‘n Kameel, ‘n sprinkaan en ‘n vrot tamatie

‘n Kameel, ‘n sprinkaan en ‘n vrot tamatie (resensie)

Annelie Ferreira
Tafelberg
Resensie deur DJ Cloete

“’n Paar vrot tamaties trek verby ons en een tref my vol in die gesig.” Hoe pas ’n kameel, ’n sprinkaan en tamaties, en dan is dit boonop vrot tamaties ook nog, in dieselfde verhaal? Hierdie lukrake voorwerpe vind elkeen hul eie plek in Koedoesdorp. Gerrie se avontuur begin op ‘n saai Maandagoggend wanneer daar, vreemd genoeg, ’n kameel in hulle tuin opdaag. Kort daarna verskyn ’n familie wat van die Sahara-woestyn verdwaal het. Die lukrake gebeure stop nie hier nie, daar is Raymond wat van bome hou, juffrou Pieters wat oornag verander en ma wat net op die bank sit en roomys eet.

In hierdie boek van Ferreira skort daar met tye ’n goeie oorgang van die een gebeurtenis na die ander. Dit het vir my gevoel asof dit so lukraak soos die items wat saamgebring is in die verhaal, op mekaar volg sonder dat daar ’n logiese veband is. Dit mag die leser op tye verwar en vir die jonger leser wat baie maal die vraag vra “Maar hoekom?” mag die storie dalk ’n paar bladsye kort sodat die verhaal meer kohesief vloei. Die karakters van die Sahara-woestyn het ’n GPS, maar die kind verstaar homself aan die TV (menende dat hy nog nie een gesien het nie). ’n Ander geval wat ook nie logies vloei nie, is waar Gerrie praat van ’n rugby-TV-speletjie en dan slegs wonder of die woestynmense iets weet van rugby, en dan speel hulle liewer rugby buite met ’n sokkerbal sonder dat die leser bewus gemaak word dat hulle besluit het om nie meer die TV-speletjie te speel nie. Ek verwys ook na juffrou Pieters wat oornag verander het as gevolg van haar ongeluk. Het Raymond, die vreemde ou, wat in die boom van haar ongeluk gesit het, iets aan haar gedoen? Wat is werklik so vreemd aan Raymond? En hoekom gooi oom Jan net vrot tamaties na mense toe? Word sulke sinisme en kinderagtige aksies van ’n ou oom verwag of het Gerrie en Anneke iets aan hom gedoen? Hierdie is ’n paar vrae wat die boek nie kon beantwoord nie, maar dit mag dalk wees dat Ferreira die tegniek aangewend het om die choatiese gebeure in die verhaal te beklemtoon.

Die boek het wel baie goed daarin geslaag om met goeie humor die storie oor te dra. Die vreemde woorde wat Ferreira gebruik as die taal van die ‘woestynmense’ is oorspronklik en grappig. Die vreemde, ‘buite-karakter’ optredes van Gerrie se ma waar sy net besluit om roomys te eet en oom Jan wat almal met vrot tamaties gooi, dra by tot die humor van die boek. Die twee polisiemanne het my herinner aan Laurel en Hardy wat effe satiries van aard is. Gerrie is deel van die sterotipiese familie, maar vir die leser sal dit lekker wees om te kan identifiseer met die avontuur waarop Ferreira die leser neem. Gerrie is die tipiese idee wat ’n mens van ’n graad 5 seun en sy sussie, die graad 7 meisie, het. Ferreira het dit reggekry om hulle baie getrou uit te beeld en die jonger leser te betrek. Die sosiale media waarmee Anneke, Gerrie se sussie, haarself die heeltyd mee besig hou, is in werklikheid ook deel van kinders se lewe op ’n jong ouderdom en mag die leser bewus maak van hoe behep hy/sy is met sosiale media. Soos reeds genoem, is daar baie chaotiese gebeure in die verhaal, maar dit dra by tot die opwinding en avontuur nadat Gerrie so gewens het dat daar net iets op Koedoesdorp sal gebeur.

Die illustreerder Séan Verster het homself goed van sy taak gekwyt en die illustrasies ondersteun die teks. Die illustrasies is vars en dit sal ook die jonger leser se aandag trek. Alhoewel dit strokiesprentkarakters is, word hulle baie realisties voorgestel en die illustrasies kan selfs die chaotiese onrealistiese gebeurtenisse vir die leser baie realisties laat voel, asof die kameel nou enige oomblik in jou eie tuin gaan opdaag.

Ek as ouer leser het die verhaal baie geniet en alhoewel ek voel dat daar met tye ’n tekort aan vloei van die verhaal was, dink ek dit was ’n geslaagde verhaal en sal dit beslis vir ’n jonger leser aanbeveel. Dit het my lekker laat lag en ek is seker baie ander lesers ook baie genot verskaf.

DJ Cloete
DJ Cloete is ‘n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2014.
2014-12
0
Would love your thoughts, please comment.x