Ek soek hom nie

(Meisie sit op ’n bank in die sitkamer.)

Ek soek hom nie! Ek sóék hom nie (vou haar arms). Dit is só embarrassing. Wat sal Richard sê as hy uitvind? Wie wil nou by ’n meisie gaan kuier as daar die heeltyd ’n huilende, skree-ende baba in die huis is? Ek wil nie eers weet wat Lucinda en Mari agter my rug skinder nie… Almal se broers en susters is al in matriek of ouer en nou gaan ek die een wees wat met ’n bababoetie opgeskeep sit!

(Sy stap na die venster, skuif die gordyne weg om te sien of haar ouers al terug is. Sy tik ongeduldig met haar voet.)

Waar bly hulle so lank? Die baba is seker teen die tyd al lankal gebore. (ernstig) Vandat Ma my vertel het dat sy verwag, wou ek net hê my lewe moes eindig. Ek het begin huil en skree en die hele tyd net in my kamer gebly.  Pa het probeer mooipraat en aanpor. Niks het gehelp nie. Ek kon net nie vrede maak met die idee dat ek nie meer hul enigste kind gaan wees nie. (bang) Die saad in Ma se maag het bly groei en ek het geweet sodra dit blom gaan my lewe nooit weer dieselfde wees nie…en niks kon dit verander nie.  

(Stap na die tafel met die geskenke.) Die afgelope week het mense net aanhou en aanhou geskenke aandra. Dis simpel. Wat wil ’n baba nou met geskenke maak? Ek wonder of daar een vir my ook is. (Sy begin in die sakke loer haal van die geskenke uit.)

’n Karretjie? (Bekyk die karretjie van alle kante, ry hom ’n paar keer heen en weer op die tafel en sit hom dan neer.) Boooring.

(Grou weer in die sakke en haal ’n stel blokkies uit, dit glip uit haar hande en die blokkies val sodat dit verspreid op die vloer lê.) Dammit! (Sug, buk af en begin om die blokkies haastig terug in die sak te pak.) Die vloer gaan van nou af altyd vol blokkies lê en almal gaan daaroor val en op dit trap.  Ek sal maar daaraan gewoond  -(vurig) Nee. Dis my huis ook. Ek wil nie op blokkies trap nie. Ek soek hom nie!

(Iets vang haar oog in die groot sak en sy kyk versigtig daarin.)

Kan dit wees? Ja, sowaar! ’n Geskenk vir my! (Sy haal ’n teddiebeer met ’n blou strik om sy nek uit. Snak na haar asem.) Dit is die mooiste teddiebeer in die hele wêreld…(opgewonde) en dis presies die een wat ek gesoek het! (Sy maak haar oë toe en druk die beer styf vas terwyl sy heen en weer wieg.) Dit kon net Pa wees. Wag, wag hier is ’n briefie (lees hardop): “Met liefde vir die nuwe baba. Groete Ouma en Oupa.” (Gooi die teddiebeer vies neer en gaan sit kruisbeen op die vloer.) Ek soek hom nie. Ek soek hom nie!

(Haar selfoon begin lui, Sukkelend kry sy dit uit haar broeksak en antwoord.) Lucy? Nee, hulle is nog nie hier nie. Hoekom vra jy? Jy sal nie glo nie, niemand het eers vir my ’n geskenk gegee nie… Nee, ek dink hulle het vergeet ek bestaan.

(Hoor iets, hardloop na die venster en kyk uit.) Hulle is hier! Ja, ek sien hulle op die stoep staan. (Opgewonde) Ek bel jou later terug.

Ek kan nie die baba sien nie. (Rek haar nek om beter te sien.) Waar is die baba? (Frons) Hoekom huil Pa? Wat maak Dominee hier?

(Maak die venster oop en druk haar oor daarteen. Luister ’n oomblik.)

Stilgeboorte?  Beteken dit…nee, nee…dit kan nie wees nie. (emosioneel) Ek soek hom nie. Ek soek hom nie. Ek soek hom… (Sit haar hand voor haar mond en storm van die verhoog af).

Die struktuur van ‘n lekker toespraak

1. Kies die regte onderwerp. Gesels eers met die kind oor die onderwerp. Probeer iets kies of formuleer wat regtig binne sy verwysingsraamwerk val. ‘n Graad Eentjie kan regtig nog nie die wêreld raadgee oor aardverwarming nie. Hy kan hoogstens kla dat al die brokkoli wat sy ma hom voer, die gas-vlakke in die atmosfeer kan laat styg.

2. Dink aan die toespraak as ‘n boom. Die tema of kernboodskap is die wortels van die boom. Dis waar alles begin. Kry die tema/sentrale boodskap en bou van daar af op.

3. Die openingsreëls van die toespraak is belangrik. Gebruik ‘n treffende inleiding: ‘n stelling, ‘n vraag, ‘n grappie, ‘n paar reëls uit ‘n gedig, ‘n opskrif uit ‘n koerant, ‘n aanhaling, selfs ‘n liedjie.

4. Vanaf hierdie openingsaanhef, gaan daar nou ‘n boomstam groei. Hierdie boomstam gaan ten minste drie takke hê. Elke tak is ‘n argument wat die tema ondersteun wat in die eerste paragraaf genoem is. Al kan jy aan twintig argumente dink wat jou standpunt ondersteun, kies net drie en ontwikkel hulle. Byvoorbeeld: “Troeteldiere: Moet kinders troeteldiere hê?”

Gaan dink drie oorspronklike redes uit waarom kinders troeteldiere behoort te hê of nie. Ontwikkel elke idee soos die tak van ‘n boom.
Onthou, mens kan toor met ‘n tema. Jy kan byvoorbeeld die troeteldiertema as volg interpreteer:

“Natuurlik moet elke kind ‘n hond hê! Dit staan so in ons Grondwet. Dink ek.. Maar my punt is dit: hoe kry ‘n kind sy ouers om daardie hond te koop? Maklik: begin by ‘n perd. Kerm vir ‘n perd. Jy gaan op die ou end skik vir ‘n hond. Dis mos hoe die Vakbonde dit doen.”

“Kinders en troeteldiere is soos olie en water. Dit meng nie. Wie sit op die ou end met die gemors? MA. My ma sê ons drie kinders is al die troeteldiere wat sy mee kan huishou. G’n witrot, g’n hamster en definitief g’n katte vir haar nie. Sy is allergies vir hare. Dis toe ek haar oortuig van die ideale troeteldier: geen hare, geen mis, geen geblaf of gemiaau. Ja-nee. ‘n Luislang is die ideale troeteldier.”

5. As julle nou drie argumente uitgedink en neergeskryf het, gaan soek na bronne of verwysings wat julle argumente kan staaf. Hierdie bronne kan omtrent enige iets wees: koerantberigte, tydskrifartikels, internet, ensiklopedie, woordeboek, gedig, liedjie, aanhaling, navorsing, statistiek…

6. Die slot van die toespraak moet aansluit by die argument of vraag of stelling wat in die inleiding verskaf is. Sorg dat jou toespraak ‘n mooi geheel vorm, As ons dink aan die analogie van die boom, dan is die slot die top van die boom, die klimaks. ‘n Verrassing in die slot is altyd ‘n wenner.

7. Die slot van die toespraak kan pittig wees, ernstig, selfs skokkend. Die punt is: ‘n goeie toespraak gee die gehoor iets om aan te kou en oor te dink. Dus is ‘n retoriese vraag soms ‘n uitstekende slot. Bv. “Ek weet wat ek gaan doen om aardverwarming te stop. Die vraag is: weet die res van die wêreld?”

8. ‘n Slot kan ook effektief wees as dit die gehoor aanspoor tot aksie. Bv “Sal ons maar net handjies gevou bly sit terwyl die pole smelt, of gaan ons opstaan en iets doen? Basta! Kom ons stap nou hier uit en begin werk!”

9. Moet net nooit die gehoor aanval en te aggressief wees in die oordrag van jou boodskap nie. Oppas vir vinger wys: dit kan baie aanvallend oorkom.

Lekker skryf!

ATKV-Redenaars – temas vir 2016

Dis weer ATKV redenaars en die temas is weereens idiome. Hier het ek ‘n lysie van die idiome en verklarings van die idiome.

Sommige het ek in die HAT opgespoor, sommige in die boekie Afrikaanse Spreekwoorde en Uitdrukkings van Kritzinger en Sabbagha.

GRAAD 1 – 3

  1. Ledigheid is die duiwel se oorkussing. Betekenis: As ‘n mens niks te doen het nie, kom hy in allerlei versoekings.
  2. As die vlooi byt moet jy krap. Betekenis: As dit nie anders kan nie, moet jy maar!
  3. Elke haan is koning op sy eie mishoop. Betekenis: Elkeen voel baas op sy eie gebied.
  4. As twee hande mekaar was, word albei skoon .Betekenis: As die een die ander help word albei bevoordeel.
  5. Om van ‘n padda vere te probeer pluk. Betekenis: Iets wat onmoontlik is/ die onmoontlike te probeer doen

GRAAD 4 – 5

  1. Bloed kruip waar dit nie kan loop nie. Betekenis: Vir bloedverwante doen ‘n mens altyd meer as vir ander.
  2. Die pap dik aanmaak. Betekenis: Iets oordryf.
  3. Wie wind saai sal storm maai. Betekenis: Wie kwaad stig sal ‘n slagoffer daarvan word.
  4. Jou eie boontjies uitdop. Betekenis: Jy is die een wat aanspreeklik is vir jou eie dinge.
  5. Die oggendstond het goud in die mond. Betekenis: Dis aangenaam, gesond en voordelig om vroeg op te staan.

GRAAD 6 – 7

  1. Iemand se achilleshiel. Betekenis: Iemand se kwesbare (swak) plek.
  2. As die hoenders tande kry: Betekenis: Dit sal nooit gebeur nie.
  3. ‘n Man van twaalf ambagte en dertien ongelukke. Betekenis: Iemand wat niks behoorlik kan doen nie.
  4. Haastige hond verbrand sy mond. Betekenis: ‘n Mens moenie oorhaastig optree nie.
  5. Elke bobbejaan het sy krans. Betekenis: Persone met dieselfde geaardheid gaan graag met mekaar om; (birds of a feather flock together)

GRAAD 8 – 9

  1. Mens vang meer vlieë met heuning as asyn – vriendelikheid kry meer reg as onvriendelikheid.
  2. Elke man soen sy vrou op sy eie manier – elke mens doen ‘n ding op sy eie manier
  3. Benoude katte maak benoude spronge –  iemand wat bedreig word, sal buitengewone aksies oorweeg
  4. Dis maklik gesê maar die eend lê die eier – die makliker gesê as gedoen
  5. Die verste berge is altyd die blouste – onbereikbare dinge lyk die aantreklikste

GRAAD 10 – 12

  1. Adam sê dis Evan en Eva sê dis die slang:  niemand wil verantwoordelikheid neem as daar probleme kom nie/ iemand verontskuldig homself.
  2. Hunker na die vleispotte van Egipte : hunker na ‘n vorige bedeling wat kwansuis beter was/ terugverlang na ‘n vroeër tyd van geluk
  3. Baantjies vir boeties: nepotisme/ poste vir familie en vriende.
  4. ‘n Saak blou-blou laat : ‘n saak wat aangeroer moet word, ignoreer.
  5. Dis die klein jakkalsies wat die wingerd verniel : ‘n groot projek kan deur klein foute gekelder word/ klein foutjie kan tot groot moeilikheid lei.

Hoe gemaak om van ‘n idioom tot by ‘n standpunt te vorder wat jy kan beredeneer?

  1. Probeer elke idioom mooi verstaan en kyk of dit op die kind se lewe toegepas kan word. Hou die toespraak binne die kind se ervaringsveld! Hoe ouer die kind, hoe wyer kan jul die net gooi. Byvoorbeeld: ‘n Graad eentjie weet nie wie Bill Gates is nie; ‘n Graad 7 kind wel. Hou dit in gedagte wanneer aanhalings gebruik word.
  2. Formuleer julle eie standpunt.
  3. Kry so drie punte wat jul standpunt ondersteun.
  4. Kry ‘n geloofwaardige bron om elke standpunt te ondersteun.
  5. Dink aan ‘n treffende inleiding, soos ‘n grappie, aanhaling of gediggie.
  6. Sorg dat jou slot weer by jou standpunt aansluit en som die drie punte kortliks op.
  7. Eindig met ‘n treffende slotgedagte.

Voorbeeld: gr 1 tot 3  “Ledigheid is die duiwel se oorkussing.”

Eerstens maak mens so ‘n rowwe buitelyn van ‘n toespraak, byvoorbeeld:

Standpunt: Die duiwel sukkel maar met kinders wat lees, want ‘n kind wat lees is nooit ledig nie.

  1. ‘n Leser lê dalk op sy bed, maar in sy kop is hy op ‘n fantasiereis. Onbereikbaar vir die verleiding wat die duiwel vir hom gereed hou.
  2. ‘n Leser is besig met ‘n span denkbeeldige vriendskappe. Boeke help hom om die koppe van boelies en slegte maats te klim. Harry Potter, Trompie en Kuifie leer hom om hierdie skobbejakke te vermy.
  3. ‘n Leser is besig om aan sy toekoms te werk: fantasie is die grondslag van nuwe uitvindings en kreatiewe oplossings van probleme. China het onlangs eers fantasie verhale vir kinders aangemoedig, nadat studies gewys het dat Chinese kinders minder kreatief as hul Amerikaanse maats is. Lees-lees word kinders die uitvinders van more.

Slot: Stop ‘n kind ‘n boek in die hand en jy jaag die duiwel stert tussen die bene weg.

Met hierdie rowwe raamwerk kan mens nou vleis aan die been sit. Soek na aanhalings of inligting op enige soekenjin. Skryf korter eerder as langer sinne.

Die toespraak:

“Weet jy wat doen Gouelokkies?
Sy eet van die bere se vlokkies
Sy raak aan die slaap
En word amper gekaap
Deur bere wat loop op hul sokkies.”
So skryf Fred Walters oor een van my heldinne in die Nuwe Kinderverseboek.
Voorsitter en maats,
Ek is mal oor feeverhale. Ek kan die stories oor en oor lees. My ma gee glad nie om dat ek ‘n boekwurm is nie. Sy sê dat boekwurms nie op die duiwel se spyskaart nie nie. En nee, ‘n leser is nie ledig nie. Ons is besig! Jy glo my nie? Luister dan hier.

In die eerste plek neem boeke ons op reis. Daar’s nie ‘n kat se kans dat die duiwel ons kan inhaal nie…. (nog so twee sinne plus ‘n bron)

Tweedens ontmoet boekwurms gedurig nuwe maats. Hulle wys ons hoe om boelies uit te oorlê…..(nog twee sinne plus ‘n bron)

Derdens maak stories ons gereed vir die lewe. Fantastiese avonture en ongelooflike verhale leer ons om buite die boksie te dink. Ons raak so kreatief, dat ou Niek ons met niks kan verlei nie…. (nog twee sinne plus ‘n bron)

Dames en here, kom ons vat saam: Lesers is ‘n groot kopseer vir die duiwel. Ons is die ongemaklikste oorkussing wat daar is, want ons koppe is heeltyd besig met wonderlike reise, skerp boekemaats en fantastiese avonture. Ja-nee, met Harry Potter, Kuifie en Trompie  aan my sy, jaag ek alle stoutigheid stert tussen die bene warmplek toe.

***

Enige van die idiome hier bo kan op hierdie manier tot ‘n groot aantal standpunte en toesprake verwerk word.

Sterkte!

‘n Muis in die huis

“Hier’s ‘n muis in die huis!” skree ma verskrik
en spring op die stoel dat die pote ruk, 
dat die koppies van die tafel val
en die muisie woerts by die deur uit nael.

“‘n Muis in die huis?” roep pa verbaas.
“Is dit die rede vir die groot geraas?
Gee hier die besem, bring die flits!
Ek jaag hom weg – die stoute klits!”

“Hier’s ‘n muis in die huis,” sê ek te bly.
“Nou gaan ek tog ‘n geldjie kry.
In my tekkie, onder die bed,
dis waar ek my voortand het…”

“Hier’s ‘n mens in die huis!” piep muis verskrik
en hol deur die gang dat sy stertjie wip
“Waar is die kamer, waar is die tekkie 
waar is die beste wegkruipplekkie?”

“EEEEEEEEEEEEEEEAAAAAAAAAA!”

Die boek en die hoed van Donkerwoud

Die boek en die hoed van Donkerwoud

MARINDA: (Loop in ‘n sirkel met haar vinger wat wys en mompel onderlangs.) Ek sal daai Kleintoon wys. Daai hoed is hier iewers. Ek is die slimste en die sterkste towenaar nog. As ek daai boek kry beter hy hol!

(Karel en ‘n kaboutermaatjie verskyn tussen die bome. Die maatjie is bang om te beweeg al wys Karel hy moet kom.)

KAREL: Sy sal niks aan jou doen nie. Sonder haar boek is sy ‘n swak towenaar.

MAATJIE: Ek weet nie, Karel. Sy is die kwaaiste towenaar in die woud. Ek bly eerder weg van haar af. Kyk wat het sy met jou hoed gedoen. (Vat benoud aan hoed.) Wat van as sy my hoed ook vermorsel?

KAREL: (Fluisterend) Sy het nie my hoed vermorsel nie. Kom ek wys jou.

(Maatjie stap versigtig nader. Marinda sien Karel en skree soos ‘n kraai.)

MARINDA: Daar is jy Karel Kleintoon, wat het jy met my boek gedoen?

KAREL: (Frons erg kwaai.) My naam is Karel Kleintoor, nie Kleintoon nie. Toor soos ‘n towenaar. En eendag gaan almal my Karel Groottoor noem. Ek gaan die beste towenaar in die woud word. (Lag skielik.) Nou, Marinda Hoogag, waar is my hoed? As jy my nie my hoed gee nie, gee ek nie jou boek nie. Dis wat die boomkoning gesê het.

MARINDA: Ek sal daardie hoed kry en dan bars jy piepklein Kleintoon. Dan bars jy…

KAREL: (Lag weer en hou sy maag vas.) Is jy seker jy het dit hier gelos Marinda Hoogag? Jy het seker vergeet waar jy dit gesit het.

MARINDA: (Skree hard terwyl sy op en af spring. ) Ek vergeet nooit, nooit!

(Karel lag vir Marinda. Die kabouters loop weg, maar skielik roep Karel se maatjie uit. Hy wys na ‘n groen hoed wat agter ‘n groot rots staan.)

MAATJIE: Daar!

KAREL: (Trek sy maatjie vinnig weg. Marinda het niks agtergekom nie. Sy loop nog in die rondte.) Sien jy, daar is my hoed. Ek het dit self daar weggesteek.

MAATJIE: Toemaar, ek sal dit gaan haal.

KAREL: (Gryp sy maatjie se arm.) Nee! As Marinda sien ek het my hoed moet ek die boek teruggee. Sy dink mos sy is nooit verkeerd nie. Nou gaan sy verewig in ‘n sirkel loop en soek na my hoed. En ek gaan die boek hou.

MAATJIE: (Skud sy kop en begin wegloop.) Ek sal eerder my hoed wil hê as ‘n simpel boek.

(Karel bly agter en kyk verlangend na sy hoed. Hy gee ‘n tree in die hoed se rigting, maar stop dan, skud sy kop en loop vinnig weg. Voor Karel tree ‘n boom skielik in en Karel skrik hom flou. Hy roep uit en hou sy bors vas waar sy hartjie onstuimig klop. Marinda sien die boomkoning en buig haar lyf en skerm met haar hande asof sy bang is vir hom.)

KAREL: O, Boomkoning, dit is U boombaarheid. Ek het so groot geskrik. (Loop agteruit en probeer die hoed met sy lifie wegsteek.) Ek het net kom kyk of Marinda my hoed gekry het.

BOOMKONING: (Leun dreigend nader terwyl hy diep frons.) Karel, Karel Kleintoor, dink jy ek is doof? Die houtkappertjie het net gister my ore oopgeboor. Ek het alles gehoor. Alles. Alles. (Leun nog nader.)

KAREL: (Vou sy armpies astrant en vergeet amper om die hoed weg te steek.) En wat het u boomagtigheid nogal gehoor? Ek weet van niks nie.

BOOMKONING: Dat jy die hoed weggesteek het Karel Kleintoor.

MARINDA: (Skree hard.) Wat!

KAREL: (Kyk van die boomkoning na Marina en gee nog ‘n tree terug. Sy ogies vernou kwaai.) Ek gaan nie die boek teruggee nie. Dis myne. Ek sal julle wys. Ek is ‘n groot towenaar. (Lig sy handjies op en waai hulle heen en weer. Skielik ontplof ‘n wit stofwolkie by die boomkoning se worters. Die boomkoning lag lekker.)

BOOMKONING: Is dit die beste wat jy kan doen Kleintoor? Dit skrik my nie af nie. Gee nou Marinda se boek terug.

KAREL: (Lyk verslae en kyk na die punte van sy vingers.) Maar ek kan toor, ek kan. Ek het dan die boek.

BOOMKONING: (Draai na Marinda toe en lag.) En jy loop die heeltyd in sirkels en al die tyd is die hoed twee tree van jou af.

MARINDA: (Draai haar kop trots op en begin weer in die rondte stap) Is nie. Ek stap in die rondte want ek wil. Niemand kan my keer nie.

KAREL: (Tel sy hoed op en sit die boek op die hoed se plek neer.) Los haar u boombaarheid. Sy is so trots. Sy sal verewig in sirkels loop.

(Karel en Boomkoning verlaat die stel. Gordyn sak terwyl Marinda nog in sirkels stap.)

SLOT

Redenaars of debat… Hoe gemaak?

Wat is redenaars?

Redenaars is ’n lekker aktiwiteit aangesien dit aan skoolleerders die geleentheid bied om nuwe vaardighede aan te leer, soos hoe om navorsing te doen en ’n eie argument te formuleer, om kreatief te dink en bewus te wees van aktuele sake. Verder bevorder dit selfvertroue aangesien die leerder aan vreemdelinge ’n idee moet oordra – sonder om die gehoor te verveel. Redenaars is wanneer ’n leerder ’n tema kies en hulle eie onderwerp daaruit formuleer. Dit is belangrik dat die leerder se standpunt argumenteerbaar is en daar moet gewoonlik drie hoofpunte met ondersteunende bronne in die toespraak wees. Die leerder dra alleen hierdie standpunt aan die gehoor oor.

Hoe verskil debat van redenaars?

Hierteenoor is debat meestal ’n aktiwiteit vir hoërskoolleerders en dit verskil van redenaars deurdat leerders saam in ’n span werk. In junior debat (graad agt en nege) is daar drie leerders per debatspan en in senior debat (graad tien tot twaalf) slegs twee leerders per span. Die onderwerp word reeds aan die leerders verskaf en die een span is vir die onderwerp en die ander span is daarteen. ’n Voorbeeld van ‘n onderwerp: 

“Jag behoort in Suid-Afrika verbied te word.”

Die inleidende span sal dan argumenteer dat jag verbied behoort te word, terwyl die opponerende span sal argumenteer dat jag nie verbied behoort te word nie. Elke leerder in die debatspan het ‘n belangrike rol. Hierdie rol verskil van junior tot senior debat.

Juniors:

Aangesien daar drie leerders in ‘n span is, het elkeen ‘n belangrike rol om te vertolk. Die eerste spreker is verantwoordelik vir ‘n goeie inleiding. Hierin moet die onderwerp, die sprekers en die volgorde waarin hulle gaan praat, grense, voorspelling en die hoofpunte bekend gemaak word. Grense vir die debat word deur die inleidende spreker van elke span gestel en verhoed dat die opponerende span buite hierdie grense praat. Die rede hiervoor is dat sekere idees rondom die onderwerp deur gesaghebbende bronne as irrelevant beskou word. Indien die opponerende span met ‘n ander gesaghebbende bron hierdie grense verbreek, kan daar weer rondom hierdie idee gedebatteer word. Die inleidende spreker het gewoonlik net een hoofpunt in sy/haar toespraak, aangesien die inleiding ‘n groot deel van die tyd opneem, maar baie belangrik is om die fondasie van die debat te lê. 

Die middelste spreker se werk is om te reageer op enige vrae wat deur die inleidende spreker van die opponerende span gevra is. Indien daar vrae gevra is, maar die spreker dit nie beantwoord nie, word punte afgetrek. Die middelste spreker behoort ook kommentaar te lewer op die hoofpunt van die inleidende spreker en dit te probeer verkeerd bewys. Verder moet die middelste spreker die span se argument verder voer deur gewoonlik twee tot drie hoofpunte met ondersteunende bronne te verskaf. Dit is belangrik dat hierdie spreker ook ‘n vraag aan die volgende spreker laat.

Die laaste spreker is verantwoordelik om seker te maak dat alle vorige vrae beantwoord is (indien die ander sprekers nie dit beantwoord het nie). Verder om die opponerende span aan te val en hulle vorige argumente verkeerd te bewys deur van bronne en eie hoofpunte gebruik te maak. Verder moet hierdie spreker ‘n laaste, belangrike hoofpunt oordra wat gewoonlik die sterkste punt van die argument is. Die laaste spreker bring ook al die idees rondom die argument bymekaar en moet met ‘n “skop” eindig.

Senior:

Die rol van die inleidende en finale spreker is dieselfde as by junior debat. Die rol van die middelste spreker word egter tussen die eerste en laaste spreker verdeel. Dit beteken dat die sprekers dalk twee hoofpunte in hulle toespraak gaan bespreek, in plaas van net een. In terme van die inleidende span, lê dit in die hande van die tweede spreker om alle vrae van die opponerende span te beantwoord. In die opponerende span is beide sprekers verantwoordelik hiervoor. 

Die eerste spreker is verantwoordelik daarvoor om ‘n duidelike inleiding te stel, belangrike vrae aan die opponente te vra en met die eerste hoofpunte van die argument te begin. Die tweede spreker val meer aan aangesien hy/sy moet reageer op alles wat deur die ander sprekers gesê word.

Verdere elemente van debat

Debat verskil verder van redenaars deurdat daar meer elemente daaraan verbonde is. Die gesprek eindig nie as die toesprake verby is nie. Daarna volg ‘n debatsgesprek wat soos ‘n kruisverhoor is. Elke spreker kry die geleentheid om ‘n opponent van die ander span ‘n vraag te vra. Die spreker wat ondervra word, moet die vraag beantwoord, maar daarna hou die gesprek vir twee minute per vraag aan en al die lede van die span mag deelneem. Dit is belangrik dat die persoon wat die vraag vra die argument moet lei en ten alle tye beheer oor die gesprek moet hê. Die span wat ondervra word, moet verseker dat alle vrae deeglik beantwoord word. Dit is belangrik dat die vrae wat gevra word uit die opponente se toesprake kom en relevant tot die onderwerp is. Die vrae moet goed geformuleer wees, ‘n vraag soos “Watter bron het jy gebruik?” is byvoorbeeld nie ‘n goeie vraag nie.

Die debatsgesprek word gevolg deur ʼn kort pouse waarin die spanne kan vergader en ‘n repliek skryf. Enige lid van die span kan die repliek lewer, maar dit word gewoonlik deur die laaste spreker gedoen. Die repliek is nie bloot ‘n opsomming van die gesprek nie, maar moet wel die span se argument herhaal en as korrek bewys deur die ander span se hoofpunte verkeerd te bewys. Dit word gedoen deur na enige swakpunte binne die opponente se toesprake, vrae tydens die debatsgesprek ensovoorts te verwys. As die opponente nie ‘n vraag behoorlik kon beantwoord nie, is dit byvoorbeeld goed om hierop klem te lê. Die repliek kan daarom nie vooraf geskryf word nie, maar eers aan die einde van die hele proses. Natuurlik kan die raam van die repliek vooraf bepaal word, maar dit is belangrik om die hele gesprek (die opponente se hoofpunte en antwoorde tydens debatsgesprek) in ag te neem. 

Debat is baie lekker aangesien leerder in ’n groep kan werk en die werk tussen mekaar kan verdeel. Dit is ook meer interaktief, aangesien die twee spanne met mekaar in gesprek kom en die gesprek nie bloot van toesprake afhang nie. Debat leer ’n mens ook om op jou voete te dink as iemand van die ander span jou vas probeer vra. ’n Bonus is dat spanmaats mekaar altyd ’n bietjie kan help indien iemand vassteek.

ATKV-Redenaars – temas vir 2015

Die temas vir 2015 is uit en dis tyd om te begin dinkskrum en skryf. Tog is daar baie ouers wat onseker voel oor die betekenis van die spreekwoorde wat vanjaar die onderwerpe uitmaak.

Aan die hand van Afrikaanse Spreekwoorde en Uitdrukkingsdeur Kritzinger en Sabbagha,  gee ek graag ‘n kort verduideliking langs elke tema. Hoop dit help!

GRAAD 1 – 3

  1. Lekker is net ‘n vinger lank: “Alle genot duur nie lank nie”/ Pleasure is short-lived.
  2. Een vrot appel steek al die ander aan : “Van ‘n slegte persoon gaan daar skadelike invloed uit.”
  3. Kinders moet gesien word, maar nie gehoor word nie : “In die teenwoordigheid van grootmense moet kinders stil wees.”
  4. Oos, Wes, Tuis, Bes: “Daar is geen beter plek as jou eie tuiste nie.”
  5. Met grysheid kom wysheid: “Ouer persone het meer wysheid.”

GRAAD 4 – 5

  1. Liewer bang Jan as dooie Jan: ”Dis beter om bang as onverskillig te wees.”
  2. Een swaeltjie maak nog nie ‘n somer nie: “Uit een enkele geval kan nie ‘n algemene gevolgtrekking gemaak word nie.”
  3. Blaffende honde byt nie: “Wie dreig of raas, hoef mens nie te vrees nie.”
  4. Buig die boompie solank hy jonk is: “As die kind nog jonk is, moet mens goeie karaktertrekking by hom aankweek.”
  5. Die een hand was die ander: “Deur ‘n ander te help, word jy self ook gehelp.”

GRAAD 6 – 7

  1. Te veel hooi op jou vurk hê: “Te veel onderneem.”
  2. As dit pap reën, moet jy skep: “Mens moet van elke geleentheid gebruik maak,”
  3. Elke dassie prys sy eie kwassie: “Elkeen dink sy eie” “Elkeen is trots op sy eie.”
  4. Geld wat stom is, maak reg wat krom is: “Met geld kan mens baie doen.”
  5. ‘n Boom gooi altyd ‘n skaduwee: “’n Ouer het altyd ‘n invloed op ‘n kind.”

GRAAD 8 – 9

  1. Skoenmaker, hou jou by jou lees: “Bemoei by sake waarvan jy iets weet.”
  2. Klein baas beter as groot kneg: “Dis beter om oor ‘n klein afdeling baas te wees/ onafhanklik te wees, as om ‘n werknemer/arbeider/ afhanklik te wees.”
  3. Baie honde is ‘n haas se dood: “As mense bymekaar staan, kan ‘n saak makliker opgelos word.”
  4. Bloed uit ‘n klip tap: “Die onmoontlike verwag van iemand.”
  5. Met jou hoed in die hand kom jy deur die hele land: “”n Beleefde mens word oral gehelp.”

GRAAD 10 – 12

  1. Dis die hand wat die wieg skommel wat die wêreld regeer: “Die moeder oefen die grootste invloed in die wêreld uit.”/The hand that rocks the cradle, rules the world.
  2. As die klou uitsteek, is die leeu daaragter: “Moenie die betekenis van ‘n klein waarskuwing onderskat nie.”
  3. Waar die aas is, vergader die arende/aasvoëls: “Mense gaan altyd na ‘n plek waar hull iets tot hul eie voordeel kan kry.”
  4. Moenie hoera skree voor jy oor die brug is nie: “Maak eers die taak klaar voor jy begin fees vier.”
  5. Volstruispolitiek: “Beleid waar groot of belangrike sake oor die hoof gesien word.” / With one’s head in the sand/ The elephant in the room is ignored.

Voorbeeld van toespraak

Lekkergoed

Hou poedels van noedels
Van pap en polonie?
Ek glo nie.
Maar kaviaar en crêpes Suzettes ?
You bet!

Philip de Vos se lekker lawwe versie, vertel vir ons net een ding: Lekker is ‘n baie, baie subjektiewe woord. En subjektief, my liewe maats, beteken doodgewoon dat mý lekker en jóú lekker nie noodwendig dieselfde beteken nie. Inteendeel, daar is mense wie se idee van lekker my dood sal beteken. Ja, ek sal my eenvoudig doodgril. Kom ek verduidelik.

Voorsitter. Nou die dag, doodverveeld, beland ek op die webblad Funky Foods.com. Groot fout. Ek klik op “Interesting foods around the world”. ‘n Nog groter fout. Want toe begin die nagmerrie. Die skerm gaan oop op ‘n straatmark in Beijing. Lekker, lekker straatkos. Mmm. Hoe lyk dit met twee vet swart skerpioene op ‘n stokkie? Krieke, brosgebraai? Nee? Nou wat dan van drie gedroogde vlermuisies of ‘n handvol termiete? En om te drink: vars slangbloed, kyk die outjie krioel nog! Ek voel die aandete hier net onder my kuiltjie opstoot… Dan lees ek die bordjie voor ‘n Chinese restourant: “Please not to ask again: we have not seen your cat.” Vinnig oorskakel na ‘n ander land – China is definitief nie vir my nie!

Kambodja is ‘n groter ramp: hier is die delikatesse tarantulas! Jy moet glo blitsvinnig wees op een van daardie groot, harige spinnekoppe vir aandete te vang. En soos die Ronald Tyler, skrywer van die boek, Bug the Cook, sê, dit gee ‘n heel nuwe betekenis aan die term “kitskos”!

Ek spring sommer twee hele kontinente verder en klik op Mexico. Maar hier is die lekker in lekkergoed is ‘n snaakse storie. Topverkoper is ‘n Tequila-suigstokkie met ‘n verskil. Reg in die middel sit ‘n spesiale wurmpie, goed gepekel in ‘n sopie meksikaanse witblits. Dit klink nie soos iets wat gou in ons snoepie verkoop sal word nie!

Lekker. Kan dit lekker wees om rou vis te eet? Natuurlik, sal baie van julle sê. Dink net aan sushi! Solank jy dit nie in Japan eet nie. Glo my, jy kan jou eie bakkie lewendige vissies bestel, self die koppies afbyt en smul! Maar as jy eerder tuna wil eet, bestel die oog. Dis so groot soos ‘n gholfbal en kyk jou stip aan asof dit vra: gaan jy my kou of heel insluk?

Net toe ek besluit dat Suid-Afrika die beskaafdste land op aarde is, skakel my ma die radio aan, en ja, op my MA se stasie. Saam luister ons toe na ‘n onderhoud met mnr Philip Howard van die Skaapkopverening. En nee, dis toe nie ‘n klub vir dom mense nie, dis ‘n spul kokke wat skaapkoppe gaarmaak en eet: oë, tong, breins, als. Dink net: die skapie se kop lê in die middel van die tafel… en sy kyk vir my! Mag ek nooit so honger raak nie..!

Verstaan julle nou dat lekker ‘n subjektiewe woord is? Vir elke lekkerbek is daar lyk my ‘n lekkerny wat vir hom nommer pas is. Met verskoning aan Philip de Vos wil ek dus sê:
OF DIT LEKKER, GOOR OF GEK IS, ELKEEN VREET SOOS HY GEBEK IS!

Geleentheidstoespraak

Die Geleentheidstoespraak of hoflikheidstoespraak. In die volwasse lewe van enige mens, word hy/sy geweldig baie blootgestel aan geleentheidstoesprake. Dit is goed dat kinders hierdie tipe toesprake in ten minste TWEE tale kan doen.

Tipe temas:

  • Afskeid
  • Bedanking
  • Huldeblyk
  • Leedwese
  • Gelukwense
  • Oorhandiging
  • Reëlings
  • Stel iemand voor
  • Aankondiging

In enige geleentheidstoespraak is die volgende elemente belangrik:

  • Aan wie word die woorde gerig?
  • Namens wie?
  • Wat is die geleentheid?
  • Detail
  • Persoonlike annekdote
  • Opsomming

Voorbeeld: bedank mev Willis vir haar 5 jaar by die skool:

Beste mev Willis, oor die afgelope 5 jaar was u ons graadvoog, ons kunsjuffrou, ons konsertafrigter, ons sieketrooster en ons vriendin. Namens elke leerder in Graad 7, wat die afgelope 5 jaar die voorreg en plesier gehad het om deur u bekwame hande geslyp en gepoets te word, sê ek dankie. Wie sal ooit ons goeie tyd saam kan vergeet? Die uitstappie Dieretuin toe, die besoek aan die planetarium, die kamp by Loskopdam…en die Vrydagmiddae wat ons altyd bederf is met ‘n toffee uit juffrou se handsak? Woorde is te min om werklik dankie te sê. Ons kan maar net probeer dankie leef, deur kreatief te bly dink, soos u ons geleer het. Ons sou graag vir juffrou ‘n splinternuwe sportmotor wou gee, maar nou het ons iets vir juffrou se Volla laat maak. Mag hierdie nommerplate u altyd aan ons laat dink.: SUPERTEACH 1.

‘n Geleentheidstoespraak moet:

  • kort en kragtig wees
  • opreg wees
  • persoonlik wees
  • volledig wees
  • by die punt bly
  • bly weg van geykte uitdrukkings

Tydsduur: 1 – 2 minute

Voorbeelde van onderwerpe:

  • By ‘n begrafnis moet jy ‘n huldeblyk lewer oor ‘n goeie vriend
  • Stel die nuwe leerlingraad voor
  • Stel die nuwe skoolhoof voor
  • Neem die saal se nuwe verhoog in ontvangs
  • Neem afskeid van die skoolsekretaresse
  • Tref reëlings vir die redenaarsaand
  • Wens mnr Nel geluk met ‘n nuwe baba/ nuwe pos/ troue
  • Kondig die dood van ‘n personeellid aan
  • Maak die name van die rugby/netbalspelers van die jaar bekend

Onvoorbereide toespraak

Om uit die vuis te praat is ‘n kuns. Om kort en kragtig, logies en spitsvondig ‘n kort toespraak te lewer, is selfs ‘n groter kuns. Daar is egter ‘n paar vaardighede wat mens kan aanleer:

1. As die onderwerp ‘n gebeurtenis is (bv my eerste skooldag/ slegste dag/ beste vakansie, ens) is dit goed om jou toespraak te lei met vrae:

  • Wanneer? Waar? Wat? Wie was daar, Wat het gebeur, Waarom voel jy so? Wat het jy daaruit geleer? ( ‘n lessie uit ‘n gebeurtenis is altyd ‘n goeie idée)

2. As die onderwerp ‘n redenasie behels (vir of teen ‘n saak) is dit goed om die volgende akroniem te onthou: PREP

  • P = Punt: maak jou punt, herfraseer die tema wat vir jou gegee is. Sê dadelik of jy vir of teen die idée is
  • R = Rede; gee jou rede(s) vir bogenoemde saak
  • E= Entoesiasme: al praat jy die grootste gemors, doen dit met entoesiasme en oortuiging!
  • P= Punt: vat saam en eindig weer met jou eerste punt.

3. As die onderwerp ‘n voorwerp is, bv Praat oor ‘n Haas; of dit is ‘n voorwerp wat fisies in jou hand gestop word (bv ‘n liniaal), dan kan die volgende punte help: TEPDAK

  • T = Tema/Titel van jou praatjie (bv “Die ongelooflike liniaal”/ “die siel van die haas”, ens)
  • E = Entoesiasme = wees uiters entoesiasties oor die tema!!! Dramatiseer
  • P = Punt/opinie – jou gevoel teenoor die tema/voorwerp
  • D = Demonstreer – gebruik die voorwerp/ vertoon dit op oorspronklike manier
  • A = Ah ha! Humor! Sorg vir oorspronklikheid en ‘n humoristiese hoek
  • K = Kort en kragtig!

Die onvoorbereide spreker se woordeskat is van onskatbare waarde.

Bogenoemde punte kan in die klaskamer geoefen word. Wanneer daar ‘n paar minute van ‘n lestyd oor is, doen onvoorbereide toesprake. Dit kan dan soos hierbo in 3 afdelings geoefen word: voorbeelde van temas daarnaas –

1. Gebeurtenisse – beste vakansie/slegste vakansie/ troue/ naweek/ kermis…..
2. Redenasies – sakgeld/ troeteldiere/ maniere / ouers / skoolreëls/ TVprogramme/ tegnologie/ selfone by die skool…..
3. Voorwerpe: sit ‘n voorwerp of prent voor die kind neer: letterlik enige iets in die klas, bv pleister/uitveer/ asblik/ skoolskoen/ besem/ kramdrukker/ rapport/ ….