Wraak

Wraak

Daniëlle Bakhuis
LAPA

“Jy wil my dump?”
Henk kyk my aan asof ek pas voorgestel het dat ons ons tande met skeermesse moet borsel.
“Ernstig? Jý? Vir mý?” vra hy.
Ek byt op die binnekant van my wang om nie iets terug te sê nie. Van die simpatie wat ek ‘n paar minute gelede nog gehad het, is net mooi niks oor nie. 
Ek het opgesien daarteen om met hom uit te maak. Ek het selfs op die internet gaan kyk wat die beste manier is om dit te doen. Bly vriendelik. Hy of sy kry reeds swaar genoeg, was een van die wenke waarop ek afgekom het. Vet kans dat die skrywer van daai stukkie wysheid al ooit met iemand soos Hnek moes uitmaak. 
“Het jy regtig gedink iemand soos jý kan iemand soos ék dump, Kristie du Plessis?” gaan hy voort. 
Hoekom sê mense altyd jou volle naam as hulle vir jou vies is?
Henk gluur my aan. “Kom ons verstaan mekaar moi: As iemand hierdie verhouding beëindig, is dit ék. Dis lankal nie meer vir my lekker om met jou uit te gaan nie.”
“Oukei,” sê ek. “Fine. Dan is jy die een wat uitmaak. As dit die enigste manier is om jou ego te red, fantasties.”
Hy suig ‘n asemteug na binne. “My ego? Ek het lankal vergeet ek het iets soos ‘n ego, die oomblik toe ons met mekaar begin uitgaan het.”
“Nou ja toe,” sê ek skerp. “wat is dan die probleem?”

lusmakers