Noodlot (resensie)

Noodlot is die derde boek in Sunel Combrinck se faereeks, Die Ontwaking van Winter, gemik op ’n tiener- en jongvolwasse-gehoor. Wat dadelik die aandag trek, is die pragtige, geïllustreerde omslag deur Casper Schutte. Op die voorblad staan twee figure rug-aan-rug: ’n jongman aan die linkerkant en ’n meisie aan die regterkant. Die man het helder-oranje hare, en sy donker klere smelt saam met die plantegroei en die silhoeët van ’n Gotiese, kasteelagtige struktuur wat agter hom teen ’n diep-pers naghemel uittroon. Hierdie toneel kontrasteer skerp met die meisie se seeblou vel, haar sagte, pastelkleurige rok en die helder, sandkleurige gebou met die koepeldak wat in die agtergrond sigbaar is.

Lesers van die vorige boeke sal die karakters herken as die rebelse elf Zander Blight en waternimf Nereida (Niri) Kearney wat saam met Lumi Erös en Colden Breakspear (die protagoniste van Hartklop (2022)) by Kasteelhoogte Kosskool skoolgaan. Die keuse om Zander en Nereida op die voorblad te plaas, dui daarop dat hierdie boek spesifiek oor hul individuele of gesamentlike ontwikkeling en verhoudings sal handel.

Waar die vorige boek, ’n Beeldskone Nagmerrie (2023), die leser terugvoer na gebeure voor die ontstaan van Tír na hÓige, ’n aparte faedimensie, volg Noodlot direk op die gebeure van Hartklop. Lumi en haar vriende se wintervakansieplanne word omvergewerp wanneer Melody, die monarg van die Winterryk, besluit om Colden Breakspear, ’n Winterfae en een helfte van Winter se Hartklop, tydens die Ysbloeiselfees by haar binnehof in te sluit sodat sy oor hom beheer kan uitoefen. Om tyd te wen, besluit Zander Blight om ’n Forya en’tarna – ’n Elwe-grootwordritueel – vir hom en sy vriendekring op te roep. Ná die ritueel reis Zander en Colden na die Gruwelryk om Koning Donohue se hulp te verkry om Valta (die Elwe-ryk) te bereik en ’n artefak op te spoor wat Colden teen die monarg se mag kan beskerm. Intussen gaan Lumi, Niri en Kai Fermi na Óneiro (die Waternimfryk) om ’n alliansie met Generaal Fermi (Kai se pa) te vorm in die hoop om ’n weermag te bekom.

Noodlot stel nuwe karakters bekend, waaronder Raidan (Donohue se suster) en Generaal Fermi en sy seun, Nalu (Kai se ouer broer). Die Forya en’tarna verbreek tydelik die sielsverbinding tussen Lumi en Colden, asook tussen Zander en Nereida, wat spanning en konflik veroorsaak wanneer Zander gevoelens vir die Gruwelkoning se suster begin ontwikkel.

Tydens hul ontdekkingsreis leer Zander en Nereida meer oor hulself. Vroeg in die verhaal is Zander onseker oor Valta se aanbod, en sy verhouding met Raidan kompliseer sake verder. Nereida voel verdeeld tussen haar pa se verwagting dat sy met Kai Fermi moet trou en haar liefde vir Zander. Beide karakters dra die swaar las van ander se verwagtinge op hul skouers.

Die Ontwaking van Winter pas by wat Bill Hughes as dark faery romance bestempel, ’n subgenre van die bonatuurlike liefdesverhaal waarin gebeure nie altyd deur wetenskap verklaar kan word nie. Kenmerkend van die genre is die gebruik van spoke en tydreise asook die teenwoordigheid van bonatuurlike wesens, insluitend kruisings (mens-monsters), vampiere, engele, demone, zombies, vormverwisselaars, weerwolwe, fae en towenaars. Deesdae geniet fae en pixies groot literêre populariteit. Internasionale fae-liefdesverhaalreekse soos Julie Kagawa se The Iron Fey (2010-2015), The Folk of the Air (2018-) deur Holly Black en Sarah J. Maas se A Court of Thorns and Roses (2015-) is gewild. Soos in The Iron Fey, word die verskeie fae-groepe in Combrinck se reeks tematies aan die verskillende seisoene gekoppel, soos die Somer- en Winterryk.

’n Kenmerk wat fae-verhale uniek maak, is die karakters se toetrede tot sekondêre dimensies of ’n ander wêreld. Elikser (2021) en Die Ontwaking van Winter is Afrikaanse voorbeelde van hierdie subgenre. In beide verhale besoek karakters ’n tweede fantasie-ruimte wat bevolk word deur fae en ander magiese wesens; in Elikser is dit Dobrón, die vampierkoninkryk wat deur faerieringe betree word, en in Hartklop en Noodlot, Tír na hÓige.

Lesers wat van bonatuurlike liefdesverhale hou, sal dalk ook hou van die Die Poort-reeks deur Nelia Engelbrecht, wat tussen 2016 en 2017 verskyn het, asook van Frenette van Wyk se Elikser.

Wolk (resensie)

Elke wolk het ʼn silwer randjie, maar die een waarvan Hannes Barnard skryf, het ʼn vurige oranje gloed wat die leser op die punt van sy/haar stoel sal hou. Hannes Barnard se debuut, Halley se komeet, het in 2019 verskyn en Wolk ʼn jaar later in 2020. Nog voor die leser die boek begin lees, trek die treffende voorblad deur Linki Brand reeds aandag. Die donkeroranje wolk met geel weerligstrale wat oor die silhoeët-karakters blits, skep alreeds ʼn spannende atmosfeer. Linki Brand het ʼn Pendoring Advertising Awards-sertifikaat vir hierdie voorblad ontvang.

Wolk handel oor twee tieners, Rufus en Xander, wat ʼn avontuur saam wil aanpak voordat Rufus se gesin oorsee emigreer. Rufus en Xander is van kleintyd af boesemvriende en die gedagte om afskeid te neem, is vir hulle ondenkbaar. Alles begin by ʼn “onskuldige” besluit toe Rufus voorstel dat sy en Xander vir net drie dae wegglip na ʼn plek, sonder sein, om alleen tyd te spandeer voordat Rufus-hulle emigreer. Kort voor lank besef die twee vriende dat hierdie briljante idee, dalk eintlik nie so ʼn goeie idee was nie…

Wolk is propvol opwinding. Die hoofstukke wissel tussen Rufus en Xander se perspektief wat dit interessant en lewendig vir die leser hou. Wanneer die wolk dan sy verskyning maak, begin dinge lelik skeefloop. Ouer en jonger tieners (en selfs volwassenes) sal die avontuurgelaaide aard van die boek geniet en met die hegte vriendskapbande en aktuele kwessies kan identifiseer.

As gevolg van die min karakters in die boek, kry die leser die geleentheid om die hoofkarakters in diepte te leer ken. Die eerstepersoonsverteller word effektief aangewend om simpatie by die leser te kweek. Die dinamika tussen die twee hoofkarakters is so suksesvol dat dit duidelik word dat die een nie sonder die ander een kan bestaan nie.

Wolk kan beskou word as ʼn post-apokaliptiese jeugroman wat in die toekoms afspeel. Genregewys kan die boek met Virus van Jaco Jacobs vergelyk word, alhoewel Wolk in ʼn ligter trant geskryf is. Die storie laat die leser wonder hoe hy/sy self sou oorleef wanneer ʼn reuse, vuurspuwende wolk die wêreld uitwis.

Die skrywer kan geprys word vir die unieke ruimte-uitbeelding van Suid-Afrika. Die leser kan maklik visualiseer hoe die karakters uit die stad na die platteland beweeg. Die beskrywing van die omgewing soos die klimtog teen die berg, die verblyf in die grot, die waterval, die grensdrade en die gevreesde luiperd, is tipies van die Oos-Vrystaatse landskap. Hierdie realistiese plot en ruimte uitbeelding maak die koms van die wolk dus meer geloofwaardig.

Tydsverloop in die boek word nie net aangewend om spanning te skep nie, maar dra betekenis vir die karakters en dus ook vir die leser. In sommige hoofstukke verskyn die datum saam met die hoofstuktitel. Dit is miskien iewat onrealisties vir die karakters om só georiënteerd met die datum en tyd te wees, omdat hulle nie enige kontak met die buitewêreld het nie en omdat hulle selfoontyd beperk is. Daarteenoor, help die konstante verwysing na die datum en tyd in die dialoog die leser om nie verlore te raak nie.

Wolk is ʼn aangrypende jeugroman van die voorblad tot by die laaste sin en hou genoeg geheime in sodat die leser geen ander keuse het as om die opvolg, Roet, te lees nie. Lesers moet beslis nie hierdie opvolg van Wolk misloop nie!

Speelmaats-reeks (resensie)

Ek het onlangs 6 van die 8 boeke uit die Speelmaats-reeks present gekry en met my kleuter deurgelees (herhaaldelik). My kleuter is baie lief vir die boekies en vra elke nou en dan weer vir een van die stories. Ek skryf die gewildheid toe aan eenvoudige illustrasies, patroonmatige (duidelike) stories en situasies wat herkenbaar aangebied word en waarmee kinders dus kan assosieer.

Ek vermoed een van die redes waarom die boeke so gewild is by die kleuter, het te make met die oorgrote illustrasies. Die karakters is eenvoudig geteken en is maklik herkenbaar, maar meer nog, die kunstenaar het daarin geslaag om hulle soos lappoppe te laat lyk, tot so ʼn mate dat my dogtertjie elke keer haar skaappop gaan gryp as ons een van die boeke lees, of skaappop lei daartoe dat een van die boeke gelees moet word.

Die teks self is uiteraard eenvoudig met weinig van die sinne wat meer as 6 woorde lank is. Eenvoudige, herhalende patrone vind in elke boek plaas. Elke boek hanteer ʼn aspek van emosie of lewensvaardighede deur ʼn soortgelyke toneel drie maal te laat uitspeel, voordat die gevolg van die optrede of emosie te toon gestel word, waarna die korrekte hantering van die optrede of emosie volg. Die tonele wat uitspeel, is ook tonele waarmee kleuters tipies sou kon assosieer, soos ʼn verlore speelding. In die boek “Hamster leer om te help” speel daar byvoorbeeld drie tonele uit waar Hamster nie wil help. Dan volg ʼn onaangename situasie (ʼn verlore legkaartstuk) waar Hamster skielik hulp nodig het by die ander speelmaats, maar hulle wil haar nie help nie, omdat sy kort tevore hulp geweier het. Sy korrigeer haar optrede deur eers die ander te help en saam vind die speelmaats die verlore legkaartstuk as die maats dan vir haar help.

Die onderwerpe wat hanteer word in terme van lewensvaardighede, is mededeelsaamheid, behulpsaamheid, maniere en die belangrikheid daarvan om na ander te luister. Wat emosies aanbetref, is vrees, geluk, kwaad en hartseer aan die bod.

Om die kernpunt van die storie te bevestig, word die betrokke woord gewoonlik in vetdruk uitgebeeld om die leser te herinner om dit te benadruk. Die oorspronklike Engelse vertaling sal dalk meer onthoubaar wees vir kleuters, met die gebruik van alliterasie en rym wat ongelukkig in die Afrikaans verlore gegaan het (Bear learns to Share en Sheep is Scared is meer onthoubaar as “Skaap is Bang” byvoorbeeld.) Elke boek eindig wel met ʼn aantal leeswenke vir die ouer waarin daar ʼn paar voorbeeldvrae gestel is wat gebruik kan word om die kind se begrip te evalueer.

Die boeke sal myns insiens nie oor ʼn paar jaar as klassieke kinderliteratuur gelys word nie, maar dit is gemaklik om meermalig te lees en die opvoedkundige beginsels word duidelik illustreer.

Die gevaarlikste speletjie op aarde (resensie)

In die hedendaagse lewe ervaar baie mense stories in die vorm van speletjies. Of jy dit besef of nie, baie keer wanneer jy ʼn speletjie met ʼn goeie intrige speel, is jy eintlik besig om ʼn goeie storie te lees. Wat is die boekvorm van ʼn interessante rekenaarspeletjie? ʼn Kies-jou-eie-avontuur-verhaal!    

In Kies jou eie avontuur: Die gevaarlikste speletjie op aarde boek neem De Wet Hugo jou op die avontuur van ʼn leeftyd. Mario is sy skool se rekenaarspeletjiekampioen. Hy sal ure voor sy rekenaar vertoef terwyl hy die nuutste speletjies speel, wat hy by Nikos op skuld aankoop.. Op ʼn dag gee Nikos vir Mario ʼn vreemde USB met ʼn nuwe speletjie op. Mario sou nooit kon raai dat hy in die speletjie opgesuig  sou word en lewensgevaarlike take moet verrig om die wêreld te red nie. Soos wat die boek se titel aandui, bevind Mario hom in die gevaarlikste speletjie op Aarde. Hy moet deur die sewe wêreldwonders van die Antieke Wêreld reis om goue muntstukke bymekaar te maak, maar om elke hoek en draai is daar ‘n gevaarlike lokval.      

Elke keer wanneer Nikos ʼn keuse moet uitoefen, kry die leser die geleentheid om te kies wat Nikos moet doen. Dan word jy na die gepaste hoofstuk toe verwys. Maar, wees gewaarsku, een verkeerde keuse en jy mag dalk deur ʼn zombie opgevreet word!

Hierdie boek is baie lekker om te lees. Dit voel asof jy eintlik ʼn klomp stories tegelyk lees. Die verskillende storielyne is baie interessant en partykeer is die resultate van jou keuses uiters skokkend. As jy enigsins soos ek is, gaan jy die storie oor en oor lees totdat jy elke storielyn verken het.

Laaste lewe (resensie)

Sommige mense wat ek ken kan met ’n vyfhonderdbladsy-fantasieroman wegspring, en as ek hulle ’n paar dae later in Mug & Bean raaksien, het hulle hul neuse reeds in ’n volgende Robert Jordan Wheel of Time-boek. Maar die meerderheid van ons, ek inkluis, sien nie altyd kans vir Jordan of een van Sophia Kapp se liefdesverhale wat oor bladsye en bladsye heen strek nie. Partykeer vang ek myself waar ek halfmas in die gleufies van die letters vaskyk; dis dan dat ek daardie Romanza-slapbandboekie tussen die lywige romans in my boekrak gaan uitsoek.

“Kinders moet lees!” vermaan die vorige geslag. Hoeveel tieners kry deesdae kans om op die bank op te krul, leesboek oop, as daar elke middag netbaloefening, dansklasse, redenaars en laataand-dramalesse is wat hulle tyd opeis? Soms wil ’n mens net gou iets lees wat nie te veel optiese inspanning vereis nie, veral ná ’n lang skool- of werksdag.

Laaste lewe (2020), Fanie Viljoen se eerste grafiese roman (uitstekend geïllustreer deur Daniël Hugo), handel oor ’n jong seun met die naam Sam wat sy pa se dood wil wreek. Die illustrasies op die voorblad beeld Sam en sy grafgrawer-vriendin, Claire, uit – dié gewapen met ’n graaf. Vanaf die nagblou hemelruim gluur die booswig en man waarop Sam wil wraak neem hulle aan, die formidabele Swart Kraai.

Laaste lewe is gebaseer op Fanie Viljoen se novelle The last time I died wat in 2016 deur Ransom Publishing uitgegee is. Die verhaal speel af in ’n tipiese Middeleeuse fantasieruimte waar enorme kastele, rowers wat in die woud wegkruip, magiese ingrypings en heldhaftige swaardgevegte volop voorkom. Daniël Hugo maak ook gebruik van Gotiese elemente – begraafplase, grafskending, geraamtes, vloeke, donker kelders, verlate gange, en mense wat lewendig begrawe word – wat bydra tot die verhaal se somber atmosfeer. Hugo se gedetailleerde achromatiese illustrasies gekombineer met Viljoen se spaarsamige, maar effektiewe woordgebruik, skep volgehoue spanning in die roman wat waarborg dat die leser die boek nie sommer gaan neersit nie.

Lees kan ’n uitstekende tydverdryf wees. Ongelukkig het die meeste mense bedrywige lewens en stywe skedules wat geen tyd aan ’n vyfhonderdbladsy roman kan afstaan nie. Grafiese romans en strokiesprente is wonderlike leesstof vir diegene wat nie kans sien om elke aand deur ’n hele hoofstuk te sloof nie. In Laaste lewe gebruik Viljoen natuurlike dialoog en kort, vloeiende sinne wat maklik lees. Ek beveel hierdie epiese werk aan vir tieners en volwassenes wat ’n voorliefde vir fantasie en grafiese romans deel.

ZAK Die reis na Zenkion (resensie)

In ZAK Die reis na Zenkio , skepTheresa van Baalen ʼn asemrowende fiktiewe wêreld waarin die leser homself kan inleef. Die nuwe planete, ander ruimtewesens en die romanse tussen Mitch en Imke, sorg vir ʼn jeugroman gelaai met aksie en avontuur.

Met die eerste boek in die reeks, ZAK Die Blou Planeet, was die voorblad volgens my nie voldoende nie, maar met ZAK Die reis na Zenkion werk die voorblad hand aan hand saam met die inhoud van die boek. Die drie karakters op die voorblad is ʼn identiese uitbeelding van hoe hulle in die boek beskryf word. Selfs die agtergrond is ʼn goeie voorstelling van hoe die planeet Zenkion lyk.

Die boek gee ook ʼn skematiese voorstelling van die verskillende fiktiewe planete, asook kort verduidelikings van die planete en hul bewoners. Hierdie inligting maak die verhaal meer geloofwaardig en help die leser om die verskillende planete en hul bewoners beter te kan konseptualiseer.

Die verhaal begin in die ruimte. Daar is egter fout met die tuig waarin Mitch, Lionel en die ander Zenkioniete vaar, en hulle besluit om ʼn noodlanding te maak op ʼn nabygeleë asteroïde. Ná die noodlanding word Mitch en Lionel toegerus met ruimtepakke en hulle besluit om saam met Imke die asteroïde te verken. Dinge loop egter skeef, maar Imke en Mitch word deur twee Anuras gered, ene Grol en Slom. Die ontmoeting met hierdie twee ruimtewesens bring Mitch-hulle in konflik met die Amplusiërs. Dilanté, Imke se pa se vriend wat jare terug verdwyn het, tree in om te help baklei teen die Amplusiërs. Nadat Mitch-hulle die Amplusiërs oorweldig het, stuur hulle die ruimtetuig in die rigting van Zenkion. Hierdie is die begin van Operasie Zenkion.

Hierdie opvolg jeugverhaal bring die leser in ontmoeting met meer ruimtewesens en ruimtetuie en die groeiende liefde tussen Imke en Mitch word ook teen die einde van die boek meer uitgebring. Ek kan nie help as om te wonder wat se geheime op Zenkion versteek word nie.

Sweepslag (resensie)

Wat help dit sy skree? Wie sal haar hoor? Gepaste woorde vir ’n donker blou en swart voorblad. Die swart stroke verteenwoordig die land, “want dis op land wat die spoke hom jaag”. Die somber gesig van ’n meisie dryf op die bodem van die voorblad, en versterk die illusie dat sy sink – ’n metafoor vir die wanhoop waarteen die karakters deurlopend moet veg terwyl hulle aangehou word. Wat egter die duidelikste uitstaan, is die wit aaneenlopende letters wat die titel van die boek uitspel, Sweepslag. Dit vestig jou aandag, soos wat die hoofkarakter sy energie en hoop vestig op die moontlikheid van ontsnapping. Alhoewel dit nogtans vir die leser voel of daar geen uitkomkans is nie, bly sy saam met die karakters hoopvol wees.

Die hoofkarakter, Paul Rudman, word onwillig betrek in die wêreld van skurke toe hy ’n ooggetuie word van ’n moord by Vanderkloofdam. Annerlei Barnard skep ’n wêreld wat skrikwekkend naby aan die een lê wat in die skadu’s van ons realiteit voorkom: mensehandel, die verkoop van meisies as seksslawe en kinderpornografie – temas wat vir my nog nie vantevore só werklik in ’n jeugroman uitgebeeld is nie. Wat die verhaal meer ontstellend maak, is dat die uitwerking van mishandeling en skok op die menslike psige daartoe lei dat die karakters nie heeltemal van hulle spoke ontsnap nie. Die gelukkige eindes en terugkeer na die normale, aanwesig in byvoorbeeld Diedericks-Hugo se Thomas-reeks, is nie moontlik vir Barnard se slagoffer-helde nie.

Wat my die meeste beïndruk, is Barnard se vermoë om humor met spanning te verweef sonder om die balansskaal te kantel. Hoofkarakter Paul se direktheid bring hom in die moeilikheid met sy wrede opsigters, maar hy wikkel hom op die laaste oomblik uit penaries . Sy fyn en sarkastiese humorsin gee die leser kans om tussen spanningsvolle tonele asem te skep. Hy gee vir die booswigte byname wat hulle voorkoms weerspieël, soos “Grafsteen” en “Picasso”.

Barnard se uitstekende karakterisering en gedrewe dialoog dra by tot ’n plot wat nie rem aanslaan nie. Die hoofstukke wat nie chronologies op mekaar volg nie, dra by tot ‘n spannende plotstruktuur. Die gevolg is dat die leser nuuskierig voortlees.

Sweepslag (2019) is ’n ontroerende verhaal wat sensitiewe lesers mag ontstel. Indien jy besluit om ’n kans te waag om dié boek oop te maak, sal jy nie teleurgestel wees nie.

Barnard se tweede boek Sindikaat is nou beskikbaar. Sweepslag is deur Tafelberg uitgegee.

Die groot koelte (resensie)

Die groot koelte deur Leon de Villiers is sowaar ’n avontuur en ’n half. Felix en sy leeumaat, Leo, bly op ’n afgeleë strand in Afrika. Al die ander mense het as gevolg van klimaatsverandering na Antartika gevlug.

Lesers kan die boek met twee pare oë lees. Die eerste paar oë is dié van ’n kind: dis ’n lekker en verbeeldingryke avontuur met David Griessel se pragtige illustrasies as bonus.

Die groot koelte handel oor die kwessie op almal se lippe, klimaatsverandering. Wat gaan met die wêreld gebeur oor dertig jaar? Leon de Villiers skep ’n baie interessante konsep. Hy skryf in so ’n mate dat kinders ’n beter begrip kan kry van aardsverwarming. Die interessante verskeidenheid karakters met hulle slim en gepaste name, sal jonk en oud plesier verskaf.

Die eintlike verhaal begin wanneer die ysbere in Afrika aankom en desperaat op soek is na die wêreld se laaste ys. Die bere dreig om vir Feliks op te vreet, maar kaptein Blou (admiraal Robbenjag se dogter) ruik dat die antwoord in Feliks se bloed is. Feliks sal vir hulle kan wys waar die laaste ys is.

Verbeel jou dat jy met die volwassene se oë lees: Die ysbere dink dat net hulle kan praat, en al praat Feliks met hulle, maak die bere asof hulle nie verstaan wat hy sê nie. Die ysbere kan nie glo dat daar ’n moontlikheid is dat mense ook kan praat nie. Hulle troetelnaam (of eerder belediging) vir mense is, “dopvelle”. Dis eers wanneer die bere in twee groepe verdeel, dat die een groep begin glo dat die dopvelle moontlik kan praat.

Feliks vertrek saam met kaptein Blou en ’n paar van haar volgelinge om die ys in die berge te gaan soek. Dit is lekker om te sien hoe die verhouding tussen Feliks en kaptein Blou ontwikkel. Van al die bere, het sy die meeste omgegee vir Feliks. En later in die boek, vind ons uit hoekom sy so omgesien het na Feliks…

Die onderliggende tema vir my was die gevoelens waarmee Feliks geworstel het. Hy het dit probeer geheim hou, maar elke nou en dan het trane gevloei terwyl hy geslaap het. Die leser weet egter waaroor hy hartseer is, maar die diere om hom weet nie. Net Leon de Villiers kan ’n boek op so manier afsluit. Die sekerheid in die leser se hart. Daar is baie meer gebeurtenisse in hierdie boek wat ek graag saam met julle sal wil deel, maar jy moet eerder self die boek lees…

Web van die mummie (resensie)

Indien dit nie reeds in die titel vanselfsprekend is nie: hierdie boek wemel van spinnekoppe – groot, klein, harig en honger … vir menssappe. So wees gewaarsku, arachnofobie-lyers, in Web van die mummie (2018) is daar ’n spinnerak binne elke hoofstuk geweef, en dis net ’n kwessie van tyd voordat die spinnekop sy vreeslike gevreet wys!

Arme Pippa, ’n plaasmeisie in die Moordenaarskaroo, is verskriklik bang vir spinnekoppe. Om dinge te vererger, kry sy aaklige nagmerries waar die goed uit haar mond kruip en haar droogsuig totdat sy ’n biltongvel het. Haar lewe word egter ’n ware nagmerrie toe haar familie die gemummifiseerde liggaam van ’n meisie in die bergskeur vind en dit na die skuur toe bring. Gelukkig kan sy van die uitgedroogde hol oë ontsnap toe sy in ’n meisieskoshuis in die Paarl haar hoërskoolloopbaan begin. Die koshuislewe is egter nie ’n paradys nie – nare kamermaats en prefekte maak dit vir haar moeilik om aan te pas. Dan is daar nog die mummie wat geheimsinnig van die plaas af verdwyn het …

Weereens laat Shân Fischer, voorbladillustreerder van al drie boeke in die Grilgrypersreeks, die kyker nie in die steek nie. Sy illustrasies jaag nie net die hartklop aan nie. Die sketse is gedetailleerd en soms baie realisties. Kyk net na die spinnekoppe wat deur die mummie se tande kriewel! Ek het hoendervleis.

Sommige van die karakters vul die bladsye met humor aan, soos Weerbeer – ’n beer van ’n juffrou wat die koshuisgange patrolleer. Pippa se kamermaat en vriendin, Siphokazi, is baie lojaal teenoor haar en probeer haar teen die ander meisies te beskerm. Sy is glad nie bang vir spinnekoppe nie, sy het ’n troeteltarantula met die naam Cleopatra, en is deel van ’n mummieklub.

Die tweede boek in die grillerige Grilgrypersreeks is glad nie minder bloedstollend nie. Dit is lekker leesstof vir enigiemand met ’n smaak vir biltongvel en agtpotige gedrogte.

ZAK Die Blou Planeet (resensie)

Met die eerste oogopslag was ek redelik skepties oor die jeugroman, aangesien die konsep van ruimtereise en ruimtewesens nog nie behoorlik voorgestel is in Afrikaanse jeugliteratuur nie. Tot my verbasing het Theresa van Baalen ‘n uitstekende jeugroman geskryf oor die spesifieke onderwerp en deur die verloop van die verhaal hedendaagse kwessies soos besoedeling, soeke na identiteit, bevordering van tegnologie ensovoorts, aangeraak.

Die boek het ‘n treffende voorblad wat beslis jong lesers se aandag sal trek. Ek is egter onseker of die voorblad die inhoud van die boek ondersteun, aangesien die verhaal in ’n woonbuurt afspeel met normale woonhuise en nie noodwendig groot woonstelblokke nie. Die boek lees redelik maklik en sal geskik wees vir lesers tussen graad 7 en 9. Die plasing en ruimte is fiktief, maar konsepte soos ‘Kosmiese deurgange’ ensovoorts is goed nagevors en word goed oorgedra aan die leser.

Die verhaal begin by Mitch op planeet aarde, ‘n inwoner van Deltaville, wie se familie ontvoer word deur Helikon se magte. Hy vind sy beste vriend Lionel wat ook ontsnap het van hierdie ontvoerders. Hulle sweer saam dat hulle alles in hul mag gaan doen om hul familie te vind en te red van die ruimtewesens of soos hulle dit noem, ‘Aliens’. Hulle enigste manier om tot by Helikon se astrotuig uit te kom is deur Imke.

Imke is ‘n half-Blou Planeter, half-Zenkioniet. Sy is opsoek na ‘n identiteit en ‘n plek waar sy kan inpas aangesien sy nie dieselfde lyk of  dink as die ander Zenkioniete nie. Sy is ‘n inwoner van die planeet Zenkion wat amper soortgelyk was aan die planeet aarde, maar die toestand in Zenkion het egter versleg aangesien daar ‘n tekort is aan water, plante en lewende diere. Dit is ook ‘n moontlike vooruitsig vir die planeet aarde indien die natuurlike hulpbronne opgeoffer word vir die bevordering van tegnologie.

Mitch en Imke se wêrelde ontmoet in hierdie verhaal oor ruimtereise, ruimtewesens, ’n soeke na identiteit en moontlike liefdesbande. ‘n Laaste gedagte oor die boek; die boek het ‘n oop einde en gee die gevoel dat ZAK: die Blou Planeet die eerste boek is in ‘n reeks boeke wat nog moet volg oor Mitch en Imke se ruimte-avonture.