2016-10

jongklomp
haasbekkies


Woltruitjie
Zeldri Nel
Deel 1

Eendag lank, lank gelede was daar 'n klein huisie in die middel van die woud. In hierdie huisie het 'n dogtertjie saam met haar ma gewoon. Rooi was haar gunsteling kleur. Sy het elke dag rooi aangetrek, maar haar gunsteling uitrusting was 'n rooi trui wat haar ouma vir haar gebrei het. Sy het amper elke dag haar rooi trui gedra en as gevolg daarvan het haar mamma haar Woltruitjie genoem.

Op 'n dag terwyl Woltruitjie nog heerlik buite gespeel het, roep haar mamma haar.

“Woltruitjie,” het haar ma geroep. “Kom tog vinnig hier. Ek wil hê jy moet hierdie bottel heuning vir Ouma vat.”

Woltruitjie het vinnig haar rooi truitjie aangetrek, die bottel heuning gegryp en vinnig by die deur uitgehardloop.

“Versigtig wees!” het Woltruitjie se ma agterna geroep. “Moenie met vreemde mense praat nie en moet ook nie so hardloop nie! Net nou val jy en breek die bottel heuning.”

Woltruitjie het die bottel heuning styf onder haar arm vasgeknyp en deur die woud begin loop. Naby 'n brug, wat oor 'n klein stroompie geloop het, het Woltruitjie besluit om vir haar ouma 'n paar waterlelies te pluk. Skielik het 'n groot oom met 'n baie vet neus onder uit die brug uit gekom.

“Wel wat het ons hier,” het die oom met 'n diep stem gesê. “ 'n Lekker stukkie… geselskap.”

“Ek mag nie met jou praat nie,” het Woltruitjie uitgeroep. “Ek wil net 'n paar van hierdie waterlelies pluk, dan gaan ek weer loop.”

“Waarheen is jy op pad, Dogter?” het hy belangstellend gevra.

“Na my Ouma. Sy woon in Rietbosrand in 'n klein kliphuisie net so entjie hiervandaan.”

“Maar dan loop jy heeltemal die verkeerde pad. Die mooiste waterlelies is aan die einde van hierdie stroom. Ek sal jou verduidelik hoe jy daar kan kom.”

Terwyl Woltruitjie blomme gepluk het aan die einde van die stroom, het 'n dogtertjie haar vanuit 'n boom geroep.

“Hallo!” het die dogtertjie met lang goue krulhare geroep. “Kan jy my dalk help? Ek woon alleen hier in die woud, maar die storm het my huisie heeltemal verwoes. Ek weet nie waar ek vanaand sal kan slaap nie.”

“Ek is eintlik op pad na my ouma toe om vir haar hierdie heuning te vat,” het Woltruitjie geantwoord. “Maar jy kan saam met my na my ouma toe loop. Sy is die slimste vrou in die hele wêreld. Sy sal jou kan help.”

vervolg
deel 2

Die storie is geskryf deur Zeldri Nel. Zeldri is 'n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2016.
Kopiereg Zeldri Nel

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2016