietjie die kind se ma sê. "Kom, Karien, ons neem haar af."
Phillip het dit gehoor. "Opstaan, Magrietjie," sê hy.
"Al weer 'n foto," mompel Magrietjie en staan traag op.
"Staan hier by Magrietjie," sê Phillip vir Karien en haal vir Samuel van sy stokkie af en sit hom op Magrietjie se kop. Dan sit hy die mandjie met die blomme in Magrietjie se bek.
Karien se ma neem baie foto's. Toe sy klaar is, sê sy: "Baie dankie, nou kan ek vir die kinders by die skool waar ek skoolhou, gaan wys hoe mooi jy is, Magrietjie." Sy maak haar beursie oop en haal 'n bruin noot uit en gee dit vir Samuel om in die mandjie te sit.
"Ek wil ook iets vir Magrietjie en Samuel gee, Mamma," sê Karien en hou haar hand na haar ma uit.
Karien se ma haal nog 'n noot uit haar beursie en gee dit vir haar. Sy gesels nog 'n paar woorde met Phillip, maar toe sy groet en wil loop, kyk sy verskrik om haar rond.
"Waar's Karien?" vra sy en lyk baie bekommerd.
Net toe kom Karien uit King Pie gehardloop. In haar hand is daar 'n papiersakkie.
"Hier's iets vir jou, Magrietjie," sê sy en hou die pakkie uit na Magrietjie. "Hou jy van vleispasteitjies?"
"Fwieet, fwieet! Magrietjie hou baie van vleispasteitjies," sê Samuel opgewonde.
"Ja," hoor Magrietjie vir Phillip sê, "maar sy hou té veel van vleispasteitjies. Sy word te vet."
Ag nee, nie al weer daardie ou storie nie, dink Magrietjie vies.
"Kan ek dit maar vir haar gee, oom?" vra Karien.
"Gee maar," sê Phillip en glimlag.
Magrietjie lig 'n wenkbrou. Het sy reg gehoor? Haar oë rek toe Phillip die pasteitjie uit die papiersakkie haal en voor haar neersit.
"Cheers, Magrietjie, cheers," sê Samuel nog voordat Phillip dit kan doen. "Toe, eet nou."
"Ja, ja," mompel Magrietjie en trek die geur van die heerlike vleispasteitjie eers diep in haar neusgate op voor sy die eerste hap vat.

Lees verder...

Jy kan ook die boek koop:
Die avonture van Magrietjie Swaaiboude deur Marianna Brandt

vervolg
Kopiereg Marianna Brandt
Die storie word geskryf deur tannie Marianna Brandt.
Jy kan vir haar skryf by marianna@storiewerf.co.za

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2012