Spesiale toekenning aan Freda Linde

Unisa se Eenheid vir Navorsing in Kinderliteratuur (ENIK) het onlangs ‘n spesiale toekenning aan Freda Linde gemaak vir haar besondere bydrae tot die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse kinder- en jeugliteratuur. By die oorhandiging van die Sertifikaat aan Freda Linde het Thomas van der Walt, voorsitter van ENIK, die toekenning soos volg gemotiveer:

Freda Linde is sekerlik een van die veelsydigste skrywers in Afrikaans. Vir volwassenes skryf sy novelles, eenbedrywe, essays, sketse en gedigte. Dit is egter vir haar bydrae as skrywer vir kinders en die jeug dat Freda Linde onthou sal word en waarvoor die Universiteit van Suid-Afrika se Eenheid vir Navorsing in Kinderliteratuur vandag graag hierdie spesiale toekenning aan haar maak.

Sy is een van die vaardigste Suid-Afrikaanse skrywers vir alle ouderdomsgroepe: vir kleuters, jong kinders en tieners. Sy skryf realistiese verhale, fantasie, kinderpoësie, rym, vakliteratuur, herdigtings van volksverhale en nog meer. Van haar 29 oorspronklike tekste is dertien vertaal en in die buiteland uitgegee. Sy het self meer as 150 boeke in Afrikaans vertaal.

Freda Linde is die mees bekroonde kinder- en jeugboekskrywer in Suid-Afrika (Afrikaans en Engels). Sy ontvang die CP Hoogenhouttoekenning vier keer: in 1965 vir Snoet-Alleen; in 1974 vir Jos en Klos; in 1975 vir By die oog van die fontein en in 1978 vir Die kokkewiet en sy vrou. Die Tienie Hollowaymedalje is twee keer aan haar toegeken: in 1973 vir Jos en die Bok en in 1985 vir Die Keiserkroon. Die Singende Gras verwerf vir haar die Scheepersprys in 1974; die WA Hofmeyrprys in 1976 en ‘n Goue Medalje van die Namibiese
Kinderboekforum in 1990. Sy wen die Scheepersprys ook vir ‘n Tuiste vir Bitis in 1983; die Alba Bouwerprys vir Strepie en Kurfie in 1987 en die MER Prys vir Eenders en anders in 1999.

Dit is moeilik om hierdie veelsydige skrywer se werk in enkele woorde vas te vang: daar is die liefde vir die natuur wat geïntegreer in haar skryfwerk is; haar vermoë om ‘n bepaalde atmosfeer en stemming raak te vat; om die grense tussen werklikheid en verbeelding op te hef; om jong lesers te bereik sonder dat dit lyk of sy spesifiek vir hulle skryf; haar fyn karakterisering; die sosiale kommentaar in haar werk – byvoorbeeld die wyse waarop sy natuurlike verhoudings tussen verskillende bevolkingsgroepe kon beskryf sonder teken van paternalisme, in ‘n tyd toe dit alles behalwe algemeen was.

As daar ‘n Suid-Afrikaanse kinder- en jeugboekskrywer is wat verdien om bekroon te word vir haar bydrae tot die Suid-Afrikaanse kinderliteratuur, is dit Freda Linde.Dit is dus vir Unisa se Eenheid vir Navorsing in Kinderliteratuur ‘n
voorreg om hierdie toekenning aan Feda Linde te maak vir haar unieke en
besondere bydrae tot die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse kinder- en
jeugliteratuur.

Oktober 2003

Thomas van der Walt
Thomas van der Walt is verbonde aan die Eenheid vir navorsing in kinderliteratuur, UNISA.
Oktober 2003
0
Would love your thoughts, please comment.x