Jakkals
is altyd . . . hy stel vir Wolf in ‘n swak lig, ek hou nie daarvan nie. Want jy
weet net goed, as jy van Jakkals en Wolf praat, Wolf gaan maar altyd die spit
afbyt, hy gaan die laaste kom en dan is Jakkals altyd eerste. Okay, ek maak gou
‘n storie van Jakkals en Wolf, so ‘n kort enetjie.
Eendag was dit gewees, Wolf het langs die rivier gestap. Sy vrou en sy kinders is honger by die huis. En hy besluit toe om ‘n plan te maak vir iets om te eet. Soos die geluk dit toelaat, daar vang Wolf vyf ganse. Wolf vat die ganse, hy sit hulle in die sak oor sy rug, huistoe. Oppad huis toe ontmoet hy vir Jakkals.
“Môre, Oom Wolfie!” “Môre, Oom Jakkie!” “Hoe gaan dit, Oom Wolfie?” “Nee goed, Oom Jakkie.” “Au Oom Wolfie, maar ek ruik mos vleis in daai sak van jou!” “Ja, nee wat, Oom Jakkie, dis maar so vyf gansies wat ek hier teen die rivier vasgelê het.” “Ag, Oom Wolfie, wil jy nie maar die vyf ganse aan my verkoop nie?” “Nee Jakkals. Ek kan nie die ganse aan jou verkoop nie, ek wil dit huis toe vat vir my vrou en my kinders.” “Ag, wee’ jy Oom Wolfie, ek sal jou goed betaal. Ek gee jou vir elke gans ‘n rand. En dié vyf rand, jy kan hom by Oom Leeu gaan kry, en jy weet Oom Leeu is ‘n eerlike man. Hy sal jou regtigwaar betaal vir die vyf ganse. So sê net vir hom ék het vir jou gesê hy moet daai vyf rand wat hy vir my skuld vir jóú gee.” “Nee, maar is goed, Oom Jakkie.” Daar vat Jakkals die vyf ganse. Hier gaan Wolf na Leeu toe. Kom by Leeu, klop aan die deur. “Wie’sit?” “Is ek, Wolf, Oom Leeu.” Leeu maak oop. “Oom Leeu, Jakkals het my na jou toe gestuur. Hy’t gesê jy skuld hom vyf rand, en daai vyf rand jy moet hom vir my gee sodat ek vir my kinders kan kos koop. Want hy’t vyf ganse by my gevat.” “O nee, maar goed, kom dan in, Wolf.” Leeu maak toe oop, Wolf gaan in, en Leeu maak die deur toe. Toe gaan hy in die huis in, hy gaan haal sy sambok. Hy slaan vir Wolf vyf houe met die sambok. Hel! Toe Wolf uithardloop, skreeu Leeu agterna, “Dit is die vyf rand wat ek vir Jakkals geskuld het wat hy gesê het ek moet vir jou gee!”
Daar’s Jakkals weg my die vyf ganse, en daar’t
Wolf sy ganse verloor, en nog ‘n drag slae ook agterna gekry. Dis nie lekker so
nie! Vat Jakkals ou Wolf se ganse, hy gaan eet die ganse, en daar laat hy Wolf
nog ‘n dekselse pakslae ook kry. Nou is dit nou regverdig so? Nou sulke stories,
ek hou nie van hulle nie. Nee, stories moet karakters het. Karakters moet teen
mekaar is of saam met mekaar wees. Dan klink hy meer intelligent.
Daar was eendag ‘n kameelperd wat saam met haar kalfies by die rivier gesit en gesels het. “Luister my kinders, julle moenie diep in die veld ingaan nie, anders vreet die hiënas julle op. Belowe my julle sal nie.” “Ons sal nie, Mammie, ons belowe,” het die kalfies geantwoord. Maar die een kalfie het nie geluister nie. Hy wou uitvind wat diep in die veld aangaan. Hy’t besluit om vroeg die volgende oggend deur die veld te stap.
Die volgende dag het hy opgestaan en saggies uit die kraal gegaan. “Ek sal terug wees voor hulle my mis.” Hy het deur die veld, verby die bokke gestap. Die seekoeie het hom vriendelik gegroet terwyl hy water gedrink het. “Waarheen stap jy?” vra pa olifant. “Ag, sommer rond.” “Moenie te ver in die veld in stap nie.” “Moenie bekommerd wees nie, ek kan myself oppas.” Hy’t uiteindelik diep in die veld gekom. Hy’t snaakse geluide gehoor. Nie die gewone geluide van die buiteveld nie.
Intussen, terug in die kraal, was Mammie bekommerd. Sy’t rond gevra vir die bokke of hulle die klein kameelperdjie gesien het. “Hy’t by die river gaan drink.” “Hy’t by die olifante verby geloop,” het die seekoeie geantwoord na sy vir hulle gevra het. Op daardie oomblik het Olifant na hulle gestorm. “Ek dink jou kalfie het diep in die veld verdwyn.” “Ons moet vir Leeu gaan kry. Hoe anders gaan ons die hiënas keer?” het Mammie gesê. “Ons sal vir hom en die ander kry om te help, gaan jy terug na die kraal met jou kalfies en wag vir ons,” sê Bokkie. “Bring my babatjie terug,” sê Mammie terwyl sy wegstap.
Leeu en die ander diere het na die diep veld gestap. Hulle het gesien hoe die hiënas besig was om die arme kalfie in ‘n hoekie te keer, terwyl hulle lag. “Help my!” skreeu die kalfie. Leeu spring in, terwyl Olifant alles plat trap. “Hy’s op ons terrein, HêHêHê. Los hom vir ons om op te vreet,” lag die hiënas. “Nooit!” brul Leeu. Bokkie en die seekoeie neem die kalfie terug terwyl Leeu en Olifant keer.
Toe hulle by die kraal kom, het die kalfie begin huil. “Ek sal nooit weer in die veld gaan nie.” “My kalfie! Ek is net bly jy’s veilig! Dankie diere.” “Dis ons plesier, ons help mos altyd vir mekaar,” antwoord die diere.
Les: Luister na jou ouers. Help jou bure as hulle jou nodig het.
Eens op ‘n tyd, daar was in ‘n sekere land ‘n koning gewees wat ‘n boodskap uitgestuur het in die hele land van hom. Hy stuur ‘n bevel uit: Iemand wat vir hom kan ‘n goue boot met goue vlerke bring wat kan vlie, kan met sy dogter trou, én nog ‘n deel van sy rykdom erf.
Die mense van daai land het geprobeer om te dié boot maak of te soek, maar niemand nie. Op ‘n sekere plaas het ‘n ander boer gebly. Hy’t drie seuns gehet, twee grotes en dan die jongste enetjie. En hulle was houtkappers, hulle was maar arm gewees. Eendag sê die grote vir sy pa en sy ma, “Ma en pa, ek wil bietjie gaan hout kap.” Sy ma bak toe vir hom ‘n lekker pannekoek, sit vir hom ‘n botteltjie wyn in, alle lekkernye. Alle lekkernye sit sy vir hom in vir padkos vir die dag in die bos. Hy gaan nou gaan houtkap. Vat sy byl oor sy skouer, bos toe. Kom daar in die bos, hy’t gekap, so bietjie gekap, toe besluit hy om te eet. Voordat hy eet, dat hy nou sy kossak oopmaak, sien hy hier kom ‘n ou gerimpelde grysaard by hom. Die ouman vra vir hom, “Kan ek ook van jou kos eet?” Die ouman vra mooi. Hy sê, “Jou naarheid! Wavanaf kom jy? Maak jou nou uit die voete uit!” En hy gryp daar rond. En die verminkte ou grysaard verdwyn in die bos, weg is hy. Die jongman eet toe maar lekker en hy drink van sy wyn. Toe hy nou dronk is, toe wil hy nie meer werk nie, toe gaan hy terug huis toe.
Die tweede keer sê die tweede
grootste hy gaan ook bos toe. Nou die grote het hom nie gesê wat het hy
teëgekom daar in die bos nie. Die tweede grootste een gaan, hy maak ook sy
kossak oop om te eet.
Hier’s die grysaard weer. ‘n Kort mannetjie. Amper met ‘n hoed soos ‘n smurfie
of noem hom maar ‘n dwergie, of so iets.
Hy sê, “Wavanaf kom jy, jou naarheid? Gaan weg!”
Die oumantjie is weer hier in die bos in.
Hy eet. Klaar geëet, lê en slaap hy, staan hy op, daar gaan hy huis toe. Hy’t
nie hout gekap nie.
Die derde keer toe’s dit nou
die kleintjie. Dié kleintjie, sy pa en sy ma is nou nie so ernstig oor hom as
oor die twee grotes nie. Want die twee grotes is nou eintlik die ouens wat plan
maak vir die hout en al daai dinge. Hulle het nie baie vertroue in hom nie.
Hulle gee hom sommer die brandsels en verbrande brood en suurmelk.
Vat hy sy byl oor sy skouer, hy’s ook nie geworrie nie. Da gaan hy. Kom daar in
die bos, daar rondgestaan, voordat die ou wil beginne eet, hier kom die
verminkte grysaard weer hier by hom ook.
“Mag ek saam met jou eet?”
Die mannetjie sê vir hom, “Ag oupa, weet jy, die kos van my is nie lekker
nie. maar ek gee nie om nie, as jy nie omgee nie, jy kan maar saam my kom
eet.”
Hy sê oraait. Hier kom sit die oumantjie langs hom. Maak hy nou die verbrande
broodsak oop wat verbrande brood en pap het en suurmelk. Na hulle verbasing,
dis nie meer daai goed nie. Die lekkerste nye wat sy broers ook nie eens gehad
het nie. Hu! Wavanaf kom die kos nou? Toe eet die verminkte mannetjie saam met
die seun. Hulle eet, hulle eet, hulle eet, hulle eet.
Klaar geëet, die verminkte mannetjie sê vir hom, “Luister hier, seun. Jy moet nou aandagtig luister wat sê ek jou. Gaan dáár in die woud. Jy gaan ‘n boom kry daar. Kyk die dikste boom wat jy sien daar. Kap daai boom. En as jy moeg voel, dan hoef jy nie verder te kap nie, dan rus jy ‘n bietjie. Dan kan jy maar ‘n bietjie slaap.” Oraait, die seun vat sy sak en sy byl en daar gaan hy. Kom daar in die bos. Rondgeloop, gesoek na die boom, gesoek. Uiteindelik kry hy hom. Gekap, gekap, gekap. Hy voel uitgeput. Hy lê so skuins teen die boom. Weg aan die slaap is hy. Hy weet ook nie hoe lank het hy geslaap nie. Toe hy wakker skrik, sien hy op die stam van die boom is ‘n goue skip met vlerke. Hmm! En dié ding? Binne-in die skip kom ‘n stem uit: “Stuurman van die skip, klim in die skip! En als wat jy oppad kry, moenie verbygaan nie. Laai op. Laai hulle binne-in die skip in en ry saam met hulle.”
Die seun klim in. Binne-in
die skip . . . daar vlie die skip. Skip vlie, skip vlie, skip vlie. Nou in die
vérte sien hy ‘n man wat spring-spring loop. Sy een been is hier agter sy nek
vasgemaak met ‘n tou. Die skip hou stil, hy staan by die man.
“Hallo, ou grootman! Wie is jy?”
“Nee, ek is Gert Goumaak.”
“Maar hoekom is jou een been dan agter jou nek vasgemaak?”
Hy sê, “Ag man, wee’ jy, ek maak hom maar sommer hier agter my nek vas. Ek
sien is nie nodig om altyd so vinnig te wees nie. Want as ek op altwee my bene
loop . . . een been trap hier en een been trap dwarsoor die wêreld. Nee, ek het
nie nodig om altyd so vinnig te wees nie, nou daarom gebruik ek maar net een
been.”
“Klim in!”
Daar’s die eerste besoeker.
Die twee ry, die twee ry, die twee ry. So gery, so gery, so gery, so gery. Weer
na ‘n lang distansie, kry hulle weer ‘n man. Hy lê met sy kop op die grond, sy
stêre is hier bo in die lug. Wat gaan met dié man aan? Hoekom is sy kop op die
grond en sy stêre in die lug? Hy hou die skip stil bokant die man.
“Ou grootman, hoekom lê jy so?”
Hy sê, “Hê man, wee’ jy, ek wil nie net altyd dinge luister wat baie
intelligent is nie, want as ek nou só lê, dan kan ek nou nie luister wat gaan
rondom die wêreld aan of wat gaan in die wêreld aan nie. Want dié ore van my,
ek hoor orals in die wêreld, daar’s nie ‘n plek wat ek nie hoor nie. daarvoor
is my naam Orf Ore.”
“Klim!” Hulle is nou drie binne-in die skip.
Die manne ry. Die manne ry.
Hulle gesels. Ry, ry, ry, ry, ry. Weer ‘n hele ent gekom, gery, hier kry hulle
‘n lang, skraal man, met ‘n lang geweer agter sy rug. Hou die skippie bokant
hom stil.
“Ja, ou grootman!”
“Hallo manne!”
“Waantoe gaan jy?
“Nee man, ek loop maar bietjie loop en jag. Ek skiet als. Ek skiet groot
diere en ek skiet selfs ok muggies ok. Al sien ek hulle of al sien ek hulle ok
nie . . . ek skiet nie mis nie, ek skiet raak. Ek’s Roelf Raakskiet.”
“O. Nee, maar dis goed. Klim.” Hy’s in. Die vierde een.
Hulle ry. Hulle ry. Hulle ry.
Hulle ry. Vorentoe kry hulle weer ‘n man. Dié man het so groot sak agter sy
rug. Hulle kan nie uitmaak wat kan in daai sak wees nie. Hulle hou stil bokant
die ou. Hier’s nou ‘n hele span nou in die skip. Goed. Hou bokant dié man stil.
“Ou grootman! Wat maak jy met dié sak?”
Die man lyk baie hartseer. Die man sê, “Wee’ jy, hier is ‘n paar brode in
die sak in. Ek is so honger. Ek weet nie wanneer lanklaas het ek ordentlik
geëet nie. Nou ek moet maar die paar wat in dié sak is maar dra, tot ek sien
wanneer sal ek maar iets kry om te eet.”
“Gmf! Klim!” Die ou klim met die groot sak.
Die manne gaan, die manne gaan, die manne gaan, die manne gaan. ‘n Hele ent gery, kry hulle weer ‘n ou. Dié man, hy’t ‘n sak agter sy rug – maar dié sak is vol stokke. Die skip hou stil bokant hom en vra hulle. “Ou grootman! Waantoe is jy oppad?” Hy sê, “Nee man, my naam is Sors Soldaat.” “Hoe?” “Ja. Sien jy die sak hier agter my rug? Elke stok wat ek hier uithaal, dit kan een soldaat wees, dit kan ‘n duisend soldate wees, dit kan ‘n honderd soldate wees. Elke stok het ‘n sekere hoeveelheid of meer as te veel soldate in. Daarvoor loop ek maar so.” “Klim in!” Daar’s Sors Soldaat ook in. Ai, dis nou ‘n hele weermag hier binnekant. Daar’s nou ses karakters hier binnekant.
Die skip vlie, die skip vlie, die skip vlie. Dit raak
donker. Die skip gaan sak voor die koning se paleis. Die oggend wat die koning
wakkerskrik, wat hy so kyk, toe sien hy hier staan die goue skip met die goue
vlerke wat hy gesoek het. Hy stuur toe van sy bevelvoerders daar na die skip
toe.
“Gaan sê vir die stuurman van die skip ek wil hom sien.”
En dié seuntjie gaan toe daar by die koning.
“O! Jý . . . wat so treurig lyk . . . met mý dogter moet trou?! Dit kan
nie wees nie! Ek gaan ‘n taak met jou verrig. Jy moet iets doen. Ek wil jou ‘n
moeilike taak gee.”
Eerste proef wat die koning hom op stel. Die koning sê, “Wel, ek staan nog
by my belofte, maar ek moet jou eers op die proef stel. Ek wil kyk sal jy goed
na my dogter sorg. Vanmiddag eenuur as ek eet, dan soek ek my beker vol
drinkwater van Toorfantein af. En waar is Toorfantein? Dis anderkant die wêreld.”
Hêl! Hie gat die mannetjie terug na die skip toe. Hy kom toe daar by sy manne.
Hy sê,
“Manne! Ons is in gevaar hier.”
“Wat is dit?”
Hy sê vir hulle, “Die koning sê vanmiddag na ete, as hy klaar geëet het,
hy soek sy waterbeker vol water. En dít van die water van Toorfantein! En waar
is Toorfantein, manne? Dis anderkant die wêreld!”
Oeee, die mannetjie is nou geworrie. Da slaan tien voor een. Daar’s nog nie ‘n
plan beraam nie. Da slaan vyf voor een.
Gert Goumaak sê, “Nee man! Dis kleinspeletjies daai. Ek sal gou
gaan.”
Het hy die beker van die koning en weg is hy. Hy skep die beker vol anderkant
die wêreld by Toorfantein. Hy gaan in, hy sit daar. Hy sit nou daar by die
fantein en sê: “Hêl! Ek weet nie waarvoor is die mense so haastig
nie.” Daar slaan twee minute voor een. Gert Goumaak sê: “Nee, ek gaan
maar gou ‘n bietjie slaap ook.”
Die stuurman van die skip is geworrie hiesô. Dis twee minute nou voor een. Daar
slaan een minuut voor een. Die man kom nie uit nie.
Wat
gaan aan?
Orf Ore sê, “Wag, ek gat luister wa’s daai man.”
Hy lê so op die grond. Hy sê, “Daai man lê en slaap daar!”
Dit bly nou net so vyftien na twintig sekondes toe voor een. En die koning het
gesê eenuur wil hy die water hê.
Roelf Raakskiet sê, “Nee man, los hom. Ek sal hom nou . . . ” Nou
hier by die dam van Toorfantein daar’s ‘n windpomp. Roelf Raakskiet sê,
“Nee, dis klein katjie se kos daai. Ek sal daai man nou wys daar!” Hy
vat sy geweer, daai ou met die lang geweer. En die ou lê aan na die windpomp
toe. Gwa! Skiet hy die vlerk raak van die windpomp. Daar spring Gert op. Dis
nou die laaste sekonde. Voor eenuur slaan, daar’s die ou. Toe die koning so
kyk, hier staan die water. Hêl!
ie koning sê, “Maar hoe de . . . Nee man, dit kan nie wees nie!” Dit
is tog so. Nee, ek moet die ouens maar ‘n kans gee. Ek moet hulle weer try. Dié
mannetjie wat so snaaks is vir my . . . hy lyk nie na die man vir my kind
nie.”
Die koning is nou oraait. So
middag stuur hy een van sy wagte daar na die skip toe.
“Gaan sê vir die stuurman van die skip, ek, die koning, sê . . . ek gat
môre ‘n paartie maak. Ek gaan brood en kosse en beeste slag. En hulle ses van
daai skip hulle moet al daai kos opeet. Die mense van die land sal nie kry nie.
Is net vir hulle. Ek gaan ‘n paartie vir hulle . . . brode wat net so groot is
soos berge. Hêl! En randjies. Dis koeke! Dis beeste! Dis nie fees nie, dis Kom
Kyk. Dis ‘n feestelike ding!”
Hier raak die stuurman van die skip nou weer geworrie. Hoe nou, man? Wil die
koning hê ons moet ons doodeet of wat wil die koning hê? Hoe gaan ons die klomp
kos opeet? So groot brode soos berge?
Die kokke staan net so rond. Dit word gekook, dit word gebraai, dit word gebak.
Dis als aanmekaar. Mm! Dis vreeslik met die manne, jong!
Die stuurman van die skip is geworrie. “Hoe kan die koning wil hê ons moet
ons doodeet?”
Hy’s nou eerder meer spyt . . . hoekom het hy nie eerder gebly by die huis as
wat hy hom in so ‘n noue ontkoming laat beland het. Hy moet dit maar nou net
vat.
“Hoe nou, manne? Hoe nou?”
Dis nie lank nie, hier kom
die koning se manne. Nee, die manne kan maar kom. Mense, dis nie kos nie! Dis
nie kos nie! Vir ses?! Die brode is so groot soos berge . . .
Boet Baie-eet sê, “Die koning moet nou nie moeilikheid soek nie. Julle
moet vir hom sê as hy wil hê ons moet feesvier, dan moet hy tweemaal soveel
maak!” Hy sê vir die ander vyf, “Staan julle terug! Dié kos is nie
eers genoeg vir mý nie, dan moet ek nog vir julle ook gee.” Dit was nie ‘n
halfuur nie, toe’t hy als platgeëet daar.
Die koning sê, “Maar hoe . . .? Is dit mense dié, of wat gaan aan? So
klomp kos so gou verslind van ses mans? Dis darem maar te vreeslik!” Die
koning besluit: Nee man, ek gaan julle nie daar los nie. Daar moet nog ‘n kans
kom. Ek moet julle weer nog ‘n maal try.
Oraait, die manne is terug skip toe. Die koning laat hulle nie toe by die
paleis nie. Hulle moet daar in die skip bly, die skip wat hulle mee gekom het .
. . daar uit die bos uit. Die manne is weer terug skip toe.
Goed, die volgende dag, so middag, stuur die koning weer van sy manne daar na
die stuurman van die skip toe.
Hy sê vir hulle, “Sê vir daai stuurman van die skip daar, ek wil sien
hoeveel lyfwagte en hoeveel soldate het hy om my dogter op te pas. Môreoggend.
Want ek kan nie my dogter vir sulke mense gee wat ek nie kan sien of hulle
soldate het nie, of hulle wagte het nie. Ek wil sien hoeveel soldate het hy.”
Hulle is hier deur en gaan sê hom. Hoe nou? Die stuurman van die skip is al
wéér in die noue ontkoming. Hy’s in ‘n verknorsing. Hy neul en kla hier tussen
sy manne.
Die aand laat sê Sors Soldaat vir hom, “Nee, gaan slaap julle maar. Ek sal
sorg dat daar soldate is.”
Die manne gaan slaap.
Die volgende oggend wat hulle
wakkerskrik, toe staan die soldate wat hulle gehet het, hulle staan soos gras
op die lawn. En netjiesgeklede soldate, elkeen met ‘n geweer. Die hele kanonne
en goete, hulle is net so op die koning se paleis gerig. En die goeters is
gelaai.
Toe die koning so deur die venster kyk, hy sê, “Nee, nee, nee, nee! Sê vir
daai stuurman van die skip ons sal vanmiddag feesvier. Hy moet net daai kanonne
se bekke wegvat. Netnou gaan daai goeters en dan ontplof hulle en dan skiet
hulle die paleis plat.” Op daai manier, toe die koning so kyk, toe sien
hy, dis soldate reg rondom, net waar hy kyk. Dis soos gras. Net waar hy kyk, is
soldate. Sors Soldaat het die hele plek bemors met die soldate. En dis kanonne
en dis wapens, hulle is almal net op die paleis gerig. Die koning sê,
“Nee. Hmm-mm. Sê vir hom die troue sal vanmiddag wees. So hy moet net daai
kanonne en goete wegvat.”
Toe vat Sors Soldaat weer sy stokke en hy sit hulle bymekaar binne-in sy tas.
Die middag . . . toe trou die koning se dogter saam met die stuurman van die
skip. Die stuurman van die skip toe gaan haal hy sy ma en sy pa en sy twee
broers op die plaas. Hy’t die helfte van die koning se rykdom geëerf en saam
met die koning se dogter getrou.
So, daar’s my storie met ses letters.
Lank lank gelede was daar ‘n man met die naam Japie. Japie het in ‘n baie klein dorpie gewoon. Hy was ‘n baie eensame man gewees. Sy plek waar hy in gewoon het was ook baie klein gewees. Niemand het ooit belanggestel om na daardie ou woning te gaan nie. Japie het nooit uitgegaan nie, hy het ook baie alleen gelewe. En een nag terwyl hy nog slaap, verskyn daar ‘n heks aan hom. En sy vra, “Waarom lewe jy so alleen?” Hy antwoord: “Omdat niemand vir my omgee nie.” “Maar daar is baie mense wat vir jou omgee, jy sien dit net nie,” sê die heks. “Ek bly al 50 jare alleen, en daar het nog niemand na my toe gekom nie, niemand het al ooit vir my gesê ek het jou lief.” “Weet jy waarom voel jy dat niemand het jou lief, is omdat jy het jou nie self lief het nie.” Daardie nag het Japie nooit geslaap nie. Die volgende môre het hy opgestaan, en hy het maar net weer in sy klein ou huisie gebly. Die volgende aand het hierdie heks weer aan hom verskyn. En sy sê vir hom: “Japie ek wil jou graag help, maar jy moet nou presies doen wat ek vir jou sê.” “Wat?” sê Japie. “Ek wil hê dat jy moet na die bos gaan, en as jy daar kom dan gaan jy op ‘n boom afkom, dis die eerste boom in die bos. Hierdie boom is die boom van liefde. Sodra jy by die boom kom dan sê jy net, ‘liefde’, en jy sal sien dat liefde self na jou toe sal kom. “Maar hoe kan ek so iets doen, ek is dan so bang?” “Jy moet nie bang wees nie, ek sal agter jou staan.” En die vrou verdwyn.
Die volgende môre is Japie vroeg op en hy is die bos in. Hy kom toe op die eerste boom af, en hy sê, “Liefde!” En daar kom hy liefde tegemoed. En wat hy by die huis kom kry hy daar sit ‘n ou vrou in sy kombuis. En hy vra haar: “Wat maak jy hier?” “Ek het gekom omdat ek gesien het dat jy so eensaam en alleen is.” “Maar jy ken my nie, hoe kon jy sommer hier in kom”? “Ek is nou hier en dis klaar so.” Die volgende oggend toe hy opstaan sien hy daar staan ‘n oupa langs sy bed. En hy vra hom “Wat soek jy hier in my kamer?” Die oupa antwoord: “Ek is gestuur om hier by jou te kom woon.” Japie was so verbaas gewees dat daar mense by hom kom woon. Maar toe dink hy terug aan die heks en die Boom, “dit is mos deur hulle wat ek hierdie wondelike mense het, wat my liefgekry het”.
Na drie weke gaan hy terug na die bos en hy gaan om dankie te sê vir hierdie wonderlike mense wat hy gekry het. Want nie net die Ouma en die Oupa was so lief vir Japie nie, daar het veel ander mense ook na hom gekom. En hierdie Ouma en Oupa was ook Japie se ouma en oupa, hulle het vir Japie vertel dat sy ouers jare gelede al dood is. Toe Japie by die boom kom, toe vind hy nie meer die boom daar nie, maar hy vind wel die ou heks daar. En sy glimlag vir hom. “Hoe voel jy?” vra sy. “Ek voel baie goed. Ek het net kom dankie sê vir dit wat jy en die boom vir my gedoen het, ek het dit baie waardeer,” en hy stap weg. Van daardie dag af het Japie nooit alleen gevoel nie. Na vyf jaar het sy ouma en oupa altwee gesterf. Maar daar was nog altyd mense wat vir hom lief was. Hy het ook ‘n groter huis gekry, en baie mense het besluit om saam met hom te kom woon, en Japie was die gelukkigste man gewees in daardie klein dorpie.
Ek, Godfrey van Rooyen het saam met my ouma gebly, ek was elf jaar oud en my ouma was al vier en vyftig jaar oud. Ons het in ‘n viervertrek gebly, wat ‘n bietjie ongemaklik was vir ek en my ouma, maar weens die omstandighede kon ons nie ‘n beter een bekostig nie.
My plig was dat ek moes hout gekap het, ons het ‘n dik stomp gehad agter onse huis en ek moes met ‘n byl daardie stomp geslaan het tot daar krummels van houtjies is. Maar soos die tyd gegaan het, het die stomp klaar geword en ek moes ‘n ander plan gekyk het as jong seun, want ons het gelewe van ‘n vuurtjie, op die vuurtjie ‘n potjie met ‘n bietjie pap wat ons by mense kry, ‘n bietjie melk wat ons een keer ‘n week koop, dit was ons daaglikse lewe. Ons moes net twee keer ‘n dag geëet het, weereens, die kos wat ons besit het.
Toe besluit ek maar om my daaglikse of dag se kos te pak in ‘n rugsak en ‘n byl te vat om hout vir ek en my ouma te kry, want as ek dit nie gaan doen nie, wie sal dit doen? Ek sê toe my ouma wat ek dink, toe stem sy saam, maar toe sê sy ook dat ek nie bang moet word nie. Ek pak toe my gereedskap en vat die pad.
Oppad na die bos of veld toe sien ek ‘n ou oupa op ‘n ashoop sit en huil. Ek sit toe my gereedskap neer en gaan na die oupa toe. Soos ek naby stap, sê hy vir my “Bly weg!!” Ek staan ‘n bietjie en kyk hom. Toe hy my mooi in die oë kyk, begin hy weer te huil. Ek stap maar na hom toe en druk hom teen my skouer. Mense om ons, die ryk mense, sê vir my “Gaan weg van daardie man af, hy stink!” Maar my ouma het my geleer dat ek moet probeer help by enige probleem, al lyk dit hopeloos, maar moet nie na mense luister nie. Soos ek hom druk vra hy vir my, “Wie is jou ouers?” en ek antwoord en sê, “My ouers het gesterwe. Ek lewe net saam met my ouma.” Ek vra vir hom, “Hoekom sit jy hier?” Hy skep eers wind en kyk, hy vra vir my, “Moet ek sê?” “Asseblief.” Hy sê, “My kinders en my vrou het my uitgesit twee dae gelede.”
Ek vra ook hoekom. Toe sê hy vir my, “Omdat hulle gehoor het dat ek ‘n kind het met ‘n ander vrou.” Terselfdertyd vra hy vir my, “Waarnatoe is jy oppad, seun?” maar jy kan nou sien sy gesig kom ‘n bietjie beter. Ek sê toe, “Ek is oppad na die veld om vir ek en my ouma hout gaan haal.” Hy vra vir my, “Saam met wie?” Ek sê alleen, hy sê, “Seun, jy is ‘n gehoorsame kind,” en gee my ‘n kierie. Ek vra toe, “Vir wat gee jy my ‘n kierie?”
Hy sê vir my, “In die veld is dit baie gevaarlik en jy is nog baie klein vir sulke dinge, so vat hierdie kierie en as daar enige gevaar spring dan moet jy net sê ‘Kierietjie kierietjie trek weg!!’ dan sal hy jou bietjie help.” Ek sê toe, “Baie dankie oupa!” en gee hom ‘n soentjie op sy voorkop, toe vat ek weer my gereedskap en stap aan.
Soos ek loop daar diep in die veld op soek na die hout, sien ek nog ‘n oupa, maar hy het gelyk soos `n herder, ek stap na hom toe met die idee dat hy my sal vinniger help vir droë hout. Ek kom by hom en groet hom. Hy vra vir my, “Wat soek jy hier, seun?” Ek antwoord en sê, “Ek is op soek na droë hout vir ek en my ouma by die huis.”
Hy kyk my eers aandagtig en sê, “‘n Mens kry sulke seuns soos jy amper nooit nie,” toe sê hy sommer vir my, “Hoor hier seun, gaan agter daardie heuweltjie, daar het ek `n lammetjie vasgemaak, gaan vat hom en gaan onmiddellik huis toe.” Ek sê toe, “Maar wat van die hout?” Hy sê my, “Hoor hier, daardie lammetjie kan jy alleen aan sy keel vat, dan spoeg hy geld, niemand anders as jy nie. Toe, maar beweeg nou, Seun!” Ek is toe weg en sowaar daar staan hy vasgemaak. Ek vat toe die lammetjie en hardloop huis toe.
As ek by die huis kom, sê ek toe alles wat met my gebeur het gedurende die dag vir my ouma, maar toe ek by die punt kom van ek het nie hout gekry nie, kon ‘n mens behoorlik gesien hoe raak my ouma swak. Ek haal toe die lammetjie uit en vang aan sy keel. Daar val ‘n R10 uit in R2.
My ouma rek haar oë so groot laat sy amper geval het. Sy vra vir my, “Waar kry jy die lammetjie?” Ek sê, “By ‘n herder in die veld.” Sy was baie bly en trots op my. Die volgende dag toe gaan skryf sy my by `n skool, ‘n primêre skool in.
Ek en Ouma het ‘n argitek in die hande gekry en ‘n huis beplan, hy het ons omtrent R20 gevra vir ‘n mooi groot huis, baksteenhuis. Die huis is toe gebou in twee maande en dinge het goed gegaan, net vir twee jaar, toe vind ‘n paar seuns dat ons ‘n lammetjie in die huis het wat vir ons geld uitspoeg en sê toe vir al hulle vriende wat diewe is. Een nag, dit was nogals na ek en my ouma lekker geëet het, kom breek hulle in en vat vir my en my lammetjie en sê, “Julle moet nou saam kom!”
Ek baklei ‘n bietjie saam met hulle maar hulle was te veel vir my. Soos hulle vir my wil wegneem, vra ek hulle maar net een vraag, en ek vra hulle om net my kierie saam te vat, hulle sê toe vir my, “Ag, vat die stuk kierie van jou.”
Hulle is uit met my in ‘n motor. Hulle ry tot diep in die veld met my. Soos ons daar kom, sê hulle vir my, “Ou boet, jy moet nou maak dat die lammetjie van jou geld uitspoeg, of jy gaan dood!” Ek kyk hulle deur en sien toe dat hulle baie ernstig is, ek sê toe, “Nee!!!” Toe klim die manne my so laat ek eers nie kon asemhaal nie, en hulle vra my toe weer, “Verkies jy die dood of die lewe?” en ek sê toe, “Lewe.” Hulle sê toe, “Dan moet jy maak laat die lammetjie geld uithaal.” Ek is uitasem en lê en dink oor daardie oupa op die ashoop wat gesê het as daar gevaar spring sê net, “Kierietjie, kierietjie trek weg!” Ek kyk die kierie met die aandag dat hy moet nou werk. Net toe hulle besluit om my te begin steek, sê ek toe van skok, “Kierietjie, kierietjie trek weg!”
Sowaar mense, julle sal nie glo nie, maar daardie kierie slaan die seuns so laat ek vir hulle bejammer, dat hulle so deurmekaar is laat hulle sommer vir my voor die motor oplaai en huis toe vat saam met my lammetjie.
As ek by die huis kom, kon my ouma nie anders as, “Dankie God omdat u hom gespaar het.” Sy was so bly dat sy sommer gesê het, “Seun, jy laat my sommer verlang na jou oupa wat ook sorgend was vir sy familie.” Van daardie tyd tot nou toe lewe ons lekker saam, maar die lammetjie het gesterwe nadat my ouma begin siekefondse kry, en ek het ook gevorder met my skoolloopbaan.
Dit was my verhaal oor die dag in my lewe wat ek nooit sal vergeet nie.
My oupa-hulle was padmakers. En hulle het in die veld in gekom, toe kom hulle by ‘n groot klip. En toe hulle by die klip kom het hulle gesit en eet, toe’s daar geskryf op die klip – in Hollands – “O, wat ‘n wonder, draai my om en kyk van onder.” En hulle is toe mos nuuskierig! En hulle los toe die kos en goete, en hulle begin die klip te rol om die klip nou na onder te kry. En toe hulle nou so klaar gerol is en moeg dat hy nou na onder toe is, toe staan daar geskryf op die klip: “O ben ik bly, nou lê ek op my ander sy!” Hulle sê hulle het maar nou so klaar geëet en als, maar voor hulle toe nou weer vertrek verder toe gaan draai hulle hom weer om sodat die volgende mense weer kan sukkel!
Baie lank gelede toe die diere gepraat het, was daar ‘n klein slim hasie. Hierdie hasie was baie slim. Slimmer as die ander groter diere. Een dag het Hasie na die bobbejane se huis gestap. Hy het Leeu se vel aangetrek. Toe Hasie by die bobbejane se huis kom, het hy die bobejane skrik gemaak. Die bobbejaan-familie was doodbang. Maar toe sê Hasie vir hulle dat hy sal tuis by hulle kleintjies bly terwyl hulle kos soek. Dit het so gebeur dat die bobbejane kos gaan soek het en Hasie het by die kinders gebly. Maar eendag het die bobejaan vroeg huis toe gekom. Hulle het Hasie gesien dans en gehoor sing oor hoe dom die bobbejaan is om nie te kan sien dat hy nie ‘n regte leeu is nie. Die bobbejaan was baie kwaad en wou Hasie dood maak. Soos altyd was Hasie te vinnig vir hulle.
Hasie het in die veld geloop steeds met Leeu se vel aan. Ongelukkig het Hasie vir Leeu langs die pad ontmoet. Leeu kon sien dat Hasie nie ‘n regte leeu was nie. Voordat Leeu hom opeet, het Hasie belowe om kos te soek vir Leeu. Hasie het die ander diere laat skrik en dan het Leeu hulle doodgemaak, want hy was ‘n regte leeu. Dit het so gegaan vir ‘n rukkie. Toe hulle genoeg vleis het om vir ‘n paar dae te eet, het Hasie ‘n plan gemaak. Hy het vir Leeu gesê dat hulle ‘n huisie moet maak om die kos te bêre om te kook. Die huise was klaar – net die dak was nie op nie. Hasie het gesê dat hy te kort is en nie die dak op kan sit nie. Toe Leeu besig was om die dak op te sit, het Hasie die vleis gekook. Hulle het ‘n paar kere uit die huis gekom om Leeu te vra of hy party stukkies vleis kan eet en leeu het met ‘n diep stem gesê dat die groter stukkies syne was. Hasie het ‘n ander plan gemaak. Hierdie keer was Leeu in die moeilikheid. Hasie het op die dak geklim met ‘n hamer en ‘n spyker. Hasie het Leeu se stert met die psyker en hamer vasgeslaan op die dak. Toe Leeu pyn voel en vir Hasie vra wat hy besig is om met sy stert te doen, het Hasie gesê dat hy ‘n baie groot luis dooddruk op Leeu se stert. Hasie het van die dak af geklim en binne in die huis gegaan. Hy het uitgekom. Hy het begin om die grootste stukke vleis te eet wat Leeu gesê hy mag nie eet nie.
Toe Leeu van die dak wil afklim om Hasie te vang, was sy stert vas aan die dak. Hy het probeer totdat hy dood was. Hasie het al die vleis alleen klaar geëet. Hasie het gesin en gesê: “Ek is klein hasie, maar ek is slimmer as al die groter diere.”
Daar
is baie stories oor meerminne. Die een wat ons die beste ken is die een van die
“Klein Meerminnetjie.” Ek gaan hom nie nou vertel nie, ek sal eerder
vertel wat my Oupa eenkeer gesien het.
My
Oupa was altyd ‘n snoekvisserman in Namibië voordat hy afgetree het. Hy het
sommer van die kant af gevang, en hy het nogals baie geld gemaak van die visvangerry.
Maar
een dag in 1963, toe hy ongeveer 35 was, het die visse die aas “flatout”
geignoreer. Oupa het die hele dag nie een plukkie aan die lyn gehad nie. Hy het
gewag en gewag, maar niks het gebeur nie. Arme Oupa het geweet hy sal die hele
nag daar moet sit as hy nie teen twee uur iets gevang het nie. Twee uur het gekom
en gegaan, maar daar het niks gebeur nie. Oupa het hom reggemaak om daar te deurnag.
Toe dit donker word, kry Oupa die eerste pluk. Maar toe hy uit die water is, moes
hy terug gegaan het; hy was hopeloos te klein.
Toe
die vis die water raak, het die hele area rondom die baaitjie so groen geraak,
helder en helder totdat dit geel was, en toe wit. Oupa het so groot geskrik dat
hy amper in die water geval het. ‘n Blonde kop het uit die water gestyg. Oupa
het gesê sy het nie ‘n stert gehad nie, net ‘n kaal lyf soos ‘n vrou. Maar
net so vinnig soos dit gebeur het, het dit verdwyn.
Ek glo my Oupa glad nie – dis sommer iets wat hy uit sy duim gesuig het. Maar dis my storie; julle sal net moet glo en verbeeldingryk wees.
Daar was hongersnood en toe het mnr. Vark vir mnr. Skilpad gevra dat hulle lande ploeg vir hulle families. Hulle het ‘n dag gesê wanneer hulle gaan begin met die werk. Die dag het toe gekom. Dan het mnr. Vark allenig gaan begin ploeg. En hy het vir ‘n week alleen gewerk. Dan het mnr. Skilpad met ‘n verskoning gekom dat sy hele gesin lê in die bed en hy kon nie hulle allenig gelos het nie. Toe sê mnr. Vark vir hom die stuk grond wat hy geploeg het, is genoeg vir twee gesinne. Dan kan hulle begin plant en nat maak. Hulle het besluit om die volgende dag te begin plant. Dan het mnr. Skilpad weer nie opgedaag nie. Toe het mnr. Vark se hele gesin gaan plant. Na twee weke het mnr. Skilpad aangekom en gesê hy het ‘n seer rug. Mnr. Vark was baie kwaad. Toe besluit hy mnr. Skilpad gaan nie meer kos verniet kry nie, hy sal moet koop. Mnr. Skilpad het kos op skuld gekoop en toe wil hy nie betaal nie. Mnr. Vark het besluit om sy geld te gaan kry, toe was mnr. Skilpad nie daar nie. Die vrou was besig om mielies op ‘n maalklip te maal. Dan het mnr. Vark die maalklip buite gegooi. Die maalklip was mnr. Skilpad. Hy het toe opgestaan en in die huis in gekom. Mnr. Vark het die “maalklip” gesoek want daar was ‘n beursie daarin. Dis hoekom die vark moet grawe om die beursie te kry.
In die verlede toe diere kon praat, het Hasie vir Skilpad gesê hy kan nie vinnig hardloop nie. Hasie was hoogmoedig omdat hy die vinnigste dier in die land was. Hy het Skilpad uitgedaag om teen hom te hardloop om te wys dat hy regtig die vinnigste dier is en dat hy die wedloop sal wen omdat hy nog jonk is. Hy het gedink dat Skilpad was te oud om vinnig te hardloop. Vroeg die volgende dag het die wedloop begin en al die diere was daar om te kyk. Hasie was haastig dat die wedloop moet begin. Soos altyd was hy hoogmoedig en hy het gedink hy is beter as Skilpad. Die wedloop het begin en Hasie was voor Skilpad met baie kilometers. Toe hy sien dat hy ver voor was en dit sal Skilpad lank vat om by hom te kan kom, het hy onder ‘n boom gerus. Omdat hy moeg was, het hy geslaap. Binne twee ure was Skilpad by die einde van die wedloop en Hasie het wakker geword. Hy het vinnig gehardloop, maar dit was te laat. Skilpad het die wedloop gewen. Die ander diere was opgewonde dat Hasie verloor het. In hierdie sprokie kan ‘n mens leer om nie hoogmoedig te wees nie. Jy moet nie dink dat jy is beter as ander mense nie. En tot vandag toe het Hasie groot respek vir Skilpad.