Vanwaar gehasi?

Van wie en van waar is Storiewerf?


Storiewerf bestaan sedert 2000

Die primêre doel van die webtuiste is die bevordering van plaaslike (veral Afrikaanse) kinder- en jeugboeke en jong skryftalent. ‘n Bykomende doelstelling is die bevordering van Afrikaans op die internet.

Die wêreld is ‘n ronde bol
van binne is hy hol
en in die middel vol gevare
lê die Land van Wol en Hare.

Die tema kom uit “Die Land van Wol en Hare” van WO Kühne
(DJ Opperman se Nuwe Kleuterverseboek, Tafelberg, 1981)

Die tekeninge is gedoen deur Piet Grobler

Hy skryf:

Die idee is min of meer soos volg: Die land van wol en hare lyk so ‘n bietjie gevaarlik by die openingsprent (vol gevare).

Die twee lettervrate bewys egter dat dit nie soveel onheil inhou nie. (As die hele bakkies in die holte in die aarde sou wys, sal dit ‘n vriendelike lettervraat blyk te wees.)

Ek dink dis obvious dat die cool, hupse enetjie met die lugdraad die onder 18 ene is en die volwasse antietjie die bo-18.

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers van alle soorte en groottes.

Die konsep is ontwikkel deur Franci Greyling wat ook die werf bou en onderhou.

Vakgroep Skryfkuns, Noordwes-Universiteit.

Die webtuiste is in 2019 herontwerp en spog vanaf 1 Oktober 2019 met ‘n nuwe baadjie.

Storiewerf, ‘n webtuiste vir die bevordering van kinder- en jeugliteratuur en jong skryftalent, bestaan reeds sedert 2000. Met die ontstaan van Storiewerf was die internet nog in sy kinderskoene en was tafelrekenaars met klein monitors en inbelmodems die standaardmanier om toegang tot die internet te kry en inligting te kan lees. Sedertdien het die tegnologie met rasse skrede ontwikkel. Nou het gebruikers ‘n veeltal toestelle met verskillende skermgroottes met vinnige verbindings tot die internet wat bykans altyd en orals beskikbaar is.

Befondsing deur die PUK-Kanselierstrust en die Vakgroep Skryfkuns aan die NWU het dit moontlik gemaak om die webtuiste te herontwerp en op ‘n nuwe platform te publiseer. BlueTek, Potchefstroom, het die tegniese ondersteuning en herontwikkeling onderneem en gesorg dat die boekdatabasis van bykans 1000 Afrikaanse kinder- en jeugboeke wat sedert 2000 by Lapa en NB-uitgewers verskyn het, na die nuwe platform oorgedra word. Die visuele ontwerp is die werk van Franci Greyling met ondersteuning van Kevin Hechter (BlueTek). Magde-Mari Fourie en twee Skryfkunsstudente, Kayla-Mari Geyer en Karla Cloete, het gehelp om die meerderheid artikels vanaf die “ou” na die “nuwe” Storiewerf oor te dra. Hartlike dank.

SDG

Kontakbesonderhede

franci@storiewerf.co.za

Storiewerf
Posbus 20582
Noordbrug
2522