Carmen Janse van Rensburg is vyftien, slim, eiewys en droom daarvan om eendag movies te maak. Die ding is net, sy weet nie genoeg van dit nie. Jy weet, van mans en so. Wat sake nog ingewikkelder maak, is dat sy pas saam met haar ouers uit Bloemfontein na Ierland geemigreer het, dat sy nogal sukkel om tussen twee vastelande tuis te kom, en op die oomblik raadop is met haar weird ouers en haar wysneusige broer en sy verknogtheid aan dumb blondes. Is dit hoekom die grillerige Harold die movie producer kort-kort sy opwagting maak? Omdat sy in hierdie stadium net tuiser is in die kammawereld van flieks as in die grou-grys bestaan “called life”? Op een of ander manier moet Carmen aarde toe kom, tuiskom in eie vel. Maar hoe? Sy kom op `n dag op `n dagboek af wat haar ma as vyftienjarige geskryf het en begin skelm lees. Wat op aarde staan daar? Kan dit wees dat haar ma op vyftien meer as sy geweet het van DIT? Sy is tegelyk woedend en skuldig, probeer al haar vermoedens verdring, veg teen die jaloesie. Maar hierdie pynlike, teenstrydige gevoelens lei haar tot kontak met regte mense, met die werklikheid, met “that thing called life”. Sy kom aarde toe. Op `n manier op haar manier.