‘n Franse avontuur

Ons gaan Frankryk toe! Vir die volgende 7 en ʼn half maande gaan ons plekke sien en dinge beleef waarvan ons nog altyd droom... Volg twee vriendinne se avontuur in die vreemde

Dag 3

Chrismarie:

Op ons agenda cir die derde dag was daar net een ding: Le Chateau de Versailes. Die bekende kasteel waar Koning Louis XIV gebly het tot en met die Franse Revolusie. Ons het vir omtrent ‘n uur in die slangagtige ry buite die kasteelgronde gestaan, en ons het dus genoeg tyd gehad om bietjie op te lees oor die geskiedenis van die kasteel asook om daardie indrukwekkende goue hek te verkyk. Dit is versier met sowat 100000 egte goue ‘blare’, te danke aan skenkings van vyf miljoen euros om in 2008 die oorspronklike hek, wat verwoes is deur die gepeupel tydens die Franse revolusie, te vervang.

My gunsteling deel van die paleis was die Galerie des Glaces (oftewel die Spieël-saal). Die kamer is 70 meter lank met een sy heeltemal bedek met spieëls. Dit het vanaf 1678 tot 1689 (‘n goeie 11 jaar) geneem, om hierdie kamer te voltooi. Omdat spieëls nog nie regtig bestaan het in daardie tyd nie was dit juis nog soveel meer prestige. Daar hang die pragtigste kandelare en die hele plaffon is bedek met die skilderwerk van Elisabeth Vigée Le Brun.


La Galerie des Glaces in die Versailles kasteel

Mens kan nie help om te wonder hoe dit sou wees in daardie tyd nie. Ek kon in my geestesoog sien hoe ek in daardie kamer op en af dans in een van daardie weelderige pof-rokke met die stywe korsette. Maar aan die ander kant kan mens ook sien presies hoekom die Franse Revolusie ontstaan het; biljoene is in daardie kasteel ingestoot terwyl die mense doodgegaan het van honger. Ek moet bysê – ek het nie een weelderige badkamer met ‘n goue bad gesien nie, so dalk was dit tog nie so watwonders as jy vuil moes wees onder al daardie meters lap nie.

Dag 4: Arc de Triomphe, Champs Elysées

An-Mari:

Voor ek Frankryk toe gekom het, is ek deur my oupa opdrag gegee om Arc de Triomphe toe te gaan! As ʼn geskiedenisliefhebber is dit vir hom ʼn belangrike monument; en as ʼn Fouché is dit van persoonlike waarde! Eeue terug, toe die Fouché’s nog in Frankryk gebly het, is ons van as “Foucher” gespel – en daardie van is een van die 660 name op die Arc de Triomphe. Ek is weg uit SA met opdrag om daardie naam te gaan opspoor.

Om by die Arc de Triomphe uit te kom, is nogal ʼn missie op sy eie. Eers moet jy ondergronds gaan (onder die verkeersirkel deur) om op die ‘eilandjie’ te kom. Dan staan jy natuurlik in ʼn ry – soos vir alles in Parys! Die gewag om in te gaan het my darem kans gegee om rond te kyk en die Foucher naam op te spoor!

Ek moet bieg; ek het amper nie die klim boontoe gemaak nie. Daar is 284 trappe wat in ʼn eindelose spiraal loop tot bo. Bo is ʼn geskenkwinkel en ʼn paar geskiedkundige uitstallings. Ek en Chrismarie het gedink mens kan tot heel bo klim en dan ʼn uitsig kry oor die stad – maar ons kon nooit die trappe boontoe kry nie! Dit was effens teleurstellend.


Die Arch de Triomphe

Na die Arc de Triomphe het ons met die Champs Elysées afgestap. Al die winkels (Chanel, Louis Vuitton, en meer) en duur karre was nogal iets om te sien. Van die winkels het gelyk of jy moet betaal net om te kyk. Ek en Chrismarie het maar eerder H&M toe gegaan… Ten minste kan ons sê ons het in die Champs Elysées inkopies gedoen!

Na dit het ons by ʼn oulike Italiaanse restaurant gaan middagete kry, en van daar af die stad ingevaar: die Galaries LafayettePrintemps, rykmansbuurt. Ek wil so graag in een van daardie ou geboue met die groot houtdeure, balkonne en hortjiesvensters gaan bly. ʼn Meisie kan droom…

An-Mari en Chrismarie is skryfkunsstudente by die NWU. 2017
0
Would love your thoughts, please comment.x