Gretel Wybenga

Gretel Wybenga verwerf haar M.A.-graad met ‘n verhandeling oor die hantering van die verteller in enkele Afrikaanse jeugverhale. Sy was musiekonderwyser en sedert 1986 ‘n dosent aan tersiêre inrigtings. Aan die PU vir CHO (Vaaldriehoekkampus) bied sy tot in 2003 ‘n honneurskursus in kinder- en jeugliteratuur aan.

By geleentheid was sy betrokke by skryfkursusse, ook vir kinderboeke. Van Wybenga verskyn talle resensies, onder andere in Beeld, Literator en Tydskrif vir Letterkunde.

Enkele kortverhale, ook vir kinders, verskyn in versamelbundels.

Haar kortverhaalbundel met getransformeerde sprokies vir volwassenes, Sproke, verskyn in 1995.

Onder haar publikasies tel twee kinderboeke, Malie en Maggie en die tagtig kalkoene (1993) en Malie en Maggie en die maer Kersfees(1995).

Gretel Wybenga is mederedakteur van Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom: ‘n gids tot die Afrikaanse kinder- en jeugboek (2005).

Im 2005 verskyn die bundel met twaalf oorvertelde sprokies oor prinsesse: Sneeuwitjie en ander prinsesstories.

Jelleke Wierenga

Jelleke Wierenga het die graad BA (Hons) Kommunikasiekunde aan die Potchefstroomse Universiteit behaal en daarna tien jaar lank by die koerant Beeld gewerk as onder andere subredakteur, onderwysberiggewer en nuusredakteur (Pretoria-kantoor). Ná ’n kort kennismaking met die burokrasie via die WNNR in Pretoria het sy ’n opvou-woonwa aangeskaf en Kaapstad toe gevlug. Sy was vir twee jaar artikelskrywer by die tydskrif Sarie in Kaapstad, waarna sy bedank het om ’n vryskutter te word. Sedertdien was sy onder andere boekredakteur by Juta, het vertaalwerk gedoen, manuskripte geredigeer, bemarkingskopie geskryf, by Huisgenoot gewerk as subredakteur, skoolboeke saamgestel en geskryf, en ’n kinderblad vir Rapport-Tydskrif gedoen. Deesdae lê sy haar toe op die skryf van kinder- en jeugverhale.

Jeugboeke

  • Moenie kameelperde kop toe vat nie – Gr. 3 Ster Stories, Juta Gariep
  • ’n Bosluis red die koningshuis – finalisprys in Maskew Miller Longman se Letterkundekompetisie 2010
  • Kat in die pan vir die Fransman – goue prys in Maskew Miller Longman se Letterkundekompetisie 2010
  • Moord per suurlemoen – silwer Sanlamprys vir Jeuglektuur 2013, Tafelberg Uitgewers

Jeugverse

Verskeie verse is opgeneem in skolebundels

Digbundel

  • Bloot mens – Protea Boekhuis 2010 

Elizabeth Wasserman

Op ongeveer 10-jarige ouderdom wen ek ‘n limeriek kompetisie in Die Huisgenoot, die limeriek word in Huisgenotjies geplaas en ek ontvang met trots ‘n tjek van R5.

Op daardie stadium was ek reeds aan die skryf en het baie papier gemors. Met die grootmaak van my dogter het my skryfwerk begin fokus op kinderrympies en verhale.

Liefde vir diere, die bewaring van die natuur, avontuur en die pret van reis bly sentrale temas in al my werk. Ek doen baie navorsing oor alles waaroor ek skryf en meng my stories met ware feite. Die seerower stories, byvoorbeeld, is al twee gebaseer op regte karakters en die ware geskiedenis van seerowery in die Indiese Oseaan. 

Ek glo dat die wetenskap net so wonderlik is as enige fantasie en dat die wêreld n baie opwindende plek kan wees, as jy net jou oë oophou.

Kwalifikasies: MBChB, MMed (Microbiol.Path) cum laude, FC Path (SA), DPhil (Social Science Methods)

Beroep: Hoofspesialis en Professor in die Afdeling Geneeskundige Mikrobiologie, Departement Patologie, Stellenbosch Universiteit en Tygerberg Hospitaal

Gepubliseerde werk:


Boeke

2009: Meerkat restaurant en ander diererympies, LAPA
2010: Speurhond Willem op reis, Tafelberg uitgewers
2011: Speurhond Willem en die Seerowers, Tafelberg uitgewers
2011: Anna Atoom en die Seerower se Dolk, Tafelberg uitgewers
2011: Speurhond Willem en die Wilddiewe, Tafelberg uitgewers


Bydraes tot bundels:

2009: Nuwe Kinderverseboek, Tafelberg uitgewers (drie kinderrympies)
2010: Sweef. LAPA (kortverhaal)
2010: Toulopers, LAPA (twee gedigte vir tieners)

Werk reeds in die publikasieproses:

2012: Speurhond Willem in die Ruimte, Tafelberg uitgewers, vir vrystelling in Februarie
2012: Anna Atoom en die Magnetiese Meermin, vir vrystelling in die eerste helfte van die jaar.

Beplande skryfwerk vir 2012: 

Die Engelse vertaling van die Anna Atoom reeks, sowel as die derde en finale boek in hierdie reeks.
Speurhond Willem in New York, Speurhond Willem in die Amasone.


Kompetisies amper gewen:

2009: Speurhond Willem op reis kom tweede in die Kleinburger se jeugverhaal kompetisie.
In 2010 word die werk genomineer vir die M.E.R. prys vir jeugliteratuur