Afrikaans vir almal

Afrikaans vir almal (resensie)

Isabel Uys
Pharos
Resensie deur R Greyling

Afrikaans vir almal, deur Isabel Uys,  is ‘n splinternuwe taalgids wat nie net KABV-geskik is nie, maar voorsiening maak vir enige gebruiker van die taal. 

Die boek bestaan uit twee dele: Taalreëls en naslaanlyste en Algemene kennis.

Die taalreëls maak o.a. voorsiening vir skryftekens, leestekens, woordsoorte en sinsleer. Wat veral van nut is, is die omvattende lys waar die korrekte voorsetselgebruik aangedui word. Dít het deesdae vir baie taalgebruikers ‘n uitdaging geword.

Die naslaanlyste is goed deurdink en het groot praktiese waarde. Geluide van diere, geluide van dinge, versamelname, verkleinwoorde, sinonieme, antonieme, trappe van vergelyking , vergelykings en afkortings is van die onderwerpe wat opgeneem is die dié taalgids.

Die tweede deel van die boek bevat besonder interessante algemene kennis feite.  Geografiese feite, abnormale vrese en obsessies, Suid-Afrikaanse uitvindsels, die nasionale simbole en openbare vakansiedae van Suid-Afrika word o.a. bespreek.

Die taalgids is in ‘n handige formaat en gebruikersvriendelik. ‘n Volledige inhoudsopgawe en ‘n  alfabetiese taalindeks maak dit maklik om inligting op te spoor.

Hierdie boek behoort groot byval te vind, nie net by taalonderwysers en leerlinge nie, maar by enige taalgebruiker.

Ek voorspel dat as iemand eers dié gids aangeskaf het, dit een van die nuttigste boeke op enige boekrak sal word.

Nog boeke deur dieselfde skrywer sluit o.a. in:

  • Die Afrikaanse Makro Gids
  • The English – Afrikaans – Northern Sotho – Tswana Aid
  • Pharos English for All
  • Die Suid-Afrikaanse Gids
  • The Six Language Picture Aid
R Greyling
R Greyling is Departementshoof Tale, Hoërskool Ben Viljoen, Groblersdal. 2016.
2016-04
0
Would love your thoughts, please comment.x