Wessel is kwaad. Hy moet vir die vakansie by sy onplesierige Oupa Zirk gaan bly in die groot, grillerige ou huis waar daar niks is om te doen nie. Boonop gee sy oupa vir hom ʼn lang lys reëls wat hy moet nakom: moenie omkrap nie, moenie lawaai nie, moenie rondsnuffel nie… Ten minste het Wessel sy Kaptein Koel-strokies om te lees oor die regte-egte superheld se avonture en gevegte teen die skurk, KrapMan. Maar dan begin daar vreemde dinge gebeur en Wessel begin ondersoek instel. Hoekom loop Oupa Zirk so laat in die aand rond? Hoekom mag Wessel nie in die geheimsinnige gereedskapskamer ingaan nie? En wie is die superskurk nou eintlik?
Hierdie prettige superheldboek met elemente van die sprokiesverhaal is ʼn heerlike leeservaring vir jong lesers. Wessel is ʼn tipiese nuuskierige jong seun wat nie baie goed is daarmee om reëls te volg nie, en sy knorrige oupa wakker die rebelsheid in hom aan. Ten spyte van die grommerigheid, kruip Oupa Zirk kruip tog in mens se hart in. Die storielyn beweeg vinnig, met genoeg geheimsinnigheid en wendings om die leser op die punt van sy stoel te hou. Daar is ʼn lekker balans tussen goeie Afrikaans en die alledaagse woordeskat van jongmense. Tegnologie soos selfone word op ʼn prettige manier deel gemaak van die avontuur, sodat hierdie ʼn heerlike moderne aksieverhaal is.
Jaco Jacobs se 150ste boek maak van hom ʼn ware Superskrywer. Sy kreatiewe speel met taal en uitleg gee die boek ʼn vinnige pas wat die leser se aandag hou – ideaal vir ʼn teikenmark wat soms maar onwillige lesers is. Sy verhaal het al die elemente wat jong seuns gewoonlik soek in ʼn storie: aksie, superhelde, superkoel robotte, tegnologie en die bevredigende gevoel wanneer die goeie die kwaad oorwin. Nicolene Louw se illustrasies pas perfek by die verhaal, en haar slim gebruik van lig en donker kleure gee daardie ‘Wow!’ faktor wat ʼn blywende indruk laat. Superskurk is ʼn boek wat enige jong leser, en veral seuns, terdeë sal geniet.