Jake skrik met ‘n ligte rukbeweging wakker – elke spier dadelik snaarstyf gespan, sy hande op die pistool. ‘n Oomblik lank lê hy net so in die stikdonkerte. Het iets hom wakker gemaak? Dis doodstil. Die enigste geluid is sy sagte asemhaling teen die koel materiaal van die slapsak. Stadig ontpan hy.
Dis verstommend hoe vinnig ‘n mens aanpas. ‘n Week gelede het hy nog soggens maklik dwarsdeur die skril, deurdringende geluid van die wekker geslaap. Nou voel dit of elke senupunt ‘n fyn sneller is wat sy lyf op die geringste geluid laat reageer.
Jake blaas sy asem uit en maak sy oë weer toe.
Dis vandag Sondag, besef hy. Presies ‘n week na die uitbreking. Nie dat die dae se name meer sak maak nie. Dit voel nie of daar net ‘n week verby gegaan het nie.
As dit alles in een van my gunsteling-comics gebeur het, sou jy net ‘n paar raampies nodig gehad het om die afgelope week op te som. Hy kan dit in sy verbeelding sien…