Bianca Flanders

Bianca Flanders is ‘n aktrise, stemkunstenaar en onderwyser wat in Kaapstad woon. Sy het haar graad in Drama- en Teaterstudie aan die Universiteit van Kaapstad (UK) behaal in 2011. In die daaropvolgende jaar, het Bianca ook ‘n nagraadse sertifikaat in onderwys by UK verwerf. Bianca was ‘n onderwyser by Camps Bay High en sy was ook verbonde aan Battswood Arts Centre en City Varsity.

Vir haar akteurswerk ontvang Bianca in 2016 ‘n Fleur de Cap-nominasie vir haar rol as Miela in “Kristalvlakte”. In 2018, word sy ook genomineer vir ‘n WoordTROfees-toekenning vir haar rol as Amelia in “The Demon Bride”. Wanneer Bianca nie werk nie, is sy besig om te kook in haar kombuis in Walmer Estate. Of sy wandel graag langs die Seepunt-promenade soos die meeste Kapenaars.

Elkarien Fourie

Elkarien is op Ermelo gebore en het daar gematrikuleer. Na skool word sy ‘n Tukkie en bly met tussenposes een omdat sy ‘n ewige student is. Sy studeer eers vir ‘n BA en doen daarna honneursgrade in Sielkunde en Afrikaans.

Sy het by Beeld, Die Burger en later as vryskutjoernalis vir verskeie publikasies gewerk, onder meer Rooi Rose, Loerie en vir Tukkie-tydskrifte.

Sy het sowat agt jaar in die buiteland gewoon waar haar man as diplomaat in Engeland, Oostenryk en die VSA gewerk het. Sy het ‘n ruk lank Afrikaans aan die Universiteit van Wenen gegee. In 2003 voltooi sy haar meestersgraad in Afrikaans voltooi.

Haar eerste jeugroman, Dans op die rand van die krans, het in Desember 2002 by Protea Boekehuis verskyn.

Tans is sy ‘n deeltydse dosent by die Eenheid vir die Ontwikkeling van Taal aan die Universiteit van Pretoria.

Sy het drie kinders, wat aan die Universiteit van Bradford in Engeland, Tukkies en as matrikulant aan die Afrikaans Hoër Meisieskool in Pretoria studeer. Haar liefdes is letterkunde, teater, fliek, reis, voetslaan.

Corlia Fourie

Corlia is van kleins af mal oor stories en kan ure lank in boekwinkels deurbring om toneelstukke, kortverhale, romans en digbundels te koop. Sy is ook lief vir fliek, die teater en klassieke musiek.

Sy het in ‘n storiehuis grootgeword en is die oudste dogter (tweede oudste) van haar pa, Mikro, se vier kinders, en die enigste wat so mal is om te skryf.

Sy het jare lank as joernalis gewerk voordat sy in die vroeë tagtigerjare fiksie begin skryf het. Haar eerste werk, Moeders en dogters (1985), was ‘n verhoogstuk wat ‘n merieteprys in die Amstel Dramaturg van die Jaar-kompetisie gewen het. Moeders en dogtersis etlike kere opgevoer, op die verhoog sowel as vir televisie en radio.

Sy het nog vier verhoogstukke geskryf wat op die planke gebring is: Leuens, En die son skyn in Suid-Afrika, Poppespel en ErfgoedEn die son skyn in Suid-Afrika is ook in ‘n TV-drama verwerk wat die eerste prys gewen het in M-Net se kompetisie vir die beste Afrikaanse sitkom. Verskeie radiodramas uit haar pen is oor die lug gehoor.

Sy het ook heelwat kortverhale geskryf en die einde 1991 verskyn die bundel Liefde en Geweld, haar eerste prosawerk vir volwassenes, by Tafelberg-Uitgewers, en in 1992 het sy die ATKV-prys vir goeie gewilde prosa daarmee gewen. In 1994 het ‘n tweede kortverhaalbundel, , by Human & Rousseau verskyn. En daarna ‘n roman, Die oop deurDie oop deur was in 1996 ‘n Publisher’s Choice- boek en is oor die radio voorgelees. Haar roman, Alle paaie lei deur die Strand het twee jaar gelede by Lapa verskyn.

Benewens haar volwasse stories, het sy ook etlike kinderboeke geskryf. Twee daarvan, Die meisie wat soos ‘n bottervoël sing en Die towersak en ander stories is met twee pryse elk bekroon. Die meisie wat soos ‘n bottervoël sing het die M.E.R.-prys en die Tinie Holloway-medalje ontvang en Die towersak, die M.E.R.-prys en die Alba Bouwer-toekenning. Eersgenoemde verhaal is ook deur die Kaapse komponis Peter Klatzow van musiek voorsien en die werk met orkes en verteller is as Tintinyane in Johannesburg, Kaapstad en Stellenbosch opgevoer. ‘n Ander kinderboek, Ganekwane en die groen draak, is vertaal en in Amerika deur Albert Whitman uitgegee. 
Haar jongste twee kinderboeke, Heleen en die heks met hoofpyn en Stories met stertjies, waarin konvensionele sprokies op hul koppe omgekeer word het onlangs verskyn.

Sy is tans rooi rose se verhaleredakteur en skryf ook artikels. Sy bly in Greymont in Johannesburg. Haar twee volwasse dogters woon albei oorsee. Die oudste, Marianne, is met ‘n Fransman getroud en hulle bly op die oomblik in Madrid. Die jongste, Carina, het ‘n navorsingspos by die filosofiedepartement van die Universiteit van Zurich.

Die enigste organisasies waaraan sy nog behoort het, was toe sy (in die tagtigerjare) lid van Vroue vir Vrede was en ook lid van die Skrywersgilde en voor die organisasie se sterfjare was sy op die bestuur.

Arno Fourie

Helena Hugo, die outeur agter die naam Arno Fourie, verwerf in 1969 die graad B.A.-drama aan die Universiteit van Pretoria. In 1969 en 1970 was sy onderskeidelik aktrise vir SUKOVS en lektrise aan die Departement Drama van die Universiteit van die Vrystaat. Tot in 1994 is sy onder meer as regisseuse, speler en skrywer betrokke by die radiowese. Sedert 1974 skryf sy radioverhale vir Siembamba en tussen 1978 en 1987 lewer sy agt radiovervolgverhale vir Jongspanateljee. Sy is ook die skrywer van die Atlantis-reeks. Die eerste boek in dié wetenskapfiksie-reeks, Atlantis (1979), is in 1978 oor Jongspanateljee uitgesaai en weer in 1991 in sagteband uitgegee.

By Drippelkie (1998) en Alexander en die R100-noot (2001) gebruik Hugo die skuilnaam, Arno Fourie. In Drippelkie gaan dit oor Arno Fourie se stryd om die lyding en dood van sy meisie, Sarien, te verwerk. Drippelkie wen in 1998 die CUM/CNW-skrywerskompetisie.

Die gesteelde R100-noot wat die armoedige Alex in Alexander en die R100-noot van ‘n daggaroker met die bendenaam, Skeleton, aanvaar, bring vir hom groot probleme mee.

PUBLIKASIES SLUIT IN:

  • Atlantis (1979)
  • Drippelkie (1998)
  • Alexander en die R100-noot (2001)

Jaco Fouché

Jaco Fouché is in 1967 in Klerksdorp gebore. As lesende kind het hy juwele ontdek: Asterix, Fritz Deelman, Just William, Keurboslaan, Die  avonture van Huckleberry Finn, Jennings and Derbyshire, en so aan. In 2013 het hy weer op een van die William-boeke afgekom en dit was merkwaardig hoe die stories oor ‘n elfjarige Britse seun Jaco se eie kindertyd opgeroep het. Hy kon onthou hoe hy die boeke in 1979 en 1980 die een na die ander by die biblioteek in Sterkstroom, Oos-Kaap uitneem om by die huis te gaan verslind. Dit was as kind vir hom moeilik om te verstaan waarom die werklikheid en stories so van mekaar verskil het. ‘n Boek kon ‘n mens sterk laat voel, maar terwyl dit maklik was om op papier onverskrokke te wees, moes ‘n mens in die regte lewe versigtig wees. Min seuns is regtig soos Trompie.

Nog ‘n boek wat Jaco onlangs weer raakgeloop het, is Tom’s Midnight Garden van Phillippa Pearce. Hy het die boek op laerskool in ‘n Afrikaanse vertaling gelees en om dit weer in die boekwinkel te sien, was om vir ‘n oomblik terug te keer na Laerskool Handhawer in Vereeniging. Tot dusver is hy egter bekommerd die boek stel hom nou teleur en hy het dit nog nie weer aangepak nie.

Iewers in ‘n mens se lewe begin jy op ‘n manier agteruit loop. Dis wanneer jy al hoe meer terugdink aan vroeër periodes en gebeurtenisse. Soms is dit asof sulke herinneringe ‘n mens kan kneus, maar vir ‘n skrywer is hulle natuurlik van waarde. Baie keer is dit ook nie eens ‘n regte gebeurtenis of persoon wat ‘n mens in ‘n storie gebruik nie en net die indruk wat dit by jou gelaat het.

Jaco het al vier of vyf jeugverhale geskryf waarvan Siobhán van die sirkus die eerste is wat gepubliseer word. Hopelik volg daar in 2016 nog een.

Publikasies:

Die ryk van die rawe (1996)
Paartie by Jakes (1997)
Die avonture van Pieter Francken (2005)
Twee dae in Mei (2007)
Skrywersblok (2009)
Ed van Inligtingstelsels (2009)
Die grysland-verblyf (2010)
Verstevlei (2013)
Siobhán van die sirkus (2014)

Annelie Ferreira

Behalwe vir ’n paar vroeë jare in Kimberley en Johannesburg het Annelie Ferreira tussen Bellville en Durbanville in die Kaap grootgeword. Sy matrikuleer aan die Hoërskool Bellville, en behaal ’n BA aan die Universiteit van Stellenbosch, asook ’n Nagraadse Diploma in Vertaalkunde.

Sy werk voltyds as taalpraktisyn en subredakteur by Sanlam se Taaldienskantoor en Human & Rousseau Uitgewers vir ’n paar jaar, en werk daarna deeltyds en vryskut vir ’n verskeidenheid uitgewers en publikasies.

Sy skryf artikels en rubrieke vir ’n verskeidenheid publikasies, en publiseer ’n aantal nie-fiksieboeke, onder andere Daar’s ’n mens binneDie dag toe ons God gevang het en Eva ontmoet Einstein, asook ’n roman, Hoekom honde nie kan sing nie. Sy is ook die samesteller van Paaie, ’n boek oor verskillende godsdiensperspektiewe.

In 2012 wen sy die Sanlam-prys vir Jeuglektuur vir haar eerste jeugboek, Tot siens, koning Arthur. Hierdie boek wen ook die M.E.R.-prys vir Jeuglektuur in 2013.

In 2013 verskyn Dit vat gutsMaar Tintin in Tibet en ’n Kameel, ’n sprinkaan en ’n vrot tamatie. In 2014 wen sy weer die Sanlam-prys vir Jeuglektuur vir Chuck Norris kan deel deur nul.