I.D. du Plessis

Izak David du Plessis is op 25 Junie op Phillipstown gebore. Hy voltooi sy skoolloopbaan aan die Hoër Jongenskool in Wynberg. Nadat hy sy studies aan die Universiteit van Kaapstad voltooi het, hou hy tussen 1922 en 1924 skool op Worcestor. In 1925 voltooi hy die B.Ed.-graad en in 1926 word hy sportredakteur van Die Burger. Die volgende jaar word hy assistentredakteur van Die Huiisgenoot . Tussen 1928 en 1931 is hy lektor in Afrikaans aan die Kaapse Tegniese Kollege. Na die voltooiing van ‘n MA-graad in 1931 word hy dosent aan die Universiteit van Kaapstad. In 1948 word hy hoof van die Instituut vir Maleise Studies aan dieselfde universiteit. Sy doktorsgraad is getitel: Die bydrae van die Kaapse Maleier tot die Afrikaanse volkslied. In 1951 word hy Kommissaris van Kleurlingsake en in 1961 Sekretaris van Kleurlingsake. Hy was ten nouste betrokke by die stigting van die Universiteit van Wes-Kaapland in 1961 waarvan hy in 1970 die eerste kanselier word. Hy ontvang in 1937 die Hertzogprys vir sy poësie. Du Plessis se kinder- en jeuggenre sluit in: sportverhale en sprokies, legendes en volksverhale, sowel as romans, waarin veral die Ooste ‘n prominente rol speel.

In Die Springbok (1931), Die silwervaring (1933), Die rugbykroon (1934) en Rugby in Rio (1941) word vier vriende se rugbywedervaringe weergegee. In Olimpiade (1938) is vier vriende toeskouers is by die Olimpiese Spele in Berlyn. Die reekse Maleier-verhale lei hy in met Uit die Slamse buurt (1939) in twee dele en opgedra aan die kinders van Suid-Afrika. Dit word in 1943 opgevolg met Die gevleuelde perd en ander Kaapse stories. ‘n Keur uit die drie bundels verskyn later onder die titels Doederomandro en ander Kaapse stories (1970), Sapen Sewekop en ander Kaapse stories (1971), Die Maboersa en ander Kaapse stories (1978) en Baroen en ander Kaapse stories (1982). Sy belangstelling in die folklore is te sien in Legendes van alle nasies (1932) en Hasie by die dam (1939). Die jeugromans Die skat van Robbeneiland (1940), Die hart van Java (1942) en Die oog van Boeddha (1944) is almal avontuurverhale waarin die Ooste en verlore skatte figureer. In Die wedstryd en ander verhale vir die jongspan (1936) versamel Du Plessis onder andere drie vertaalde Franse verhale en drie speurverhale wat op mekaar volg.

PUBLIKASIES SLUIT IN:

  • Die Springbok (1931)
  • Legendes van alle nasies (1932)
  • Die silwervaring (1933)
  • Die rugbykroon (1934)
  • Die wedstryd en ander verhale vir die jongspan (1936)
  • Olimpiade (1938)
  • Hasie by die dam (1939)
  • Uit die Slamse buurt (1939)
  • Die skat van Robbeneiland (1940)
  • Rugby in Rio (1941)
  • Die hart van Java (1942)
  • Die gevleuelde perd en ander Kaapse stories (1943)
  • Die oog van Boeddha (1944)
  • Doederomandro en ander Kaapse stories (1970)
  • Sapen Sewekop en ander Kaapse stories (1971)
  • Die Maboersa en ander Kaapse stories (1978)
  • Baroen en ander Kaapse stories (1982)

Hans du Plessis

Hans du Plessis is op 15 Januarie 1945 in Pretoria gebore. Hy matrikuleer aan die Afrikaanse Hoër Seunskool, Pretoria en behaal ‘n B.A. aan die Universiteit van Pretoria. Terwyl hy onderwys gee, verwerf hy ook die U.O.D., Hons. B.A. en M.A, laasgenoemde twee met lof, aan UNISA. In 1975 verwerf hy ‘n doktorsgraad in Afrikaanse Taalkunde ook aan UNISA. Daarna volg hy ‘n postdoktorale kursus in die linguistiek aan die Universiteit van Harvard. Hy woon verder in 1991 skryfskole in Iowa en Oklahoma by.

Na ses jaar as hoërskoolonderwyser, word hy by Unisa as lektor aangestel en daarna senior lektor by die RAU. In 1981 word hy professor in Afrikaanse Taalkunde aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys. In 1990 word hy Direkteur van die ATKV-skryfskool van die NWU se Potchefstroomkampus. Hy tree aan die einde van 2011 af en word voltyds skrywer en navorsingsgenoot in die Navorsingseenheid vir Taal en Literatuur in die Suid-Afrikaanse konteks van die Noordwes-universiteit, Potchefstroomkampus.

Hy het reeds 160 publikasies agter sy naam, en debuteer in 1978 as skeppende skrywer met die digbundel Kleinwild. Sy akademiese publikasies sluit taalkundehandboeke en taal- en letterkunde-artikels in nasionale en internasionale tydskrifte in.

Sy skeppende werk sluit ses digbundels, drie jeugromans en ses romans in. Verder publiseer hy ook vele gedigte, rubrieke en kortverhale. Ses verhoogstukke uit sy pen word by verskillende kunstefeeste opgevoer. Sy sesde roman verskyn binnekort.

Hy is bekroon met die C.R. Swart-prys vir tienertoneel, die ATKV-kinderboekprys, `n erepenning van die SA Akademie en die CBSA-prys vir beste publikasie, algemene Christelike literatuur.

Tussen 1985 en 2010 dien hy in verskeie komitees en direksies, waaronder die Taalkommissie en die Taalbeplanningskommissie van die S.A Akademie: voorsitter van die Taalkomitee en lid van die Hoofbestuur van die FAK; vise-voorsitter en voorsitter van die ATKV- direksie; voorsitter van die direksie van Lapa-uitgewers en in die direksie van die Aardklop Nasionale Kunstefees, Hy was ook lid van die Artes-beoordelaarspaneel en van die CNA-prys vir Letterkunde en lid van die hoofbestuur van die Afrikaanse Skrywersgilde.

Hans du Plessis is getroud met Magdaleen Potgieter en hulle het vier getroude seuns en agt kleinkinders.

Cor Dirks

Justus Cornelius Dirks (1911 – 2000) is op ‘n plaas naby Volksrust gebore. Hy studeer onderwys in Potchefstroom en in 1933 voltooi hy sy M.A. in Geskiedenis. Hy hou skool op Duiwelskloof, Belfast en later by die Hoër Volkskool in Potchefstroom waar hy 13 jaar onderwys gee en koshuisvader is. In 1950 word hy visehoof van die Voortrekker Hoërskool op Boksburg en in 1955 hoof van die Lindense Hoërskool in Johannesburg.

Hy het homself nooit as ‘n “skrywer” beskou nie. “Ek het net stories vertel. As ek ‘n skrywer moes wees, sou ek misluk het,” sê hy in 1999 met die oorhandiging van ‘n toekenning aan hom tydens die Aardklop-fees in Potchefstroom. Hy was sestig jaar lank gelukkig getroud met Ella. Hulle het ‘n seun, Justus, ‘n dogter, Elsje en ses kleinkinders. Met sy afsterwe het hy in Afsaaloord in Linden gebly.

Hy het sy skrywersloopbaan met sewe speurverhale begin. Afgesien van kortverhale in tydskrifte, het hy meer as 44 boeke geskryf.
Cor Dirks en die Uile-reeks is sinoniem. Dié reeks oor die Uile van Kranskop is een van die heel gewildste reekse in Afrikaans. Die reeks is verskeie kere herdruk. In 1990 verskyn ‘n laaste Uile-boek, Die Uile vlieg weer, waar die kinders van die Uile bymekaarkom en in hulle pa’s se voetspore volg.

Die Joof-reeks (1977 – 1988) en die Otter-reeks (1981 – 1989) wat albei na sy aftrede geskryf is, volg die Uile se patroon. Die Otter-reeks is goed ontvang. In die Joof-reeks ervaar vier maats opwindende avonture van ‘n uiteenlopende aard.

PUBLIKASIES SLUIT IN:

  • Uile-reeks
  • Joof-reeks (1977 – 1988)
  • Otter-reeks (1981 – 1989)

Carina Diedericks

Carina Diedericks is gebore in Johannesburg en het grootgeword in Pretoria en Kaapstad. Ná matriek aan Herschel Girls’ School in Kaapstad, studeer sy aan die Universiteit van Stellenbosch en behaal die grade BA (Internasionale Studies), Honneurs Afrikaans en Nederlands (cum laude) en MPhil (Joernalistiek). Sy is die skrywer van die Thomas@-reeks wat te sien is as ’n TV- reeks op KykNet, en ander boeke sluit in Koning Henry, Operasie M.I.A.A.U. en Die verdrinking van Josua van Eden.

Carina is al benoem vir die Sanlamprys vir Jeuglektuur en die M.E.R.-prys. Sy het die ATKV-Kinderboekprys reeds ses maal gewen. As sy nie stories skryf nie, werk sy as vertaler, joernalis en reisskrywer vir GreatGuide Magic. Carina woon op Stellenbosch en put haar inspirasie uit lees, Osbloed-wyne, haar drie katte, bling-bling, Villiera Tradition Brut, sjokoladekoek sonder versiersuiker, kwaito en Sondae op ’n kuierstoep.

Publikasies

2014 – Wat sien jy, Zak?
2014 – Hiep, hiep, hoera (Pearson)
2014 – Woes (Pearson)
2014 – Wag, Nina (Pearson)
2014 – A-tie-sjoe! (Pearson)
2014 – Hallo, Ouma! (Pearson)
2014 – Kyk daar bo! (Pearson)
2014 – Ek kan! (Pearson)
2014 – Ek wil speel (Pearson)
2014 – Nina en die boekeboks (Pearson)
2013 – thomas@vrees.net (Lapa)
2011 – Permanente ink (Lapa)
2011 – thomas@rock-ster.net (Lapa)
2011 – Jason Justus and the thing under die floor (Pearson)
2011 – Jason Justus and the mystery of the green and gold (Pearson) 2011 – Jason Justus en daardie ding onder die vloer (Pearson)
2011 – Jason Justus en die geheim van die groen en goud (Pearson) 2010 – Die Groen Mambas: Shaka se spies (MML)
2009 – thomas@geraamte.net (Lapa)
2008 – Die verdrinking van Josua van Eden (Umuzi)
2007 – thomas@aksie.net (Lapa)
2005 – thomas@nagmerrie.net (Lapa)
2005 – Operasie MIAAU (Human & Rousseau)
2004 – thomas@sms.net (Lapa)
2003 – thomas@aqua.net (Lapa)
2003 – Koning Henry (Tafelberg)
2002 – thomas@skerpioen.net (Lapa)
2001 – thomas@moord.net (Lapa)
2001 – Oogkontak (Contentlot)

Vertalings:

2013 – Dagboek van ’n Wimp #4 (Penguin)
2013 – Dagboek van ’n Wimp #3 (Penguin)
2013 – Bokveld Binnekort (Umuzi)
2012 – Dagboek van ’n Wimp #2 (Penguin)
2011 – Daboek van ’n Wimp #1 (Penguin)
2011 – Agent Alex – Spioenkop Akademie (Protea)
2010 – Die drie vriende (Protea)
2009 – Richard Scarry: Wat doen mense elke dag? (Protea)
2007 – Dr. Eve se Seksboek vir Tieners (Marlene Wasserman (Human & Rousseau) 2005 – Slaaptydstories vir kinders (Human & Rousseau)
2004 – Julle is almal my gunstelinge (Human & Rousseau)
2004 – Mamma het my nooit vertel nie (Babette Cole) (Human & Rousseau) 2004 – Waar Willie Woeker (Human & Rousseau)

Pryse:

  • 2011 – Naaswenner: Lapa Jeugromankompetisie
  • 2010 – Naaswenner: MML Kinderboekkompetisie
  • 2008 – ATKV-Kinderboekprys vir thomas@aksie.net.
  • 2007 – ATKV-Kinderboekprys vir thomas@nagmerrie.net.
  • 2007 – ATKV-Kinderboekprys vir Operasie Miaau.
  • 2006 – ATKV-Kinderboekprys vir thomas@sms.net.
  • 2005 – ATKV-Kinderboekprys vir Koning Henry.

Philip de Vos

PHILIP DE VOS is in Bloemfontein gebore, maar woon reeds sedert 1967 in Kaapstad waar hy in ‘n pre-adolessente stadium vasgevang sit. As kind wou hy ‘n clown in ‘n sirkus word of andersins ‘n matroos, maar in plaas daarvan beland hy toe vir 15 jaar in die onderwys. Hy het ook al 40 verskillende operarolle gesing: altyd mannetjies met boggels of dié wat hakkel, want hy was nog nooit so mooi soos Steve Hofmeyr nie.

Hy is baie lief vir diere en goggas, en het nog nooit eens ‘n mier met opset doodgetrap nie. Hy het ophou vleis eet nadat hy die rolprent Babe die pratende varkie gesien het, en het ophou vis eet nadat hy Finding Nemo gesien het. Sy geliefde swart Staffie wat in 2009 dood is se naam was Winnie, en hy huil nog partykeer as hy aan haar dink.

Hy skryf ook so nou en dan ‘n versie of andersins ‘n boek wat ietwat dikker is en dink dat skrywe hom miskien half aan die lewe hou, want ryk sal hy nooit word nie, want daar staan êrens geskryf: Rhyme doesn’t pay. In 2004 is Mallemeuleman met 319½ van sy versies gepubliseer. Sy konsentrasievermoë is dié van ‘n muskiet en die dikste boek wat hy nog ooit gelees het, is Triomf van Marlene van Niekerk.

Hy dink die beste boek wat hy nog ooit geskryf het is TRAZOM, ook bekend as Tot siens, Tommasino, maar hy twyfel of enige ander mense so dink of in elk geval selfs van hierdie boek weet.

Piet Grobler het die meeste van Phiip se boeke geïllustreer en is seker een van die min mense wat regtig weet wat in sy kop aangaan.

Hy is lief vir foto’s neem en het alreeds tien eenmanuitstalling van sy foto’s gehad en sy beste verjaarsdagpresent toe hy nog klein was, was ‘n Donald Duck-kamera. Hy het ‘n fotoboek met die titel Milieu gepubliseer, en party mense dink miskien hy is ‘n soort names-dropper oor al die bekendes in hierdie boek.

Sestien komponiste het alreeds musiek vir sy versies geskryf en in 1998 is sy eerste (en laaste) CD Brommer in die Sop (en ander lieflike en loflike liedjies) uitgereik waarin hy self die Albie Louw-toonsettings van sy versies sing.

Hy is nie baie netjies nie en probeer al vir baie jare om die huis aan die kant te maak en dinge weg te gooi, maar glo nie dit sal ooit gebeur nie.

Publikasies 

  • O Togga! ‘n Gogga – 1984 Tafelberg
  • Brommer in die Sop – 1986 Tafelberg
  • Wolfgang Amadeus Muis – 1986 Tafelberg
  • Karel van Krieketstraat – 1988 Tafelberg 1990
  • Daar’s Bitterals in die Heuningwals – 1988 Tafelberg
  • Belladonna Prima Donna – 1989 Tafelberg
  • Die Worcester Asporcester – 1989 Tafelberg
  • Vincent van Gogga – 1990 Tafelberg
  • Trazom – 1993 Queillerie
  • Oxford Storieboom-reeks: 1994 Oxford University Press
    Sproete en Snoete 
    Warrelwind se kind 
    Giere en grille
  • Van Rand en Sent tot Insolvent – 1994 Juta
  • Moenie ‘n mielie kielie nie – 1995 Human & Rousseau
  • Die Deng van Gauteng – 1996 Human & Rousseau
  • Karnaval van die Diere – 1998 Human & Rousseau
  • Carnival of the Animals – 1998 Human & Rousseau
  • pret @ internet – 1998 Queillerie
  • Kat se Blad – 1999 Human & Rousseau
  • Beware of the Canary – 2000 Human & Rousseau
  • Boekmense (skrywersfoto’s) as deel van CD Rom Verswêreld – 2000 Logos
  • Limericke vir die Lekkerte – 2003 Kagiso
  • Mallemeuleman – 2004 Human & Rousseau
  • Milieu (fotoboek) – Protea Boekhuis – 2006

Rymvertalings

  • Die dag van die Reënboog – 1989 Human & Rousseau
  • Grilkrokodil – 1989 Human & Rousseau
  • Pret met vorms – 1989 Human & Rousseau
  • Vang die Hoed – 1989 Oxford University Press
  • Sarie en die Spinnekop – 1989 Oxford University Press
  • Daar’s geen rus op die goudgeel bus – 1990 Human & Rousseau
  • Almal Saam – 1991 Human & Rousseau
  • Daar’s ‘n yslike bries as ‘n olifant nies! – 1991 Human & Rousseau
  • Eerste Rympies vir Kleuters – 1992 Human & Rousseau
  • Een Ouma wat Glimlag – 1992 Human & Rousseau
  • Die Loraks – 1993 Hodder & Stoughton
  • Sussie Seekoei red ‘n apie – 1994 Tafelberg
  • Sussie Seekoei speel speurder – 1994 Tafelberg
  • Die Groot Sangboek – 1994 Rubicon
  • Propvol Tjokvol – 1994 Rubicon
  • Wanja se VreemdeWinternag – 1994 Rubicon
  • Beerjolyt – 1997 Human & Rousseau
  • Ek Sien – 1998 Human & Rousseau
  • Die Goorgomgaai – 1999 Human & Rousseau
  • Die Spree met Foete – 2002 Human & Rousseau
  • Is daar plek op jou besem? – 2002 Human & Rousseau
  • Vier kartonboekies – 2003 Human & Rousseau
  • Muisie my meisie – 2003 Human & Rousseau
  • Missy mouse – 2003 Human & Rousseau
  • Vrydag is my dag – 2003 Human & Rousseau
  • Hik! hik! hik! – 2004 Human & Rousseau
  • Die Tyd is om! – 2004 Human & Rousseau
  • Die wolf wat outjie geskree het – 2004 Human & Rousseau
  • Die Lelike eendjie (Andersen) – 2004 Human & Rousseau
  • Die Herderin en die Skoorsteenveër (Andersen) – 2004 Human & Rousseau
  • Die Teepot (Andersen) – 2004 Human & Rousseau
  • Die Keiser se nuwe Klere (Andersen) – 2004 Human & Rousseau
  • Die Tonteldoos (Andersen) – 2004 Human & Rousseau
  • Die Prinses en die Ertjie (Andersen) – 2004 Human & Rousseau
  • Moeder Gans se rympies en stories – Human & Rousseau 2007
  • Formula Three two one – Human & Rousseau 2007
  • Lula die koei wat anders was – Human & Rousseau 2007
  • Mag ek in jou doek loer? – Human & Rousseau 2008
  • Kameelperd wat so lag – Human & Rousseau 2008
  • Freya Fiemies – Human & Rousseau 2008
  • Ons hou partytjie – Human & Rousseau 2008
  • Saamleesstories vir snuiters – Human & Rousseau 2008
  • Die Goorgomgaaitjie – Human & Rousseau
  • Tom se superhero onderbroek – Human & Rousseau 2009
  • Elsa en die Watsenaampie – Macmillan 2008

Toekennings

  • Eugène Marais-prys vir Daar’s Bitterals in die Heuningwals 1989
  • ATKV-kinderboektoekenning vir Vincent van Gogga 1989
  • M.E.R-prys vir Moenie ‘n Mielie Kielie nie 1996
  • Mondiprys vir strokies in De Kat 1996
  • Alba Bouwer Prys vir Moenie ‘n Mielie Kielie nie 1998
  • IBBY internasionale toekenning vir vertaling van Die Spree met Foete
  • IBBY toekenning vir vertaling vir: Die Wolf wat Outjie geskree het

Johan de Waal

De Waal is in Eldoret, Kenia, gebore. In 1962 verhuis sy ouers na Suid-Afrika. Hy gaan skool in Zoeloeland en Rustenburg waar hy in 1976 matrikuleer. Hy studeer aan die Universiteit van Pretoria en hou daarna vir twee jaar skool. Hierna woon hy en sy vrou vir ‘n paar jaar in Londen. Tans is hy ‘n meubelmaker naby Witrivier waar hy, sy vrou en twee dogters woon.

De Waal publiseer Machadospoor (1991), ‘n roman vir volwassenes, Slaapvraat en Leander (1987) en !Sit oom Paul (1995). In laasgenoemde verken die outeur met sy hoofkarakter, Herman Human, vlakke van (jong)menswees wat vernuwend in die Afrikaanse jeugtekste is. Die vernuwing van die teks is veral geleë in die wyse waarop die skrywer die tradisionele godsdiens, politiek en houding ten opsigte van seksualiteit aan bod bring.

In Slaapvraat en Leander word Leander deur Slaapvraat, ‘n kreatuurtjie” kleiner as ‘n beer en groter as ‘n kat” beskerm teen gevare en nare drome. Leander sluit ‘n hegte vriendskap met Slaapvraat.

PUBLIKASIES SLUIT IN:

  • Slaapvraat en Leander (1987)
  • Machadospoor (1991)
  • !Sit oom Paul (1995)

Leon de Villiers

Sommige mense weet as volwassenes nog steeds nie wat hulle nou eintlik in die lewe wil doen nie. Leon was een van daardie gelukkige mense wat nog voor hy tien jaar oud was, geweet het dat hy eendag vir ‘n tyd lank sou wou skoolhou (maar nie vir sy hele lewe) en ook dat hy sou boeke skryf. Watter soort boeke, het hy nie geweet nie. Ook nie hoe lank dit sou neem voordat hy eendag by die droom sou uitkom nie. Tydens sy universiteitsjare by Tukkies, was daar nog nie studierigting soos kreatiewe skryf nie en was sy hoofvakke Staatsleer en Internasionale Politiek. Die het hy egter nooit gebruik nie, want hy het direk na sy studies begin skoolhou as Geskiedenisonderwyser. Einde 1993 het hy die onderwys verlaat om ernstig te begin skryf. In 2000 het hy weer vir ‘n jaar skoolgehou, maar sedertdien spandeer hy soveel moontlik tyd aan skryf.

Skryf is vir Leon heel eerstens om op reis te gaan deur se eie onontdekte binnewêreld. Hy weet nooit vooraf presies waarheen die reis hom gaan neem, of hoe hy by ‘n sekere eindbestemming gaan uitkom nie. Soms is die reis ‘n dolle jaagtog op ‘n bruisende rivier en soms harde mynwerk met pik en graaf. Maar hoe ook al, elke reis verryk hom as mens op een of ander manier. Indien dit ook vir die lesers iets beteken, is dit vir hom ‘n baie groot bonus. Omdat hy die ‘veelkleurige’ boeke van ander skrywers so geniet, probeer hy altyd sorg dat daar ‘n mengsel van kop en hart in sy boeke is. Of hy altyd daarin slaag? Dit is iets wat die lesers beter sal weet as hy.

Leon beskou dit as ‘n groot voorreg om vir kinders en jongmense te kan skryf. Kinders is baie eerlik daaroor of hulle van ‘n boek hou of nie. Hulle skryf nie geleerde resensies in koerante nie, maar sit net ‘n boek verveeld eenkant, of lees dit weer en weer en weer. Dit is hierin wat die grootste beloning lê vir enige een betrokke in die kinder- en jeugboekwêreld, reken Leon. Hier is die grootste betaling nie groot geldpryse of akademiese lofsange nie, maar blink oë wat spreek van onverbloemde genot in ‘n storie (ongeag wie die skrywer is).

Leon woon deesdae in die Vrystaatkant van die Vredefortkoepel op ‘n piepklein ‘plasie’ wat uitkyk op die heuwels en valleie rondom die Vaalrivier. Agt van sy nege Suid-Afrikaanse De Villiers-voorvaders was boere. Anders as hulle, boer hy egter met woorde en idees. Die beginsel van ploeg, plant en oes, bly egter maar steeds dieselfde, reken hy. Dit en die wag op die reën.

Publikasies

  • Aliens en Engele – 1996 – Tafelberg.
  • Die pro – 1997 – Tafelberg. (Sanlamprys beginnerwenner, MER-prys, Scheepersprys van die Akademie)
  • Groete van die hiëna – 2000 -Tafelberg
  • Elsie soek ‘n strooihoed – 2001 – Lapa (ATKV Kinderboektoekenning vir storie en illustrasies)
    • Ook vertaal as: Umnqwazi kaNomaza owenziwe ngengca-2001-
    • Lapa Modiyanyewe wa Botlenyana – 2001 – Lapa
    • Isigqoko selanga sika Thembi – 2001 – Lapa
  • Wat doen jy Daniël? – 2002 – Lapa
  • Die klein seuntjie en die drake – 2003 – Lapa
  • Parmant – 2003 – Lapa
    • Ook vertaal as Cheeky – 2003 – Lapa
  • Droomoog Diepgrawer – 2003 – Lapa (Alba Bouwerprys van die Akademie)
  • Erik en die Kido-dinges -2003 – Lapa
  • My sussie se tande – 2004 – Lapa
  • Ek en my monster. ‘n Handleiding vir beginners – 2004 – Lapa

Frieda de Villiers

Reeds as kind het Frieda de Villiers prosabydraes gelewer in tydskrifte en skooljoernale. Later publiseer sy tientalle kinderverhale in Afrikaanse kindertydskrifte. Haar bydraes tot die radioprogram vir kleuters, Siembamba, word gepubliseer onder die titel, Siembamba-stories (1970).

In 1957 verskyn drie boeke in die Bergarend-reeks: Bergarend ontmoet die smokkelaars van Vaaldam, Bergarend en die swart kewer en Bergarend in die vallei van die spinnekop. Dit is spanningsavontuurverhale met die student, Arnold Bergh, in die helderol. Haar ander romans sluit in: Die kermis-komper (1985), Suidpunt-fietstoer (1987), Operasie Maanligmotors (1988) en Vissers moenie in die water mors nie (1991). In Die kermis-komper en Operasie Maanligmotors raak kinders aktief betrokke by die probleme van ‘n plaaslike fabriek waar die meeste van hulle pa’s werk.

PUBLIKASIES SLUIT IN:

  • Siembamba-stories (1970)
  • Bergarend-reeks
  • Bergarend ontmoet die smokkelaars van Vaaldam
  • Bergarend en die swart kewer
  • Bergarend in die vallei van die spinnekop
  • Die kermis-komper (1985)
  • Suidpunt-fietstoer (1987)
  • Operasie Maanligmotors (1988)
  • Vissers moenie in die water mors nie (1991)

W.A. de Klerk

Willem Adriaan de Klerk is op 7 Maart 1917 in die Vrystaat gebore, maar hy bring sy kinderjare in Kaapstad deur. Hy keer egter na die Vrystaat terug vir sy hoërskoolloopbaan aan die Greykollege in Bloemfontein. Hy bekwaam hom, soos sy vader, in die regte aan die Universiteit van Stellenbosch en trou in 1943 met Ena Smit. Drie kinders is uit die huwelik gebore. Na vyf jaar in die regsberoep begin hy voltyds skryf. Vanaf 1946 word hy ‘n omroeper by die SAUK en van 1949 werk hy vir die BBC in London. In 1951 is hy terug by die SAUK, maar sedert 1953 is hy ‘n vrugteboer in die Paarl-omgewing. Hy kry twee beurse, ‘n perbeurs na Duitsland in 1961 en die Leader Exchange-beurs na die V.S.A. in 1965. Sy vrou ontval hom in 1978 en hy trou weer in 1982 met Finnie Malherbe, die weduwee van ‘n bekende Bolandse wynmaker. Hy sterf op 18 Julie 1996.

W.A. de Klerk is in die eerste plek bekend vir sy dramas waarvoor hy dan ook in 1952 die Hertzog-prys ontvang. Sy eerste jeugroman, Die skarlaken eskadril (1942) het vooraf as ‘n vervolgverhaal in Die Jongspan verskyn. Dit is ‘n spannende verhaal oor vlieg en vegvliegtuie; ‘n soort wetenskapsfiksieroman. De Klerk se tweede jeugroman, Die vallei van die rooi gode (1945), wat klaarblyklik ook vir ouer lesers bedoel is, slaag nie. Sekerlik sy bekendste jeugverhaal is Die gésel van Namaland (1954). Dit verower in 1954 die eerste prys in ‘n jeugverhaalwedstryd van die Vroue-Landbouvereniging van Kaapland. Dit vertel die verhaal van ‘n tweeling, naamlik die doener, Jan en die dromer, Wynand Maree, en hulle nooientjie, Anneke. Agtien man en ‘n meisiekind (1956) speel teen ‘n historiese agtergrond af, naamlik die toestand aan die Oosgrens teen die einde van die agtiende eeu. Poens, die penkopjare (1957) ‘n belangrike mylpaal in die Afrikaanse letterkunde. Poens, die swerfjaar verskyn in 1968. Willemien se ligte dae (1958) bied ‘n kykie op die innerlike belewing van ‘n dogter op pad na volwassenheid. Kleinben drink die bitter bloed (1977) is oorspronklik uitgegee as Die verste blou einder (1962). Hierdie verhaal gee die innerlike stryd van ‘n seun en sy liefdesdrome weer te teen die agtergrond van ‘n jagavontuur in die destydse Suidwes-Afrika.

De Klerk ontvang die Scheepersprys vir jeuglektuurlektuur in 1958 vir Die skarlaken eskader, Die vallei van die rooi gode, Die gésel van Namaland, Agtien man en ‘n meisiekind en Poens: die penkopjare.

PUBLIKASIES SLUIT IN:

  • Die skarlaken eskadril (1942)
  • Die vallei van die rooi gode (1945)
  • Die gésel van Namaland (1954)
  • Agtien man en ‘n meisiekind (1956)
  • Poens, die penkopjare (1957)
  • Willemien se ligte dae (1958)
  • Die verste blou einder (1962)
  • Poens, die swerfjaar (1968)
  • Kleinben drink die bitter bloed (1977)

Helene de Kock

Helene de Kock woon tans in Pretoria en is getroud met dr. Jos de Kock. Hulle het drie kinders, Jaco, Herman en Sylvia.

Helene het as pastoriedogter op die rand grootgeword en studeer aan die Universiteit van Pretoria waar sy ‘n BA graad in tale en ‘n onderwysdiploma verwerf. Sy het ook aan verskeie konservatoria sang gestudeer. Tydens haar verblyf in Bloemfontein het sy sang gegee. Helene was ook solis van die Cantus Choralis Koor van die Oos Vrystaat. Sy tree nog soms as solis op.

Helene het meer as dertig romans in Afrikaans gekryf. Van haar jongste werke is kortverhale in die bundels Dit kom van ver af enKruis en dwars wat onderskeidelik deur T.T. Cloete en Jeanette Ferreira saamgestel is. Dan is daar die omnibusse, Wynland omnibus, Liefde in die Lae Lande en Van Liefde en oorlog uitgegee deur Human & Rousseau. Die Helene de Kock Omnibus 4 het ook pas verskyn. Sy is besig met ‘n nuwe roman sowel as kortverhale vir bundels en dagstukke en al haar vorige werk wat deur Human & Rousseau en Tafelberg Uitgewers gepubliseer is, word weer in omnibusse uitgegee.

Helene doen deeglik navorsing vir haar boeke oor beide die onderwerp sowel as die agtergrond. Daar is ook reekse essays van haar deur die SAUK uitgesaai. Van Helene se verhale kan ook as e-boke gelees word en as oudioboeke bestel word op www.contentlot.com.

Helene het ook joernalisiteke agtergrond. Sy was op universitiet twee jaar lank op die redaksie van die studentekoerant, Die Perdeby, en het later ook as waarnemende redakteur opgetree vir Vrystaat, ‘n streekskoerant van die Oos Vrystaat. Verder skyf sy ook artikels vir die tydskrif Finesse en het ook al vir Taalgenoot geskryf.

Helene se eerste kortverhaal is tydens haar tweede jaar op universiteit gepubliseer. Sy skryf nou voltyds maar het ook sporadies onderwys gegee. Sy gee soms lesings oor die skryfkuns by die ATKV Skryfskool aan die PU vir CHO. Van hierdie referate is deur die Universiteitspublikasies gepubliseer. Van die lesings is ook saam met ander skrywers s’n gebundel onder die titel Skryfateljee (Van Schaik Uitgewers).

Sy spreek ook leeskringe toe. Helene hou van reis, lees en musiek en kuiertyd saam met haar man en kinders is vir haar baie kosbaar.

Publikasies

  • 1981 – Ver vlug na more (Human & Rousseau)
  • 1982 – Skemerspel (Tafelberg)
  • 1983 – Digby grootgewaag (Tafelberg)
  • 1985 – Soetwyn vir ‘n Sondagkind (Tafelberg)
  • 1988 – Joernaal van ‘n winterjaar (Tafelberg)
  • 1990 – Vuurvliegie (Human & Rousseau)
  • 1991 – Saterdagskind (Human & Rousseau)
  • 1994 – Man van kaliber (Tafelberg)
  • 1995 – Volmaakte versnit (Human & Rousseau)
  • 1996 – Vrou van formaat (Taferberg)
  • 1996 – Tiendes van silwer (Human & Rousseau)
  • 1998 – Mense van faam (Human & Rousseau)
  • 1999 – Engel op die drumpel (Cum Uitgewers)
  • 1999 – Die skadubelofte (Human & Rousseau)
  • 1999 – Die Riemland tweeluik (Human & Rousseau)

Kinderboeke sluit in onder andere Jobsoos vir kinders oorvertel. Die mees onlangse in Openbaring, die boek wat ons bly maak en Die Eerste Nagmaal. Dit het by Aktuapers verskyn.

Pryse:

  • Naaswenner in ATKV/SARIE vervolgverhaal wedstryd met die verhaal Sewende somer wat ook deur H&R uitgegee is.
  • Naaswenner in ATKV/SARIE vervolgverhaal wedstryd met die verhaal Windspoor wat deur Tafelberg Uitgewers in boekvorm uitgegee is.
  • Naaswenner in Rooi Rose kortverhaal wedstryd met die verhaal ‘n Laaste maal.
  • Derde prys in Sarie/OU Mutual kortverhaal wedstryd met die verhaal Net nog ‘n maal.