`n Gesuis laat hom opkyk. Dit fladder en fluit in die lug bokant geboue. Voëls! Die son blink op die grys vlerke toe die swerm `n wye draai oor die fabrieke maak. Dis mooi! Len wil nie die voëls skrikmaak nie, maar steek onwillekeurig sy hand na hulle uit. Dis asof die swerm `n oomblik huiwer, dan duik hulle op hom af. Hul gesamentlike gewig is genoeg om hom teen die grond te slinger. Hulle krap en pik na sy kop. Hy probeer met sy hande keer, maar skree van die pyn toe hulle sy hande toetakel. Met `n gesukkel kom hy orent, klap wild na die sagte, warm lywe om hom, ruik die stowwerige, vetterige voëlreuk. So skielik as wat hulle gekom het, is hulle weg. Len soek benoud in die lug rond. Hoog bokant die geboue maak die swerm `n draai. Te laat besef hy hulle is op pad terug. Hy hardloop soos nog nooit tevore in sy lewe nie…