Tot dit donker word, pak Werner sy kamer reg. Die Dingemalêries doen baie moeite om te kyk wat hy alles doen, maar hulle help hom glad nie.
“
Julle is in my pad,” raas Werner. “Gaan sit daar anderkant.”
Mevrou Saar maak die deur oop. “Met wie praat jy?” wil sy weet.
“Met die Dingemalêries,” sê Werner.
“Ek sien niemand nie,” sê mevrou Saar.
Werner kyk om. Die Dingemalêries het die laaste een verdwyn.
“Nes ek gedink het,” sê mevrou Saar. “Jy jok vir ons.”
“Ek jok nie!” sê Werner. “Hulle is regtig hier êrens.”
En toe skrik hy baie groot. Die Dingemalêries is besig om in ‘n ry by die deur uit te stap, reg tussen mevrou Saar se voete deur.
Werner loer in die gang af en is net betyds om te sien hoe die laaste een by die trappe begin afklouter.
“Dáár’s hulle!” sê hy vir mevrou Saar. Sy kyk waar hy wys.
“Ek sien niks,” sê sy vies.
Daardie aand soek en soek Werner die hele huis deur, maar al die Dingemalêries is skoonveld.
“Wat soek jy, Werner,” wil sy pa later weet.
“Die Dingemalêries,” antwoord Werner.
Sy pa sit die koerant neer. “Ek is nou moeg vir jou stories oor Dinge… dingese-goed, Werner,” sê hy streng. “Gaan na jou kamer en gaan speel op jou rekenaar. Dit behoort jou besig te hou sodat jy nie weer die plek omkrap nie.”
Toe Werner die volgende middag van die skool af kom, staan mevrou Saar en sy ma en sy pa by die hekkie. Die polisie se vangwa staan ook by die hekkie. Én die voertuig van die nooddienste. En die hele straat staan vol van ‘n groot skare mense.
En net toe hou die groot blink motor van die Burgemeester ook daar stil en agter hom, die klein motortjie van die koerantvrou.
Werner kyk na hulle huis. Die dak is onderstebo en die sitkamerbank staan op die skoorsteen.
“Ek het jou gesê ek gaan die Burgemeester bel,” sê mevrou Saar toe sy Werner sien.
“Werner Weideman,” sê sy pa. “Dit lyk of ‘n aardbewing die huis getref het.”
“Ek sê al lankal daar gaan nog verskriklike goed in jou kamer uitbroei,” huil sy ma.
“Jong man,” sê die polisie-kaptein. “Jou ouers beweer dat jy Dinge… dingese-iets in jou kamer aangehou het..”
“Dingemalêries,” help Werner.
“So iets, ja. Waar kom hulle vandaan?”
“Van die bome in die parkie af, meneer,” sê Werner.
“Maar dis waar my nuwe kantore gebou moet word,” sê die Burgemeester. “Die kinders speel nie meer in die parkie nie en toe het ek besluit om die parkie te laat afbreek.”
“Ja, meneer die Burgemeester,” sê Werner. “Maar nou kan die Dingemalêries nie meer in die bome bly nie en toe reën almal nat. Ek het hulle saamgevat huis toe sodat hulle nie moet verkoue kry nie.”
“Ons sal hulle moet uitroei,” sê die polisie-kaptein. “As hulle meubels kan omgooi, kan hulle dalk motors ook omgooi of die skole aanval, of dalk die regering oorneem…”
“Roei hulle uit,” sê die Burgemeester. “Ek sê roei hulle uit!”
“Meneer die Burgemeester,” soebat Werner. “As die Dingemalêries net die parkie en hulle bome weer kan terugkry, sal hulle niemand pla nie. Hulle is seker net honger, daarom dat hulle so omkrap. Hulle eet nie brood en melk nie, hulle eet seker van die blare van daardie bome. As die bome afgesaag word en die parkie afgebreek word, het hulle nêrens om heen te gaan nie. Dis tog al wat hulle vra – net hulle eie plekkie!”
Die Burgemeester dink en dink. Toe roep hy een van die mans met die geel oorpakke nader.
“Staak vandag nog die werk vir my nuwe kantore,” beveel hy. “Julle mag nie een boom verder afsaag nie. Die Dinge… Dingema… Die dingese-watsegoed moet teruggaan na hul blyplek, anders gaan ‘n groot ramp hierdie dorp tref en dan lyk die hele dorp dalk soos die Weidemans se huis.”
Hy steek sy vinger in die lug en praat met ‘n harde stem dat almal hom kan hoor. “Die parkie is van nou af ‘n bewaringsgebied,” sê hy. “Van nou af mag niemand ooit weer ‘n boom hier afsaag of eers ‘n tak van ‘n boom afbreek nie. Oortreders sal swaar gestraf word.”
En toe kyk hy na Werner. “Jong man,” sê hy. “Gaan haal jou Dinges-vriende en neem hulle terug na die parkie.”
Toe Werner in die huis kom, kry hy amper nie die sitkamer nie, so deurmekaar is dit.
“Dingemalêries!” roep hy.
“Wiebl, wiebl, wiebl, wiebl,” hoor hy.
Oral klouter Dingemalêries uit. Werner tel hulle op en sit hulle in sy hemp.
Hy wil hulle terugneem na die bome in die parkie, maar die Dingemalêries loer by sy hemp uit en die mense drom om hom saam om te kyk hoe hulle lyk. Die vrou van die koerant se kamera flits en flits soos wat sy foto’s neem. Toe die polisiekaptein aan een van die Dingemalêries wil vat, kry hy ‘n byt dat hy ‘n meter hoog in die lug opspring.
“Staan eenkant toe, asseblief,” sê die Burgemeester. “Laat die televisiespan verbykom. ‘n Nuwe spesie is ontdek!”
Toe Werner tussen die bome kom, sit hy die Dingemalêries op die grond neer.
“Toe,” sê hy. “Gaan klim in julle bome. Julle is nou veilig. Niemand sal weer een van julle bome kom afsaag nie, hoor?”
Voor jy kan sê ‘deurmekaar!’ is al die Dingemalêries weg. Net Werner se eie Dingemalêrie bly nog in sy hemp sit.
Toe die mense sien dat die Dingemalêries terug is in die bome, klap hulle hande en toe gaan almal terug na hul huise toe.
Almal, behalwe die kinders.
Hulle was so lanklaas in die parkie dat hulle al van die plek vergeet het. Hulle klim op die swaaie en gly teen die glyplank af. Die rondomtalie kwierr-kwierr soos wat dit draai en die swaaie skwie-e-ek, skwie-e-ek soos dit heen en weer swaai.
Die man van die televisie en ‘n vrou met ‘n boek kom na Werner toe. “Kan ons na jou Dinge… Dingese kyk?”
Werner haal vir Dingemalêrie uit sy hemp en wys hom vir die man.
Die man knip versigtig ‘n stukkie veer van Dingemalêrie se ronde vlerkie af en sit dit in ‘n sakkie. Die vrou skryf met ‘n swart merkpen op die sakkie. ‘Veer van linkervlerk’.
En toe meet die man Dingemalêrie se lyfie en weeg hom op ‘n klein skaaltjie. Die vrou skryf neer hoe lank hy is en hoeveel hy weeg.
Toe die man wil kyk of Dingemalêrie tande in sy snawel het, knerts Dingemalêrie hom aan sy vinger en toe klouter hy weer voor by Werner se hemp in.
“Verdeksels seer, nogal!” sê die man en suig sy vinger en die vrou skryf dit ook neer.
“Hierdie nuwe spesie is ‘n groot ontdekking,” sê die man. “Ons gaan jou geveerde vriendjies hul eie wetenskaplike naam gee. Ons noem hulle die Dingemalerianostikas en hulle van is Weidemawernersemaatstika. Dis hul wetenskaplike naam.”
Die vrou skryf en skryf en die kamera flits en flits.
Die Burgemeester roep ‘n man in ‘n geel oorpak nader.
“Sorg dat al die speelgoed in die parkie behoorlik geolie en geverf word sodat die kinders elke dag hier kan speel,” sê hy. “Sorg ook dat die bome elke week water kry en plant baie blomme. By die hek moet julle ‘n groot bord opsit met die woorde: Die Werner Weideman-parkie. En dan moet julle nog ‘n bord opsit wat sê: Moenie die Dingemalêries voer nie. Bedreigde spesie.”
Die Burgemeester vryf sy hande tevrede en kyk na Werner. “Die dorp is baie dankbaar, jong man,” sê hy. “Hierdie vriendjies van jou gaan ons nog beroemd maak want baie mense sal na hulle wil kom kyk.”
“Ek het mos lankal gesê ek moet die Burgemeester bel,” sê mevrou Saar in haar skik.
“En ek het nog altyd geweet daar gaan iets wonderliks in my seun se kamer uitbroei,” sê Werner se ma trots.
“Kom, Werner,” roep die kinders in die parkie. “Bring jou Dingemalêrie en kom speel saam!”
“Ek kom!” sê Werner opgewonde.
“O, nee, Werner Weideman,” sê Werner se pa. “Jy gaan eers die huis regpak voor jy weer in die parkie gaan speel.”
“Net ‘n oomblik, meneer Weideman,” sê die man van die televisie. “Ons wil asseblief eers foto’s van die huis neem vir die aandnuus. Ons wil alles probeer uitvind van hierdie nuwe spesie en wil graag sien wat hulle alles kan doen. As ons klaar is, sal ons die huis regpak. Ons vra ook mooi dat u Werner sal toelaat om elke dag parkie toe te gaan, sodat hy ons met die navorsing kan help.”
“Natuurlik,” sê Werner se pa.
“Dankie tog!” sug Werner verlig. Hy was bang sy pa gaan hom vir ‘n hele jaar hok!
“Dingemalêrie,” sê hy. “Kom ons gaan speel met die ander kinders.”
“Wiebl!” sê Dingemalêrie bly en klouter tot teen Werner se wang.
(Skrywer: Marie Britz)