Net na die storm

Drie graad neges is op pad KwaZulu-Natal toe vir ’n wetenskap-ekspo. Chloe, Mbali en Dante ken mekaar nie regtig so goed nie, maar hierdie reis gaan alles verander … Die ekspo skop af te midde van swaar reën, en halfpad deur die oggend kom die waarskuwing om die area te ontruim weens dreigende vloede en oorstromings. Meneer Theron probeer haastig om die kinders veilig te kry, maar dan word die bus deur ’n vloed meegevoer en hulle moet veg vir hulle lewens. Meneer Theron help hulle om uit die rivier te kom, maar verdrink in die proses, en juffrou Siboto is self ernstig beseer. Hulle kry vir die aand skuiling in ’n stappershuisie in die bos, maar voor hulle verder kan probeer stap, word hulle deur die water vasgekeer. Met net ’n paar blikkies kos, ernstige beserings en geen werkende selfone nie, moet hulle probeer oorleef tot redding kom … ás dit kom. ’n Naelbyt-oorlewingsavontuur wat tieners op die punt van hul stoel gaan hou!

Maleierkind – Stories uit die Bo-Kaap

Maleierkind – Stories uit die Bo-Kaap is ’n kleurvolle bundel verhale wat die geskiedenis, mites en volksverhale van die Kaapse Maleiergemeenskap laat herleef. Wendy Maartens bring klassieke Bo-Kaapse stories met warmte, humor en toeganklikheid aan jong lesers oor. Bekende verhale soos “Doederomandro”, “Die drie broers en die blou voëltjie”, “Boer en Jakkals”, “Die prinses en die goue vis”, en “Kasim en die mensvreter” verskyn saam met historiese afdelings oor die slawe se reis na die Kaap, die ontstaan van slawename, die aandklok, en Afrikaans se Bo-Kaapse wortels. Elke storie vier dapperheid, eerlikheid, liefde en hoop — temas wat vandag net so relevant is as eeue gelede.

Kombuistaal

Hierdie kookboek gaan die jongspan nie net laat smul aan heerlike kos nie, maar ook leer hoe om gesonde keuses te maak. Kombuistaal gee vir kinders die woordeskat en vaardighede om seker te maak dat hulle van jongs af weet hoe om kos te kies wat gesond en heilsaam is. Selfs grootmense word touwys gemaak oor hoe om slim keuses te maak om hul besige kinders gesond en sterk te hou – alles gebaseer op wetenskaplike navorsing. Boonop is dit ’n lekkerleesboek propvol nuwe gedigte deur Antjie Krog!

Ons laaste legendariese somer

“Besef julle hierdie Desember is legit ons laaste ordentlike somer-skoolvakansie?” Tobi, Rowan en Dean besef matriek gaan rof wees. Die onderwysers deel alreeds huiswerk uit en dis nou eers die einde van graad elf. Daarom moet hulle hierdie laaste Desember-vakansie legendaries maak. Hulle sit af na Vleesbaai – ja, daar is rêrig so ’n plek – en maak ’n paar reëls vir die vakansie: • Geen bakleiery nie. • Almal doen alles saam. • En geen meisies nie. Dis egter waar dinge skreeusnaaks ontspoor … ’n Legendariese misverstand, legendariese ramp, legendariese surfing, legendariese meisie, en dalk ’n legendariese soen – dit alles maak ’n legendariese somer.

LAPA Jeugromankompetisie 2023 Wenner

Bravo! Charlie

Wat het geword van elke man vir homself? Charlie Flets is 17, taai en ʼn 800m atleet op pad na SA’s. Behalwe vir sy skaaphond buddy, Bravo, en vriend, Jordan Jafta, probeer Charlie sy bes om solo te vlieg. Probeer … Dis makliker gesê as gedaan, veral as jou buddies moeilikheid kry. Terwyl hy bloed sweet op die atletiekbaan, maak hy seker dat hy nie per ongeluk ʼn barmhartige Samaritaan soos die res van sy gesin word nie. Hy fokus eerder op sy eie oorlewing, want hy haat dit dat sy pa ’n helikoptervlieënier in die lewensgevaarlike Soedan is en hy haat dit dat sy ma alles en almal in nood help. Soos die uiters vreemde tannie San wat haar intrek in sý buitekamer kom neem het. En dan tel Charlie teensinnig ʼn verlore joernaal op en teen sy beterwete probeer hy die eienaar opspoor. Skielik word sy eie planne van alleen leef ontspoor, want die joernaal maak ʼn ander wêreld vir hom oop.

LAPA Jeugromankompetisie 2023 Naaswenner

Donkerster

Carli Kirstein is 17 en so toegewyd aan wildbewaring dat sy soms van gevaar vergeet. Met twee veeartse as ouers was dit eintlik onvermydelik, maar haar passie maak haar nie juis deel van die gewilde groep nie. Die drie ouens in haar lewe maak ook dinge moeiliker. Wouter, toekomstige hoofseun en sterkrieketspeler; Stef, die sjarmante ouer buurseun; en Xander, ’n hardwerkende dromer en doring in haar vlees. Paaie kruis en die gevaar styg wanneer Carli uitvind dat wildstropers die naburige rehabilitasiesentrum vir leeus en ander groot katte teiken. Carli, haar vriende en haar jonger boetie, Julian, besluit om ’n paar aande te help waghou sonder dat hulle ouers weet. Toe dinge skeefloop is almal in gevaar, en dis Carli se skuld. Is daar vir hulle uitkoms?

LAPA Jeugromankompetisie 2023 Naaswenner

Noodlot

Na die naelbyt-avonture in Hartklop, is die gevaar nog lank nie verby nie. In ’n desperate poging om Colden uit mal koningin Melody se kloue te hou, roep Zander ’n Forya en’ tarna, ’n Elwe-grootwordritueel. Die vriendegroep word geskei en dis die begin van ’n nuwe avontuur en soeke na antwoorde deur die hele Tír na hÓige. Nereida, Lumi en Kai gaan na Oneiro waar Lumi vinnig leer dat Waternimfmans vleiend in hul soeke na beheer is, en Nereida begin wonder of Kai regtig so ’n slegte toekoms vir haar sal inhou. Zander en Colden bevind hulleself in Izua, waar Zander vir Raidan, die Prinses van Storms, ontmoet en skielik is dit maklik om van sy sielsgenoot, Nereida, te vergeet en ’n nuwe tuiste te vind. “Hierdie storie het begin by die Seisoene en Gruwels en dis ook waar dit moet eindig. Ek weet nie waarom Tír na hÓige julle kinders gekies het om hierdie beeldskone nagmerrie sy vrede te gee nie, maar na vandag is daar ’n teiken op julle rûe.” Tot die eindtyd? Nee wat, hierna is alles moertoe!

Zoem! Avontuur op ‘n eiland

Reis saam met Alex en Christiaan en beleef opwindende avonture! Wanneer Alex se ouer nefie, Christiaan, sy eerste kar kry, is dit die begin van die twee seuns en die hond, Tjomper, se tydreise. Want dit is nie sommer enige kar nie, hierdie kar het ’n spesiale knoppie wat jou na ’n ander plek laat ZOEM! In die eerste storie beland Alex, Christiaan en Tjomper op ’n eiland saam met ’n seerower. En die seerower wil nie sy eiland deel nie!