Om jou te ken

“Happy birthday to youuu! Hiep-hiep-hoera! Hiep-hiep-hoera!”

Ek sug verlig toe die vals gesingery tot ‘n einde kom. Dis ‘n sonde om so gestraf te word op jou verjaarsdag!

“Kom, Gabby en Georgia, blaas nou jul kerse dood,” deel antie Frieda orders uit. Dit gaan nou al heeloggend so: Slaap ‘n bietjie laat! Eet julle brekfis! Gaan was! Die mense gaan nou-nou hie’ wees. Ek weet nie of ek vandag ek opgestaan het een keer stilgesit het nie.

Ek’s nou al oor my – eintlik ons – birthday pary en ek’s nie die enigste een nie. Antie Frieda moes ná brekfis vir Georgia order om haar “gesig reg te trek”. Maar my niggie luister na niemand nie, en haar RBF klou vandag. Nie eers die geskenke wat sy gekry het, maar haar happy nie. Sy wou vandag saam met Lindsay en haar tjommies blom – potjiekos langs die rivier as ek reg onthou – maar ons ma’s het ons goed laat verstaan dit gaan nie gebeur nie. Ons gaan saam verjaarsdag hou, net soos altyd. Ten minste is ‘n handjievol van ons vriende hier: Lindsay en Jaydey vir Georgia, Nadia en Sean vir my. Maar waar is James?

“Maak ‘n wish,” sê my ma, en ek moet keer dat ek nie my oë rol nie.

“Ma, ons is nie tien jaar oud nie! Ek verloor die stry omdat ek presies tien klink. Nadia trek vir my skewebek en ek steek my tong vir haar uit.

“Nee, julle is nie, Gabby, maar birthday wishes is nie net vir kinders nie. Kom, blaas nou die kerse dood en maak jul wish.”

Ek maar maar oë toe en hoop maar ‘n mens kom in my gedagtes op. Maar niks gebeur nie.

Branderjaer

[NEE]

“BITTER! BITTER! BITTER!”  

Louw gooi sy volle gewig agter sy vuis, ruk dan terug en sien hoe Beast sy neus vashou. Soos gewoonlik sê sy brein en sy lyf “nee.” Dis nie natuurlik nie. Dis die teenoorgestelde van wat hy wíl doen. Maar in die Kring gaan dit nie oor wil nie. Dit gaan oor wat jy móét doen. Almal in die Kring het skuld – Bloedskuld.

En die Branderjaers het ’n moerse prys om te betaal.

Beast skud homself reg en storm op Louw af. Hierdie keer hou hy niks terug nie. Louw duik weg en vermy Beast se voet wat uitswaai na sy been. Beast kom nader en mik vir Louw se niere, maar hy hoor Malherbe se waarskuwing en blok die hou net betyds. Pyn skiet deur sy voorarm van die pyn en–

Bam!

Louw strompel agteruit, een hand nog in sy vuis, voete gereed om weg te spring. Met sy ander hand voel-voel hy aan sy kakebeen waar ’n vorige hou hom getref het. Hy duik onder nog ’n vuishou en vat weer een in sy sy, hy swaai sy hand, maar mis…

Alles gebeur te vinnig.

Elf dae in Oxford

Sy knyp haar oë styf toe. Die beeld is steeds vasgevang op haar retina: die wit konyn se poot wat om die hoek verdwyn.

Sy moet hom volg, maar voor haar loop die nou stegie dood in ’n ander een.

Links of regs?

“Enige pad sal jou iewers neem. Dit hang net af waarheen jy op pad is.”

Dis mos wat die kat gesê het – of was dit die Hoedemaker? Sy kan nie mooi onthou nie. Haar gedagtes voel swaar, asof daar ’n warm lap om haar brein gedraai is. Sy kyk af na haar skoene op die keistene. Blou skoene – gemaak uit sagte seemsleer, met ’n silwer gespe aan die buitekant van elke voet. Sy trap versigtig en probeer om nie ’n geluid te maak nie.

Sy kyk op. Tussen die hoë klipmure van die geboue, oud soos die storie waarin sy haar bevind, daal swaar grys wolke af in slierte mis tot tussen die blombakke op die vensterbanke. Malvas gloei in spatsels rooi teen die grys. Die blomme lyk of  ’n onaardse lig hulle omhul en die sneeuvlokkies smelt sodra dit daarop val.

Die keuse sypel tot in haar murg.

Waar is sy?

Waar moet sy heen?

Losprys in Parys

’n Ysterhand klem om my boarm, dwing my om meer links te loop, uit die vinnig bewegende stroom mense op die sypaadjie, straat se kant toe.

“Nie ’n geluid nie.”

Die stem is laag en dig by my oor.

My oë flits oor die mense op die breë sypaadjie wat net aanloop. Kan hulle nie sien wat gebeur nie?

Dan val my oë op die bruin motor vier tree voor ons wat op die laaisone teen die sypaadjie staan. Die deur skuif oop en toe ons by die motor kom, leun ’n man vorentoe en steek sy hande na my uit.

“Neeeeeee!” Ek gil lank en uitgerek.

Die hand op my arm verslap vir ’n oomblik. Ek ruk los en stamp wild ’n pad tussen die mense op die sypaadjie oop tot by die tafeltjies en sambrele van die restaurant op die hoek.

“Dienkie! Ek het gesien wat gebeur het. Is jy oukei?”

Tannie Mon kom uitasem aangehardloop, sit haar arm om my skouers en help my terug motor toe.

Trish vat die inkopiesak uit my hand.

“Laat ek dit dra. Hy was seker agter jou handsak aan.”

Heelpad huis toe kyk ek met ’n wild kloppende hart deur die agterruit. My oë fynkam die motors agter en langs ons vir die skraal, ongeskeerde gesig met die broeiende swart oë en die swaar ooglede, en die donkerbruin hare wat onder die pet uitgekruip het.

Bethel se berg

Dit is Max wat my beddegoed oplig, met skurwe ysblokvoete bo-oor my klim en teen my kom lê. Hy druk sy krullebolkop onder my ken in, soos hy altyd maak wanneer ek sy warmwatersak moet wees.

“Nouth dit koud,” lispel hy teen my sleutelbeen, want ons het gistermiddag, net nadat ons by die piekniekplek aangekom het, sy boonste voortand losgewikkel en uitgepluk gekry.

“Hoekom is dit nou so vrek koud?” Dié keer fluit hy sy “s’e” lekker, sommerso vanself, en skerper as Richie s’n.

“Omdat die nag altyd die heel koudste is voordat die dag breek.”

Ek hoor sy hand oor die stokkies en klippies op die grond langs my matras. Hy is heeltemal te wakker vir dié tyd van die oggend.

“Bethie, jou matras en die grond is ewe koud.”

Ek raas in ’n fluisterstem met hom.

“Praat sagter. Wil jy hê die bobbejane moet ons hoor? Raak asseblief nou rustig. Dan word die matras dalk warm.”

“As my bloed koud  is, kan ek nie ’n matras warm…”

Dan dring my vraag tot hom deur.

“Bobbejane?  Mamma het dan gesê die dinges-bobbejaan…”

“Die Kaapse bobbejaan…”

“Nee, man, Bethie. Mamma het gesê die chacma-bobbejaan. Mamma het gesê hulle slaap in die nag.”

Ek wikkel my voete weer onder my beddegoed in.

“Kaapse bobbejane is chacma-bobbejane, Max. Maar luister nou mooi vir my. As daar bobbejane hier naby slaap, in grotte of rotsskeure, kan hulle wakker word. Ek dink jy moes dalk liewer in die kombi geslaap het, soos Richie.”

Sterre vir die donker

Dit is ’n regte Kaapse wintersdag: trietsig, met vlae reën wat neerval. Helena kyk hoe die reëndruppels mekaar rukkerig oor die ruit jaag. Sy laat sak stadig haar voorkop tot teen die koue ruit.

Die flikkerlig tik-tik skielik hard in die stil kar en Ma draai af. Sy ry tot reg voor die winkelsentrum se ingang en laat dan die kar luier.

“Ouma het gesê sy wag vir jou in Mugg& Bean, en sy bring jou ná die tyd huis toe. Is jy seker jou foon is gelaai? En het jy nog genoeg lugtyd?”

Helena onderdruk ’n sug oor die nimmereindigende instruksies. Regtig, sy is sestien! Maar sy is nie lus vir skermutseling nie.

“Ja, Ma,” antwoord sy, leun oor en gee haar ma ’n piksoentjie op die wang. “Sien Ma later.”

Helena klim uit en maak die kardeur verlig toe. Sy asem die skoon gewaste lug in en ’n heerlike gevoel van vryheid spoel oor haar.  Ma trek met ’n wuif weg, en Helena kyk die kar vir ’n oomblik agterna. Jinne, haar ma lyk so klein en alleen met die wegry…

Baster

Baster kyk deur sy eie bloed na die wêreld om hom. Killer het hom vir die soveelste keer aan sy nekvel gegryp en neergegooi en trap hom nou met sy voorpote teen die grond in die gevegsput vas. 

“Byt hom vrek, Killer!” moedig Scar sy hond aan. “Wat gaan aan met jou?”

“Hêppie is te vriendelik om te baklei,” hoor Baster weer Poppie se stem, asof sy ook na die geveg staan en kyk. Toe sy dit gesê het, was sy naam nog Hêppie. Haar gesig doem voor hom op: Hy sien steeds haar oopmond lag en haar genesende hande.

Poppie Grootboom was sy eerste mens.

“Enige hond met so ’n naam ,” het Veronica kole op die vuur gegooi, “sal anyway altyd afgeknou word. Wat as die hondemanne hom teen hulle honde wil laat fight?”

Poppie het vasgestaan. “Tjommie, sy naam is Hêppie en klaar. Hy is ’n New Year’s puppy en hy smile altyd, nes ek, maak nie saak wat gebeur nie. Sien jy? Ek sal my foksie nooit laat fight nie.”

“Dan sal ons die hondemanne moet laat ophou met die fights,” het Veronica gesê. “Ons sal hulle moet laat stop. Voordat hulle al onse honde laat vrek byt.”

Stille waters

Wat jy met jou vrye tyd doen, verklap baie van jouself, dink Hanna terwyl sy deur die mieliepap op die stoof roer. Sy sal vanoggend die nuwe kandidate daaroor uitvra as sy onderhoude met hulle voer. As sy eers dít van die kandidate weet, weet jy watter soort mense hulle is en hoe hulle by die maatskappy se kultuur sal inskakel.

Sy glimlag vir haarself toe sy die lepel neersit. Om die regte persoon in die regte pos te plaas, dis haar passie. En al moet sy dit self sê, sy is al ’n meester daarin.

Sy kry die Nespresso-masjien aan die gang voor sy die kinders gaan wakker maak. Die gang is donker. Dis nog net middel herfs, maar die oggende swig klaar voor die Kaapse winter. ’n Strepie lig spoel onder Divan se kamerdeur op die gangteëls uit en sy klop saggies voor sy ingaan.

Hy sit vooroor gevou in sy skoolklere op sy opgemaakte bed, besig om sy boeke in sy skoolsak te pak.

Kamma kwaai kruis sy haar arms voor haar bors.

“Wie is jy en wat het jy met my seun gedoen?”

Sy oë is blou poele toe hy opkyk. ’n Glimlag pluk aan sy mondhoeke.

“Ek was vroeg wakker.”

“So wonderwerke gebeur nog?”

Die sluimerende lag vou oop oor sy gesig. “Lyk so.”

“Kan jy nou meer!” Sy strek haar hand uit om sy hare deurmekaar te krap, maar hy koes weg.” 

Terug in die kombuis skink Hanna haar koffie en leun daarmee teen die kombuiskas. Wat sou Divan so vroeg uit die vere hê?

Donker Web

Hy stap in die donker gang af. Dis soos daardie aand toe hy sy pa in die studeerkamer gekry het. Voor sy oë sien hy steeds sy pa se groot lyf half oor die lessenaar gebuig toe die deur oopgaan. Hy sien die geel koevert. Sien die 9 mm-pistool.

Sy pa vou dit toe in ’n lap en sit dit weg in die laai.

“Jy moet nie jou ma vertel nie. Oukei? Dis ons geheim,” sê sy pa. Sy gesig is natgehuil. “Gaan slaap nou.”

Binne hom weerklink sy pa se stem toe hy nog daar staan om sin te probeer maak van wat hy gesien het. Hy het nie eens geweet daar is ’n pistool in die huis nie. Wat maak sy pa met een?

Uiteindelik draai hy hom, stap kamer toe met sy pa se woorde wat hom volg. “Nag. Lekker slaap…”

Sy pa sê sy naam, maar hy hoor dit nie. Dit is asof die donker dit opraap en in die voue van sy kleed verberg. Nou weet die donker van hom en sal dit hom roep. Hom op sy naam noem asof hy aan die donker behoort.

Sy regte naam, nie net ’n eggo daarvan nie.

‘n Ster in haar sak en ander verhale

Môre sal dit drie weke wees dat my lewe verander het.

Die Dinsdag het begin as net nog ʼn dag. Ek het vroeg die oggend uit die huis geloop en in die hoek van die tuin onder die kaal boom gaan sit en bibber. Ek was moeg vir Pa en Ma se bakleiery. Hulle kon nie eens elkeen by die werk kom sonder om eers op mekaar te skree nie. Nadat Ma ook weg is, het ek opgestaan en broodjies gemaak vir skool.

Ek het toe skool toe geloop. Ons het wiskunde die eerste periode op ʼn Dinsdag.

Ek het Jeannie nooit rêrig raakgesien voor daardie Dinsdag nie, al het ons die meeste vakke saam. Die klas was nog rumoerig, terwyl almal in hulle sakke gegrawe het om penne en boeke te kry.

Jeannie sit oorkant my. Skielik het ek haar na haar asem hoor snak. Sy het effens orent gekom. Haar gesig was vaal. Verskrik. In haar oop hand was ʼn klip. Sy het daarna gestaar. Toe het sy vinnig haar hand toegemaak en die klip in haar baadjiesak laat ingly, weer oorgebuk en haar boeke uit haar tas gehaal.

En die wiskundeklas het begin.