In Nieu Seeland is alles groen

My naam is Elke en ek bly nou vir die laaste drie jaar in Nieu Seeland. Ek was 10 toe ons getrek het. Ons het in Suid-Afrika in Bloemfontein gewoon. Daar was nogal baie misdaad. My ma is ‘n dokter en het in SA van 7:00 tot 23:00 gewerk en een naweek uit ses af gehad dit het veroorsaak dat ons haar omtrent nooit gesien het nie. Dit was een van die redes dat ons getrek het. ‘n Ander was dat die misdaad erger en erger begin raak. So toe besluit my ma en pa dat ons gaan kyk of dit sal werk en sê ons moet dit as ‘n avontuur beskou.

Ek geniet dit baie hier in NZ want dit is alles so groen en mooi. En daar is feitlik geen misdaad nie wat meen ons kan vir die eerste keer in ons lewe alleen rondry met die fiets of stap.

Ons bly in Hamilton stad. Dit is ‘n mooi dorp langs die rivier. Daar is
omtrent geen plekke om klere te koop nie behalwe een of twee winkels. Nou werk my ma een uit agt naweke en begin werk 7:30 en is tuis by 17:00/18:00 dit meen dat ons in die naweke baie kere see toe ry of as dit winter is gaan ski of ons gaan seil op die meer.

Ek geniet dit baie hier in NZ maar ek mis my familie baie en kan nie wag tot ons weer terug gaan vir kuier nie. Ek mis ook die diere want ons het ‘n wildtuin plaas gehad en al diere wat hier is, is possums en hase en ‘n paar voëls. Maar daar is voordele en nadele waar ook al n mens bly ‘n mens moet net die beste maak van ‘n saak en dan sal jy dit dalk baie geniet. Ek sal altyd na Suid Afrika dink as tuis.

Ons lewe in Jakarta, Indonesië

Ons het op 30 Julie 1999 die oggend hier in Jakarta, Indonesië geland. Ek het gehoop dat dit dieselfde sal wees as al ons ander buitelandse poste wat my pa al gehad het maar dit was toe nie…

Die plek is ongelooflik mooi en die “shopping malls” is ongelooflik groot. Ek vind dit baie moeilik om hier te bly omdat ek gewoond is om rond te loop, maar hier moet ‘n mens ry om êrens te kom. Die lugbesoedeling is ongelooflik dik – ‘n mens kan nie eers die sterre of die maan sien nie.

Op die oomblik is ek in die Australiese Internasionale Skool. Ons is omtrent so 21 kinders in Gr11. Dis nogals lekker en amper dieselfde as die skole in Suid-Afrika. Ons doen net ‘n bietjie baie meer werk en ons doen nou op die oomblik werk wat die kinders in Suid-Afrika in matriek doen.

In die middae wanneer ek van die skool af kom, slaap ek, gaan na die massiewe winkelsentrums toe, of doen my huiswerk. Naweke is dit so bietjie anders: ek spandeer meeste van my tyd op die internet en doen oefeninge om my gedagtes op ‘n ander plek te sit as Suid-Afrika omdat ek so baie verlang na almal…

As ‘n mens na Jakarta kyk en dan na Suid-Afrika, sal ‘n mens eerder Suid-Afrika kies. Die redes daaroor sal wees: Jakarta het ongelooflike dik lugbesoedeling en daar’s elke dag ‘n verkeersophoping en mense wat baie daarvan hou om hulle toeters te druk. Die plek is nooit rustig nie – daar’s altyd ‘n geraas. Waar as ‘n mens nou in Suid-Afrika is, hoor jy nie heeltyd toeters en jy sit nie twee ure in ‘n kar net om by die naaste winkelsentrum uit te kom wat net twee blokke van jou huis af is nie. ‘n Mens kan ook nie hier loop nie, want dis te warm. Hier’s ook nie winter nie. Die hitte reg deur die jaar put ‘n mens maar baie uit.

Mens moet versigtig wees met wat jy eet, en moet veral nie op straat kos koop nie – jy sal sommer ‘n week of twee in die bed of in die hospitaal lê. Ek het daardie fout gemaak en vir drie weke in die bed gelê en sop met brood geëet. Hotelkos en restourantkos is die beste – amper beter as die kos in Suid-Afrika en proe net so klein bietjie anders, maar is lekker en eetbaar. Ons moet ook baie funksies en etes bywoon.

Met al die plek se nadele is daar baie voordele. My pa vat my en my ma so elke derde naweek uit Jakarta sodat die stress so bietjie afsak… Die vakansieplekke hier is wonderlik – veral die duisende eilande: tropiese visse in kristalblou waters met helder son en pragtige blou lug. Wonderlik! Net wat ‘n natuurpersoon nodig het na ‘n harde paar maande in die besoedeling en verkeer…

Maar basies al soos ek maar altyd se “DIE GRAS IS GROENER BY DIE HUIS”

Die pad na die middelskool

Fukuoka Japan

Elke oggend moet ek omtrent tien voor agt waai om voor vyf-en-twinting oor agt, wanneer die skool se eerste klok lui, by die skool te wees.

Ek begin met ‘n spesiale, geteelde paadjie met bome om dit en ‘n klein kanaaltjie wat parallel saam met die paadjie loop.

Af en af loop ek met die paadjie totdat ek by die hoofstraat uitkom.

By die hoofstraat loop ek nog so entjie aan voordat ek weer uitdraai na ‘n nou teerstraatjie wat so half ver van alles is. Die paadjie loop tussen klomp huise deur wat almal soos ou tipiese middeleeuse huise lyk. Dit voel ook soos die natuur.

Die paadjie kom na ‘n ruk uit by nog ‘n hoofpad. Nou loop ek ‘n hele stuk met die hoofpad totdat ek uitswaai na ‘n sy paadjie wat my dadelik in die skoolgronde bring.

As ek by die hoofpad uitkom, is die hoofpad nie vol karre nie, maar VOL skoolkinders. Die verkeer word baie opgehou deur al die kinders. Dit is kinders wat na een van die twee Laerskole toe gaan, of kinders wat ook na my Middelskool toe stap en laastens, die Hoërskoolleerlinge wat met fietse na die Kashihara Hoërskool toe ry.

‘n Reënerige oggend

Die weer in Japan verskil amper elke dag, byvoorbeeld reën, sonnig, wind, reën, sonnig, wind . . . Baie oggende moet ek na die skool toe loop wanneer dit reën.

Een reëndag toe ek die hoofpad instap, het ek nog nooit so iets gesien nie. Die heel eerste stukkie pad wat ek loop is dieselfde pad as na die “Sho-gakko” (laerskool), met ander woorde daar is klomp klein Japanesies op my pad, veral voorskoolse kinders. AL die kindertjies het sambrele, en al die kindertjies het dieselfde soort sambrele wat dit baie besonders maak. Omdat ek nogal lank is, lyk dit vir my asof die hele straat VOL lopende sambrele is.

Toe ek by die deel van my roete kom waar ek die Hoërskoolleerlinge teëkom, was ek verstom. Toe ek hulle sien, het ek heel eerste vir ‘n sekonde of twee gedink dat hulle “astraunots” is. Omdat hulle op fietse ry, en dit nie maklik is om ‘n sambreel vas te hou nie, dra hulle almal sulke snaakse reënpakke. Die pak bedek hulle lyf van bo tot onder. Die materiaal van die pak is spierwit en dit lyk verskriklik dik. Die deel waar hulle gesig is, word bedek met deurskynende plastiek.

Dit het nogal snaaks gelyk!