Wat het tannie laat besluit om te begin skryf?
Ek het altyd so ‘n gevoel gehad dat ek wil skryf, maar was gans en al te bang. Toe loop ek rond en kla soms in my pals se ore dat ek so graag wil skryf. Die een vererg haar toe vir my en sê ek moet ‘n drama vir hulle Kollege – waar sy klas gegee het, skryf en ophou moan! (Ek was toe al veertig!) Nou ja, toe moes ek maar ophou kla en skryf. Die drama was toe ‘n groot sukses en ek skryf sommer nog een wat ook opgevoer word en almal spring op en af en ek is op wolkie 9 en skryf ‘n tienerboek vir die Sanlamwedstryd in. Ek is nie een van die finaliste nie en wen dus beslis nie en ergste van alles – ek verstaan nie die verslae van hoe ek die boek moet verander nie! Dus is dit nooit gepubliseer nie. Ek skrik so groot dat ek sommer gaan Sielkunde swot. Hoe het ek dan nou ooit gedink dat ek ‘n boek kan skryf? Toe, vier jaar later, dink ek, ek sal dalk net weer probeer en skryf “Jy en die draakakkedis” en dit word aanvaar en gepubliseer en daar gaan ek toe!
Tannie is nou so ‘n wonderlike interessante mens … hoe was tannie … of eerder… hoe sou tannie tannie-self as kind beskryf?
Ek het grootgeword op Potchefstroom – onder die akkerbome, sê ek altyd. Potch het mos die pragtigste akkerbome. Ons was befiets en het gery net waar ons wou wees – dorp toe – biblioteek toe – swembad toe – rivier toe. Dit was eintlik wonderlike vryheid vir ‘n kind, om nie soos deesdae baie keer in die stede gebeur, afhanklik van die ma of die pa te wees om jou al brommende rond te karwei nie. Ek het soos ‘n mal mens gelees – die biblioteek sommer van ‘n kant af deurgelees. Was vir my die wonderlikste ding – al die mense en gebeure wat ek in boeke kon lees. Ek het goed geleer wat ek nooit andersins van sou geweet het nie. Verder was ek net kind – soos meeste kinders het dit vir my gelyk of al die ander mense presies weet wat hulle doen, net ek het nie ‘n clue gehad wat ek doen nie! En saam met al die ander, kom ek nou agter, het ek ook gemaak asof ek weet! Dis nou vir my die domste ding, om te maak asof ek weet wat aangaan – niemand weet mos alles nie – en nou sal ek maklik sê dat ek nie verstaan nie! Maar toe ek ‘n kind was sou ek nooit! Want sê nou net almal kom agter hoe dom ek eintlik is! Ek dink hoe ouer mens word, hoe meer word jy soos jouself. As ‘n mens ‘n kind is, is jy so bang om net jouself te wees dat jy sommer word wat jy dink ander mense dink jy is. En dan, as jy ouer word, gaan mens weer opsoek na die mens wat jy werklik is.
Vir baie van ons, veral vir my, is tannie ‘n rolmodel. Wie is tannie se rolmodel en hoekom?
OOOOO, ek sidder. EK? ‘n Rolmodel? Nou laat jy my worrie! Ek sal in spore moet trap! Ek het nie ‘n rolmodel gehad nie – ek het wel sekere eienskappe in verskillende mense bewonder – die een se deursettingsvermoë – ‘n ander se geduld en weer ‘n ander se vermoë om liefde te gee. Maar ek dink die hele idee van ‘n rolmodel kan dalk verwarrend wees vir mens. Want eintlik moet jy jou eie rolmodel wees omdat jy net jouself moet wees. En dis partykeer die heel moeilikste van alles! Veral as mens skryf is dit baie belangrik dat jy weet wie jy is en soos jouself en met jou eie natuurlike styl skryf. Dit help nie om iemand anders te probeer na-aap nie. Mens moet natuurlik leer om jouself te vertrou – maar dis nogal moeilik aangesien dit steeds lyk asof ander mense alles weet – en dis net jy wat so oneindiglik dom is! Maar ons strompel maar voort …. aan op die pad om onsself te word en onsself te vertrou.
Die Balkieboek is aan tannie vertel deur Balkie. Waar het julle mekaar ontmoet?
Elizabeth Pulles, wat Balkie illustreer, het in 1993 op pad na die poskantoor toe, vir Balkie onder ‘n bos in Westdene, Johannesburg sien sit – huis toe gehol en hom gaan teken en my dadelik gebel. Op daardie stadium het ons net saam ‘n boek gedoen en ons het gedink om met die lyfie – wat op daardie stadium nog nie ‘n naam of ‘n siel gehad nie, ‘n storie te doen. Dit was alles baie vreemd, want Elizabeth sê self sy is nie eintlik die soort mens wat vreemde gediertetjies onder bosse sien sit nie – en sy is so normaal as wat ‘n kinderboekillustreerder kan wees!!!! Ek die lyfie wat later Balkie sou word teen my muur vasgeplak en gewag dat hy met my moet begin praat. En soms as niemand by was nie – mens moet maar versigtig wees dat die manne met die wit jaste jou nie kom haal nie!!! – het ek met hom ook gepraat. Toe praat ek met Joan Kruger – die redakteur van Rooirose en sy vra of ek nie ‘n kinderbladsy in die Rooirose wil behartig nie – en daar begin Balkie toe babbel en van toe af babbel hy sonder ophou en warrel hy deur die blaaie van die Rooirose en deur my en Elizabeth se lewens – soos ‘n regte, egte, wollerige kind! En buitendien weet almal mos dat hy op ‘n kleinhoewe buite Johannesburg bly saam met die pa en die ma en Isak en Bert en Karien en Roelf en Miaukatjie en die hoendertjies.
Wat is die grootste les wat tannie vir skroeiende skrywers kan leer?
Vir skroeiende skrywers? SKRYF! Mens kan mos vir ure lank wonder of jy kan of nie kan nie – wonder waaroor jy nou moet skryf en het jy nou tyd en sê nou net … ensovoorts … ensovoorts … BEGIN net – SKRYF – GLO IN JOUSELF – en as jy hulp nodig het, vra daarvoor. MAAR SKRYF. DOEN wat jy moet doen. Een van my boeke se naam is ‘n Haas moet doen wat ‘n haas moet doen – as mens wil skryf, SKRYF. As mens aan die skryf is, SKRYF nog! Skrywers DINK nie! Hulle SKRYF. En mens leer nie fietsry deur vir ‘n fiets te KYK nie – jy leer fietsry deur FIETS TE RY. Netso, leer mens nie skryf deur te wonder oor skryf nie, jy leer skryf deur te SKRYF!