Selfpublikasie: Hier word jou boekdroom waar

Baie skrywers droom daarvan om gepubliseer te word, maar hulle wil nie algehele beheer oorlaat aan ’n groot, tradisionele uitgewery nie. Paper Frog Publishing is geskep om sulke individue te help.

Paper Frog Publishing is ’n onderafdeling van LAPA Uitgewers en Penguin Ramdom House South Africa. Ons is ’n dinamiese, kreatiewe span individue met jare se ondervinding in die boekbedryf wat toegewy is daaraan om die drome van passievolle skrywers te verwesenlik. Met ’n lang geskiedenis in die uitgewersbedryf bied ons slegs die heel beste aan kliënte wat hulp soek om hul boeke self uit te gee. Ons is gebaseer in Gauteng en is ons trots daarop om produkte van uitnemendheid teen ‘n bekostigbare tarief reg oor Suid-Afrika te lewer.

Weens jare se ondervinding het ons toegang tot ’n groot netwerk van vryskutredakteurs, -proeflesers, -ontwerpers en drukkers wat by ’n bepaalde begroting of projek kan pas. Daar is geen projek té groot of té klein wat ons nie met professionaliteit, respek en uitsonderlike vakmanskap sal hanteer nie.

Besoek ons webwerf by: www.paperfrog.co.za

Paper Frog bied aan voornemende indieskrywers ’n handige toepassing om dadelik die beraamde koste van selfpublikasie te bepaal, waarna ’n formele kwotasie saamgestel sal word in oorleg met die skrywer. Op dié wyse vind ons ’n formaat, pakket en prys wat jou sak kan pas.

Paper Frog Publishing: nietradisionele publikasies met tradisionele waardes.

Karnaval van die diere – E-uitsending

KARNAVAL VAN DIE DIERE
E-uitsending vir die jongspan toegelig in Afrikaans deur die Gauteng Filharmoniese Orkes.

Saterdag 28 Maart 10:30
Maandag 30 Maart 10:30
Dinsdag 31 Maart 10:30
Woensdag 1 April 10:30

Saint-Saëns se musikaal komiese uitbeelding van die diereryk is ’n werk vir twee klaviere en orkes, geskryf in 1886. In hierdie bekende suite gebruik die komponis briljante instrumentale effekte om die musikale prentjies te skets.

Dirigent: Matheu Kieswetter
Versies & Aanbieding: Philip de Vos – in Afrikaans
Pianiste: Willem de Beer & Laetitia Orlandi

E-uitsending aan die publiek. Eiendom van Brooklynteater en word geskenk aan die publiek in vier e-uitsendings.

Volg die Brooklynteater skakel hier –
https://www.youtube.com/channel/UC7PMj-toh7Rh6egkrnchEPA

Hierdie opname is gemaak op 12 Junie 2016 by die Brooklynteater. Die DVD is te koop by die SalonMusiek winkel, maak seker om ’n draai te maak vir jou kopie wanneer ons weer oop is vir besigheid.

Eiendom van Salon Productions (Pty) Ltd.
@maroela_media @rapportsa @beeld_nuus @ajholtzhausen @pretoria_fm @die.fak @helpende_hand

NB-Uitgewers se #TuisblyLeeslys-veldtog

“Boeke laat jou reis sonder dat jy die huis hoef te verlaat. Lees en bly veilig.” – Rudie van Rensburg

Die katastrofiese koronaviruspandemie maak dat ons almal meer tyd by die huis deurbring om ons medemens te beskerm. Jou sosiale kalender lyk dus bra kaal, maar jy kan nooit te eensaam raak as jy boeke het om jou geselskap te hou nie! Tydens die landswye inperking gaan jy ongelukkig nie jou boekrak met papierboeke kan vul nie, maar die goeie nuus is dat jy steeds op verbeeldingsvlugte kan gaan met ons groot versameling e-boeke en luisterboeke.

Volg ons op sosiale media en teken in op NB-uitgewers se nuusbrief om hulle aanbevole leesstof gedurende die inperking te ontvang:

Baie mense dink dat jy ‘n spesiale toestel benodig om e-boeke te lees, maar jy hoef nie ‘n Kindle te hê om al jou gunsteling-boeke in digitale vorm te geniet nie. Jy kan die Amazon Kindle, Kobo, of Snapplify-toepassings op enige toestel aflaai en Suid-Afrikaners kan ons boeke op enige van die volgende platforms (wat oop gaan bly tydens inperking) aankoop:

  • Amazon.com (Lesers kan die Kindle-toepassing op enige toestel aflaai en hoef nie ‘n Kindle-toestel te hê om ‘n e-boek te koop en geniet nie.)
  • Kobo.com (Lesers kan die Kobo-toepassing op enige toestel aflaai en hoef nie ‘n Kobo-toestel te hê om ‘n e-boek te koop en geniet nie.)
  • Snapplify.com (Lesers kan die Snapplify-toepassing op enige toestel aflaai en hoef nie ‘n spesiale toestel te hê om ‘n e-boek te koop en geniet nie.)
  • Takealot.com (Om die e-boek te lees, moet jy ‘n gepaste toestel hê, registreer vir ‘n Adobe ID en die e-leser by Takealot aflaai.)

Jy kan ook luisterboeke by Audible.com koop en op jou rekenaar, tablet of slimfoon daarna luister. Laai die Audible-toepassing af en begin luister. Jy kan vir Audible se maandelikse subskripsie inteken of jy kan boeke een-een aankoop sonder ‘n maandelikse fooi. Ons het ook met Netwerk24 saamgewerk sodat hul intekenaars elke maand gratis toegang het tot sekere luisterboeke.

NB-Uitgewers het ‘n groot verskeidenheid e-boeke en luisterboeke ─ splinternuwe publikasies en tydlose klassieke boeke ─ wat sal sorg dat die 21 dae van inperking in ‘n oogwink verbygaan. Ons maak ook spesiale melding van Deon Meyer se Koors, ook as e-boek beskikbaar, wat die wêreld verbeel nadat ‘n skrikwekkende koronavirus die wêreld plattrek.

Ons het ons aanbevelings volgens tema ingedeel en sal binnekort nog versamelings saamstel. Loer gerus hieronder! Die volledige lys van ons beskikbare e-boeke en luisterboeke sal op ons webtuiste beskikbaar gemaak word.

Afrikaanse kinder- en jeugboeke sluit in:

Wenners van die Sanlamprys vir Jeugliteratuur

Toring van Jasmyn (9780624087526) deur Derick van der Walt

Sindikaat (9780624087618) deur Annerle Barnard

Blou is nie ‘n kleur nie (9780624081944) deur Carin Krahtz

Soen (9780624081975) deur Jan Vermeulen

Boeke vir die Jongspan:

Raaiselster (9780798178983) deur Troula Goosen

Raaiselklip (9780798176705) deur Troula Goosen

Blits (9780624081807) deur Nadine en Adriaan Blom

Blits 2 (9780624084082) deur Nadine en Adriaan Blom

Pienk is nie vir sissies nie (9780624085416) deur Christien Neser

Liewe Heksie se groot omnibus (9780798172745) Verna Vels

Trompie Omnibus 1 – 7 deur Topsy Smith

Saartjie Omnibus 1 – 7 deur Bettie Naudé

Speurder Kwaaikofski-reeks deur Jürgen Banscherus

Grilgrypers 1 – 3 deur De Wet Hugo

Leeus met letsels (9780798157841) deur Fanie Viljoen

Brand (9780624084051) deur Fanie Viljoen

Vlerke vir almal (9780798174527) deur Marion Erskine

Sweepslag (9780624086789) deur Annerle Barnard

Elf dae in Parys (9780624077459) deur Elizabeth Wasserman

Skadujagter (9780798177306) deur Dihanna Taute

Kraak (9780624085324) deur Rouxnette Meiring

Snak (9780624085355) deur Rouxnette Meiring

Tienerharte 1 – 4 deur Cecilia Steyn

Die Poort 1 – 4 deur Nelia Engelbrecht

Luisterboeke – Afrikaans Kinder & Jeug:

Die avonture van Hanna Hoekom (9780624063438) deur Marita van der Vyver

Die mooiste sprokies van Grimm (9780798163576) deur Marita van der Vyver

Die dingesfabriek 1: Jannus en Kriek op die maan (9780624066965) deur Elizabeth Wasserman

Huppelkind (9780624088530) deur W.O. Kühne

In die land van pamperlang (9780798165761) deur Linda Rode

Jakkals en Wolf (9780798163552) deur Pieter Grobbelaar

Lien se lankstaanskoene (9780624063421) deur Derick van der Walt

Onderwêreld (9780624066682) deur Fanie Viljoen

Rympies vir pikkies en peuters (9780624078074) deur Riana Scheepers, Suzette Kotzé-Myburgh & Gertie Smit

Vaselinetjie (9780624088462) deur Anoeschka von Meck

Vlerke vir almal (9780798179423) deur Marion Erskine

Wielie Wielie Walie (9780798165020) deur Louise Smit

Pieter en die wolf – gratis e-uitsending

PIETER EN DIE WOLF
GRATIS E-uitsending vir die jongspan toegelig in Afrikaans deur die Gauteng Filharmoniese Orkes.

Dirigent: Matheu Kieswetter
Versies & Aanbieding: Philip de Vos – in Afrikaans

Klik hier – https://www.youtube.com/channel/UC7PMj-toh7Rh6egkrnchEPA

E-uitsending aan die publiek.
Eiendom van Brooklynteater en word geskenk aan die publiek
in vier e-uitsendings.

Saterdag 21 Maart 10:30
Maandag 23 Maart 10:30
Dinsdag 24 Maart 10:30
Woensdag 25 Maart 10:30

https://www.youtube.com/channel/UC7PMj-toh7Rh6egkrnchEPA @rekordnewspaperpta @beeld_nuus @aj_opperman_arts_journalist @rsg100104fm @kyknettv

Wenners van Sanlamprys vir Jeuglektuur 2019

Vanjaar se wenners van die Sanlamprys vir jeugliteratuur is op 31 Oktober in Johannesburg bekend gestel. Die kompetisie wat deur Tafelberg en Sanlam aangebied word, bestaan reeds sedert 1980.

Twee wenners (goud en silwer) word in elk van drie kategorieë aangewys.

Die Afrikaanse wenners is Derick van der Walt met Toring van Jasmyn (goud) en Annerle Barnard met Sindikaat (silwer).

Die Engelse wenners is Nerine Dorman met Sing down the stars (goud) en Toby Bennet met The music box (silwer).

Die afdeling vir Afrikatale is gewen deur die isiXhosa debuutskrywer Thembisile Kundlwana vir Tata sikuxolele (“Dad, We’ve Forgiven You”). Mbedzi Nyelisani het die silwertoekenning gewen vir ‘n roman in Tshivenda, U kondelela (“Patience”).

‘n Nuwe baadjie vir Storiewerf

Storiewerf spog vanaf 1 Oktober 2019 met ‘n nuwe baadjie. Ná maande se ontwerp en ontwikkeling agter die skerms, word die nuwe ontwerp van Storiewerf bekend gestel.

Storiewerf, ‘n webtuiste vir die bevordering van kinder- en jeugliteratuur en jong skryftalent, bestaan reeds sedert 2000. Met die ontstaan van Storiewerf was die internet nog in sy kinderskoene en was tafelrekenaars met klein monitors en inbelmodems die standaardmanier om toegang tot die internet te kry en inligting te kan lees. Sedertdien het die tegnologie met rasse skrede ontwikkel. Nou het gebruikers ‘n veeltal toestelle met verskillende skermgroottes met vinnige verbindings tot die internet wat bykans altyd en orals beskikbaar is.

Befondsing deur die PUK-Kanselierstrust en die Vakgroep Skryfkuns aan die NWU het dit moontlik gemaak om die webtuiste te herontwerp en op ‘n nuwe platform te publiseer. BlueTek, Potchefstroom, het die tegniese ondersteuning en herontwikkeling onderneem en gesorg dat die boekdatabasis van bykans 1000 Afrikaanse kinder- en jeugboeke wat sedert 2000 by Lapa en NB-uitgewers verskyn het, na die nuwe platform oorgedra word. Die visuele ontwerp is die werk van Franci Greyling met ondersteuning van Kevin Hechter (BlueTek). Magde-Mari Fourie, Kayla-Mari Geyer en Karla Cloete het gehelp om die meerderheid artikels vanaf die “ou” na die “nuwe” Storiewerf oor te dra. Hartlike dank.


Twee pryse op een aand

Met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns op 11 September 2019 het Jaco Jacobs twee keer op die verhoog verskyn.

Jaco het die Scheepersprys ontvang vir Jeugliteratuur vir vir sy jeugroman Dinge wat ek nie van skape geweet het nie.

Dinge wat ek nie van skape geweet het nie

Die Akademie het ook in April reeds bekendgemaak dat Jaco Jacobs (skrywer) en Zinelda McDonald (illustreerder) ook vanjaar bekroon gaan word met die Alba Bouwerprys vir Kinderliteratuur vir die rympiesboek Moenie hierdie boek eet nie.

Moenie hierdie boek eet nie

Die Scheepersprys vir Jeugliteratuur is ’n letterkundige toekenning deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Dit is ingestel in 1956 en word sedert 1974 elke drie jaar toegeken. Vorige wenners sluit in: PJ Schoeman, Mikro, WA de Klerk, Alba Bouwer, MER, ID du Plessis, PH Nortjé, Anna M Louw, Karl Kielblock, Rykie van Reenen, Freda Linde, Jan Rabie, Rona Rupert, Freda Linde, Dolf van Niekerk, Chris Barnard, Eleanor Baker, George Weideman, Leon de Villiers, Jan Vermeulen, Derick van der Walt en Marita van der Vyver.

Die Alba Bouwerprys vir Kinderliteratuur word ook uitgeloof deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Dit is in 1989 ingestel en word ook elke derde jaar toegeken. Jacobs het dit al tevore gewen. In 2006 is hy vereer vir sy werk Wurms met tamatiesous en ander rympies. Freda Linde, Marietjie de Jongh, Barrie Hough, Corlia Fourie, Philip de Vos, Martie Preller, Leon de Villiers, Linda Rode, Elizabeth Wasserman, en Kobus Geldenhuys het ook reeds hierdie prys gewen.

ATKV-Kinderboektoekennings 2019

Tydens ’n luisterryke en feestelike aand van woorde en wenners, is die ontvangers van vanjaar se ATKV-Woordveertjies op Vrydag 6 September in Stellenbosch aangewys. Die Woordveertjies is vanjaar vir die twaalfde keer aangebied.

Die wenners van die ATKV-Kinderboektoekennings, ’n kategorie waar die kinders self vir hulle gunstelingboeke en -illustrasies stem, is soos volg:

Voorleeskategorie: Graad RR – 1

  • Skrywer: Jaco Jacobs (LAPA Uitgewers) – Die dag toe Ernst ’n ertjie geëet het
  • Illustreerder: Johann Strauss (LAPA Uitgewers) – Die dag toe Ernst ’n ertjie geëet het

Selfleeskategorie: Graad 2 – 3

  • Skrywer: Jaco Jacobs (LAPA Uitgewers) – Spaghetti tussen jou tone
  • Illustreerder: Alex van Houwelingen (LAPA Uitgewers) – Spaghetti tussen jou tone

Selfleeskategorie: Graad 4 – 5

  • Skrywer: Jaco Jacobs (LAPA Uitgewers) – Max die masjien
  • Illustreerder: Stephen Wallace (LAPA Uitgewers) – Max die masjien

Selfleeskategorie: Graad 6 – 7

  • Skrywer: Celeste Slabber-Loriston (Protea Boekhuis) – Jinx

Selfleeskategorie: Graad 8 – 10

  • Skrywer: Fanie Viljoen (Tafelberg) – Veldiep

Kortlys vir die 2019 Sanlam-prys vir jeuglektuur

Sanlam en Tafelberg (’n druknaam van NB-Uitgewers) maak met trots hierdie jaar se finaliste bekend.

Engels:
• Jayne Bauling van Witrivier, Mpumalanga met Smoke Across the Sun;
• Jenny Hatton van Lynnwood Glen, Pretoria met Upstanding;
• Nerine Dorman van Welcome Glen, Simonstad met Sing Down the Stars;
• Sally Partridge van Durbanville, Kaapstad met The Whoevers;
• Shafinaaz Hassim van Polokwane met Nisa Qamar and the Legend of Qawthar; en
• Toby Damon Bennett van Claremont, Kaapstad met The Music Box Blues.

Afrikaans:
• Annerle Barnard van Bainsvlei, Bloemfontein met Sindikaat;
• Christina Venter van Louis Trichardt, Limpopo met E-pos vir Trui;
• Derick van der Walt van Villieria, Pretoria met Die Toring van Jasmyn;
• Frans Fourie van Strand met Neuk;
• Nerine Ahlers en Aletta Steenkamp van Lynnwood en Waterkloof, Pretoria met Ek is nog hier; en
• Tertius Janse van Rensburg van Framesby, Port Elizabeth met Die sindikaat.

Afrikatale:
• Lungile Promise Zwane van Wasbank, KwaZulu-Natal met Umzabalazo (isiZulu);
• Thembisile Kundlwana van Sebokeng, Vanderbijlpark met Tata Siyakuxolela (isiXhosa);
• July Innocent Mtsweni van Lindo Park, Pretoria met Umfelasakhe (Ndebele);
• Thabo Kheswa van Bophelong, Vanderbijlpark met Haeso ke kae! (Sesotho);
• Mokhwatsi Reuben Maponya van Tzaneen met Makhwatšo (Noord-Sotho);
• Othusitse Moses Lobelo van Delareyville, Noordwes met Mmatla kgomo kodumela (Setswana);
• Mbedzi Nyelisani van Thohoyandou, Limpopo met U Kondelela (Tshivenda); en
• Musa Aubrey Baloyi van Soweto met Tinsimu To Pfumala Mpfumawulo (Xitsonga).

’n Goue en silwer wenner sal in elke kategorie gekies en by ’n prysfunksie in Oktober 2019 aangekondig word. Die ses wenboeke sal tydens die funksie bekendgestel word waarna skrywers plaaslike skole en feeste as deel van ’n bemarkingsveldtog sal besoek.
Die totale prysgeld beloop R90 000: R20 000 vir die goue wenners en R10 000 vir naaswenners.

Die Sanlam-prys vir Jeuglektuur word 40 in 2020!
Hierdie tweejaarlikse toekenning is sedert die bestaansjaar in 1980 ’n waardevolle bron van plaaslike boeke vir jongmense. Deur die jare is daar veranderinge gemaak om te verseker dat die kompetisie relevant bly. Die belangrikste verandering was om die inskrywings aan al elf amptelike landstale van Suid-Afrika oop te stel, sodat ’n groter aantal skrywers sowel as lesers by die kompetisie kon baat.

Michelle Cooper (Uitgewer en Hoof: Kinder- en jeugboeke, Tafelberg) sê: “Ek koester elke Sanlam-wenboek wat ons publiseer. Dis ’n voorreg om met manuskripte van hierdie gehalte te werk. Ons nuwe finaliste spreek temas aan wat in pas is met internasionale tendense en ek weet lesers sal vasgenael wees.”

Beoordeling vind annoniem plaas, dus kompeteer debuutskrywers op grondvlak met gevestigde skrywers. Die bekroonde skrywers maak dikwels die oorgang om later suksesvol in ander genres gepubliseer te word. Met enkele uitsonderings word van die wenboeke gereeld in skole voorgeskryf en sommige is al in films omskep. Sanlam-wenboeke word dikwels ook met ander plaaslike literêre pryse soos die Media24 Boeke-pryse en die Scheepersprys vir jeugliteratuur bekroon.

“Sanlam glo dat lees en leer die fondasie is vir ons droom om ’n wêreld van Welvaartmeesters te skep. Ons belegging in hierdie kompetisie vir die afgelope bykans 40 jaar het gesorg dat duisende jong mense toegang tot boeke kry, wat hulle in staat stel om hulle beste moontlike lewe te lei ‒ nou en vir die volgende generasie,” sê Elena Meyer (Senior Bestuurder: Borgskappe, Sanlam).

Madiba Magic na skole ter viering van Nelson Mandela 100 jaar

Die Jakes Gerwel Stigting en Tafelberg-Uitgewers herdenk vanjaar saam Nelson Mandela se honderdste geboortedag op 18 Julie 2018 met die heruitreiking van Madiba Magic. Madiba se versameling geliefde kinderstories sal by vyftien skole regoor die land bekendgestel word. Ervare storievertellers sal by skole in die Oos-Kaap, Gauteng en die Wes-Kaap stories uit die boek op vindingryke manier vir jong leerders toeganklik maak deur voordrag, dans en musiek. Skole waar daar min blootstelling is aan boeke en lees, word ingesluit by hierdie projek. Benewens die interaksie met die leerders skenk Tafelberg-Uitgewers ook boeke aan die skoolbiblioteke wat besoek word.

Hierdie laerskole is ingesluit: Tshatshu (King William’s Town), James Ntungwana (Kwa Nobuhle buite Uitenhage), Kei Road, Gilbert Xuza (Somerset-Oos), Melpark (Melville), Norwood (Johannesburg), Kwa-Faku (Philippi), Molo Mhlaba en Intshayelelo (Khayelitsha), Blue Mountains (Altydgedacht buite Durbanville), Westcott (Dieprivier), Groenheuwel (Paarl), Wallacedene, Hillcrest (Mowbray) en Mountain Road (Woodstock).

Die gewilde Madiba Magic, wat spesiaal vir die Mandela-vieringe in Engels in ’n nuwe formaat uitgereik is, bevat ’n versameling stories so oud soos Afrika self, wat deur die eeue heen om aandvure oorvertel is. Dit sluit in magiese oerverhale van die San en ander inheemse groepe, tot verhale van die vroeë seevaarders wat met hul seilskepe ook stories met hulle saamgebring het. Die jong leser word verder ook bekendgestel aan die slim planne en onnutsige streke van die wesens wat hierdie ruwe, veeleisende kontinent bevolk én hulle diep menslikheid, ruim harte en spontane humor.

Madiba Magic het al groot sukses plaaslik en internasionaal beleef. Meer as 100,000 Engelse kopieë van die boek is verkoop en dit is vertaal en in onder meer Swede, Nederland, Duitsland, die VSA, Frankryk, Italië, Mexiko en Portugal beskikbaar.

“Madiba se liefde en sy ruim hart vir kinders het mense aangegryp en hierdie boek verwoord iets daarvan. Dit is die stories wat hy vir kinders sou vertel,” sê Michelle Cooper, uitgewer by Tafelberg, oor die groot sukses van die boek.

Met Jakes Gerwel as direkteur-generaal in oudpresident Nelson Mandela se eerste demokratiesverkose kabinet, asook Gerwel se aandeel in die keuse van stories vir Madiba Magic, is die Jakes Gerwel Stigting trots om ’n vennoot van hierdie projek te wees.

madibastigting

“Die Jakes Gerwel Stigting is ernstig oor die bevordering van lees en om jong kinders bloot te stel aan die wonder van boeke, en daarom is dit vir ons ’n groot voorreg om deel te wees van hierdie leesprojek,” sê Theo Kemp, uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel Stigting.

Vir media-navrae skakel Hevette le Grange by (021) 406 3414 of Hevette.LeGrange@nb.co.za