Van die eerste oomblik toe Jamie vir Sebastiaan in die groentetuin sien lê het, het hy geweet hier kom moeilikheid. Sommer GROOT moeilikheid!
Sebastiaan is nie net `n gewone kat nie. Hy is `n spekvet, grysgestreepte kat – en hy kan praat! Al wat hy eet is tuna en room, want dit is wat die kattedokter in die Kaap vir hom voorgeskryf het.
Ouma Katie dink Sebastiaan is `n dierbare ou katjie, maar Jamie weet van beter. Hy weet dat dit Sebastiaan was wat die skoolhoof se tunatert opgevreet het EN wat hulle amper in die koue van `n smerige ontvoerder laat beland het EN wat `n wrede seerower se houtbeen gesteel het EN wat die glibberige woestyntunas so kwaad gemaak het dat hulle hom wou opkerf en in blikkies verpak…