Dankbaar

Man sit by die tafel en maak ernstig berekeninge. Sug-kort-kort hardop en vryf moedeloos oor sy grys kop en verrimpelde gesig. Kry koud. Klok slaan een- uur. Hy skrik, kyk op en ontspan dan weer. Gaan weer aan. Vrou kom in en hang ‘n kombers om sy skouers en sit koffie neer.

VROU: Hier is ‘n bietjie koffie. Die suiker is ongelukkig op. 
MAN: Mmm. 
VROU: (Gaan staan agter hom, vryf sy skouers) Kom slaap tog ou man. Dis koud en laat en môre moet jy weer vroeg op wees. 
MAN: Amper, Ella. Nie meer lank nie.
Vrou loop uit vertrek, kom oomblik later weer terug met stopwerk. Gaan sit op stoel en begin.
VROU: (Na ‘n hele ruk) Lyk dinge al beter, Willie?
MAN: Alles behalwe. Soos ek bereken kan ons die plaas vir ‘n maand, dalk twee nog onderhou. Tensy dit binnekort begin reën.
VROU: (Staan op en loop na venster. Maak dit oop en steek kop buite uit. Trek terug, maak venster toe en draai na man.) Nie vanaand nie, my man. Kan elke laaste ster sien. Ons moet maar net aanhou bid.
MAN: Ek’s moeg gesmeek (Haal bril af, gooi dit vererg neer, vryf oor oë en neem koffiebeker.) ‘n Man kan net soveel keer op sy knieë gaan voordat hy ander planne moet maak.
VROU: A nee a, Willie! Jy kan nie so praat nie! (Loop na tafel, gaan staan en begin papiere bymekaar maak.) Ons het soveel om voor dankbaar te wees.
MAN: (Snak verontwaardig.) Soos wat?
VROU: Soos die plaas. En die huis!
MAN: Waarvan ons beide binnekort gaan verloor, Ella!
VROU: (Kalmer, paaiend.) Ou Man; ‘n bietjie droogte tref almal maar hard.
MAN: ‘n Bietjie droogte! (Ontstoke.) Ek kan nie eers meer onthou wanneer laas daar ‘n ou nattigheidjie geval het nie!
VROU: Bedaar, Willie..!
MAN: (Staan op, slaan koppie hard neer.) Bedaar? Hoe moet ek bedaar wanneer ons alles wat ons, ons lewens lank so hard voor gewerk het binnekort gaan moet opgee? (Loop na gehoor met sy rug na Ella gekeer.)
VROU: (Gaan staan agter hom.) Die Here sal voorsien, Willie.
MAN: Maar wanneer Ella? Wanneer? (Loop en gaan sit op bank, maak koerant oop.)
VROU: (Loop na fotorak en vat versigtig aan foto’s.) Ek verlang na die kinders. Wonder hoe dit met hulle gaan. (Loop na man.) Dit is iets om voor dankbaar te wees. Herinneringe wat ons lewens met geluk gevul het en wat niemand ooit van ons kan wegneem nie.
MAN: Vier herinneringe wat duisend myl hiervandaan is, terwyl hul pa met sy gat in die skuld sit! (Steeds agter koerant.)
VROU: (Loop na ander tafel, tel kombers op en sit dit op die tafel neer.) Ek hoor Bettie Haasbroek van Klipfontein is annerdag oorlede.
MAN: Mmm. (Steeds agter koerant.)
VROU: Gesondheid, Willie.
MAN: (Laat sak koerant.) Hoe sê jy, Ella?
VROU: Ons kan dankbaar wees vir dit, ons gesondheid. Jy’s 68 jaar oud, Willie!
MAN: Gesondheid? My rug is gedaan, my knieë het’n kwarteeu gelede al die gees gegee en my tande val vinniger uit as die paar hare op my kop!
VROU: Maar, Willie….
MAN: Nee, Ella! Dit alles terwyl ek dag na dag vir ure lank in die landerye sweet om te red wat daar te redde is! (Gooi koerant neer en staan op.) Vir wat Ella? Vir wat?
VROU: Vir mekaar Willie, vir mekaar. (Kyk na ringvinger met eenvoudige troupand.) In meer as 40 jaar het ek nog nooit eers daaraan gedink om hierdie ring af te haal nie. Vir daardie voorreg is ek dankbaar, Willie. Ek is dankbaar vir ons! (Draai met rug na hom.)
MAN: (Man laat sak kop en lyk ietwat skuldig/ongemaklik. Loop na waar kombers lê, tel dit op en draai dit om haar. Draai haar gesig na hom toe.) Ek ook Ella, Ek ook! 
Loop af terwyl donderweer brul en blits en reën teen ruite afloop.

Romeo en Juliet 2: Die Hiernamaals

(Die ligte kom aan. In die middel is daar ‘n park-bankie. JULIET kom op.Sy is alleen, bang. Sy het ‘n mes wat by haar maag uitsteek. Sy is op soek na ROMEO.)

JULIET: Romeo! Romeo? Waar is jy tog my Romeo?

ROMEO: (af) Juliet?

(ROMEO verskyn uit ‘n donker vleuel uit. Hy is so wit soos ‘n laken.)

ROMEO: Juliet!

(Hulle hardloop na mekaar en wil mekaar omhels, maar die mes in Juliet se maag keer hulle.)

ROMEO: En dit? (wys na die mes) Is dit ‘n fashion statement of iets?

JULIET: (kyk af) O, ja. Hou jy daarvan? Ek het dit vir jou gedoen.

ROMEO: Dit is so cool! En dit pas so mooi in hierdie plek se modes in.

JULIET: Ek het so opgelet. Die mense hier is so gevrek. Waar is ons?

ROMEO: Ek… ek is nie seker nie.

(Hulle gaan sit op die bankie.)

ROMEO: Kom ons sien. Toe ek laas by was, was jy dood. Toe drink ek ‘n botteltjie gif…

JULIET: Nee, jou idioot. Ek was nie dood nie! Blêddie tipies mansmens. Ek kan nie my oë vir ‘n minuut rus nie dan dink jy daar is fout.

ROMEO: Wil jy vir my sê ek het verniet daardie aaklige Rattex gedrink?

JULIET: Ja, jy het. En nou moet ek ook met die nagevolge saamleef. (Sug) Ai, die dinge wat ‘n mens nie vir liefde sal doen nie.

ROMEO: Kom weer? Wat presies het jy vir liefde gedoen?

JULIET: O, ja. Jy weet mos nie! Toe ek jou so leweloos daar sien lê het ek myself doodgesteek. (Sy wys af na die mes.)

ROMEO: Regtig? Dit is so sweet van jou! As dit nie vir daai mes was nie het ek jou nou gedruk.

JULIET: Daar is ook nog ‘n ander probleempie: ons weet nog steeds nie waar ons is nie. (Sy sien iemand verbyloop.) Daar gaan Macbeth nou. Gaan vra hom.

ROMEO: Juliet, asseblief. Ek kan dit self uitfigure.

(Stilte. Romeo sit en dink waar hulle is. Juliet lyk ongeduldig.)

JULIET: Weet jy al?

ROMEO: Nee.

(Nog ‘n stilte.)

JULIET: En nou?

ROMEO: Nee.

(Juliet vererg haar.)

JULIET: Aag, as ons op jou manlike instinkte moet staatmaak gaan ons vir ewig hier sit. Gaan vra die man nou!

ROMEO: Vergeet dit! Net swakkelinge vra vir aanwysings.

(Juliet vererg haar self weer.)

JULIET: (spring verwoed op) My ma het altyd gesê as jy iets gedoen wil hê, moet jy dit self doen. (Sy loop na die denkbeeldige Macbeth.) Meneer, kan jy my asseblief sê waar ons is?

(Sy kom doodstil, geskok terug na Romeo. Hy kan sy nuuskierigheid nie meer hou nie.)

ROMEO: Wat’s fout? Wat sê hy?

JULIET: Ons is…

ROMEO: Wat? Waar is ons?

JULIET: Ons is in die… die Hiernamaals.

ROMEO: Nee! Dit kan nie wees nie! Ek het my hele lewe nog voor my gehad! Ek is te jonk vir die plek! Dit is als jou skuld!

JULIET: My skuld? Hoe verwag jy dat jy gaan bly lewe na jy ‘n hele bottel gif gedrink het? Dis als jou skuld dat ons nou hier sit!

ROMEO: Stop playing the victim! As dit nie vir jou lewelose lyfie was nie sou ek nie my mond aan die goed gesit het nie.

JULIET: Ek het dit gedoen vir jou! Vir ons!

ROMEO: Ja, en kyk wat het gebeur. Nou is ons altwee so dood soos mossies. Pushing up daisies

JULIET: Die emmer geskop. Die lepel in die dak gesteek.

ROMEO: Oukei…

JULIET: As tot as. Wurmkos!

ROMEO: Oukei! Ek kry die prentjie!

(Hulle sit weer op die bankie.)

JULIET: Darem is ons saam.

ROMEO: Vir altyd…

JULIET: En ewig…

ROMEO: Tot in lengte van dae…

JULIET: Sonder ‘n amen!

(Hulle is glad nie so entoesiasties as wat jy sou verwag nie. Hulle skuif al verder van mekaar af weg met elke ‘vir ewig’ en ‘vir altyd’ ens. Dan is daar ‘n lang stilte soos die ligte uitdoof.)

JULIET: Wel, daar is tog een ligstraaltjie.

ROMEO: Wat is dit?

JULIET: Ons hoef nie meer in rympies te praat nie.

(Ligte doof totaal uit.)

Interkom

Sitkamer van die koshuis. Melissa, ‘n mooi meisie met bruin hare en ‘n besonderse kort skoolrompie loop heen en weer oor die vloer. Haar hare is opgedoen en haar hemp hang oor haar romp. Sy het donker ooggrimering aan en haar das is losgemaak. Sy lyk angstig en kyk kort-kort verby die verhooggordyn. ‘n Blonde meisie, Wilmien, verskyn op die verhoog. Sy dra ‘n prefektebaadjie en lyk netjies in haar skoolklere.


MELISSA: (gesig helder op en sy klink baie aansitterig) Wilmien, my ou vriendin! Hoe gaan dit?

WILMIEN: (rol haar oë en sug) Wat soek jy nou weer, Melissa? Jy weet ek stel nie belang in jou welsyn nie.’

MELISSA: (lyk ewe skielik opreg, loop na Wilmien, vat haar hand, en lei haar om te sit op die bank) Wag, nou, Mien. Ek en jy het al ons verskille gehad, en ek was seker verantwoordelik daarvoor, maar…

WILMIEN: (ruk haar hand weg, trek haar oë op skrefies en staan op)Ons ou verskilletjies! Noem jy dreigboodskappe en skelname in die openbaar verskilletjies? Jy is ‘n slang, en jy was al een van standerd ses af. En noudat ek ‘n prefek is, is jy so bitter soos koffie sonder suiker. Jy was mos veels te beroemd om nie die leerlingraad te maak nie…

MELISSA: (kyk weg van wilmien se blik af, en skuif in haar sitplek sodat haar rug na Wilmien wys) Ek probeer vir jou jammer sê, en dan gooi jy die prefek-ding in my gesig. Het jy al ooit daaraan gedink dat ek wens ek kon jy wees? Jy het alles… vir Ben, die prefek-baadjie en jou ouers haat mekaar nie soos myne nie.

WILMIEN: (praat met die dak) hemel tog! dat jy nou sulke loutere twak sal praat! Ek ken jou. (Kyk na Melissa en wys met haar vinger)Jy drink veels te lekker om ooit ‘n prefek te wou wees, daar is vrek baie waar Ben vandaan kom en jou ouers gee vir jou alles wat jou hartjie begeer! Wat probeer jy bereik met hierdie gesprek?

MELISSA: (spring ook nou op, gryp vir Wilmien aan haar skouers en draai haar sodat hulle mekaar aangluur) Ben was my ou. Jy het hom afgevry en ek dink jy is die slang.

WILMIEN: (ruk haarself los en lyk spyt. loop na die voorkant van die verhoog) Ek dag ons is nou al mooi groot. Dat twee sewentienjariges baklei oor ‘n ou, is ‘n helse grap.

MELISSA: Ek weet dit. En ek probeer met jou vrede maak. Ben is dit nie alles werd nie.

(Daar is ‘n paar oomblikke van stilte.)

WILMIEN: (Haar stem raak sagter en sy lyk skaam terwyl sy na die vloer kyk en met haar voet daarteen vee.) Ek en Ben het eers saamgekom nadat julle twee uit is. Jy weet ek het nie alles beplan nie, né Mel?

MELISSA: (sug en gaan sit weer) Ek het dit seker die hele tyd geweet.

WILMIEN: (gaan sit ook en leun terug in die bank) Kom ons begin oor. Ek mis die ou dae toe ons nog hier gesit en skinder het.

MELISSA: (kyk na die luidspreker van die interkom en glimlag skelmpies. Kyk weer terug en die glimlag verdwyn) Okay. Waaroor wil jy skinder?

WILMIEN: O genade, sommer oor hierdie hele koshuis. Die mullet-meisies daar op die tweede vloer, ou juffrou Griesel se nuwe spanner van ‘n mannetjie wat gereeld hier oorslaap….

MELISSA: (skuif na die voorpunt van die bank, haar oë groot en opgewonde) Het jy ook gehoor van Ryan wat gevang is met dagga?

WILMIEN: Ja, ek het so-iets gehoor. Hy het voor my eenkeer gerook… hy sal sy plek in die rugbyspan kwyt wees as ek vir iemand belangrik sê….

MELISSA: Toemaar, ou Griesel kan jou nie hoor nie. Dit sal ‘n sonde wees teen die vroulike geslag as hy geskors moet word.

WILMIEN: Hmmmm! Wat ‘n mooi man is hy nie…. maar ‘n stouter ook! Hy vry heeltemal te letterlik in die bondel. Sy laaste prooi was mos Gerrida Lourens, jy weet mos daardie vettetjie op ons gang? En hy en Gerrida se kamermaat is mos veronderstel om ‘n paartjie te wees…

MELISSA: O… so Gerrida knyp haar kamermaat se kat in die donker?

WILMIEN: Glo my, van die stories wat Gerrida my al vertel het, knyp sy ook maar ‘n paar ander katte. Ek weet nie hoe sy dit regkry nie- met daai lyf het sy seker ander talente….

MELISSA: So niemand weet van Gerrida en Ryan nie? Wat sou gebeur as die kamermaat moes uitvind?

WILMIEN: Die hel sal losbars in daardie kamer. En ek sal kniediep in die kookwater wees as die storie uitlek… Dit herinner my, moenie vir iemand sê nie..

MELISSA: (klink heeltemal oordrewe) Wie, ek?

WILMIEN: Jy weet mos stories versprei hier soos ‘n veldbrand in die Karoo.

MELISSA: (Lyk baie selfvoldaan. staan op en loop stadig agter die bank verby tot agter wilmien terwyl sy praat) Ek stem saam. Jy moet mos maar versigtig watter geheime jy aan ‘n slang verklap…

WILMIEN: (haar oë vernou. sy staan op en tree stadigaan agteruit)Jy’t dan gesê jy gaan niks sê nie.

MELISSA: (loop stadig, maar doelgerig na Wilmien en tik haar teen haar skouer) Ek sal niks sê nie, my ou vriendin.Dis net jammer vir jou dat die koshuisinterkom nog die hele tyd aan was… (sy wys na die interkom)

WILMIEN: (oë rek, slaan haar hande na haar hare en raak histeries) Wat!? Wat? Jy lieg! Ek weet jy lieg…

MELISSA: (lag kliphard) Jy wens, mevrou prefek! Kyk wie’s nou beroemd, of sou ek sê berug?

WILMIEN: (haal ‘n paar keer diep asem en hou haar kop hoog) Ek hoop jy weet dat jou lae houe nie vir Ben gaan terugbring nie. Of jou ouers gaan terugbring bymekaar nie. En hier is die beste een: Jy bly ‘n slang, al vang jy ‘n arend! (storm uit)

(Melissa bly staan in geskokte stilte. Gordyn sak.)

Elke aksie het ‘n reaksie

TONEEL 1

Mia sit op die tuinbankie en lees tydens pouse. Philip kom aangestap met sy skooltas en rugbybal onder sy arm. Mia sit die leesboek neer en Philip gaan sit langs haar.

Philip: Môre, pop. (glimlag breed)
Mia: Môre, Philip. (glimlag skamerig en kyk skuins af)
Philip: So, hoe was die redenaars gisteraand?
Mia: Dit het goed gegaan, dankie. Ek het… (Philip val haar in die rede)
Philip: O! Weereens jammer dat ek dit nie kon maak nie. Jy weet gisteraand se game was belangrik en after-all die laaste een van die seisoen.
Mia: Ek verstaan. (verleë) Hoe het dit gegaan met die rugbywedstryd?
Philip: Ag, jy weet mos. Niemand kan verby hierdie yster kom nie. Ons het hulle getrap, 35-12.
Mia: Sjoe, ek het geweet julle sal wen. Wens ek kon julle kom ondersteun het.
Philip: Ja, maar vir jou kom akademie mos eerste! (sarkasties)
Mia: (kyk verleë na hom) Ek is jamm… (Philip val haar in die rede)
Philip: Ek grap net met jou, pop. Maar dit is ‘n jammerte dat jy my beste drie van die seisoen gemis het. (staan op en beduie stap vir stap sy drie wat hy gedruk het) Jy moes dit gesien het, JP het uit die skram gevlieg en vir die beste vleuel gepass. Dit is nou ek. (sarkasties) Ek het drie ouens van die opposisie geside-step, amper die een ou afgeskryf en die wendrie onder die pale gaan druk.
Mia: Baie geluk. Ek is trots op jou. (glimlag vir Philip)
(Philip glimlag vir haar en soen haar op haar voorkop)
Philip: Hoe lyk jou vakansieplanne?
Mia: Ek het nog nie eintlik planne nie, hou maar my opsies oop vir die drie weke wat voorlê. Hoekom vra jy? 
Philip: Ek, JP en sy meisie gaan vir die eerste week Margate toe. Ons het my ouers se vakansiehuis vir onsself. Het gedink jy sal dalk wou saam kom?
Mia: Dankie vir die uitnodiging. Glo nie my ouers sal ‘n probleem hê nie, hulle gaan Engeland toe vir besigheid en soos altyd is ek weer alleen by die huis.
Philip: Great! Almal slaap môre-aand oor by my huis, dan ry ons Saterdagoggend.
Mia: Ek kan nie wag nie. Een vakansie sonder enige bekommernisse en ek kan dit saam met jou geniet. (kyk vir Philip in sy oë terwyl hy haar op haar hand soen)

(Die ligte verdof en die liedjie van Taio Cruze: Break Your Heart begin speel)

TONEEL 2

‘n Maand na die vakansie is verby. Philip sit op die tuinbankie tydens 2de pouse. Mia stap hartseer na Philip toe en konfronteer hom.

Philip: (Sien vir Mia en staan op om weg te loop)
Mia: Nee, wag Philip. Ek moet met jou praat, dit is baie belangrik.
Philip: Ek kan nie nou chat nie, ek is besig.
Mia: Soos die afgelope maand, nè? (ontsteld)
Philip: (vererg hom) Mia, kom oor dit! Wat gebeur het die vakansie was lekker, maar dit is nou verby.
Mia: (Gaan sit op die tuinbankie en laat sak haar kop) Dit is dalk verby, maar ek sit nou met die gevolge.
Philip: (ongeskik) Waarvan praat jy? (tel sy skooltas op en loop)
Mia: (Spring op en skree ontsteld) Philip! Ek is swanger…
Philip: (Stop in sy spore, draai om en vra afgerammel) Wat?! Hoe weet jy dit is my kind?
Mia: Jy was my eerste en enigste. (Sy haal ‘n tissue uit haar sak uit)
Philip: Hoe seker is jy, jy is swanger?
Mia: Ek is ‘n week al oor my siklus en was gister toe by die kliniek. Hulle het my getoets. (Kyk af na haar hande wat vroetel met ‘n tissue) Ek is swanger.
Philip: (Sug en vra moedeloos) Wat gaan jy doen?
Mia: (Kwaad en ontsteld met klem op die “ek”) Wat gaan ék doen? Nee, Philip! Wat gaan ons doen? Moet nie vir een oomblik dink jy gaan my alleen los in hierdie situasie nie.
Philip: Ek is jammer…
Mia: Ja, ek ook. (Bly ‘n rukkie stil) Ek is jammer dat ek myself kon toelaat om vir jou mooi praatjies te val. (Sarkasties) “Mia, jy is pragtig. Ek wil my lewe met jou deel. My liefde aan jou bewys.”
Philip: Mia, ek… (Mia val hom in die rede)
Mia: Moet nie eers daaraan dink om ‘n aborsie voor te stel nie. Ons gaan die baba hou. Ons kan dit maak werk… (Philip val haar in die rede)
Philip: (Gryp Mia aan haar skouers en sê vererg) Luister vir my! Jy was nie my eerste nie, al het ek so gesê. Voor die vakansie op die rugbytoer het ek en die ouens gaan kuier. Ek het dinge te ver gevat en saam ‘n random meisie geslaap. (Bly ‘n rukkie stil)
Ek was dronk en het nie geweet wat ek doen nie.
Mia: (praat vinnig) Dit maak nie saak nie, wat gebeur het daardie aand is verby. Die probleem is nou!
Philip: (vererg) Mia, jy luister nie!
Mia: (begin huil)
Philip: (bewerige stem) Ek het my voor die vakansie laat toets en die uitslae… (bly ‘n rukkie stil en kyk af) Ek weet nie hoe om dit vir jou te sê nie.
Mia: (ontsteld) Wat, Philip? Wat kan jy nie vir my sê nie?
Philip: Ek is positief… 
Mia: (kyk hom stip in sy oë) Positief?
Philip: (kyk af) Mia, ek het vigs…

(Skoolklok lui)
(Ligte verdof en gordyne gaan toe)