Licia Erasmus

Licia Erasmus woon op ‘n piepklein dorpie wat wêreldbekend is vir rooibos – Clanwilliam.

‘n Groot geheim is dat hul hond, Blixen, haar help skryf. Wel, oukei, eintlik lê Blixen net haar voete warm terwyl sy skryf, maar iemand moet dit doen…

Soos baie ander skrywers het sy ook op laerskool al begin skryf – meesal uitskryfwerk!

As sy nie skryf nie, neem sy balletklasse by die Aletta Szente Balletskool.

Sy hou ook van draf, skilder, boekklubaande en kreef eet.
Haar grootste vrees is dat sy nie in haar lewe al die boeke gelees gaan kry wat sy nog so graag wil lees nie.

Publikasies

2007 – Balletklas: Towerskoene (Lapa)

2007 – Balletklas: Dansmaats (Lapa)

Behalwe vir die Balletklas-reeks het sy ook Têkkel hom!, Paaltjies spat!, Die Teaterspook, Die Lugkar en Jinx, Dubbel Jinx by Heinemann Uitgewers uitgegee en Die Krokkitor geskryf.

Nelia Engelbrecht

Nelia Engelbrecht is in Klerksdorp gebore en getoë. In 1981 behaal sy ‘n BA Kommunikasiekunde-graad aan die voormalige Potchefstroomse Universiteit vir CHO.

Deur die jare het sy vir verskeie publikasies as joernalis gewerk en talle artikels en berigte gepubliseer. In 1994 begin sy fiksie skryf. Sy het tot dusver ongeveer 67 kortverhale in verskeie vrouetydskrifte en kortverhaalbundels gepubliseer.

Haar man is ‘n dosent aan die Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus. Nelia is ‘n korporatiewe skrywer/redigeerder by die universiteit se Korporatiewe Sake en Verhoudinge.

Publikasies: 

  • Kortverhale in verskeie tydskrifte.
  • Kortverhaal opgeneem in ‘Vuur’, ‘n bundel met kortverhale oor die Anglo Boereoorlog; (1999)
  • Kortverhale en ‘n gedig opgeneem in Contentlot.com se publikasie, ‘e-rupsie’ (2001)
  • Haar eerste liefdesverhaal, Die liefde van ‘n leeftyd, verskyn by Camelia Uitgewers aan die begin van 2003.
  • Haar tweede liefdesroman, Liefdesvlug, verskyn in Julie 2003 by Lapa.
  • In 2005 verskyn haar derde liefdesverhaal, Die Ier se ultimatumby Lapa (Romanza-reeks)
  • Haar eerste kinderboek, Alicia en die Zitzappers, het in Augustus 2007 by Human & Rousseau verskyn.
  • ‘n Tweede kinderboek, Die seun met die blou hare, verskyn einde van 2007 by Lapa.
  • Daarna volg nog ‘n kinderboek, Dieter en Madame Zenobia, uitgegee deur Human & Rousseau
  • Haar eerste jeugverhaal, Pandora se boks, verskyn in 2009 by Tafelberg
  • ‘n Prenteboek sal na verwagting later in 2010 by Human & Rousseau verskyn.

Kompetisies:

  • Algehele wenner van Klerksdorp Record se Jongskrywers Kompetisie in 1994 en weer in 1997.
  • Wen die vrouetydskrif, Sarie, se nasionale kortverhaalwedstryd in 1999 met die verhaal “Die binnekant van ‘n pruim”
  • Wen Contentlot.com Skrywerskompetisie in 2001 (Eerste in Vonkfiksie-afdeling en derde in Kortverhaal-afdeling)
  • In 2009 is sy een van die finaliste in die Tafelberg/Sanlam-kompetisie vir jeugverhale met die boek: Pandora se boks.
  • In 2010 ken die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns die Scheepersprys aan haar toe vir Pandora se boks.

ATKV-Skryfskool:

Sy het vir ‘n aantal jare as groepleier opgetree by die ATKV se Herfs-Skryfskool op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit.