Wanneer my pa vir my ‘n storie gelees het..

“Om ‘n kind te wees is nie dieselfde as jy nie boeke het nie. Boeke het my gevul met vreugde en my verbeelding verryk. Van my mooiste herinneringe as kind, kom van die storieboeke wat ek gelees het en die mense saam met wie ek dit gedoen het.” (Anton Coetzee) 

Jongmense vertel van die rol wat hul ouers en gesinslede in hul liefde vir lees gespeel het.

“Ek was mal daaroor om kinderstories te hoor, maar het glad nie daarvan gehou om dit self te lees nie. Ek het altyd my ma gekry om dit vir my te lees of soms my pa. Wanneer my pa vir my ‘n storie gelees het, het hy weg gedwaal van die regte storie en sy eie storie vir my vertel. Elke aand was ‘n vervolging van die vorige aand.” (Mia Lindeque)

“Ek het so ver nog net goeie herinneringe van lees. Vandat ek kan onthou gaan my ma gereeld biblioteek toe. My ma-hulle het ook elke aand vir ons stories gelees of vertel voordat ons gaan slaap het. My pa het meestal natuurverhale vir ons gelees soos Kees en Kloes en Buks deur die Hobson-broers. My ma het vir ons Alba Bouwer se Stories van Rivierplaas gelees. My ma het toe ek klein was vir ons ‘n plakboek gemaak met al ons troeteldiere en familie se foto’s, en ‘n rympie daarby. Dis waar my belangstelling in gedigte begin het. Ons hele gesin hou gelukkig van lees en dit sal nie snaaks wees om in die sitkamer in te stap en elkeen met ‘n boek in die hand aan te tref nie.” (Lizelda Marais)

“Ek onthou die groot Afrikaanse kinderverhaalboek. Daar was verskeie stories in wat my ma in die aande vir my gelees het voor ek gaan slaap het. Ek onthou ek het partymaal by haar in die bed gelê om die mooi prentjies te kon sien omdat die boek te swaar was om vir my alleen vas te hou.” (Yolande de Jager)

“Die lekkerste lekker was om my ma in die bed te betrap met ‘n boek: dan kon ek langs haar inwurm en ook lees tot my pa kom slaap het. Biblioteek toe gaan was ook heerlik. Toe ek al in die skool was, onthou ek veral wintersmiddae wat ek en my ma soontoe stap, en dan later in die laatmiddagson sit en lees en lemoene eet terwyl sop op die stoof prut.” (Joanette van der Merwe)

“My eerste ervaring van ‘n boek was toe ek min of meer pasgebore was, so ek kan dit nie regtig onthou nie. My ma vertel my dat sy vir my al stories gelees het (terwyl sy met haar vinger die woorde volg) toe ek self nog ‘n pap babatjie was. Ek kon op ‘n baie vroeë ouderdom (drie) al self ‘n storie lees en het boeke verslind omdat die liefde daarvoor van babadae af al by my gekweek was.” (Ronel Rossouw)

“My eerste ondervinding met boeke en stories was van kleintyd af as my ma vir ons stories gelees het. My ma is ‘n bibliotekaresse wat al baie lank haar eie biblioteek het. Sy het ons van jongs af gedwing om te lees totdat dit later lekker was. Vandag is ek nie spyt daaroor nie, aangesien my leervaardighede in graad een al beter was as van die kinders s’n en my juffrou vir my die standerd eens se boeke gegee het om te lees.” (Eretha Pienaar)

“My ma het vir elke kind gereeld nuwe leesboekies gekoop. Die besondere keer was dit Storieman-boekies. Ek en my suster het ons self ure lank vermaak met die verhale. Ons het selfs vir elke karakter ‘n ander stem uitgedink. Natuurlik was om die verhale net te lees later nie meer goed genoeg vir ons nie en ons het dit toe begin opvoer. Ek onthou hoe moedeloos my ma kon raak, want sodra sy begin besig raak met iets moes sy eers alles los om eers na ons opvoerinkie te kyk.” (Elmien du Preez)

“Ek onthou nog hoe my twee ouer sussies saam met gesit het in die middae as hulle van die skool afgekom het, hoe hulle my gehelp het on te lees, en hoe hulle gewillig was on te luister as ek vir hulle ‘n storie wou lees.” (Anton Coetzee)

“Toe ek skool toe is, het ek elke tweede Woensdag saam met my oudste suster na die Reisende Biblioteek gestap waar sy vir my allerhande interessante boeke uitgeneem het. Alles van ou wetenskap handboeke tot speurverhale.” (M Williams)

“Ek was mal oor lees, my ma het gedurig vir my boeke gekoop en omdat ek in ‘n Franse skool was, moes hul my self leer hoe om Afrikaans te lees. Ek kan nie regtig onthou watter stories my ouers vir my gelees het nie, want hulle was selde by die huis, maar ek onthou my sussie het vir my stories as kind gelees.” (Inelda Biela)

“My broers (wat tien en nege jaar ouer as ek is) het my die alfabet geleer, en toe ek eers die klanke van my ma se lesery kon volg, het my broers my gou gehelp om te lees.” (Joanette van der Merwe)

“Fiela se kind het ek gelees toe ek in die laerskool was – dit was my ouer broer se skoolboek en ek was nuuskierig toe hy vertel hoe hulle daarin vloek. Ek het die boek gelees en emosioneel betrokke geraak. Die storie was baie treffend. Die dinge wat ek nie verstaan het nie het my broer vir my vertel.” (Lerisha Labuschagne)

“Storietyd was my gunsteling tyd by die huis en selfs die kleuterskool. Ek kon my vergaap aan hoe die stories vertel is, hetsy deur my ma of die juffrou wat dit vir my vertel het, of deur die kasette wat toe nog daardie tyd op radio gespeel het. Ook die stories oor hasies, skoenlappers en dogtertjies met wit rokkies in blommetuine wat vir my vertel is net voor slaaptyd, sou ek nooit kon verruil vir enige lekkerder ding nie. My verbeelding kon soms ver draaie met my hardloop en later in my lewe het stories en boeke vir my ‘n ontvlugting geword.” (Louise-Marié Botha)

“Die vroegste ervaring van stories wat ek kan onthou is toe ek vier was. My ma het so pas terug gekom van die hospitaal waar sy ‘n oogoperasie gehad het, en ons kinders was letterlik in trane. Ek kan nog onthou dat my pa by ons kom sit het en die hele aand het hy dieselfde paar stories oor en oor gelees. Hy het vir ons gelees selfs ‘n halfuur na ons bedtyd. (Wat in ons huis ‘n groot ding was.) Deur daardie spesiale gebeurtenis in my lewe het ek geleer dat stories ontvlugting kan bring. Dit was ‘n wonderlike fantasiewêreld waar alles altyd goed eindig en almal – of wel die goeie karakters – gelukkig is. Jy bly nog steeds in dieselfde situasie, met dieselfde mense in jou lewe, maar nadat jy ‘n storie gelees het, dit ervaar en gelewe het, lyk die regte lewe nie meer so erg nie. Ek dink my liefde vir boeke en stories het in daardie aand ‘n vesting in my lewe geword. Tot vandag toe nog sal ek op die swartste dae en oomblikke in my lewe myself na boeke toe draai om net eers rustig en kalm te word. Dan sal ek die lewe by die horings pak.” (Elzere Cox)

Eerstejaarstudente in Skryfkuns, Noordwes-Universiteit.
Mei 2006.
0
Would love your thoughts, please comment.x