Donker Web

Oor die ontstaan van Donker Web

Stadig maar seker het ek brokkies inligting oor die veranderende wêreld van tegnologie begin versamel. Dit alles het in ’n lêer op my rekenaar beland – fantastiese goed wat die leser omtrent nie sal glo nie. – Fanie Viljoen

Die Matrieks behandel op die oomblik my boek Onderwêreld in die klas. Dis die verhaal van Eckardt Wilken wat as nuwe matriekleerder opdaag by Lawson Kollege, ’n privaat seunskool in die Drakensberg. Hy en die hoofseun, Greg Owen, stamp aanvanklik kop, maar later raak hulle groot vriende. Eckardt neem Greg in sy vertroue en vertel hom dat hy ’n kuberkraker is.

Dit is soos verbode vrugte vir Greg. Hy gryp die geleentheid aan en leer self dan ook hoe om rekenaars te kraak. Maar een Donderdagoggend verander Greg se hele lewe toe Eckardt spoorloos verdwyn. Greg moet die polisie en die skool help om hom terug te kry sonder dat iemand uitvind hulle is kuberkrakers, maar sy soektog sleep hom net verder die onderwêreld in.

Dit, in kort, is Onderwêreld se verhaal.

Tydens skoolbesoeke het ek telkens versoeke vir ’n vervolg op Onderwêreld gekry. Daar was ook heelwat boodskappe op sosiale media van lesers wat sê dis die eerste Afrikaanse boek wat hulle klaar lees. Hulle wou ook weet wat van die karakters geword het, en wat volgende gebeur.

Dit was nie aanvanklik die plan om ’n vervolg te skryf nie, maar ek het my arm laat draai.

Stadig maar seker het ek brokkies inligting oor die veranderende wêreld van tegnologie begin versamel. Dit alles het in ’n lêer op my rekenaar beland – fantastiese goed wat die leser omtrent nie sal glo nie.

Ek moes ook na al die jare weer die karakters in my kop probeer vind om te hoor of hulle weer met my wil “praat”. En het hulle nie gepraat nie! Hulle was ook weer vol streke.

Dit is nou alles in Donker Web neergepen.

Die verhaal begin ’n jaar en ’n half na die vorige een.

Greg is weg by Lawson Kollege. Die hofsaak is verby en hy is nou ’n student by Maties. Maar dinge loop nie volgens plan nie. Die verlede spook steeds by Greg. Oral waar hy kom, herken mense hom omdat sy foto in al wat ’n koerant en tydskrif verskyn het. Hy was immers die ou wat sy pa vir die wolwe gegooi het en hul familienaam deur die modder gesleep het.

Maar in Donker Web wil hy dit regstel. Hy besluit om die familienaam in ere te herstel. Om dit reg te kry gaan soek hy na die geheimsinnige Baker. Dalk sal hy ook weer Eckardt se hulp moet inroep.

Greg is eintlik ook klaar met kuberkraking – of miskien sal hy dit nog net hierdie keer waag …

Sy soektog is vol angswekkende oomblikke en vervleg tegnologie, die onsekerhede van studentwees, en boetedoening in ’n naelbyt roman. Natuurlik vat die boek die leser ook verder as die wêreld van kuberkrakers na die donker web.

Lekker lees!

Fanie Viljoen vertel meer oor Donker Web
Fanie Viljoen
10 Junie 2020