2013-03

jongklomp
haasbekkies


Speurder Bakkies se avonture:
Die trouring
Jenny-Lee Elston
Deel 1

Bakkies Besselaar is ‘n tienjarige seun. Hy hou baie van avontuur en om kattekwaad aan te vang saam met sy beste vriend Breker, sy bulhond. Bakkies en Breker se avonture is nooit eenvoudige take nie; daar is altyd ingewikkelde streke by betrokke.

kamer

Dit is Saterdagoggend en Bakkies lê op sy deurmekaar bed en lees sy gunsteling strokiesprent oor Batman. Sy kamer is lekker verlig deur die oggendson wat by die vensters inkom. Hy het klaar sy kort denimbroek aan met sy gunsteling blou en groen hemp. Hy lê op sy maag met sy kaalvoete wat in die lug rond swaai.
Breker lê op die mat, by Bakkies se kas, en slaap. Hy het wit en bruin kort hare met ‘n vet, ronde lyf. Hy lê op sy rug met sy kort pote in die lug. Sy tong hang uit en hy snork kliphard so af-en- toe. Dit lyk of hy besig is om ‘n buffel in sy droom te vang!
Bakkies geniet die avonture van Batman. Hy is so ‘n goeie speurder. Mense noem hom “the world’s greatest detective”. Dis presies hoe Bakkies wil wees, die beste speurder ter wêreld! Hy sal soveel diewe vang...
“Agge nee!” skree Bakkies se ma.
Bakkies en sy pa hardloop na sy ouers se kamer, “Wat is fout?” vra Bakkies se pa.
“My trouring, dit is weg!” sê sy ma. Bakkies kan aan sy ma se gesig sien sy is baie hartseer en kwaad.
“Waar is die laaste plek waar jy dit gebêre het?” vra sy pa.
“Ek het dit hier op my spieëlkas gelos,” beduie sy ma na die tafel vol grimmering en parfuum.
Bakkies staan in die slaapkamer en kyk rond. Hy vryf deur sy deurmekaar bruin hare met sy vingers. Daar is niks wat uit sy plek lyk op die spieëlkas nie. Niks is deurmekaar of op die vloer gegooi nie. Die enigste ding wat anders is, is die kamervenster by die spieëlkas wat oopstaan en die modder op die vensterbank en vloer.
“Moenie stres nie, my skat, ons sal dit wel vind.” Sy pa hou sy ma aan die skouers vas en loop saam kombuis toe.
Bakkies voel hoe daar ‘n glimlag oor sy gesig trek. Hy gaan bewys hy is die beste speurder in die hele wêreld. “Breker!” roep Bakkies by die gang af.

breker

Breker hardloop en gly oor die teëls met sy lang naels. Sy tong hang uit en los wange flap rond terwyl hy hardloop. Skielik stop Breker dood voor Bakkies en sit penregop met sy een poot teen sy voorkop, “Ja, Generaal? Het u geroep?” vra Breker en lek ‘n spoeg spatsel van sy lip af. Hy sit sy pote langs sy sye.
“Breker, jy is my beste soldaat, die een wat ek die meeste kan vertrou. Die tyd het gekom. Ons het ‘n groot taak wat ons moet voltooi,” sê Bakkies en loop voor Breker met sy hande agter sy rug, bors ver uit gedruk.
Breker hou Bakkies die heeltyd dop terwyl hy regop sit. So af en toe lek hy gou ‘n spoegspatsel van sy lip af. Hy wag dat Bakkies klaar praat.
“Ons moet ma se trouring vind!” sê Bakkies opgewonde.
“Ja, Generaal, reg so Generaal!” antwoord Breker en sit weer sy een poot teen sy voorkop.

bakkies

vervolg

Die storie is geskryf deur Jenny-Lee Elston. Jenny-Lee is 'n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2012.
Kopiereg Jenny-Lee Elston

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2014