s_oondvars_150
505

Vuil skottelgoed

Derick Muller
Human & Rousseau

Vuil skottelgoed was die wenner van die Afrikaans-kategorie van Human & Rousseau se kompetisie Ek is ’n skrywer, wat aangebied is in samewerking met die tydskrifte Huisgenoot, You en Drum, en ook RSG Befon en SABC Education. Dit is ’n punk-roman, en die taalgebruik kom uit die rowwe wêrelde van rockmusikante en skaatsplankryers. Dit is ook ’n grootwordverhaal waarin die hoofkarakter, ene Bastian, gelouter word in die “moshpit” van die Kaapse naglewe. Bastian rebelleer teen sy ouers se voorneme om hom na matriek op Stellenbosch in die regte te laat studeer en loop weg Kaapstad toe. In die Kaap kry hy werk by ’n skaatsplank-winkel in Langstraat en word lid van ’n Afrikaanse punkgroep. In egte punk-styl is selfs hierdie groep se naam een van die boek se talle skokeffekte. Soms gaan skaats Bastian nog vir die afwisseling by die Kunstekaap of iewers in ’n Woodstockse nywerheidsgebied, maar eintlik is sy Kaapse bestaan net ’n maalkolk van drank, dwelms, seks, hard rock en nog harder patytjies. Net voordat hy heeltemal ingesluk en fyngemaal word, sien hy die lig en gaan terug na sy ouerhuis in Kimberley. Hy is bly hy het met sy lewe daarvan afgekom, maar dit is nou nie asof die plek waarvan hy weggeloop het verander het nie. Dit is steeds die trietse middelklasbestaan, en hoewel sy ouers bly is om hom terug te hê, is hulle nog so kleinburgerlik soos wat hulle was. Is daar ’n uitweg? Bastian vaar weer in sy pa se drankkabinet in en so beland hy op die randjie van selfmoord. In die slot van die roman balanseer hy op die fyn lyntjie tussen lewe en dood, en dan tuimel hy tog oor na die kant van die lewe. ’n Verantwoordelike lewe, maar een op sy voorwaardes.

Publikasie: 2007-09-06
0
Would love your thoughts, please comment.x