As kind was ek bevoorreg genoeg om ʼn boekrak vol
kinder- en jeugboeke in my kamer te hȇ. Alhoewel ek eers op hoërskool vir my
eie genot begin lees het, het my ma my van kleintyd af gemotiveer om die
fantasiewȇreld te betree. Skoolvakansies by die see, was mý leestyd! Ek was
nooit daardie waaghalsige kind wat nog voordat sy haar vlerkies aangehad het,
gehardloop het vir die golwe nie… ek was ʼn dromer… skaam, teruggetrokke, en in
my eie wȇreld. Gevolglik, was ʼn hartverskeurende liefdesroman onder my
sonsambreel, my ondergang!
Vir spookstories was ek veels te lig in die broek, speurstories was veels te vervelig na my smaak, en fiksie was nog altyd te onrealisties. Maar namate ek ouer geword het, het my liefde vir tienerromanse, gegroei. As kind het my ouers ʼn groter invloed gehad op die tipe storieboeke en genres wat ek gelees het. My gunsteling kleuter- en slaaptydstorieboeke het gewissel tussen die werke van Martie Preller se ‘Babalela reeks’, Leon de Villiers se Maroelaboomstories, en Max Lucado se kindeboeke oor die geliefde ‘Pinkenolsie’ (Pinkenolsie en die Wonderlikste Geskenk, Ek het jou gemaak, Jy is myne, Die heel beste).
Tussen die ouderdom van 7 en 9 jaar, het ek die bogenoemde boeke self van tyd tot tyd gelees, sowel as meer ingewikkelde storieboeke van Leon de Villiers, Droomoog Diepgrawer, en die Engelse ‘Walt Disney’ kinderboekreeks (waarvan Lady and the Tramp, en The Little Mermaid my gunstelinge was). Tussen die ouderdom van 10 en 13 jaar, het Bettie Naudé se Saartjie-reeks my aan die lees gehou. Ek het Saartjie(#1), en Saartjie se vakansie(#2), oor en oor deurgelees. Sy was ʼn rabbedoe en ʼn waaghals. Dit wat ek in werklikheid nooit die moed gehad het om te doen nie, het Saartjie voor opgemaak in hierdie boeke.
Vanaf 13-jarige ouderdom het ek geniet om boeke soos, My hart is vol graffiti, deur Tania Brink, en Doodloopstrate van Louise van Niekerk, te lees. Op hoërskool het ek die meeste van Janie Oosthuysen se jeugromanse gehou, wat haar ‘Eerste liefde reeks insluit (Rugbyballe en bikini’s, Daar is ʼn ou in my aarbei-smoothie, My hart klop muffins, en Ouens is nes ekstra bagasie), asook van haar ander boeke, byvoorbeeld Soene op ʼn Suzuki. Tans is Sophia Kapp my gunsteling skrywer, met werke soos die van Die verhuising, Die tuiskoms, en Die ooreenkoms.
Juis omdat my ma my gemotiveer het om te lees as
kind, het ek aan baie onvoorbereide leeskompetisies deelgeneem. Dit is hier
waar ek meeste van my boeke gekry/gewen het. As jong leser het my ouers ook,
minstens een keer ʼn jaar, ʼn punt daarvan gemaak om saam met my boekwinkel toe
te gaan, sodat ek vir myself ʼn nuwe boek kan koop. Soos wat ek ouer geword het,
kon (en wou) ek dit later self doen, of ek het sommer aanlyn die leesboeke op ʼn
webtuiste bestel.
Soos wat ek terugdink aan die kinderboeke wat ek
eens gelees het, erken/onthou ek genoeg daarvan om nostalgies te raak. As klein
dogtertjie kon ek myself verbeel ek is ʼn meermin, met pragtige lang lokke, en ʼn
selfs pragtiger stertvin. Met oulike pers maatjies soos die Babalela, het ek
avonture in die woud aangepak. Saam met Saartjie was ek die heldin in elke
storieboek, en in elke roman het ek iemand gehad om my te troos na nóg ʼn
liefdesteleurstelling. Ek het altyd ʼn maatjie gehad, ek kon altyd met iemand
identifiseer, ek was nooit alleen nie. Daarvoor, is ek baie dankbaar.
Wie sou kon dink dat die sosiale media
platforms Tik-Tok en Instagram boekwurms só aan die lees kan kry? Binne ʼn jaar,
kry die hutsmerke, #booktok en #bookstagram, reg waarmee uitgewers en
bemarkers vir jare al sukkel (The Gaurdian, 2020), maar wat presies is #booktok
en #bookstagram en hoe werk dit?
#Booktok is ʼn hutsmerk op Tik-Tok waar ʼn persoon ʼn kort video maak oor ʼn boek of die boeke wat hulle lees. Hierdie video’s het ʼn gemiddelde lengte van 45 sekondes en is sterk visueel met interessante video-tegnieke en klank. Dit is opmerklik hoe #boektok veral tieners en jongmense se aandag trek. Liefdesverhale en dramas as ontspanningsfiksie is veral gewild, maar speur- en spanningsverhale geniet ook baie aandag. Nog ʼn tendens van hierdie video’s is om jou “eerste reaksie” te wys terwyl jy die boek lees. Die persoon in die video sal byvoorbeeld huil terwyl hulle ʼn liefdesdrama lees of wys hoe hulle onder die komberse inkruip van vrees in ʼn spanningsverhaal. Alhoewel hierdie “reaksies” oordrewe en aansitterig vir sommige kan wees, berig die New York Times (2020) dat hierdie emosie-gelaaide videos daarin slaag om belangstelling te prikkel. Talle gebruikers het bevestig dat hulle ʼn boek aangekoop het, net om te sien of dit regtig so hartseer of vreesaanjaend is.
#Booktok is vir die eerste keer deur
die 16-jarige Kate Wilson begin, toe sy TikTok-video’s oor haar boeke begin
maak. Vinnig het haar volgelinge aangegroei en het ander mense ook oor hulle
boekervaringe begin gesels. Vandag het #booktok ʼn reuse aantal volgelinge en
die boekverkope stroom in. Die sukses van #booktok kan miskien aan die populêre
musiek, visuele materiaal en generasie z-humor toegeskryf word. Bussiness
Insider (2021) berig dat boeke wat in 2011 gepubliseer is, topverkopers in 2021
word danksy #booktok. Colleen Hoover se boek “It ends with us” (2016) is veral
gewild onder die “boektokkers” en het in 2020 binne ʼn maand 21 000
eksamplare verkoop. Nou is Hoover se 5-jaar oue boek New York se topverkoper. Daar
is ongelukkig nog nie baie plasings en voorbeelde van Suid-Afrikaanse boeke onder
#booktok nie en die meeste video’s word oor Amerikaanse boeke gemaak.
#Bookstagram is Instagram se
weergawe van #booktok. In plaas van video’s, deel mense op hierdie platform foto’s
van hul gunsteling boeke of uittreksels uit ʼn boek. Teenoor #booktok se video’s
met klank en byskrifte, deel #bookstagram ʼn foto met ʼn langer onderskrif wat
die gebruiker moet lees. Dit maak #bookstagram egter nie minder gewild nie.
Onder die hutsmerk #bookstagram sien ʼn mens meestal internasionale boeke en
boeke in tale soos Arabies, Frans en Portugees. Om jou soektog meer spesifiek
te maak, kan jy die hutsmerk #bookstagram saam met jou land se naam gebruik,
byvoorbeeld #bookstagramswitzerland. Suid-Afrika se hoof hutsmerk is #bookstagramza.
#Bookstagramza bestaan uit plasings oor eg Suid-Afrikaanse publikasies in
boekwinkels soos Bargain Books en Rutlandboekwinkel, maar die meeste van die
plasings wys slegs Engelse boeke.
Dit is duidelik dat die era van #booktok
en #bookstagram beslis ʼn nuwe wêreld van moontlikhede vir die boekbedryf oopmaak,
maar wat beteken dit vir die Afrikaanse boekbedryf? Dit is vanselfsprekend dat
die grootste aantal plasings in Engels is. Sou ʼn mens “boekstagram” of
“boektok” in die soekenjin tik, verskyn daar tallle Nederlandse boeke op die
skerm. “#Boektokafrikaans” en ander variasies daarvan bestaan nog nie, ten
spyte van die groot aantal Suid-Afrikaanse Engelse boeke. Afrikaans sal
eenvoudig sy eie unieke hutsmerk moet kry.
Instagram se hulpsentrum beskryf wat
nodig is vir ʼn hutsmerk om bekendheid te verwerf:
Die hutsmerk moet deur baie gebruikers gesien en gedeel
word.
ʼn Groot hoeveelheid gebruikers moet die hutsmerk in hulle
plasings begin gebruik.
Die hutsmerk moet eenvoudig wees, maar oor trefkrag
beskik.
Die Afrikaanse #bookstagram en #booktok
is egter nie sonder voorlopers nie. Op Instagram het die 12-jarige @emiliedjie
reeds ʼn hutsmerk vir Afrikaanse boeke begin: #boekstagramsuidafrika. Op TikTok
het die jeugboekskrywer, Annerle Barnard, verskeie video’s onder die hutsmerk
“boektok” geplaas. Hierdie gebruikers is ʼn voorbeeld van waarop Afrikaanse
boekbemarking gebou kan word. Indien meer skrywers en lesers van hierdie
hutsmerke gebruik maak en bestaande plasings deel, hoe vinniger sal die
Afrikaanse #boektok en #boekstragram groei.
Afrikaanse skrywers en lesers behoort
opgewonde te wees oor die nuwe moontlikhede wat #bookstagram en #booktok vir
die boekbedryf bied. Deur saam te werk en aktief betrokke te raak by die
hutsmerkkultuur, kan Afrikaanse boeke nuwe lewe op sosiale media kry.
In kinderboeke is die skryfstyl
en taalgebruik van die skrywer baie belangrik om jong lesers se aandag te trek.
Daar is talle aspekte wat ’n skrywer in ag moet neem as dit kom by die
taalgebruik en skryfstyl wat hulle in hul boeke gaan gebruik, insluitende die
leesvaardighede en leesbehoeftes van hulle teikenlesers. In hierdie opstel word
die taalgebruik en skryfstyl in twee kinderboeke bespreek.
Theresa van Baalen se Sanri
Steyn: Doktor Zombos se geheime formule is ’n uitstekende voorbeeld van ’n
kinderboek wat by jong lesers se leesbehoeftes en -vaardighede sal kan
aansluit. Die rede hiervoor is die gebruik van jong karakters en die eenvoudige
taalgebruik en skryfstyl in die verhaal.
Die kinderboek volg Sanri Steyn
(die fokaliseerder) en haar avonture saam met haar nuwe vriend, Markus, in die
dorpie Raaiselfontein. Beide die hoofkarakters is jonk en nog in die laerskool
wat die verhaal vir jonger lesers aantreklik sal maak, omdat hulle hulself met
die karakters sal kan vereenselwig. Die karakters is dadelik by die aksie
betrokke, omdat die verhaal met dialoog en vreemde gebeurtenisse begin. Baie
jong lesers sal die aksie en dialoog bo lang beskrywings verkies, veral as dit die
leser reeds van die eerste bladsy by die gebeure betrek. Van Baalen gebruik
hierdie skryfstyl baie effektief, omdat Sanri as karakter deur dialoog aan die
jong leser voorgestel word. Die leser kan Sanri se houding teenoor hulle
verhuising na Raaiselfontein sien, asook leer hoe sy met haar ma en ander mense
kommunikeer.
Die res van die boek word geskryf
met Sanri en Markus (min of meer in dieselfde ouderdomsgroep as die
teikenlesers) se onafhanklikheid van hul ouers in gedagte. Dit strook met
lesers van hierdie ouderdom wat ook meer onafhanklik van hulle ouers word en meer
tyd saam met hulle maats begin deurbring. Die gebeure fokus op Sanri en Markus
en hulle keuses, asook wat hulle saam doen. Van Baalen maak ook seker dat daar
’n duidelike doelwit vir Sanri as protagonis geskep word – sy wil die dorp red,
maar ook ’n storie vir haar eie koerant skryf. Sy droom om eendag ’n
‘superjoernalis’ te word. Hierdie droom maak haar ook meer identifiseerbaar,
omdat die teikenlesers ook op hierdie stadium begin droom oor wat hulle wil
word as hulle ouer is.
Die gebeure in Sanri Steyn: Doktor Zombos se geheime formule is opwindend en avontuur wag om elke hoek en draai. Die spanning wat opbou wanneer Sanri en Markus na die Bloepghloeps Lekkergoed-fabriek gaan om uit te vind wat die lekkergoed aan al die mense in die dorp doen, sal jong lesers effens bang kan laat voel. Die spanning kan effektief wees om die leser se aandag te behou, omdat hulle verder sal wil lees om te sien wat gebeur.
Die taalgebruik in die Sanri Steyn-verhaal is eenvoudig, maar daar word nie op jong lesers neergekyk nie. Van Baalen maak dit duidelik deur byvoorbeeld nie verkleiningsvorme te gebruik wanneer die onderwyseres, juffrou Booysen, die klas aanspreek, of wanneer Sanri se ma met haar praat nie. Van Baalen hou die sinne en die woorde konkreet en eenvoudig, en verduidelik ook as daar ’n stuk in die verhaal is wat verkeerd verstaan kan word. ’n Voorbeeld volg hieronder:
“’n Lendelam
kennisgewingbord kondig die ingang tot die dorp aan: W LKOM IN RAAIS LF
ONTEIN. Party van die letters is weg. Sanri kyk nuuskierig rond.
Raaiselfontein lê…” (Van Baalen, 2014:4-5).
Vir jong lesers wat nie self die
kennisgewingbord se letters self kan invul nie, gee Van Baalen meer inligting
in die volgende sinne, wat die leser help om die gebeure te volg.
Van Baalen gebruik ook humor in
hierdie verhaal. Die benaming van die lekkergoed-fabriek (Bloepghloeps
Lekkergoed) en die manier hoe die karakters met mekaar onderhandel, is
komies en jong lesers sal dit waarskynlik geniet om dit lees. Die aankoms in ’n
nuwe dorp en die oriëntering deur Sanri en die bure help ook moontlik om die
jong leser te laat verstaan waar die gebeure afspeel en hoe die dorp lyk. Die
paar illustrasies in die boek help ook verder om die plek aan die leser te wys.
Die tweede boek wat ons kan
bespreek in terme van taalgebruik en skryfstyl, is Jaco Jacobs se Professor
Fungus en die diepsee-dilemma. Net
soos by Theresa van Baalen se storie, begin Jaco Jacobs ook sy storie met
dialoog. Dit kan weereens effektief wees, omdat dit die jong leser dadelik in
die aksie plaas en hulle geïnteresseerd kan maak om verder te lees. Die
hoofkarakters in hierdie verhaal is die tweeling, Bennie en sy suster Jenny.
Jacobs gebruik ook jong karakters waarmee die jong lesers kan identifiseer. Soos
in die Sanri Steyn-verhaal, is die tweeling ook meer onafhanklik van hulle
ouers. Hier is egter ook sprake van ouer karakters waarmee die tweeling
onderhandel soos hulle oom, professor Fungus. Professor Fungus en professor
Igtus (professor Fungus se kollega) speel ’n groot rol in hierdie storie omdat
hulle hul uitvindings (soos die V.I.S – ’n duikboot wat lyk soos ’n groot vis)
gebruik om die diepsee te gaan verken. Daar is ook ’n verdere wetenskaplike-element
en vreemde uitvindings soos ’n blaffende konyn (Argon) en’n pratende robot
(Edison). Die uitvindings en die geluide wat elkeen maak, is komies en kan die
leser ook betrek by die uitspattige storie. ’n Voorbeeld van professor Fungus
se selfoon se luiklank: “TJIERRRR! TJIKKE-TJORRR!” (Jacobs, 2016:4).
Jaco Jacobs gebruik kort en
eenvoudige sinne en woorde in Professor Fungus en die diepsee-dilemma. Die
meeste van wetenskaplike elemente word aan die leser verduidelik, terwyl ander
aan die jong leser se interpretasie oorgelaat word. Die skryfstyl en verwysings
is eietyds en relevant en dra by tot leesgenot. Jennie wat altyd met haar
selfoon besig is, die uitvindings en die “BTW L.O.L.” op Professor Fungus se
diploma, gee ’n aanduiding van die era waarin die storie afspeel en dra by tot
die humor. Die omgewing (die strand) kan ook help om die verhaal vir jonger
lesers te plaas.
Jaco Jacobs gebruik ook spanning
in sy verhaal, soos byvoorbeeld wanneer die reuse-pylinkvis die duikboot aanval
en dit begin platdruk. Jong lesers sal wil verder lees om uit te vind of die
reuse dierasie dit regkry, en ook of die karakters vanaf die eiland kan ontsnap
as die duikboot breek.
Soos mens kan aflei, maak die Theresa van Baalen en Jaco Jacobs van soortgelyke taalgebruik en skryfstyle gebruik wat gepas is vir die jong leser. Die baie dialoog, sowel as die illustrasies wat in beide verhale voorkom, kan help om jong lesers geïnteresseerd maak om verder te lees. Albei stories sentreer om een karakter (Sanri en Bennie), maar sluit ook die ander geslag in (Markus en Jenny), wat daartoe bydra dat die stories deur seuns en dogters geniet kan word. Sanri Steyn: Doktor Zombos se geheime formule en Professor Fungus en die diepsee-dilemma maak gebruik van effektiewe elemente wat die jong lesers se leesbehoeftes en -belangstellings in ag neem.
“Almal wil tog van die liefde lees”, vertel Leana Lategan.
Ela Spence is in Burgersdorp gebore, en was die enigste kind van haar ouers. Van haar kinderjare vertel sy dat sy ‘n dromer was wat geselskap sommer vinnig kon ontduik ter wille van die lees van ‘n boek. Dat hierdie verbeelding haar skrywersloopbaan ten beste gepas het, is duidelik as ‘n mens sien dat sy 53 kinderboeke en sowat 136 liefdesromans geskryf het. Sy het ook vier operettes geskryf. Haar skryfloopbaan begin in 1946 met “Bevryding”, en strek tot die laaste publikasie in 1998. Herdrukke word hierna vir lesers in ‘n byderwetse formaat uitgeggee, en ook as grootdrukboeke en braille-weergawes gepubliseer. Sy kon vinnig skryf aan ‘n verhaal, en verskeie avontuurlustige maniere vind om feite te versamel en sodoende die liefdestema substansie gee. Verskeie oorsese reise het neerslag gevind in haar werk, en vir ‘n opdragreeks het sy letterlik ‘n tyd in die hospitaal deurgebring om die omstandighede van die verpleegster eerstehands te kon beleef. Die “Suster Wanda” – reeks, gebaseer op die lewe en werk van Florence Nightingale, was die resultaat.
Dit was egter nie net volwassenes wat gebaat het by Ela se ryk verbeelding nie. Sy begin trouens om vir kleiner kinders te skryf, want die jare ’40 en’ 50 was maar skaars jare vir kinderleesstof. Jeugverhale was egter ewe gewild en veral die “Soekie” – reeks en die “Tessa” – reeks (lg. onder haar nooiensnaam Elizabeth Stander geskryf) is opgeraap.
Ela Spence het ‘n droom gehad om as operasanger te kon werk, maar ‘n lang siekbed het haar musiekstudie kortgeknip. Daarna het sy as joernalis by verskeie tydskrifte en koerante betrokke geraak , totdat sy uiteindelik voltyds begin skryf het, en net nooit weer opgehou het nie. J. P. Van der Walt, later LAPA, het die Ela Spence – medalje vir liefdesverhale as eerbewys ingestel. Ela was getroud met Reginald Spence, en het twee dogters gehad. Dié fyn, kort, hartlike vroutjie het ‘n ganse era van lesers in die holte van haar hand gehad. Op my ma se boekrak staan daar ‘n hele ry liefdesverhale in gelid, en word Ela gekoester tussen skrywers soos Sophie Roux, Sanet te Groen, Susanna M Lingua en C. F. Beyers Boshof.
Die bladsye is vergeel en al effens bros, die omslae te veel gehanteer, die prys van nege sjielings en vyf pennies ‘n geldaanduiding so oud soos die teks self. Maar ek herlees hulle steeds, en herroep ‘n jongmenstyd waarin ook hierdie Klubboeke soveel kleur in my lewe gebring het.
Berig deur Leana Lategan, pasafgetrede hoofvakkundige van NALN.
[Die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) beskik oor die grootste versameling personalia van Afrikaanse skrywers in die wêreld, en lewer ’n unieke inligtingsdiens uit meer as 200 000 manuskripte, 450 000 knipsels en bykans elke Afrikaanse letterkundige werk (asook die verskillende uitgawes daarvan). Die NALN-versameling word steeds aangevul deur manuskripskenkings van skrywers, daaglikse knipsel-insameling – en digitisering en die aankoop en ontvangs van boeke, ter uitbreiding van die boekversameling. NALN is die aktiewe geheue van die Afrikaanse erfenis in letterkunde, musiek en toneel.]
Trompie en Saartjie skiet telkens soos ’n prop bo die water uit.
Op Maties was Topsy Smith saam met “groot manne” in Dagbreek koshuis, soos F.A. Venter, Gerhard Beukes, Ernst van Heerden, Paul de Klerk en John Vorster. Trompie Toerien en Saartjie Baumann is karakters wat nooit uit die mode raak nie. Miskien lê hulle bekoring daarin dat hul wêreld dié van elke kind is: die wêreld van skoolgaan en huiswerk doen, sport, stokkiesdraai en straf.
Tussen al die gebeurtenisse heen, vleg die verhaal van kinders wat die lewe met oorgawe beleef – hul suksesse en mislukkings. As dinge dreig om hulle onder te kry, skiet hulle weer soos ’n prop bo die water uit.Mathys Gerhardus Smith (12 Julie 1914 – 5 Maart 1985) bring sy vroeë jare in Pretoria deur – in ’n Engelse omgewing. Na sy ouers se dood gaan hy skool in Koppies waar hy met Afrikaans kennis maak. As kind is hy gedurig by die swemgat, en in die winter speel hy rugby. Maar hy is ook ’n boekwurm en lees alles wat hy in Afrikaans in die hande kan kry: van Patrys-hulle tot Hans-die-Skipper.Hy is besonder lief vir al die sportsoorte. Tydens sy studentedae op Maties speel hy eerstespan rugby en is hy Kaptein van die boksspan.
Saam met sy B.A.-graad volg hy ook ’n kursus in Liggaamsopvoeding en hy skryf sy eerste boek as eerstejaarstudent. In 1944 begin hy as Afrikaans-onderwyser skoolhou in Johannesburg, en is later getroud met mej. Josie Stuart Bertram. In sy vrye tyd begin hy kortverhale en sketse skryf en in “Die Naweek” van 25 Mei 1943, verskyn ’n kortverhaal, “Trompie se das”. Hy word sportverslaggewer en volgens hom is dit waar hy eintlik begin skryf het. ’n Aantal sportboeke verskyn uit sy pen, soos “Draers van groen en goud” en “Atlete van Springbokland”.
Sy belangstelling in sport kwyn en hy begin met sy eerste Trompie-reeks onder die skuilnaam Topsy Smith. Min het hy geweet hóé gewild die reeks uiteindelik gaan word. Watter kind ken nie die sproetgesig seun met sy uithanghemp en skewe pet nie? En dan, natuurlik, die Boksombende van Kwaggaberg! Topsy Smith het self die verwerking vir die televisieweergawe van Trompie gedoen.
Die rolprent “Trompie” word in 1974 in inry-teaters vertoon, net ’n jaar voor televisie. Dit is op Netflix beskikbaar.Later skep hy die Saartjie-reeks onder die skuilnaam Bettie Naudé en Saartjie en haar Drie Muskiete-bende verskyn ook in hul eie televisie-reeks. Hy skryf nog ander reekse jeugverhale, soos Gamaroela Gawie, die Louws van Linton, Jantjie, Hendrik Hoffman, Bosapies van Bergville en Gampietjie-reekse. Vir Engelse kinders skryf hy reekse oor Nicky (ook in Afrikaans vertaal as die Niekie-reeks) en Leon. Die Jantjie-reeks speel op die dorpie Petrusdorp af, waar Jantjie en sy bende, die Nuuskierige Agies, die dorp op horings neem.
Gamaroela Gawie is, soos altyd, ’n rooi-haar sproetgesigseun wat goed rugby speel en ondanks sy huislike agtergrond groot hoogtes bereik. In die Leon-reeks het Topsy Smith blykbaar ’n Engelse parallel vir Trompie probeer skep, iets waarin hy goed geslaag het. Vir volwasse lesers skryf hy boeke vir die Dagbreek-Boekkring, meestal onder die naam M.G. Smith, waarvan “Juffrou Jackie se man” die gewildste is. “Die ontluiking van tant Matilda” (later heruitgegee as “Die metamorfose van Matilda”) en “Blonde godin”.Later ondervind hy hartprobleme en moet vir die eerste keer in sy lewe tydelik ophou skryf. “As ek my net kan uitskud uit hierdie moegheid..” sê hy na ’n groot ope-hart operasie in 1980.Topsy Smith is op 5 Maart 1985 oorlede. Hy was 25 jaar lank hoof van die Laerskool Sandringham en het die hart van ’n kind deur en deur geken. Na sy aftrede het hy voltyds geskryf.
Daar het meer as 200 boeke uit sy pen verskyn.Die hoofkarakters van die 1980 televisie-jeugreeks “Trompie en die Boksombende,” Riaan Winter (Trompie), Ivan Ivanovich – regte naam Ivan Snyman – (Rooie), Sean du Preez (Blikkies) en Petrus Jooste (Dawie) gesels op Vrydag 27 Mei 2016 oor daardie jare, én oor wat hul deesdae doen, met Martelize Brink en Johan Rademan op “Oggend op RSG,” die oggendprogram van Radio Sonder Grense (RSG): Luister gerus na dié vrolike opname: https://www.youtube.com/watch?v=QWxVj-YwH5k
[Die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) beskik oor die grootste versameling personalia van Afrikaanse skrywers in die wêreld, en lewer ’n unieke inligtingsdiens uit meer as 200 000 manuskripte, 450 000 knipsels en bykans elke Afrikaanse letterkundige werk (asook die verskillende uitgawes daarvan). Die NALN-versameling word steeds aangevul deur manuskripskenkings van skrywers, daaglikse knipsel-insameling – en digitisering en die aankoop en ontvangs van boeke, ter uitbreiding van die boekversameling. NALN is die aktiewe geheue van die Afrikaanse erfenis in letterkunde, musiek en toneel.]
“Die verhaal van ’n Vrystaatse dorpskind wat volksbesit geword het: Verna Vels (13 Junie 1933 – 21 Augustus 2014),” vertel Leana Lategan*
Byna-byna was haar naam “Vermin”, want dis wat ’n samevoeging van Pa Vernon en Ma Minnie sou beteken. Gelukkig het dit Verna Barbara Robertson geword, dié dogter van die Vels-egpaar van Reitz in die Vrystaat. Op hierdie dorpie is ‘n legende op 13 Junie1933 gebore.Vir die meeste mense is Verna Vels en haar storieboekkarakter “Liewe Heksie” sinonieme, maar voor die bestaan van dié vriendelike, onbeholpe, en “dommerige” heksie, was daar al ’n joernalistieke lewe wat vir vele hoogtepunte in Verna Vels se dekadeslange loopbaan gesorg het.
Ná haar B. A. – studie aan die UP lê sy sommer terloops ’n omroeperstoets by die SAUK af. Agt jaar lank werk sy as omroeper en plateprogramopsteller in hulle ateljees in Durban, en behartig kinder-, vroue- en allerlei musiekprogramme. Sy begin ook in hierdie tyd met skryfwerk vir die radio, vir kinders sowel as vir volwassenes. Sy is uiteindelik vir 18 jaar lank by radiowerk betrokke, voordat sy in 1974 oorgeplaas word om die SAUK se nuwe TV-diens te help voorberei.
Die geboortedatum van Levinia Heks, soos Karel Kat haar streng noem, is 2 Mei 1962, toe die eerste verhaal van “Blommie Kabouter en die Heks wat vergeet het” in ‘n Siembamba-program uitgesaai is. Meerdere verhale volg, en in 1965 verskyn die eerste versameling “Liewe Heksie” – stories in twee bundels : “Liewe Heksie” en “Liewe Heksie kom weer”.
Die suksesverhaal van hierdie geliefde karaktertjie loop paralel met dié van haar skepper. Verna Vels het by geleentheid na haarself verwys as die “eerste werklike career girl gebore” Reitzmeisie. Haar werk was haar passie, oorsese reise (veral na die wêreldstad Parys) en tintelende musiekkonserte in o.m. Berlyn was bederwe wat haar lank kreatiewe energie gegee het vir verdere werk. Sy was die eerste vroulike uitruilomroeper in Nederland, die eerste vroulike streekorganiseerder vir radio, en kanaaldirekteur van TV 1. Ná haar amptelike aftrede het sy vir etlike jare nog twee dae per week as hoofregisseur op die stel van die “7de Laan” – reeks gewerk.
Vels het verskeie eerbewyse ontvang, onder meer van die FAK, en ook ’n SAUK Artestoekenning, die Tienie Holloway-medalje, en die C. P. Hoogenhouttoekenning.
Ook Liewe Heksie het van krag tot krag gegaan. Sy het vis gevang, was maan toe, en na ‘n rugbywedstryd. Sy het ‘n kat gekry, was betrokke by die gesogte Silwer Roos, het kaskenades beleef óf veroorsaak!, en was dikwels in die pekel. Sy was op televisie, op teaterverhoë, in Omnibusformaat en op DVD. Natuurlik is sy ook in boeke, storieboeke, en leerboekies, want dis ’n báie goeie plek vir ‘n heksie om te wees.
En natuurlik het sy die rekenaar bygedam, want dis nóg iets wat ‘n liewe heksie moet doen. Sou dit nie wonderlik wees as sy die heersende virus kon bykom nie?! Sy hét immers vir Wicus Virus suksesvol verwyder van van die Blommelandrekenaar…Lank lewe die legende van Verna Vels en haar liewe heksie!
*TEKS deur Leana Lategan, pasafgetrede hoofvakkundige,
**Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN).
Kontak NALN**: naln@sacr.fs.gov.za of vriendevannaln@gmail.com
**Die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) beskik oor die grootste versameling personalia van Afrikaanse skrywers in die wêreld, en lewer ’n unieke inligtingsdiens uit meer as 200 000 manuskripte, 450 000 knipsels en bykans elke Afrikaanse letterkundige werk (asook die verskillende uitgawes daarvan). Die NALN-versameling word steeds aangevul deur manuskripskenkings van skrywers, daaglikse knipsel-insameling – en digitisering en die aankoop en ontvangs van boeke, ter uitbreiding van die boekversameling. NALN is die aktiewe geheue van die Afrikaanse erfenis in letterkunde, musiek en toneel. asook die radio- en rolprentgeskiedenis.
“A-ja-a! Vanaand gaan ek lekker die rondloop-kinders vang. Dis mos my kans as hulle nie vroeg wil gaan slaap nie! Hê-hê-hê-hê!” lag ou Antjie Somers”, skryf Helena J.F. Lochner (15 September 1892–15 Julie 1951) in “Kinderland”.*
Die groot eetkamertafel in die Swartlandse pastorie het as verhoog gedien vir die toneelstukkies wat die tienjarige Helena Johanna Francina Lochner geskryf het. Helena J.F. Lochner, skrywer en illustreerder van leesboekies vir jong kinders, was die tiende van 14 kinders en is op 15 September 1892 in Moorreesburg gebore. Haar eintlike skrywersloopbaan het begin in 1926 as 34-jarige toe adv. J.H.H. de Waal ‘n artikel van haar na “Die Huisgenoot” gestuur het sonder haar medewete. Dit is gepubliseer.
Helena se verloofde, die portretskilder George Crosland Robinson (1858-1930), het haar aangespoor om haar illustrasietalent te ontwikkel. George se onverwagte dood het daartoe bygedra dat sy as 37-jarige onderwyseres nooit getrou het nie. Sy het haar ouers versorg tot albei se dood. “Kinderland” is ‘n versamelbundel wat selfs volwassenes intrek in die diep, ver wonderwêreld, gevul met haar pragtige humoristiese illustrasies, stories, speletjies en versies.
Hier verloor jy tred met die harde werklikheid, terwyl jy ontsnap na ‘n “kinderland” waar “Die lui dwergie” deur die bos- water-, boom- en berghekse bestorm word, of “Die agterstevoor ou vrou” wat net mooi niks kon klaarkry nie. “Die Stokkies-familie” se kampkaskenades in tekenprentvorm gryp die verbeelding aan wanneer hulle met valskerms van kranse af spring of deur ‘n krokodil gejaag word. Dan is daar ook nog uittel-rympies, versies oor ‘n nat kat, hekse, hasies, skapies en varkies en die seuntjie met “Die gaatjie in sy broekie”. Prent-raaisels, aanwysings hoe om skadu-prente by lamplig te maak, kode-briewe en die spore van diere in versvorm sou pret waarborg op reëndae. “Ou Vader Krismis” fluit vir sy span takbokke en daar trek die slee “oor al die lande, deur wolke, deur die blou lug, want Ou Vader Krismis moet in een nag deur die hele wêreld reis” (p. 139).
Altesaam 62 van haar boekies is gepubliseer en bevat meer as 100 verhaaltjies. Drie groot versamelbundels is na haar dood op 57 jaar, heruitgegee nl. “Sprokieland” (1969), “Kinderland” (1969) en “Kammaland” (1970).
Helena het graag sprokies en legendes van ander lande versamel, tydens haar internasionale reise en deur intensiewe navorsing in biblioteke te doen. Sy het ook vir die “Afrikaanse Kinderensiklopedie” geskryf. Elsabe Steenberg skryf: “Vir die Afrikaanse kinderliteratuur het Helena Lochner baanbrekerswerk gedoen – nie net omdat sy met haar gewilde stories in ‘n dringende behoefte voorsien het vir die verskyning van kinderboeke wat werklik vir kinders geskik sou wees. Sy het ingewikkelde en abstrakte woorde vir kleuters vermy en deur die gebruik van koppeltekens lang woorde makliker leesbaar vir die kleintjies gemaak. Sy het daarvoor gesorg dat haar boeke in groot druk verskyn het en van gekleurde buiteblaaie en genoeg illustrasies, wat sy self gemaak het, voorsien was. Deur haar lewe het sy haar onvermoeid beywer vir groter erkenning van die kinderboek as onontbeerlike deel van ‘n volk se literatuurskat.”… “Onder die lang, swart rok, het hy ’n man se klere aan en die broek steek onder uit. Aan sy groot voete is ’n paar tamaai, stukkende velskoene. Almal ken hul spore in die rooi stof orals deur die hele land… “A-ja-a! Vanaand gaan ek lekker die rondloop-kinders vang. Dis mos my kans as hulle nie vroeg wil gaan slaap nie! Hê-hê-hê-hê!” lag ou Antjie Somers .” *
* Uit: Lochner, Helena J.F. Kinderland. Kaapstad: Nasionale Pers, 1948, pp. 45-46.
[Die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) beskik oor die grootste versameling personalia van Afrikaanse skrywers in die wêreld, en lewer ’n unieke inligtingsdiens uit meer as 200 000 manuskripte, 450 000 knipsels en bykans elke Afrikaanse letterkundige werk (asook die verskillende uitgawes daarvan). Die NALN-versameling word steeds aangevul deur manuskripskenkings van skrywers, daaglikse knipsel-insameling – en digitisering en die aankoop en ontvangs van boeke, ter uitbreiding van die boekversameling. NALN is die aktiewe geheue van die Afrikaanse erfenis in letterkunde, musiek en toneel.]
Trompie, Saartjie, Soekie, Meintjie en Mientjie,
Kobie en doktor Serfontein, die Rissies en die Bushies, Rooi Jan, Fritz
Deelman, Sias en Mias, Jasper, Zackie, Thomas en Professor Fungus, Basjan Blom,
Aksieheld Austin. Wanneer ‘n mens Afrikaanse jeugboekreekse en hulle
onvergeetlike hoofkarakters begin opnoem, is dit ‘n baie lang tradisie, en een
wat met sukses voortgesit word. In die baie interessante en nuttige handleiding
“Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom” (*) word daar 78 reekse gelys
vanaf 1930 tot 1999. Daar is ook ‘n teoretiese uiteensetting van wat die
subgenre “reeksboek” behels, onder meer dat dit dikwels deur
akademici as triviale literatuur bestempel word (en om hierdie rede dus ook nie
in die literêre kanon opgeneem word nie). Maar skrik dit enige jong leser af?
Inteendeel. Wanneer die meeste van ons terugdink aan ons gekoesterde jongdae en
die boeke waaraan ons vreugde gehad het, is reeksboeke waarskynlik deel van
daardie lys.
Stella Blakemore, die matriarg van die Afrikaanse
jeugboekreekse, is op 13 April 1906 in ‘n hensoppertent naby Lindley gebore, en
die verloop van haar lewe lees eintlik net so interessant as een van haar vele
jeugverhale: Toe haar pa, Percy Blakemore, op pad was om hulp te gaan haal vir
die bevalling, vertoef hy eers iewers om kaart te speel. Die baba moes sonder
hulp van buite in die wêreld kom. Uiteindelik verlaat haar pa hulle toe sy nog
baie klein was, om ‘n beroepskaartspeler iewers in England te word. Haar ma,
Emma Krogh, was ‘n musiekonderwyser en aktrise, en Stella het self ook ‘n
lisensiaat in klavier en sang verwerf. In 1933 trou sy met David Owen, ’n
siviele ingenieur, en hulle reis die wêreld deur. Hulle woon onder meer in die
destydse Ivoorkus, en ook in Italië, Engeland, Swaziland, Nigerië, Duitsland en
Ierland. Sy is op 85-jarige ouderdom in Ierland oorlede.
Min skrywers kon in haar leeftyd die bekendheid wat
sy met die Maasdorp-reeks verwerf het, ewenaar. Onder die skuilname Theunis
Krogh (haar oupa se naam) skryf sy die Keurboslaanreeks, en hoewel dié verhale
eintlik vir seuns bedoel was, het die meisies lustig saam gelees,
heelwaarskynlik agter die aantreklike doktor Serfontein aan, wie weet?
Blakemore skryf ook “Die Rissies” se
stories onder die naam Dien Grimbeek, en verdere verhale onder die naam
Annelise Bierman. Sy gebruik ook haar getroude van as skrywersnaam. Sedert
1932, toe “Meisies van Maasdorp” verskyn het, het die jonges begin
lees, en net nie weer opgehou nie.
‘n Mens wonder wat die geheim van die reeksboek is?
Dalk die super – oulike, meestal avontuurlike hoofkarakter, die óók meestal
onwaarskynlike situasies waarin die karakters beland en die innoverende wyse
waarop hulle daar uitkom? Of is dit net daardie allerlekkerste wete dat daar
aan die einde van een verhaal ‘n verdere een wag, nóg ‘n avontuur saam met jou
gunstelinge? Vir my is dit hoofsaaklik laasgenoemde. En ek besef dit toe ek
onlangs ‘n jeugverhaal van François Bloemhof te lese kry: die eerste in die
“Spooksoeker”-reeks. Ek kan nie wág vir die volgende boek nie! Daar
is natuurlik ook die bonus dat reekse deesdae in omnibusvorm gepubliseer word.
“Liewe Heksie” is só bymekaar, en die gunstelingreeks deur Carina
Diedericks-Hugo ook, die “Thomas @”-boeke. Daar is aan reeksboeke se
plesier geen einde nie, in watter taal ookal. Dis die verhale waarop ‘n mens
jou leestande sny.
* Wybenga, G en Snyman, M.(reds.). Van Patrys-hulle
tot Hanna Hoekom. LAPA, 2005.
Artikel deur Leana Lategan, pasafgetrede hoofvakkundige van NALN, asook skrywer, resensent , leeskringbegeleier en spreker.
[Die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) beskik oor die grootste versameling personalia van Afrikaanse skrywers in die wêreld, en lewer ’n unieke inligtingsdiens uit meer as 200 000 manuskripte, 450 000 knipsels en bykans elke Afrikaanse letterkundige werk (asook die verskillende uitgawes daarvan). Die NALN-versameling word steeds aangevul deur manuskripskenkings van skrywers, daaglikse knipsel-insameling – en digitisering en die aankoop en ontvangs van boeke, ter uitbreiding van die boekversameling. NALN is die aktiewe geheue van die Afrikaanse erfenis in letterkunde, musiek en toneel.]
Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) het op 30 September 2020 sy nuwe gratis en aanlyn lees-en-luisterbiblioteek bekend gestel.
Die projek is van stapel gestuur na aanleiding van gesprekke met onderwysers oor leerders se gebrekkige leesvermoëns, en onrusbarende statistiek oor die afname van leesvaardighede onder eerstejaarstudente – alles tekens dat jongmense se blootstelling aan die Afrikaanse skrifbeeld aan die kwyn is.
Die allerbelangrikheid van goeie leesvermoëns kan nouliks oorbeklemtoon word. Jong leerders, en selfs hulle ouers, meen dikwels dat die tegnologiese ontwikkelinge wat ons die afgelope dertig jaar beleef het, ons in ʼn digitale eeu plaas waarin lees nie meer ʼn rol speel nie. Intussen is die oorwig inligting wat ons in ʼn digitale omgewing kry, steeds in taal vasgevang. Die lees van ʼn teks op ʼn rekenaarskerm in plaas van in ʼn papierboek, verg presies dieselfde leesvaardigheid. Leerders wat nie kan lees nie, kan geen vakinhoud behoorlik bemeester nie, want selfs vakke soos wiskunde, musiek, drama en tegnologie vereis van leerders om groot dele van die vakinhoud in die vorm van geskrewe teks te bemeester.
Afgesien van die gewone probleme wat leesonvermoë ʼn jong leerder besorg, is daar sekondêre probleme soos onkunde oor die wêreld waarin ons leef, ʼn gebrekkige woordeskat en uitdrukkingsvermoë, en onkunde oor die verband tussen die klank- en skrifbeeld van ʼn taal. Mense wat nie lees nie, sukkel gewoonlik ook om te spel, omdat hulle nie op ʼn vermaaklike en gemaklike manier die taal se spelpatrone ontdek het nie. En dis hierdie leemte wat die lees-en-luisterbiblioteek beoog om te vul.
Die biblioteek is van nuuts af deur VivA geskep en gratis beskikbaar. Op die oomblik het ons die tekste in twee ingedeel: een groep vir jong lesers, en ʼn ander vir volwasse lesers. Elke groep tekste is in vaardigheidsvlakke ingedeel, van heel beginners waar die klank by elke woord gepas word, tot romans wat net voorgelees word. Die belangrike eienskap van die tekste in die biblioteek, is dat die klank- en skrifbeeld saam aangebied word. ʼn Gebruiker wat na die teks luister, sien dus ook terselfdertyd die skrifbeeld, en die verband tussen klank en spelling word duidelik gemaak.
Hoewel die nuus oor die projek groot opgewondenheid veroorsaak het, was dit ook verbasend moeilik om tekste daarvoor te kry. Ons het by verskeie uitgewers gaan aanklop om samewerkingsooreenkomste te sluit, maar kopieregwetgewing het ons gefnuik. Die feit dat ons die materiaal gratis beskikbaar stel, het ook ʼn stok in die wiel veroorsaak, want uitgewers moet geld maak om te oorleef. Uiteindelik moes ons op die goedheid van ons Afrikaanse skrywers staatmaak, en ons het tekste van groot name soos Fanie Viljoen, Christien Neser, Francois Bloemhof, Eben Venter, Elsa Winckler, Marion Holm, Joan Hambidge, Karin Hougaard, Kristel Loots, Peet Venter en Reinette Lombard van Tippie-faam ontvang.
Professionele stemkunstenaars soos Marion Holm, Karin Hougaard, Esmarie Yssel en Altus Venables het gehelp met stemopnames.
Soos al VivA se projekte, is die lees-en-luisterbiblioteek ʼn lewende projek wat aangevul word soos wat Afrikaans groei en gedy. Ons hoop om uiteindelik ʼn groot aantal tekste in die biblioteek te hê waarmee jong lesers en volwasse taalaanleerders Afrikaans in sy volle omvang sal kan ontdek sodat hulle nie net ʼn liefde vir lees nie, maar ook ʼn begrip vir die geskrewe woord sal ontwikkel.
Ek hardloop na die derde boekrak in die middelste blok van die biblioteek. My hart spring amper uit my keel van geluk en my gloeiende wange hou die groot glimlag op my gesig vas. Daar staan hulle netjies gepak in die tweede laaste ry. Opgewonde om die sproetgesig dogtertjie met die bokstertjies na nog ’n week te sien, klap Trompie hande soos wat ek eerste aan sy blaaie raak. Saartjie knipoog vir my en vee ’n weerbarstige krul van haar voorkop af weg. My maatjies van Maasdorp wag geduldig dat my hand hulle ’n drukkie sal gee. Ek plof op die grond neer en raak weg in die storiewêreld.
Dit was ek ’n dekade of wat terug: Elke Woensdag na gimnastiek het ek en my ma hand-aan-hand na die biblioteek net oorkant die saal gehuppel. Vir haastige karre wat by hierdie gebou verbygery het, was dit net nog ’n gebou in die stad. Maar vir my, skaam-introvert-boekwurm-Ané was die gebou ’n ingang na die sprokieswêreld van my kinderjare.
Wanneer my voete by daardie deur ingestap het, was ek nie meer die stil dogtertjie wat pouses alleen gesit het en net haar toebroodjies as geselskap gehad het nie. Ek was ’n feëprinses wat drake verslaan en koninkryke gered het. Ek was Saartjie Baumann se beste vriendin wat saam met haar Lynnekom se seuns met modder gegooi het en poetse op Wiskunde onnies gebak het. Ek was Trompie se boesimvriendin wat saam met hom en die Boksombende in riviere geswem en kleilat gespeel het. Ek was hoofmeisie van Maasdorp wat nie geskroom het om die beste skoolpartytjies te reël nie. Ek het pouses saam met Sunette en Shani toffies geëet en oor Reënboogrant se nuutste skindernuus gepraat. Ek was deel van Die Uile wat skurke beter as die polisie self gevang het.
My verbeelding was heeltemal te groot vir die wêreld waarin ek as kind moes leef, tot ek die towerkuns van leesboeke ontdek het. Ek het in ’n ander wêreld geleef wanneer ek gelees het. Dit was net ek en die karakters in my storieboeke. Ek het al wat ’n kinderboek is gelees en al wat ’n reeks is in die hande gekry. As ek al die boeke wat ek gelees het se titels moet neerskryf gaan ek oor ’n jaar nog steeds besig wees.
So baie soos wat ek gelees het, so baie gunsteling boeke het ek gehad. Een van my gunsteling boeke wat ek as kleuter gelees het en nog steeds tot vandag toe amper woord vir woord onthou, is “Speeltyd vir Nellie”. Die boek het die storie van ’n klein dogtertjie, Nellie, vertel en wat sy elke dag van die week doen. Ek het die boek oor en oor gelees en dit was steeds elke keer ’n asemrowende ervaring. Ek het “Speeltyd vir Nellie” oral gelees: Voor ek gaan slaap, wanneer ek bad, wanneer my ma my hare geblaas het, in die kar op pad skool toe en terwyl ek gewag het vir etenstyd. Nellie was my beste vriendin.
Toe ek ouer word, omtrent op ’n 9-jarige ouderdom, het ek reeksboeke ontdek. My heel eerste reeks wat ek gelees het was die Saartjie-reeks. Dit het ’n gevoel binne my aangewakker wat ek nie kan beskryf nie. Ek het weke uitgesien na my verjaarsdag, Kersfees en ander geleenthede om die volgende boek as geskenk te kry. Daarna het ek al wat ’n reeks is gelees – Trompie en die Boksombende, Meisies van Maasdorp, Reënboogrant maats en -tieners, Die Uile, ensovoorts, ensovoorts. Ek sou so te sê my lewe daaraan wy om die boeke in die hande te kry – By die biblioteek, my ouers smeek vir ’n geskenk, self spaar om die winkels leeg te koop, boeke leen by maats en onderwysers – Die lys gaan aan.
Ek is dankbaar dat ek as kind grootgeword het met storieboeke en nie speletjies op ’n elektroniese skerm nie. Storieboeke is deel van wie ek is. My liefde vir lees het gegroei deur die jare en groei nog steeds. Daar is net iets aan die reuk van boeke. Elke kind moet lees. Dit is die een plek waar towerkuns nog bestaan.