“Wat is ’n operahuis sonder ’n operamuis?” het die groot komponis Verdi in 1872 gevra.
Daar was eenmaal so ’n operahuis met sy eie handjievol muise. Hulle het in hoekies en gaatjies weggekruip totdat die laaste noot gesing word en die handeklappery bedaar, dan het hulle kom snuffel vir ’n stukkie sjokolade of ’n paar neute wat iemand dalk laat val het.
Maar daar was een meisiemuisie wat ’n ander koers ingeslaan het: gereeld soos klokslag elke aand kruip Belladonna na die verhoog, en wanneer sy in die middel van die groot, donker verhoog staan, begin haar hart vinniger klop.
Ja, Belladonna Muis het ’n groot droom gehad: sy wou in ’n opera optree. Van al die operas wat al in daardie operahuis opgevoer is, het sy elke noot en elke woord geken, al was hulle in vreemde tale.
Die enigste probnleem was: sy het van geen opera geweet waarin ’n muis ’n rol het nie.