jongklomp
haasbekkies


Mossoelie
Marianna Brandt
Hoofstuk 1
Dis vroeg in die oggend. Vir die mense op land is die son besig om in die see in te smelt. Maar hier onder in die diep-diep see word dit dag.
Mossoelie rek hom uit, toe hy stemme buite hoor, spring van sy seesponsbed af op en loer deur een van die ry vensters van sy perlemoenskulphuisie. Vandag is die dag wat Koningin Azurina die een gaan kies wat na Silverstrand moet gaan. Hy voel skielik baie hartseer en voel met sy hand aan die vin onder sy voorarm. Dis nog seer waar die haai hom gebyt het.
"Vergeet daarvan, Mossoelie. Sy sal jou nie stuur nie. Hoe wil jy die seediere gaan red as jou arm seer is. Ek is 'n sterk outjie. Sy sal my eerder kies," het Anmor gister vir hom kom sê.
Mossoelie sug. Sy sal seker vir Anmor kies. Hy besluit om maar weer onder sy seegraskombers in te kruip.
"Mossoelie! Mossoelie!" hoor hy iemand 'n rukkie later roep. Hy spring op.
"Ja, wat is dit?" vra hy.
"Koningin Azurina wil almal in die saal hê. Sy het gesê ek moet almal roep," roep die stem.
"Goed dan," sug Mossoelie en staan op.

Die paleis van Koningin Azurina is onder 'n groot rots. Die saal waar almal vergader se vloer is pienk soos koraal en die mure soos pêrel. Die goue strale van die oggenson skyn deur 'n venster op die lang goue lokke wat soos 'n golf om Koningin Azurina lê. Vir Mossoelie is sy baie mooi maar die string pêrels om haar nek nog die mooiste.
"O jy is ook hier," sê Anmor, "Sy sal nie vir jou kies nie. Hoekom het jy gekom?" Hy bult sy voorarmspiere dat die vin sommer so uitspring vir almal om te sien hoe sterk hy is.
"Ek wou nie kom nie," sug Mossoelie, "My arm is nog baie seer."
Bambu wys sy sterk bolyf en Seegris slaan bollemakiesie en wys trots die vinne op sy fris kuite. "Sy sal nie 'n fout maak as sy my kies nie."
Nog Mosse kom met 'n groot geraas die saal binne. Een van die Koningin se boodskappers moet hard praat om hulle stil te maak.
Toe almal stil is, sê die Koningin.
"Ek het besluit om vir julle 'n toets te gee."
Die Mosse kyk met groot oë na mekaar. "'n Toets!" roep hulle uit, "Watse toets?"
"Ek kan nie enigeen na Silverstrand toe stuur nie. Die een wat gaan moet iemand wees wat die werk kan doen," sê Koningin Azurina.
"Watse toets, Koningin?" vra een van die Mosse, "Is dit 'n toets om te sien hoe sterk ons is?"
"Nee, dis nie 'n toets om julle krag te toets nie," sê die koningin, "Dis 'n toets om te sien of julle die werk sal kan doen."
"O..!" sê die Mosse, "Watse toets kan dit wees?"
"Julle is almal sterk. Maar julle is nie almal ewe slim nie," sê Koningin Azurina, "Ek het 'n slim Mos nodig vir Silverstrand."
"'n Slim Mos," lag Anmor, "Dan is ek die een."
"Ons sal sien," sê Koningin Azurina, "Luister mooi. Ek gaan dit net eenkeer sê en dan moet julle doen wat ek vra."
Die saal is nou tjoepstil.
"Het een van julle al van Donkergrot gehoor?"
"Donkergrot!"
"Uh…Donkergrot!"
Die Mosse kyk na mekaar en dan skud hulle hul koppe.
"Goed…so elkeen het 'n kans," sê sy, "Julle moet uitvind waar die Donkergrot is en dan soontoe gaan. Daar sal julle vir Koeblai, 'n ou vis vind. Hy het 'n boodskap vir my. Ek gee julle twee dae tyd. Die een wat die eerste terug is, is die een wat ek Silverstrand toe sal stuur."
"Het jy al gehoor van Donkergrot," fluister Anmor vir Bambu.
Bambu skud aan Mossoelie se arm.
"Weet jy waar dit is? Toe, jy weet seker," sê hy.
"Ek weet nie," sê Mossoelie want hy weet regtig nie.
Terug in sy huis lê Mossoelie op sy bed en dink en dink en dink. Iemand moet weet waar Donkergrot is. As Koningin Azurina weet waar dit is, moet iemand anders weet. Skielik kielie sy maag van opgewondenheid. Miskien…net miskien weet Tentakkie. Die seekat hou daarvan om in grotte rond te kuier. Hy gaan hom vra.

Mossoelie loop vir Tentakkie nie ver van sy huis af raak.
"Hello Mossoelie. Hoe lyk jy vandag so bekaf?"
"My arm is nog seer en ek wil so graag Silverstrand toe gaan, Tentakkie," sê Mossoelie.
"Nou hoekom kan jy nie?" vra die ou seekat en tel vir Mossoelie met sy tentakel op.
"Tentakkie, jy weet mos alles," sê Mossoelie.
Die ou seekat lag. "Alles…huh, huh..huh…nie alles nie, my vriend. Ek weet baie dinge…wat wil jy weet, hm?"
"Weet jy waar die Donkergrot is?"
"Donkergrot?"
"Ja…weet jy van so 'n plek?" vra Mossoelie.
Die ou seekat maak sy oë toe en dink en dink en dan sê hy. "Ek het al van so 'n plek gehoor maar ek weet nie waar dit is nie. Maar, ek sê jou wat. Ek sal vir my vriend gaan vra. Hy weet alles…" lag Tentakkie.
"Ek het net twee dae tyd om uit te vind. Jy moet gou maak," sê Mossoelie.
"Hoekom wil jy weet?" vra Tentakkie.
"Die koningin het vir ons 'n toets gegee. Die een wat dit wen gaan Silverstrand toe. Ons moet die Donkergrot soek en daar 'n boodskap by 'n vis kry vir die koningin," sê Mossoelie, "Net twee dae, Tentakkie. Sal jy my help?"
"Klim dan van my af sodat ek my ou vriend kan gaan soek," sê Tentakkie, "Ek is net-nou terug."
"Dankie Tentakkie. Ek sal vir jou by my huis wag," sê Mossoelie.

'n Halwe dag gaan verby. Elke keer as Mossoelie iets buite hoor spring hy van sy bed af op en loer deur die venster. Waar bly Tentakkie?, wonder hy later baie bekommerd.
Na 'n rukkie stoot Tentakkie se tentakel die deur van Mossoelie se huis oop.
"Waar is jy?" vra Tentakkie en hy klink uitasem.
"Hier," sê Mossoelie, "Weet jy?"
"Ek moes amper tot in die Donkersee swem om my ou maat in die hande te kry," sê Tentakkie, "Ek was amper op die kostafel van die Duiwelvis en sy grootbekvriende. Ja, so amper. Ek was vir 'n lang tyd in 'n grot vasgekeer. Gelukkig het hy later opgegee om vir my te wag…huh…huh…huh…maar, hier's ek en ek dink ek weet waar die Donkergrot is."
"Is..is…is dit in die Donkersee? Ek wil nie soontoe gaan nie. Ek het vreeslike goed gehoor van die Donkersee, Tentakkie," sê Mossoelie.
"Nee…e..nee, dis nie in die Donkersee nie. Dis nie so ver hiervandaan nie. As ons nou gaan, kan ons vanaand weer terug wees…as ons nie probleme langs die pad kry nie," sê die ou seekat.
"Probleme?…watse probleme, Tentakkie?"
"Ek weet nie…die see het maar baie gevare. Maar jy wil na die Donkergrot toe gaan. Kom, vergeet nou van die gevare, my vriend. Kom laat ek jou ophelp," sê Tentakkie en tel vir Mossoelie op sy voorarm waar hy hom mooi kan sien.
Toe swem hulle deur die diep blou water na die plek wat Tentakkie dink die Donkergrot is…..
vervolg
Kopiereg Marianna Brandt
Die storie word geskryf deur tannie Marianna Brandt.
Jy kan vir haar skryf by marianna@storiewerf.co.za

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2012