2010-05

jongklomp
haasbekkies


Vlooitjie loop weg
Vonette Smit
Deel 2

Vlooitjie besef eers hy is regtig buite toe hy die warm son op sy lyf voel. Hy kyk links en regs en probeer besluit waarheen hy nou moet gaan. Terwyl hy daar op die gras staan, druk 'n mol sy kop uit sy gat uit.
"Hallo. Wie is jy? My naam is Mol en ek kan jou sien nie, maar ek weet jy is daar want ek kan dit voel."
"Hallo. My naam is Vlooitjie. Kan jy my dalk help? Ek het weggeloop en nou weet ek nie waarheen om te gaan nie," antwoord Vlooitjie.
"Kom jy van die huis af?" Die mol is maar 'n nuuskierige enetjie.
"Ja, maar nou moet ek 'n nuwe huis soek en ek weet nie waar om te begin nie."
"In daardie geval dink ek dat jy met mevrou Arend moet praat. Sy vlieg so hoog bo die aarde dat sy alles sien en almal ken."
Vlooitjie is baie bly dat die mol hom kon help. Hy sê dankie hou aan met stap.
Hy loop deur die hek tot in die straat en besluit om regs te draai, sodat hy verby die parkie kan stap. Toe Anna jonger was het sy hom gereeld na die parkie toe gevat as sy daar gaan speel het op die swaaie of die snaakse yster ding wat in die rondte draai en hom altyd siek laat voel het. Anna het soms die ander speelgoed ook saamgevat en dan hou hulle teepartytjies.
Oppad na die parkie toe loop Vlooitjie verby 'n swart hek met 'n kwaai hond wat agter die hek staan en blaf.
Toe die hond sien Vlooitjie is net 'n teddiebeer, hou hy op met blaf en praat met Vlooitjie.
"Jy daar. Wie is jy en waarheen is jy oppad? Weet jy nie dat jy nie sommer sonder jou mens in die straat mag loop nie!"
Vlooitjie antwoord hom, "Jammer, Meneer, ek het nie meer 'n mens nie. Sien, ek het nou net weggeloop van die huis af en nou soek ek na mevrou Arend sodat sy vir my kan sê waar ek 'n nuwe huis kan kry."
Die hond grom vir hom en sê, "Wel, jy gaan haar nie sommer hier naby kry nie. Hierdie straat behoort aan my en mevrou Arend weet sy moet ver wegbly. En dieselfde geld vir jou, teddiebeer!"
Vlooitjie skrik so groot vir die kwaai hond se gegrom dat hy dadelik baie vinnig weghardloop.

vervolg

Die storie is geskryf deur Vonette Smit. Vonette is 'n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2010.

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2012