Skriknag in die hotelkamer

Op ‘n bitter koue, reënerige aand hou ‘n man voor ‘n hotel stil. Na ‘n dag se reis sal ‘n warm bed nou waardeer word.

Die knetterende kaggel

Hy kry ‘n warm ontvangs en die knetterende kaggel trek hom dadelik soos ‘n magneet nader. Na ‘n heerlike warm bord sop stap hy met krakende houttrappe op na sy kamer. Hy lê heerlik en ontspan in die bad en hy voel hoe die moegheid uit sy liggaam vloei. So teen tienuur skakel hy sy bedliggie af en raak dadelik aan die slaap.

Na ‘n paar uur van slaap is daar meteens ‘n geruk en gepluk aan die venster. Sy hele liggaam verstar. Dit is asof daar ‘n wind deur die kamer dwarrel, maar hy besef hy het tog nie eers die vensters oopgemaak nie, weens die koue buite. Hy probeer egter om in beweging te kom, maar sy ledemate voel so swaar soos lood. Skielik kraak die vloere asof daar iemand beweeg. Daar is beslis iemand saam met hom in die kamer, dit kan hy aanvoel! Sy nekhare rys en dit voel asof sy hart by sy keel wil uitbons. Hy hoor hoe die kas se deur oopgaan, ‘n gevroetel, en hoe die kas se deur weer toegaan. Die man besef dat hy nie net kan aanhoor wat om hom aangaan nie, maar dat hy sal moet kyk wat hier aangaan.

wit gedaante

Hy moet homself regruk en met een beweging skakel hy die bedliggie aan, net toe ‘n wit gedaante by die deur, wat na die gang lei, uitglip. Dit neem hom ‘n paar sekondes om sy bene in beweging te kry. In die gang was daar egter niks te bespeur nie.

Totdat die nuwe dag gebreek het, het hy nie ‘n oog toegemaak nie. By die ontvangs het hy verneem dat dit ‘n jaloerse vrou was wat gereeld haar opwagting maak, sodra daar ‘n man in die kamer oornag. Sy is ‘n paar jaar gelede in die kamer deur ‘n minnaar vermoor en in die kas weggesteek. Die oornagplek sal hom beslis nie gou weer sien nie!

Die dans van die spoke

Vyfuur het heeltemal te gou aangebreek, en een vir een het ek my maats totsiens gewuif. Net ek en Susan was oor na ‘n verjaarsdagpartytjie waar pret en plesier net nie kon ophou nie. Ons het gedink aan die “blindemol” in die swembad, die heerlike eetgoed, en die pragtige stel potlode wat Sunette met die skattejag gewen het.

Nadat ek en Susan vir oulaas nog ‘n groot stuk sjokoladekoek ingewurg het, het ons weer al die pragtige geskenke gaan sit en bewonder. Die mooiste vir my was die tassie vol grimering. Die pragtige stel kunspotlode het egter nie ver teruggestaan nie. Ek was ook hoog in my noppies met die botteltjie parfuum en die dagboek met die slotjie aan. Dié verjaarsdag sou ek nie sommer gou vergeet nie!

Ek en Susan het besluit om sommer dadelik die grimering in te wy. Sy het my soos ‘n heks laat lyk, en toe maak ek haar sommer ‘n hanswors! Ons het geskud soos ons gelag het.

Toe dit begin donker word het ons besluit om ‘n fliek te kyk. Eers het ons vir ons heerlike springmielies gemaak, en ons rustig op die bank tuisgemaak. Dit was ‘n regte bangmaakfliek, maar ons was glad nie bang nie…totdat ons iets eienaardigs gehoor het. Dit het ‘n bietjie geklink soos ‘n vals viool. Ek wou my nie daaraan steur nie, maar toe dit weer gebeur, het my hare behoorlik orent op my lyf gestaan. Ons het beide gelyk opgespring…

Die volgende oomblik het ons ‘n wit gedaante voor die venster sien verbysweef. Nog een het aan ‘n tak gehang! Ons het gelyk geskree en opgespring. Net toe het my nagrok verstrik geraak in my stoel, en ek het myself disnis geval. Ons het sonder ophou gegil dat die berge antwoord gee!

Gedaante hang aan die tak

My pa het geweer in die hand aangestorm om te kyk waaroor al die lawaai is. Hy sit toe dadelik die buiteligte aan, maar van spoke was daar geen teken nie. Wat hy wel gevind het was my liewe boetie en sy irriterende maatjie met my ma se nuwe wit lakens om hulle gevou. Die onaardse geluide wat ons byna hartversaking laat kry het, het van meneertjie se blokfluit gekom. Ek sê mos al lank dat ma net haar geld op sy blokfluitlesse mors.

Ek was so woedend dat ek op daardie oomblik gewens het dat ek liewer nie ‘n boetie gehad het nie. My gesig was bloedrooi en opgepof! Hy het soos gewoonlik my pret bederf.

‘n Rukkie later kon ons toe darem lag oor die nare gebeurtenis. Wat ons nog beter laat voel het, was dat my ma hom vir ‘n hele maand lank gehok het, en sy enigste plesier was…om blokfluit te oefen!

Spookkinders

Eendag lank gelede was daar ‘n klein dorpie met die naam “Kraans Karoo”. In die middel van hierdie dorpie was daar ‘n groot skool. Daar het ook drie dogtertjies in hierdie dorpie gewoon met die name Alein, Leanie en Lenei. Hulle was al drie saam in een klas in die groot skool in die middel van die dorp. Hulle klasjuffrou, Mevrou Lehyt, was ‘n nare vrou en wou hulle altyd straf.

Een Vrydag toe hulle die laaste periode by juffrou Lehyt was, gaan sy uit die klas uit om vir hulle ‘n klastoets af te rol. Die klas begin vreeslik te raas en ewe skielik en onverwags spring juffrou Lehyt by die deur in en sê: “Omdat julle julself nie kan gedra nie, sal julle elkeen vir my vyf spookstories skryf oor die naweek, waarvan elkeen uit 300 woorde moet bestaan.” Daardie middag toe die skoolbus die kinders gaan aflaai, breek ‘n vreeslike storm uit en net toe die busdrywer om die draai gaan op Kraans Karoo om vir Alein, Leanie en Lenei af te laai, gebeur iets vreesliks. Die bus gly, dit rol teen die krans af en almal wat nog in die bus was is DOOD.

Daardie aand toe juffrou Lehyt net so bietjie aan die slaap raak hoor sy vreeslike aaklige geluide in haar badkamer. Sy besluit toe om te gaan kyk wat dit is. Sy klim uit haar bed, trek haar kamerjas aan en loop stadig in die gang af. Krrrrk, krrrrk, krrrrk, maak die hout onder haar voete.

Sy vat die deurhandvatsel, sy draai dit versigtig oop, maar toe sy binne kom was daar niemand daar nie. Juffrou Lehyt loop toe terug na haar slaapkamer. Toe sy by haar deur instap sien sy die spoke van die drie dogters wat sy die meeste gehaat het: Alein, Leanie en Lenei. Een van die spoke vra toe: “Hoekom lyk juffrou so bleek? ‘n Mens sou dink juffrou het ‘n spook of drie gesien.”

Juffrou Lehyt klim versigtig in haar bed en toe begin die spook van Leanie skielik een van haar spookstories vertel. Elke aand het Leanie vir haar ou juffrou ‘n storie vertel, en toe haar stories klaar was, was dit Lenei se beurt en later aan Alein s’n. Die juffrou kon dit nie meer uithou nie en die volgende aand ry sy met haar kar tot op die punt van Kraans Karoo… en spring af.

En dit was die EINDE van Juffrou Lehyt se narigheid.