Stella Blakemore

Stella Blakemore is in ‘n hensopper-tentjie naby Lindley in die Vrystaat gebore. Haar ma was ‘n musiekonderwyseres en Boeremeisie, haar pa kaptein Percy Blakemore, ‘n offisier in die Britse leër. Hy verlaat sy vrou en kind vroeg om ‘n beroepskaartspeler in Engeland te word. Haar bekendste skuilnaam, Theunis Krogh, is ontleen aan haar oupa aan moederskant – Theunis Johannes Krogh, ondersekretaris van die republikeinse administrasie van President Paul Kruger.

Sy is van jongs af op kosskool. Na haar skoolopleiding verwerf sy ‘n klavier- en sanglisensiaat aan die London Royal Academy of Music, sy studeer opera in Duitsland en gee jare lank onderrig in Johannesburg en Pretoria. In 1933 trou sy in Londen met David Owen, ‘n siviele ingenieur en saam reis hulle die wêreld deur. Hulle woon onder andere in die destydse Ivoorkus, Italië, Engeland, Swaziland, Nigerië, Duitsland en Ierland. Sy sterf op 85-jarige ouderdom in Ierland en word oorleef deur haar seun Peter, dogter, Salene Lacoponi en ses kleinkinders.

Stella Blakemore se eerste werk is ‘n toneelstuk, Die goue sleutel (1931). Hierna skryf sy meer as 66 jeugverhale, waaronder die Maasdorp- en Keurboslaan-reekse. Die eerste boek in die Maasdorp-reeks verskyn in 1933 en in 1940 verskyn die eerste titel van die Keurboslaan-reeks vir seuns. Sy publiseer ook ‘n reeks van vier titels, die Rissie-reeks, onder die skuilnaam Dien Grimbeek.

In die Maasdorp-reeks is die hoofkarakter die rabbedoe Kobie Malan, lid van die groot Malan-gesin wat in Oranjezicht aan die voet van Tafelberg woon. Rondom haar, die Drie Musketiers en hulle vriendinne in die koshuis van Maasdorp Meisieskool, speel die gebeure af. Die Keurboslaan-reeks is die manlike teenvoeter vir Maasdorp. Die hoofkarakter in die Keurboslaan-reeks is die charismatiese, jong dokter Roelof Serfontein wat ‘n klein sukkelende privaatskooltjie uitbou tot die gesogte eksklusiewe Keurboslaan Seunskool.

Die milieu van die Blourand-reeks (1944 – 1950) is ook ‘n eksklusiewe plattelandse meisieskool. Drie klontjies op Blourand (1950) vertel byvoorbeeld die onwaarskynlike, maar boeiende verhaal van drie vindingryke weeskinders wat wederregtelik by dié skool inskryf. Elfie Apie en Carolus (1949) is die verhaal van ‘n weesking wat by ‘n sirkus beland en deur Jobo, die nar ondersteun word. In Stryd om Peta (1948) is die Delarey-skool ‘n ekskusiewe meisieskool op die platteland. Peta, ‘n dogter van die onderdorp maak vriende met ‘n meisie by die skool. Die Rissie-reeks (1960) skryf Blakemore onder die skuilnaam Dien Grimbeek. Dié reeks speel nie in ‘n kosskool af nie, maar vertel die wedervaringe van die vier Rissik-rooikoppe.

PUBLIKASIES SLUIT IN:

  • Die goue sleutel (1931)
  • Maasdorp-reeks (1933)
  • Keurboslaan-reeks (1940)
  • Blourand-reeks (1944 – 1950)
  • Stryd om Peta (1948)
  • Elfie Apie en Carolus (1949)
  • Drie klontjies op Blourand (1950)
  • Rissie-reeks (1960)

Johan Bekker

Johann Bekker is op 13 April in die Klerkdorpse distrik op die plaas, Opraap, gebore waar hy ook aan ‘n tweemanskooltjie skoolgaan. Sy hoërkoolloopbaan voltooi hy aan die Hoërskool Gimnasium in Potchefstroom. Hy verwerf ‘n BA-graad en ‘n onderwysdiploma aan die Potchefstroomse Universiteitskollege waarna hy vir ‘n jaar in Pretoria skoolhou. In 1941 word hy hoof van ‘n tweemanskooltjie naby die Loskopdam. Hier het hy heelwat tyd gekry om te skryf, maar moes later weens gesondheidsredes verhuis. Hy hou skool aan die Rooipoortskool, word in 1948 visehoof van Soutpansdrifskool en die volgende jaar hoof van Hekpoortskool. In 1947 behaal hy ‘n B.Ed. en in 1950 ‘n M.Ed. oor die onderwysgeskiedenis, beide aan die Potchefstroomse Universiteit. Hy behaal ook ‘n D.Ed. Hy is outeur van vele vakpublikasies en was later verbonde aan die onderwyskolleges van Pretoria en Heidelberg, en die universiteite van Suid-Afrika en Durban-Westville. Sedert 1967 was hy professor aan laasgenoemde universiteit. In 1976 word hy deur die Minister van Kleurlingsake as voorsitter van die adviesraad vir die opleiding van Kleurlingonderwysers benoem. Bekker was ook baie aktief op kulturele en godsdienstige gebied op plaaslike, provinsiale en nasionale vlak. 
Hy is in 1942 met Betsie Booyens getroud en het twee seuns. Bekker was baie lief vir sport , vakansie in die bosveld, en reis na die wildernisse van sy eie land.

Bekker debuteer in 1943 met ‘n vervolgverhaal in die Loopbaangids, waarvoor hy ook ‘n prys verower. In die veertigerjare verskyn Pikkie en die Seunsbende, Snaakse gebeurtenisse op Boshoek en Buffeltemmer as vervolgverhale in Die Jongspan. Eers- en laasgenoemde is later in boekvorm uitgegee. Met ‘n Christelike verhaal, Dakka se groot avontuur (1947), verwerf hy ‘n C.S.V-Boekhandelprys.

Hoewel Het van Verlangekraal (1960) vanuit die perspektief van ‘n simpatieke volwassene aangebied word, is dit wyd deur kinders gelees en is dit Bekker se bekendste roman. In 1962 is dit deur Carfo verfilm en weer in 1983/84 deur Jan Scholtz-Films vir TV-beeldsending.

Kobus in Meerminland (1962) is twee fantasieverhale bedoel vir kleuters of jong kinders.

In Avonture in Smenskie-land verwerf die tandlose Jantjie met groot moeite en geduld weer vir hom in Smenskieland ‘n stel tande.

In Cessna vermis (1963) gaan soek ‘n klompie jongmense na ‘n vermiste Cessna in die Noord-Transvaalse bosveld.

Buffeltemmer (1965) vertel die verhaal van ‘n wit seun en meisie wat beide apart onder swart mense grootgeword het, en die seun se soektog na haar.

Diamantsmokkelary in die Namib-woestyn naby Swakopmund is aan die orde in die ligte spanningsverhaal, Roel Keet en Kie (1980).

Die rooi wal (1979) en Duin Drie (1981) is avontuurverhale wat in die woestyn afspeel.

In die bekroonde Boereoorlogroman, Waghond van Hartbeeslaagte (1984) is die veertienjarige Christof Joubert, wie se pa deur die Engelse gevang is, verskeur tussen sy lojaliteit aan sy volk en sy gesin wat haweloos agtergebly het nadat hulle plaasopstal afgebrand is.

PUBLIKASIES SLUIT IN:

  • Buffeltemmer
  • Cessna vermis
  • Dakka se groot avontuur
  • Duin Drie
  • Het van Verlangekraal
  • Hoog bo die Ururamba
  • Jimbo
  • Kobus in Meerminland
  • Die Palomino
  • Pikkie en die Seunsbende
  • Roel Keet en Kie
  • Die rooi wal
  • Snaakse gebeurtenisse op Boshoek
  • Waghond van Hartbeeslaagte

Gert Basson

Gert Cornelius Basson is gebore in Brakpan. Vanaf 1953 tot 1964 beklee hy verskeie poste as joernalis. In 1964 word hy aangestel as hoof van Belletrie by Voortrekkerpers/Perskor. Vanaf 1973 is hy vir twee jaar die redakteur van die jeugtydskrif, Patrys en word daarna bestuurder van Perskor se drie boekklubs: Voortrekker, Dagbreek en 707. Vanaf 1981 tot 1986 is hy bestuurder-uitgewer by Juventus, Femina en Folio waarna as hoofuitgewer by J.P. van der Walt tot sy aftrede in 1999 werk. Hy is getroud met Cillah, ‘n mode-ontwerper en het ‘n seun, wat in die VSA films vervaardig en ‘n dogter wat ‘n veelsydige kunstenaar is. Dié drie is volgens hom sy beste kritici.

Sy eerste verhaal is in die Jongspan gepubliseer toe hy in standerd drie was. Hy skryf later ‘n hele aantal spanningsverhale vir volwassenes, radiodramas en tydskrifverhale. Benewens romanskrywer is hy ook ‘n kortverhaalskywer en die samesteller van verskeie kortverhaalbundels. Sy jeugboeke verskyn onder verskillende skuilname. Die Nagvalke (1960) verskyn aanvanklik onder sy eie naam, maar word 1992 en 1995 herdruk onder die skuilnaam Dirk de Beer.

Prinses Dou-ogies (1964) is die enigste boek wat onder Gert Basson se eie naam verskyn. Sy vrou Cillah, het die illustrasies gedoen.

Onder die skuilnaam Cor Lindeque verskyn SarieMarie Moe – Waarnatoe (1980), Boetaman se Opperaffertrapper (1982). Sarie Marie Moe – Waarnatoe?

Die Snoerkie-stories het eers as tydskrifverhale verskyn, Vyf van hulle is later gebundel is as Snoerkie-hulle in die Okkiebokkiebosveld (1996).

Dis egter met die Swart Kat-reeks dat Gert Basson as Chris Sasner die harte van Afrikaanse seuns in die tagtigerjare verower. Die reeks bestaan uit vyf boeke (1982 – 1987) wat elk drie Swart Kat-avonture bevat. Twee boeke van die reeks is in Engels vertaal. Die reeks is word ook verwerk as vier baie suksevolle televisiereekse.

PUBLIKASIES SLUIT IN:

  • Die Nagvalke (1960)
  • Prinses Dou-ogies (1964)
  • SarieMarie Moe – Waarnatoe (1980)
  • Boetaman se Opperaffertrapper (1982)
  • Sarie Marie Moe – Waarnatoe?
  • Snoerkie-hulle in die Okkiebokkiebosveld (1996)
  • Swart Kat-reeks (1982 – 1987)

Chris Barnard

Chris Barnard is op 15 Julie op Mataffin in die distrik Nelspruit gebore. Sy pa was ‘n sitrusboer en sy ma ‘n huisvrou. Hy wou reeds toe hy agttien was, ‘n skrywer word, hoewel toetse getoon het, dat hy nie taalkundig aangelê was nie. Barnard studeer op UP en neem onder andere taalvakke soos Afrikaans, Engels en Frans. Hy was ook gedurende sy studiejare redakteurs vir die joolblad, die literêre jaarblad en die eerstejaarsgidsblad. Na sy BA-graad word hy joernalis by onder meer Die Vaderland, Dagbreek & Sondagnuus, Brandwag en die Huisgenoot. Hy is in 1962 getroud en daar is drie seuns uit die huwelik gebore. Hy besoek Frankryk in die middelsestigerjare en is daarna uitgewer by die Afrikaanse Persboekhandel. Hy word beskou as ‘n belangrike sestigerfiguur. In 1978 trou hy vir ‘n tweede maal met rolprentmaker, Katinka Heyns. In samewerking met sy vrou word hy filmvervaardiger en draaiboekskrywer (onder andere Die storie van Klara Viljee en Paljas). Hy maak ook dokumentêre rolprente vir televisie. Hulle woon tans langs die Hartebeespoortdam en hy boer met lemoene en makademianeute op hulle plaas, Thulani.

Chris Barnard publiseer op veertienjarige leeftyd ‘n gedig in Patrys wat met ‘n prys bekroon word. Gedigte, kortverhale en sketse verskyn ook tydens sy studentejare in universiteitsblaaie. Later lewer hy belangrike bydraes as prosaïs (kortverhaal, essay, skets) en dramaturg (verhoogproduksies en hoorspele). Hy verower die C.N.A.-prys onderskeidelik in 1961 en 1968 vir sy debuutnovelle, Bekende onrus asook vir die kortverhaalbundel, Duiwel-in-die-bos. Laasgenoemde bundel saam met die roman, Mahala, word in 1973 bekroon met die Hertzogprys. Mahala verower ook die W.A.Hofmeyr-prys. Sy hoorspele, by name Die rebellie van Lafras Verwey, word bekroon met die S.A.U.K./BRT- en Akademiepryse. Hy ontvang die Hertzogprys weer vir drama in 1991.

Boela van die Blouwater (1962) is Barnard se eerste jeugroman. Ander jeugromans is Danda, Danda op Oudeur en Voetpad na Vergelegen.

PUBLIKASIES SLUIT IN:

  • Boela van die Blouwater (1962)
  • Danda (1974)
  • Danda op Oudeur (1977)
  • Voetpad na Vergelegen (1987)

Scheepersprys vir Voetpad na Vergelegen (1991)

Margaret Bakkes

Margaret Bakkes is bekend vir haar tydskrifverhale, romans en kortverhale. In 1989 verower sy die Helpmekaarprys vir ontspanningslektuur vir die historiese roman Susanna die geliefde (1988). Kroniek van die sewe blou waens: die kort lewe van Gert Maritz (1989) word veral deur jongmense geniet.

Bakkes is op ‘n plaas in die Stormberge gebore, en dié kontrei spreek mee in My ouma in kaneel (1986). Dit is ‘n outobiografiese vertelling waarin Magriet se grootwordjare op die platteland in ‘n tyd met min moderne geriewe beskryf word. Die kortverhaalbundel Wat op die middag verwoes (1977) word in 1981 en daarna wyd in skole in Kaapland voorgeskryf is. In dié bundel speel dood en ontnugtering, dikwels geplaas teen die agtergrond van die Boere-oorlog ‘n prominente rol. In die studenteroman By omdraai verby (1975) moet Nicolene kies tussen die rustige Louw en die opwindende dwelmverslaafde Riku. In Terug van die doringpad (1990) moet Ciska self ‘n plaas bestuur en probeer om haar weerbarstige kinders, veral Adrian, te hanteer.

PUBLIKASIES SLUIT IN:

  • By omdraai verby (1975)
  • Wat op die middag verwoes (1977)
  • Susanna die geliefde (1988)
    Kroniek van die sewe blou waens: die kort lewe van Gert Maritz (1989)
  • My ouma in kaneel (1986)
  • Terug van die doringpad (1990)

Eleanor Baker

Eleanor Elizabeth Baker is gebore op 21 Augustus 1944. Sy behaal haar meestersgraad in Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria cum laude. Sy gee aanvanklik onderwys, maar skryf later voltyds. Weens haar man se beroep, bring sy en haar gesin lang periodes oorsee deur, o.a. in België, Nederland en Kanada. Hulle het twee kinders.

Baker debuteer in 1972 met Wêreld sonder einde en sedertdien het daar verskeie romans uit haar pen verskyn, waaronder Die nes (1995), Verbeelde werklikheid (1996) en Weerkaatsings (1984). Laasgenoemde is in vyf tale vertaal.

Die roman bly Baker se gunsteling genre, maar sy waag ook haar hand aan ander genres waaronder draaiboeke en jeugboeke. Sy ontvang die Scheepersprys vir jeuglektuur vir Daar is spore op die maan (1991).

PUBLIKASIES SLUIT IN:

  • ‘n Bootjie oor die see (1982)
  • Die Nels van Groenewoud (1983)
  • Daar is spore op die maan (1991)

Scheepersprys vir jeuglektuur vir Daar is spore op die maan (1991)

Alana Bailey

Alana Bailey is op 21 September 1965 in Krugersdorp gebore, waar sy in 1983 aan die Hoërskool Monument matrikuleer. Daarna studeer sy aan die Universiteit van Pretoria, waar sy onderskeidelik ‘n BA-graad (hoofvakke Afrikaans-Nederlandse Kultuurgeskiedenis & Engels, 1986), BA Hons (Kultuurgeskiedenis, 1988, cum laude) en MA (Historiese en Erfenisstudies, 1993, cum laude) behaal.

Sy was van 1987 tot 1989 werksaam as historiese navorser by die nasionale Kultuurhistoriese en Opelugmuseum, en van 1989 tot 2005 by die Maatskappy vir Immigrasie (MVI) as migrasie-adviseur. In 2005 het die MVI met AfriForum, die vakbond Solidariteit se burgerregte-inisiatief, saamgesmelt en sertdien is sy by AfriForum werksaam as Adjunk-uitvoerende Hoof met die Kom Huistoe-Veldtog vir terugkerende Suid-Afrikaanse emigrante as spesiale projek.

Sy skryf graag (fiksie, historiese publikasies, resensies, navorsingstukke en vertaalwerk) doen deeltyds navorsing oor haar spesialisvelde, naamlik Suid-Afrikaanse kultuurgeskiedenis en internasionale migrasie. Sy is nie getroud nie, maar is “ma” vir Rusty die teerhartige boerboel, Milly die uitbundige Jack Russell, Oupa Pip die vink en Kuifie Kanarie.

Publikasies

  • 2006: Die Prinses van die Afrikavlaktes (LAPA-Uitgewers) Illustrasies deur Emily Bornoff.

C.S. Badenhorst

C.S. Badenhorst is op 24 Mei 1926 op die plaas Bokkraal in die Maricodistrik gebore. Sy erf haar bynaam Kalfie van haar oudste broer. Sy het aan die P.O.K studeer en haar in L.O. bekwaam. Sy hou skool in die Noordweste en tree in 1975 af op Potchefstroom, waar sy tans nog woon. Sy is in 1948 met Frikkie Badenhorst, ‘n studentemaat getroud. Twee dogters is uit die huwelik gebore en sy skryf haar inspirasie aan haar gesin en kleinkinders toe.

Haar skeppings sluit ook kortverhale, jeugromans, artikeks in tydskrifte en toneelstukke in. In Eerste afspraak (1985) is Hannes Jordaan ‘n meisiehater, sportreus en akademiese uitblinker, en enigste seun onder sy portuurgroep sonder ‘n meisie. Uiteindelik word hy gevang deur ‘n droommeisie. Daar kom dikwels ‘n liefdestema in haar boeke voor, soos byvoorbeeld in By die dam (1972), Die geleende jaar (1980), Die kodeboodskap (1980), Wat geld nie kan koop nie (1981), Die Bangbroek (1982), Mariet van Kroondorp (1983).

‘n Ander tema, oor natuurkennis, kom voor in Die eerste prys (1961) en Lewenslange gevangene (1987). Sy ontvang die tweejaarlikse Perskorprys vir ‘n Seun en ‘n kano (1983). In die verhaal kan ‘n seun ‘n begeerlike kano ryker word as hy vir sy oom twee papegaaiduiwe vang.

PUBLIKASIES SLUIT IN:

  • By die dam (1972)
  • Die geleende jaar (1980)
  • Die kodeboodskap (1980)
  • Wat geld nie kan koop nie (1981)
  • Die Bangbroek (1982)
  • ‘n Seun en ‘n kano (1983)
  • Mariet van Kroondorp (1983)
  • Eerste afspraak (1985)
  • Lewenslange gevangene (1987)
  • Die eerste prys (1961)

Perskorprys vir ‘n Seun en ‘n kano (1983)