Ek kan sien iets is aan die broei.
Die middag toe ek by die huis kom van die skool af, wag my ma vir my met my gunstelingmiddagete: ‘n wegneemhamburger en ‘n groot hoop aartappelskyfies. Die rooi-en-geel verpakking lyk skoon uit sy plek in die middel van ons netjies gedekte tafel.
Sy het so ewe ‘n potjie met blommetjies ook reggesit.
“Is dit nie ongesond nie, Ma?” vra ek versigtig.
“Ja, dit is seker,” sê sy, “maar dit is nie asof jy dit elke dag eet nie, ne?”
Ek verorber my middagete so vinnig, ek vergeet amper om te wonder hoekom ek so bederf word.
My ma fluit ‘n lawwe deuntjie daar van die opwaskamer se kant af.
Onder die tafel druk Willem sy nat snoet teen my been.
“Jy kan nie hiervan kry nie, Willem!” raas ek. “Jy is reeds oorgewig!”
Willem sug. Hy stap weg en gaan lê op sy geliefkoosde plek: die groot leunstoel waar my pa graag soggens sy koerant sit en lees oor ‘n koppie koffie.
Ek wonder of die mense by die werk soms opmerk dat my pa se agterstewe gedurig vol wit-en-swart brakhare is.
My ma kom in die eetkamer in. Sy vee haar hande aan ‘n vadoek af en glimlag breed.
“Is dit lekker skattie?”
Nie “Hoeveel huiswerk het jy?” of “Het jy al begin leer vir jou aardrykskundetoets?” of “Jou sokkies het al weer op die badkamervloer gelê nie.
Ek gluur haar skeef aan. Daar is definitief …