“Gogga!” Wat is die eerste ding waaraan jy dink as iemand so skree? Natuurlik – trap dit dood! Of: Gryp die vlieëgif! Daar gaan omtrent nie ’n dag verby dat jy nie ’n insek of twee sien nie. Insekte is oral – hulle bly in ons tuine, kom steel saans suiker uit die suikerpot, fladder bokant blomme of kruip in die appel weg waaraan jy pas gehap het. Party insekte, soos skoenlappers en skilpadkewers, is baie mooi. Ander, soos kakkerlakke en koringkrieke, is weer vir party mense baie grillerig. In hierdie boek word daar nader kennis gemaak met die wonderlike wêreld van goggas. Ons gaan kyk na wat goggas eet, waar hulle woon, hoe om hulle te bewaar en selfs watter goggas die rekords hou vir verspring en hoogspring!