Dag 5
Chrismarie:
Die vyfde dag was ’n kunsgevulde dag. Eerste op die lys was die Musée du Louvre, ’n plek wat ek nog altyd wou besoek (ek het al hoeveel flieks gesien waarin die Louvre verskyn). Dit sou dalk wys wees om eers ’n bietjie meer in diepte navorsing te gedoen het om te weet vir watter tipe kuns ons onsself in sou laat, maar beide ek en Ami was bietjie teleurgesteld omdat dit nie was wat ons verwag het nie. Maar dis enorm en indrukwekkend. Dis onmoontlik om deur daardie plek te kom in een dag.
Ons het ten minste die Mona Lisa gesien – na ‘n goeie twintig minute se wag in ’n see van mense wat stamp en stoot, want elkeen wil sy paar sekondes voor haar hê om ’n foto of ’n selfie te kan neem. Dis jammer – ek dink nie iemand het regtig net gestaan en gekyk na die kunswerk self nie.
Volgende het ons besluit om die Musée de l’Orangerie te besoek, wat naby net ’n paar minute se stap was van waar ons was. Maar eers moes ons deur die Jardin des Tuileries stap om daar te kom. Ons het by die ingang van hierdie tuin elkeen ’n patisserie gekoop en rustig tot ons bestemming geloop – ah, die lewe van ’n Parisienne.
Musée de l’Orangerie was een van my gunsteling belewenisse in Parys. Dit is die huis van die bekende muurskilderye van Claude Monet. Sy Waterlelies – of in Frans, Les Nympheas. Dis so mooi, en sag en gedetaileerd, en dis verstommend hoe hy die water se dimensie so kon vasvang op daardie lang doeke. Ek kon nie anders as om vir my ’n afdruk van my gunsteling een te koop, om eendag te kan maak asof ek ook ’n duur skilderye het wat in my huis hang.
Die res van die dag het ons net rondgedwaal in die strate van Parys; ons het ook die Place de la Concorde, waar Marie Antoinette onthoof is, gesien en terug gekeer na ’n aandete saam ons afrikaanse gashere.