In die nuutste Babalela-avontuur skrik die Babalela hom yskoud toe daar op `n dag `n nare gerammel in die bos is. Hy kan nie glo wat hy sien nie. Aan die rand van die bos dreun en grom `n reuse-stootskraper. Soos n kwaai bul loop die stootskraper `n klomp bome storm. Die bome knak, vou en val. Oral lê daar bome en bosse rond wat die stootskraper omgeruk het. As die Babalela en sy maats, Wrrrumpie, Meermoskat, Potifant, Knortand en die agt Fripperwakkies, nie vinnig `n plan maak nie, gaan daar niks van hul geliefde bos oorbly nie!
Nog `n heerlike Babalela-avontuur met `n belangrike boodskap oor natuurbewaring en die krag van vriende wat saamspan!
Duisende Afrikaanse kleuters ken die betowerende openingsrefrein van Martie Preller se immergewilde, bekroonde Babalela-boeke. Meer as 70 000 eksemplare van die vorige titels in die reeks is verkoop, die Babalela-verhoogstuk het die land platgetoer en danksy n Babalela-pop, -vingerpoppe, -T-hemde en n Babalela-legkaart het dié pers bosbewonertjie diep in kinderharte gekruip.