Die kinderhuis groei soos ‘n lewende ding uit die klip en grond van die stad. Ek verbeel my soms in die nag ek hoor dit asemhaal. Nou hoes dit kinders en oppassers.
Dit lyk of die hele stad buite rondstaan, selfs Buitengrag se
gondels is vasgemeer en die passasiers staan bedremmeld op die wal.
Daar is energie in die lug, want iets het gebeur om oor te praat: die
aardbewing was erger as die vorige, minder erg, het langer aangehou,
nie so lank nie. Groot storie. Iemand wys na die Geo-ingenieursgebou
waar die ligte nog brand en niemand uitgekom het nie. Almal kyk waar hy
wys. Bla-bla-bla.
Dit is die hoeveelste aardbewing in ‘n week en elke keer in die aand.
Kaleb trek sy los linnebroek effens op, gaan sit op die
boomworteltrappe en ek sak langs hom neer. Hy vryf met sy duim en
wysvinger uitgestrek oor sy gesig, van die hoeke van sy donker oë tot
by sy neusbrug, soos ek hom dikwels sien doen. Hy het mooi hande, sterk
vingers, kort naels. Hy kyk op. “Sy’s weer kaalvoet,” sê hy, ‘n glimlag
in sy stem.