Die Poort-reeks:

Die Poort-reeks: “Helers”

Nelia Engelbrecht
NB-uitgewers

Ek ruik koue staal toe ek die sleutel in die slot druk en draai. Bokant ons koppe begin die ganglig flicker.

“Dis weird,” sê Nomsa.

“Hulle noem dit toeval. Die gloeilamp is seker op pad uit,” sê Leonardo.

Eintlik is Nomsa reg. Dit is weird, en nou praat ek nie net van die gloeilamp nie. Ek meen, hier sluip ons vier in die middel van die nag in ‘n geheime woonstel onder my ma se kunsateljee rond. En dit nadat ons deur ‘n kas in die kunsateljee geklim het en van daar af met trappe af is tot in die Bewakers se Raadsaal wat soos ‘n vertrek in ‘n Middeleeuse kasteel lyk.

Die deur kraak toe ek dit oopstoot. Die vertrek ruik na stof en ou papier en nog ouer geheime. Met my spesiale Bewaker-nag-visie sien ek die ligskakelaar en druk dit.

“Lyk dit soos in jou droom?” vra Nomsa.

Tara vat-vat aan die donker vlegsel wat oor haar skouer hang.

“Die boekrakke met ou boeke lyk dieselfde . . . but there was a big book on the desk too.”

“Die boek waaruit die lig geskyn het?” vra ek.

Tara knik.

“Wel, daar’s nou boggerall,” sê Leonardo. “Behalwe dié.”

“Dit lyk soos ‘n verkyker uit Pirates of the Carbibbean,” sê Nomsa.

“Die ou wat die eerste verkyker vroeg in die sewentiende eeu gebou het, was ‘n Hollandse dude, Hans Lipperhay,” sê Leonardo

Ja, oukei, ek weet die invention van die verkyker is nie deel van ons graadelf-sillabus nie, maar as jy superslim is soos Leonardo en Google is boonop jou beste pel, is dit seker nie vreemd om sulke goed te weet nie.

Ek tel die verkyker op. Dit bestaan uit verskillende metaalpype wat in mekaar pas. Ek trek dit langer en loer deur die lens.

“Ek sien net ‘n blur. Dalk werk dit nie meer nie.” Dan gebeur daar iets. Die vae beeld word stadig maar seker skerper, totdat ek reg in die oë van ‘n harerige monstergesig vaskyk.

lusmakers