`n Komeet is op pad na die Aarde en niemand weet wat om te doen nie! Twee vriende, Moemin en Snifsnaf, onderneem `n reis na die Eensame Berge om die professors met die groot teleskoop te raadpleeg. Op pad ontmoet hulle allerhande interessante karakters – soos Boeboe, die wereldreisiger, en die Hemulen wat hulle met `n skoenlappernet uit `n ondergrondse tonnel red. Hulle avontuur sorg vir noue ontkomings van gevare soos krokodille en reuse-akkedisse. En op pad terug red Moemin die mooie Snorkmeisie, Moemy, van `n giftige bos … en hy is nooit weer dieselfde nie. Maar gaan die komeet hulle pragtige vallei tref en alles verwoes? Avontuurlik, humoristies, universeel, vol diepgang en emosie . . . oud en jonk sal hierdie verhaal bekoorlik vind.