2014-11

jongklomp
haasbekkies


Sneeuwitjie en die sewe boeties
Melindi Fourie
Deel 1

Sneeuwitjie slaan haar kamerdeur gefrustreerd toe. “Niemand verstaan my nie! Ek is lief vir hom, daarom sal ek met hom trou.” Sy lê op haar bed en snik. Na ’n rukkie kom haar ma by die kamer in en gaan sit langs haar op die bed.

“Sneeuwitjie, ek wil net die beste vir jou hê. Die prins is ’n baie lui en nare mens. Om met hom te wil trou is net nie ’n goeie idee nie. Daar is baie visse in die see, jy sal nog iemand baie beter kry.”

"Nee, Mamma. Elke meisie droom tog van die dag wat ’n prins haar gaan vra om te trou. Nou het my prins, ’n regte prins my gevra om te trou! Hoekom mag ek nie?”

Haar ma sug. “Ek kan jou nie keer om met hom te trou nie, maar asseblief my kind, wees tog net versigtig.”

’n Paar dae later is al Sneeuwitjie se goed gepak. Sy en haar ma het ’n ooreenkoms aangegaan dat sy eers ’n rukkie by die prins in die paleis moet gaan bly voor sy haar finale besluit oor die trouery neem.

Die prins is egter vir ’n paar dae weg op besigheid, maar hy het haar belowe dat hy so gou as moontlik by die paleis sal wees.  Die bediendes is baie gaaf en laat haar baie tuis voel. Sy bly in ’n baie groot kamer met 24uur kamerdiens.

‘Dit is die lewe,’ dink Sneeuwitjie toe sy op haar bed gaan lê met ’n glasie sjampanje in die hand. Alles is perfek. Daar is wel een ding wat haar so bietjie pla, en dit is die prins se twee sussies. Hulle is vreeslik naar met haar en laat haar nie juis tuis voel nie. Die prins se sussies raak elke dag al hoe wreder met haar. Hulle het haar al begin beveel om in die oggende hulle beddens op te maak en om in die aande die bediendes te help met die skottelgoed.

Toe die prins uiteindelik by die paleis opdaag, doen hy nie juis moeite om vir Sneeuwitjie te laat welkom voel nie. Hy lê heeldag in sy kamer en Play station speel. Hy is tog vriendelik met haar en hy het haar gevra om te trou, maar hy het nog nie eens agter gekom dat sy soos ’n slaaf werk nie.

Sneeuwitjie is baie ongelukkig. ‘Ek moes maar liewer vir my ma geluister het,’ dink sy een aand toe sy weer die skottelgoed was. Dan hoor sy hoe haar aanstaande skoonsussies in die sitkamer net langs die kombuis praat.

Sneeuwitjie sluip stilletjies nader en luister na die gesprek.

“Ons kan nie dat sy bo ons aangestel word nie, Emily. Sy gaan koningin word en dan gaan ons nog net prinsesse bly.”

“Nadine, ek het ’n plan. Kom ons stuur vir haar ’n mandjie vol vrugte, maar dan sit ons gif in een van die appels. Sy sal doodgaan en ons sal weer kans staan om koningin te word,” stel Emily voor.

“Ek dink dit is ’n baie goeie plan. Ons doen dit sommer môre, nog voor die verlowingspartytjie begin.”

vervolg
deel 2

Die storie is geskryf deur Melindi Fourie. Dit is 'n verwerking van Sneeuwitjie en die sewe dwergies. Melindi is 'n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2014.
Kopiereg Melindi Fourie

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2014