Aldan Valentyn is niemand nie. Hy plaas ʼn foto van homself sonder sy hemp, op Instagram. En word die bespotting van die skool. Maar dit sal binnekort verander.
In die gym.
Met gewigte.
En die KRAG in die naalde.
Talia is ’n bokser. Sy is deel van die veergewig-kategorie in die skoolspan. Maar haar afrigter het nie baie genade vir haar nie. Dit maak nie saak hoe hard sy boks nie, sy kan net nie sy goedkeuring wen nie. Sy is ook nie vreeslik gewild ná haar broer, Hamer, vrygelaat word op parool nie. Hy was vir ’n jaar lank in die tronk oor diefstal. Almal behandel hom steeds soos ’n krimineel. Maar … was hy werklik skuldig? ’n Boeiende roman oor die kompleksiteit van gesinne en die gevegte wat ons almal soms met onsself en ons naastes moet veg.
Die roman was deel van die LAPA-Jeugromankompetisie se kortlys vir 2021.
Vir die eerste keer vandat Vandre en sy ma Engeland toe geëmigreer het, gaan hy en sy pa sy ouma-hulle besoek, maar ’n lelike motorongeluk reg in die middel van die Boesmanland ontspoor hulle planne. Vandre, op soek na hulp vir sy beseerde pa, verdwaal heeltemal in ’n onbekende stukkie van die wêreld. Dit word ’n stryd van oorlewing teen die natuur en teen homself.
Normaal. Daai woord, daai ding wat ek nooit sal wees nie. Op haar agtiende verjaarsdag loop Marné weg van die huis af. Weg van Die Sending waar sy grootgemaak is tussen groen valleie. Weg van die kultus met hulle tienduisend reëls wat haar hele lewe beheer. Sy begin ’n nuwe lewe by haar tannie in Klerksdorp en probeer leer hoe om ’n doodnormale meisie te wees tussendeur die uitdagings van matriek in ’n nuwe skool. Sy maak nuwe vriende, en dan is daar die kitaarspeler met die mooi groen oë … Maar na jare van breinspoeling en manipulasie is dit nie so maklik om weg te breek van die sendingdogtertjie wat sy eens was nie. En haar ouers en Die Sending sal nie ophou om haar te probeer opspoor nie. ’n Aangrypende grootwordverhaal oor die soeke na self, die soeke na God en die soeke na waarheid. Hierdie treffende debuut is gebaseer op ware gebeure by die KwaSizabantu Sendingstasie in KwaZulu-Natal, waarvan die skrywer deel was.
Gabby en haar niggie Georgia lyk baie na mekaar en toe hulle jonger was, was hulle onafskeidbaar. Maar iewers het hulle vreemdelinge vir mekaar geword. Al wat hulle nou gemeen het, is die bloed in hulle are. Gelukkig het Gabby goeie vriende en dalk selfs iets meer as net vriendskap met Brandon…
Toe die matriekgroep van Barkly-Wes op ’n toer na Kaapstad vertrek, ontdek Gabby dat sy per ongeluk Georgia se dagboek ingepak het. Kort voor lank kry haar nuuskierigheid die oorhand en begin sy haar niggie se dagboek lees. Wanneer Georgia daarvan uitvind, breek ’n volskaalse niggie-oorlog uit.
Nie eens Kaapstad se besienswaardighede of hulle vriende se raadgee-pogings kan die spanning verlig nie. Gaan Gabby se verraad die niggies nog verder uitmekaar dryf of gaan dit daartoe lei dat hulle mekaar beter begin verstaan? En wat van Brandon? Gaan hy aanhou om haar te vermy nadat Georgia stories oor haar versprei het, of sal hulle steeds saam matriekafskeid toe gaan?
In hierdie boek sal jy lees van allerlei uitvinders, planmakers en slimkoppe van Suid-Afrika. Hier is stories oor mense wat mediese deurbrake gemaak het. Stories oor mense wat met diere en plante werk. Stories oor mense wat die geheime van die hemelruim probeer ontrafel. Stories oor mense wat interessante ontdekkings oor fossiele, die aarde, water en die klimaat maak. Dit is voorwaar ’n trots Suid-Afrikaanse boek wat elke leser sal inspireer en motiveer om vrae te vra, te ontdek en te skep.
Justin Fortuin kuier nog lekker saam met sy ma by tannie Mary in die geheimsinnige Kasteel Boekanier. Dit is ’n reënerige dag wanneer hy en sy vriend Liam ontdek dat die kasteel nie net twee geheime tonnels het nie, maar drie. Waarheen lei die derde tonnel? Die seuns besluit om die tonnel te verken en beleef ’n opwindende avontuur vol raaisels en geheime. Hulle kom ook op ’n ou seilskip af wat geanker is in ’n versteekte baai. Wat het dit met die kok Nicolas te doen? Is Nicolas dalk ’n seerower? Wie is Jessie, wat in die agterste kajuit van die skip aangehou word? En wie is die ware erfgenaam van Kaptein Verwoes se skat?
Dramateks vir hoërskoolleerders (15+): Môre as ons groot is deur Fanie Viljoen. Dis matriekafskeid – die wonderlikste aand in elke tiener se lewe. Maar wat gebeur wanneer dit verby is? Wanneer selfs die after-party end kry? Vier jongmense staan op die grens van hulle grootmenslewe. Liza, Quin, Noku en Wayne kom elkeen uit verskillende agtergronde en die toekoms lyk ook vir elkeen van hulle anders. Vanaand neem hulle afskeid van hulle skool – hulle vriende – hulle kindwees … en dalk hulle drome. ʼn Kortfilm gebaseer op die teks verskyn in 2016. Fanie Viljoen se voorgeskrewe drama genaamd Betower die drama is tans by FET-skole voorgeskryf.
Hierdie bundel stories is ʼn karos waarmee jy jou kind opnuut kan koester. Daarmee saam kom die genadegawe om waarlik mekaar se harte te hoor. Om dit reg te kry het jy nie geld of goed nodig nie. Al wat nodig is, is om vir slegs 20 minute elke aand sonder die selfoon, TV en al die 1001 dinge wat jou aandag deur die dag opeis vir jou kind ʼn storie te lees. Die sleutel tot behoorlike lees- en taalvaardigheid begin lank vóór gr. R – by iets eenvoudig soos ʼn slaaptydstorie en jou onverdeelde aandag. ’n Ideale boek vir jou kleinding wat hou van stories, rympies en speletjies.