Ons het op ‘n plaas gebly so 40 km van die naaste dorpe af, Nylstroom en Warmbad. Ons het na die plaaslike plaasskool Uitsig toe gegaan. Uitsig was baie klein (net so 40 kinders!) maaaaar dit het ‘n eie biblioteek gehad! Maar die ding van lees kom veel vroeër…. Op die buurplaas het Tant Heleen Koekemoer die rondreisende biblioteek in ‘n staalkas beman. Van my vroegste herinneringe is hoe ons soontoe is en dan kon ek kies, al was daar maar net een groot rak van klein kinderboekies. Dan is ons terug huis toe en dan het my pa vir my gelees, in daardie dae het ek gehou van boeke met mooi en helder illustrasies. Was dit hier waar ek Huppel en sy maats ontdek het?
My ma het in die dorp gewerk en so het ek toegang gehad tot die Vonk, Patrys, Jongspan, Tina en ja, Bollie! Dit het nogal tot baie frustrasie gelei vir my arme ma want as sy die nuwe tydskrif die huis ingebring het , kon hoor en sien vergaan, ek wou net my tydskrif lees.
Met verloop van tyd is ons toe laerskool toe, en ontdek ek toe die biblioteek en leer ek als, maar om baie vinnig te lees en word daardie beperking van twee boeke per week my kruis… So ontdek ek Trompie en die Boksombende, Die Uile, Saartjie, Kobie-hulle, Keurboslaanstories. Die reekse was nie volledig nie en wanneer ek by my Tannie Hannah gaan kuier het, het sy my na hulle dorpsbiblioteek geneem en dan begin die pret van vooraf. Groot was die vreugde as ek nog ‘n boek in die reeks opspoor.
In my tienerdae was ‘n biblioteek vir my die plek waar ek tot rus kon kom, of droom, of dink of wonder. As student by die Randse Afrikaanse Universiteit het die boekwêreld ontsaglik groot geword, maar ek sal nooit my eerste besoek aan die Johannesburg stadsbiblioteek vergeet nie. Dit was soos heilige grond! En raai watter reekse gaan soek ek toe weer om te sien of daar nie tog iewers nog een in die reeks te vinde is nie?