Sanri Steyn omnibus 2

Drie Sanri Steyn-stories in een omnibus! Sanri Steyn droom daarvan om eendag ’n joernalis te word. En nie sommer enige joernalis nie. Haar naam sal op almal se lippe wees … Superjoernalis Sanri Steyn. Sy het nie verniet haar eie koerant, die Raaiselfontein Gazette, begin nie. Op die dorpie Raaiselfontein beleef Sanri en haar beste vriend, Markus, allerlei vreemde avonture – van vampiere wat op die dorp kom woon, tot ’n weerwolfmeisie wat haar opwagting in hul klas maak! Die aweregse humor en lekker grillerige avonture in hierdie gewilde reeks sal seuns en meisies vasgenael hou! Vir die eerste keer is die Sanri-reeks nou in ’n bekostigbare omnibus-formaat beskikbaar! Die drie titels in hierdie omnibus sluit in: # 5: Die monsters van Middernagstraat Sanri se neus begin kriewel toe ’n vreemde ding een middag in Middernagstraat gebeur. En as Sanri se neus kriewel, beteken dit net een ding – sy ruik ’n storie! Sy is byna doodseker sy het gesien hoe een van Claudia Müller se oulike skoothondjies ’n oomblik lank in ’n monster verander … ’n Nare monster met bloedrooi oë, ’n bek vol vreesaanjaende tande, en vreemde stekels op sy rug en nek. Markus is oortuig Sanri se verbeelding werk weer oortyd. Maar dan begin troeteldiere in Raaiselfontein verdwyn … # 6: Die nag van die weerwolwe Sanri se neus begin kriewel toe sy die nuwe meisie in hul klas, Chrissie de Wolfe, ontmoet. Waarom het Chrissie ’n sappige rou steak in haar kosblik? Wat soek sy by die slaghuis en waarom koop sy soveel vleis? En hoekom lyk dit of sy supersterk is? As Sanri se neus kriewel, moet jy weet hier kom ’n storie … Sanri is oortuig die nuwe meisie in haar klas is ’n weerwolf. Maar hoe gaan sy en Markus dit bewys? #7: Die vampiere van vlermuishoogte Sanri kan nie wag om haar beste vriend, Markus, se neef te ontmoet nie. Danté en sy gesin bly in Vlermuishoogte – ’n geheimsinnige ou kasteel. Maar iets is nie pluis nie … Waarom het Danté se pa ’n skaduwee soos ’n vlermuis? En is Markus dalk in gevaar?

Stalmaats: Tweede kans

Die laaste boek in hierdie supergewilde perdereeks! Al die Stalmaats-ruiters is in rep en roer oor die nuus dat ’n nuwe ryskool op die dorp oopmaak. Josh, die eienaar se seun, is boonop saam met Anri, Megan en Karen in die klas – en hy probeer almal ompraat om Hoefslae ’n kans te gee. Anri en die res van die Stalmaats is baie lojaal aan die Dagbreek-ryskool, maar die nuwe ryskool is baie goedkoper en die eienaar was op sy dag ’n bekende Suid-Afrikaanse ruiter … Kan dit dalk die einde van die Dagbreek-ryskool beteken? Om dinge erger te maak, lyk dit boonop of Josh met sy seegroen oë en blonde krulhare ’n ogie op Anri het – en Anri se kêrel, Jacques, is glad nie gelukkig daarmee nie … en sy ma en pa is boonop die eienaars van Dagbreek. Toe Anri-hulle ’n geheim oor die nuwe ryskool uitvind, spat die vonke behoorlik! Kom word deel van die pret en avontuur by die Dagbreek-ryskool saam met Anri, Megan, Karen en die ander Stalmaats! Hierdie is die laaste boek in dié bekroonde en geliefde perdereeks waaroor jong perdeliefhebbers al jare lank gaande is.

Stalmaats omnibus 3

Die gewildste perdestories in Afrikaans! Die immergewilde Stalmaats-boeke is nou in ’n reeks lekkerlees-omnibusse beskikbaar! Kom word deel van die pret en avontuur by die Dagbreek-ryskool saam met Anri, Megan, Karen en die ander Stalmaats! Word deel van die pret en opwinding by die Dagbreek-ryskool saam met Anri en die ander Stalmaats! Jong perdeliefhebbers sal versot wees op hierdie reeks! Hierdie omnibus bevat die volgende vyf titels: * Sirkusperde * Afskeidsrit * Perdespeurders * Rivierperde * Stormnag

Thomas@omnibus 1 (moord, aqua, skerpioen)

Drie adrenalienbelaaide Thomas@-avonture in een omnibus! Die Thomas@-reeks is een van die grootste suksesverhale in die Afrikaanse kinderboekmark. Daar het oor die jare reeds 10 boeke in die avontuurbelaaide topverkoper-reeks verskyn, sommige titels is in Engels vertaal, en Thomas en sy vriende se avonture het selfs tot `n TV-reeks op kykNET gelei. Nou is drie van die gewilde Thomas@-stories in een waarde-vir-geld-omnibus beskikbaar: Thomas@moord.net Thomas is nie lus om te trek nie. Veral nie na `n grillerige ou Victoriaanse huis nie. Sommer gou begin allerlei vreemde dinge in die nuwe huis gebeur. Thomas hoor geheimsinnige voetstappe voor sy kamerdeur, deure gaan onverklaarbaar oop en toe en sy rekenaar se drukker spoeg die een vreemde boodskap na die ander uit. Kan dit wees dat daar regtig `n spook in die huis is? Saam met sy vriende, Hannes, Alex en Thabo, probeer Thomas die raaisel van die huis oplos … `n raaisel wat hulle in groot gevaar laat beland. Thomas@skerpioen.net Thomas en Hannes kan nie wag om `n nuwe rekenaarspeletjie te toets wat hulle by Harry van die Cyber Tiger-internetkafee gekry het nie. Maar iets is verkeerd met die speletjie. `n Geheimsinnige skerpioen verskyn op die rekenaarskerm en Hannes is oortuig die speletjie is in werklikheid `n gevaarlike rekenaarvirus. Hoe ver sal die skurke gaan om die virus terug te kry? Thomas@aqua.net Thomas-hulle sien uit na `n wonderlike langnaweek by die see. Maar dan begin dinge lelik skeefloop: Thomas ontdek `n deurtjie in die vloer van hulle strandhuis, en dit lei reguit na die skuilplek van die gevaarlike perlemoensmokkelaar Sharky Fortuin …

Droomkans

Die laaste, onvergeetlike Elle-avontuur Die matriekdans-monster. Dit is presies wat op die oomblik oor Elle se skouer loer. Die ontwerpersrok van haar drome kos ’n plaas se geld, en sy het geen benul waar sy ’n ander rok vir die matriekdans in die hande gaan kry nie. Boonop is mevrou Bender terug op haar pos as skoolhoof van Gravitas – en sy is vasbeslote dat Elle haarself as hoofmeisie moet bewys. Wat gaan sy doen om seker te maak sy laat iets waardevols agter; iets om dankie te sê vir die wonderlike jare wat sy by Gravitas beleef het en seker te maak niemand vergeet haar in die jare wat voorlê nie? Maar waar Elle in die omtrek is, is daar gewoonlik ook hope moeilikheid. Kort voor lank sluip daar ’n paar vreemde nagtelike besoekers in die koshuis rond. En toe Elle agter die kap van die byl kom, moet sy inspring en help – al beteken dit ook sy moet by die skool se rekenaarstelsel probeer inbreek, hoofmeisie ofte not! Gaan Elle haar droomkans kry om ’n blywende nalatenskap by Gravitas te laat? Die laaste hoofstuk in die Elle-reeks sal aanhangers laat juig vir hul heldin – en trane laat afvee oor die skouspelagtige kragtoer waarmee hierdie topverkoperreeks ten einde loop. ’n Onvergeetlike boek.

Stalmaats omnibus 2

Die gewildste perdestories in Afrikaans! Die immergewilde Stalmaats-boeke is nou in `n reeks lekkerlees-omnibusse beskikbaar! Kom word deel van die pret en avontuur by die Dagbreek-ryskool saam met Anri, Megan, Karen en die ander Stalmaats! Of hulle nou aan `n perdekompetisie deelneem, vakansie by die see gaan hou, of geld insamel om mishandelde en hawelose perde by `n skuiling te red waar Anri en haar maats is, is daar altyd hope pret! Natuurlik is die katterige Vinette gedurig besig met allerlei planne om die lewe vir die res van die Stalmaats moeilik te maak. En dan is daar Jacques, die ryskooleienaars se seun met sy blou oë, wat net so mal is oor perde en Anri se hart vinniger laat klop. Word deel van die pret en opwinding by die Dagbreek-ryskool saam met Anri en die ander Stalmaats! Jong perdeliefhebbers sal versot wees op hierdie reeks! Hierdie omnibus bevat die volgende vyf titels: * Komaan, Karen!
* Seeponies
* Roset
* Vrye Teuels
* Gevaar op Dagbreek

Trompie Omnibus 7

In hierdie omnibus, wat nog drie gewilde Trompie-stories bevat, word die sproetgesig Grootkaptein en die Boksombende se avonture voortgesit. Trompie moet veg vir sy plek as spankamptein van die rugbyspan, veral wanneer sy vyand, Gerrit Moerdyk, almal teen hom draai. Trompie en sy maats bak ook vir die wetenskaponderwyser ‘n poets en Trompie skryf in vir ‘n kompetisie wat ‘n reis Kaap toe as prys aanbied.

Saartjie Omnibus 7

In hierdie omnibus, wat nog drie gewilde Saartjie-stories bevat, word Saartjie Baumann, die langbeenmeisie met die wipneus, kuiltjies in die wange en duisende duiweltjies in haar oë, se avonture voortgesit. Saartjie ontmoet vir Clara, ‘n dogtertjie met polio, en sy kruip sommer gou in almal se harte. Daar kom ook ‘n wêreldberoemde sirkus na Linnekom en sorg vir groot opwinding. Saartjie dink ook dat sy haar droomman ontmoet het wanneer ‘n beroemde rugbyspeler kom kuier.

Speurder Annika omnibus 1 (boek1-5)

Kry jou vergrootglas uit! Annika is versot op speurverhale en raaisels, en as sy in die omtrek is, gebeur daar altyd iets opwindends! Kry jou vergrootglas en jou notaboek uit en maak gereed om leidrade te soek en `n hele rits opwindende raaisels saam met Speurder Annika op te los. Daar is `n uitstappie na die museum en `n geheimsinnige veer wat Annika op `n speurtog lei; `n dief wat stink kunsmis by die skool steel; en selfs `n kissie met geld wat uit `n juffrou se klas verdwyn. Maar moenie bekommerd wees nie Annika sal die raaisel gou-gou oplos! Vir die heel eerste keer verskyn al vyf opwindende Speurder Annika-stories saam in een omnibus: 1. Speurder Annika
2. Speurder Annika kry snuf in die neus
3. Speurder Annika maak `n plan
4. Speurder Annika los `n raaisel op
5. Speurder Annika stel ondersoek in

Stalmaats Omnibus 1

Die gewildste perdestories in Afrikaans!

Die eerste vyf boeke in die Stalmaats-reeks verskyn nou vir die eerste keer saam in een lekkerlees-omnibus!

Anri se lewe word onverwags op sy kop gekeer toe haar pa verplaas word en hulle moet verhuis. Sy mis haar beste maat en haar ou ryskool. Maar gelukkig ontmoet sy vir Megan en Karen, twee ruiters by haar nuwe ryskool. Sommer gou word Anri deel van die opwinding by die Dagbreek-ryskool waar sy gekies word om saam met die res van die Stalmaats die beginnerruiters te help.

Daar wag hope avonture vir haar saam met Sugarplum, die spierwit merrie wat dadelik diep in haar hart kruip, en al die ander ongelooflike perde wat deel is van die ryskool. Die katterige Vinette is gedurig besig met allerlei planne om die lewe vir Anri, Megan en Karen moeilik te maak. En dan is daar Jacques, die ryskooleienaars se seun met sy blou oë, wat net so mal is oor perde en Anri se hart vinniger laat klop.

Word deel van die pret en opwinding by die Dagbreek-ryskool saam met Anri en die ander Stalmaats!

Hierdie omnibus bevat die volgende vyf titels:
1. Perdedrome
2. Totsiens, Sugarplum (ATKV-kinderboektoekenning 2007)
3. Anri se plan
4. Die spookperd (ATKV-kinderboektoekenning 2008)
5. Die beroemde ruiter