In dié grendeltyd maak mense van reg oor die wêreld nuwe planne om stories vir kinders te vertel en om boeke aan jong lesers bekend te stel. Dit is ook ‘n geleentheid om ouer webtuistes opnuut te ontdek. Hier is ‘n verskeidenheid projekte en webtuistes waar jy stories en versies in ‘n verskeidenheid tale kan ontdek en geniet en sommer ook aan allerlei kreatiewe aktiwiteite deel kan neem.
Kloekkamer – Die bekende sangeres Anna Davel bied ‘n gratis aanlyn kinderreeks en konsert op YouTube aan tydens die isolasietydperk. Schoemé Grobler van Puppetrix vertolk die rol van Trix, haar poppekarakter, en is die ankeraanbieder van die program. Daar is elke week ‘n nuwe episode.
#OFM-Kinderhoekie – Jaco dra vir rympies voor uit sy splinternuwe rympieboek – Ek wil nou nie snaaks wees nie.
Lockdown stories – Die legendariese storieverteller, Gcina Mlope, vermaak kinders tydens die COVID-19 grendeltyd. Sy gaan vir 10 dae daagliks ‘n vyf-minute aanlyn storie vertel.
Bookdash – Grendeltyd is ‘n goeie tyd om boeke saam met jou kind te lees. Gratis boeke is beskikbaar op Bookdash. Bookdash se visie is om nuwe, goeie kwaliteit en bekostigbare Afrika prenteboeke te skep.
Character Stories for Children – Hierdie is ‘n YouTube kanaal wat vir jong kinders geskep is tydens die corona virus grendeltyd. Daar word daagliks 15:00 ‘n nuwe storie vrygestel waarin karaktes stories en versies lees en dalk ook ‘n liedjie sing.
Nal’ibali – Wanneer laas het jy na radiostories in verskillende tale geluister? Nal’ibali (isiXhosa vir “hier is die storie”) is ‘n nasionale lees-vir-pret veldtog om kinders se potensiaal deur storievertelling en lees te stimuleer.
Discovering children’s books – Verken eeue van stories, gedigte en illustrasie met Discovering Children’s Books van die Britse Biblioteek. Hier is ook allerlei interessante aktiwiteite vir kinders, onderwysers en boekliefhebbers van alle ouderdomme.
The children’s poetry archive – Verken, ontdek en luister na honderde van die beste kinderverse. Die “bounce and rhyme”-versameling is spesifiek vir kinders onder 5. Hierdie verse is gekies vir die ritme en tempo sodat kleuters saam kan hop en die tempo en klank van die woorde kan geniet.
Harry Potter at home – In die Harry Potter At Home hub kan jy aan ‘n groot verskeidenheid aktiwiteite deelneem om verveling hok te slaan. Baljaar tussen die artikels, vasvrae, raaisels en nog meer.
Audible – Terwyl die skole gesluit is, kan kinders van oraloor na ‘n groot verskeidenheid boeke luister. Al die stories is gratis beskikbaar om op ‘n tafelrekenaar, skootrekenaar, slimfoon of tablet te “stroom”. Audible is ‘n afdeling van Amazon.
International Children’s digital library – Die wêreld se beste kinderliteratuur is gratis beskikbaar in die Internasionale digitale biblioteek. Gebruik die prettige “simple search” soekfunksie om boeke te kies volgens ouderdom, tema, kleur en karakters.