Jy’s kwaad vir die hele wêreld. En jou enigste wapen is ‘n rugsak vol woorde.
Gabriel is vyftien jaar oud. Fifteen going on fifty, soos sy ma altyd geterg het. En na haar dood weet hy skielik nie meer waar hy inpas nie. Die sielkundige wil hê hy moet oor sy gevoelens praat.
Maar hoe verduidelik jy vir haar dat dit die afgelope paar maande makliker geword het om met woede te cope as met snot en trane?
Hoe verduidelik jy dat jou kastige ‘gemengde bloed’ jou anders as die res maak? Hoe verduidelik jy dat dinge net nie meer dieselfde tussen jou en jou pa is nadat hy in ‘n sielkundige inrigting opgeneem is nie, terwyl jy moet probeer aangaan met jou lewe? Hoe verduidelik jy waarom jy al twee keer jou polse met ‘n knipmes probeer oopkerf het?
Daarom verloor Gabriel homself in die wêreld van performance poetry, waar jy jou woede in woorde kan omsit en dit vir ‘n gehoor uitbasuin.
In hierdie wonderwêreld van woorde leer hy om sy hand diep binne-in sy rugsak vol woorde te steek en die woorde soos gloeiende kole vir ‘n gehoor te gooi.
Dan ontmoet hy vir Sasha, wat mooier is as Sneeuwitjie en boonop ‘n ding of twee van poësie weet …